Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? deur Anelia Heese: ’n resensie

  • 7

Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so? deur Anelia Heese (Uitgewer: Tafelberg)

Diensplig: Hoekom stotter ons pa’s so?
Anelia Heese

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624093985

Hierdie boek is ’n werklik goedbedoelde poging wat al beter raak hoe verder jy lees. Daar is ’n groot en deeglike boek wat wag om oor Suid-Afrikaanse dienspligtigheid geskryf te word. Wanneer dit die dag gebeur, sal Heese se boek ’n besliste rol in die wordingsproses speel.

Suid-Afrikaanse Weermag-dienspligtigheid (verpligte aansluiting by die weermag) vir Suid-Afrikaanse wit mans en wit mans in die hedendaagse Namibië, van 1919 tot 1989 uit Suid-Afrika geregeer) het grootliks saamgeval met die sogenaamde Bosoorlog wat vanaf omtrent 1966 tot 1989 veral in die noorde van die hedendaagse Namibië (destyds bekend as Suidwes-Afrika) en die suide van Angola gewoed het, asook periodiek aan die res van die Suid-Afrikaanse grens met buurlande, en in ’n stadium in Rhodesië, voordat dit in 1980 Zimbabwe geword het.

In die laaste paar jaar van diensplig, vanaf omtrent 1985, is dienspligtiges ook in vele destydse Suid-Afrikaanse swart en bruin townships ontplooi om onluste ter ondersteuning van die demokratiese bevrydingstryd te probeer demp.

Dit is die verhaal van hierdie twee groepe – die grenstroepe en die townshiptroepe – wat hierdie werk trag te boekstaaf en te interpreteer.

........
Dit is die verhaal van hierdie twee groepe – die grenstroepe en die townshiptroepe – wat hierdie werk trag te boekstaaf en te interpreteer.
........

Heese laat blyk dat daar verskeie dele van die internet is waarop voormalige dienspligtiges se vertellings, en hul pogings om met mekaar kontak te verkry of te behou, floreer. Uit haar aanhalings vanaf hierdie webwerwe of platforms is dit duidelik (en seker nie onverwags nie) dat dit grootliks diegene is wat min of meer positief staan teenoor hul ervarings in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag wat aan hierdie gesprekke deelneem.

Die skrywer het met ’n paar dosyn van hierdie voormalige dienspligtiges en permanente weermagpersoneel onderhoude gevoer. Die boek bestaan grootliks uit drie tipes vertellings. Eerstens is daar die grootliks positiewe vertellings deur gewese dienspligtiges oor hoe diensplig deur hulle ervaar is, van oproepinstruksie tot uitklaring en terugkeer vir verpligte kampe. Tweedens is daar vertellings oor weermagbelewings aan die grens en in die townships. Derdens is daar beter gekonstrueerde onderhoude met relatief prominente rolspelers, van weermaghoofde tot gewetensbeswaardes en ’n moeder wie se oudste seun in die Grensoorlog dood is.

Dat Diensplig bepaald ’n lesersmark sal raak boor, is ’n bykanse gegewe. Vele voormalige dienspligtiges (almal tans ouer as 50 jaar, soos die tyd mos maar aanstap) sal in die onderwerp belangstel (dikwels met ’n mate van nostalgie), en so ook historici, krygskundiges, sielkundiges en so meer. Daar kan ook onder ’n jonger generasie hierin ’n belangstelling wees: Hoe was hierdie ervaring wat hulle misgeloop het?

........
Daar kan ook onder ’n jonger generasie hierin ’n belangstelling wees: Hoe was hierdie ervaring wat hulle misgeloop het?
........

Daar sal ander wees wat geensins sal belangstel in hierdie boek nie, wat hul diensplig as vervreemdend, ontstellend, tydmors of ’n onreg sou beskou, en heimlik sal wonder of die boek nie in sy binneste binneste dalk tog maar ’n vergoeiliking van ’n nielegitieme oorlog en later burgeroorlog is nie – die uiters versigtige poging tot balans as afkering teen sulke kritiek ten spyt. Diesulkes mag dalk die Bosoorlog beskou as die apartheidstaat se Viëtnam. Hulle val waarskynlik buite Diensplig se lesersmark.

Wat uit die boek blyk, en seker geen verrassing kan wees vir enigeen wat destyds verstand gehad het nie, is dat diensplig en die dienspligkwessie vir elke betrokkene ’n intens persoonlike ervaring was, en dat daardie ervarings baie uiteenlopend was. Lesers mag dieselfde uiteenlopende siening en ervaring van Heese se boek hê.

Hier is dus myne; ander sal verskil: Vir my as 51-jarige Afrikanerman (en ’n mens so uniek soos ons elkeen) was die vertellings oor weermagopleiding en diensplig nie nuut nie, en in hul gemeenplasigheid sekerlik sowel verteenwoordigend as verhelderend vir diegene wat nie veel van diensplig weet nie. Vir wit mans tussen die huidige ouderdomme van omtrent 50 en 70 jaar sal dit egter eggo as die vertellings wat in daardie tyd ’n stapel van sosiale verkeer was.

Tweedens is daar nie genoegsame diepgang om die vraag in die titel te beantwoord nie. Soveel werk is al hieroor in die sielkunde gedoen, en soveel puik ouer wordende plaaslike sielkundiges en psigiaters het hierdie gevalle al behandel. Ja, dis uit die dele waarin gewese dienspligtiges se mondelinge vertellings aan Heese woordeliks aangehaal word, duidelik dat sommiges stotter as hulle by die werklik ontstellende besonderhede kom, maar wat daarvan? Hóékom stotter hulle, en hoe hanteer diegene van ons wat nie hieroor stotter nie, diegene wat dit wel doen, op ’n simpatieke en hulpvaardige wyse?

........
Hóékom stotter hulle, en hoe hanteer diegene van ons wat nie hieroor stotter nie, diegene wat dit wel doen, op ’n simpatieke en hulpvaardige wyse?
........

Derdens voel ek hier is ’n groot boek wat wag om gebore te word, maar Heese se boek is dit nie. Miskien probeer die boek dit ook nie wees nie. Maar die onderhoude is te min om verteenwoordigend te wees, en omdat sy bykans al haar onderhoude oor die selfoon of aanlyn gevoer het (sy woon in Berlyn), gaan die belangrike aanduiders van onderhoudsmilieu en lyftaal, om maar twee faktore te noem, verlore.

Dat sy besig is om ’n klankargief van formaat te vestig, is duidelik en welkom. Dis goed so, en moet nog baie toeneem as dit die tipe bydrae wil lewer wat byvoorbeeld Padraig O’Malley tot Suid-Afrika se demokratiese oorgangsgeskiedenis gelewer het. My grootste kritiek op die boek is dat Heese die mense nie net laat praat nie. Die sterkste dele van die boek is waar die voormalige soldate self praat, sonder onderbreking. Maar nou neuk die skrywer heeltyd tussendeur met haar eie waarnemings (al skiet die onderhoude per selfoon of aanlyn tekort, soos reeds hier bo genoem). Dit werk nie. Die wyse waarop sy knaend diegene met wie sy onderhoude voer, se luim, emosies en mededelings met haar interpretasies binnedring, vind ek steurend en cloying (daar is nie ’n Afrikaanse woord wat die betekenis en gevoelswaarde van cloying tot sy reg laat kom nie). Die skrywer se insette en onderbrekings ondermyn die integriteit (en selfs byvoorbeeld die ritme en gevoelswaarde) van die mededelings.

Een van die belangrikste aspekte van die Grensoorlog is die feite rondom, en die relatiewe belang van, die Slag van Cuito Cuanavale. ’n Opsomming van die standpunte van genl Jannie Geldenhuys en die Mosambiekse joernalis Carlos Cardoso hieroor sou soveel konteks, en soveel raam, aan die prentjie verskaf het.

Ter bestekopname sal diegene vir wie diensplig ’n grootliks positiewe ervaring was, en diegene wat min tot niks van die onderwerp weet nie, veel uit die boek put. Die res van ons is nie hierdie boek se lesersmark nie.

  • Jan-Jan Joubert is ’n skrywer en oudjoernalis. Hy is in 1989 vir diensplig opgeroep en het as gewetensbeswaarde geweier om dit op enige wyse te verrig. ’n Simpatieke weermagoffisier by die destydse Kommandement Natal het hom wyslik aangeraai om eers universiteit toe te gaan. Hy het gaan studeer, en tydens sy studiejare is diensplig afgeskaf, met die gevolg dat hy nie tronkstraf opgelê is nie.   
  • 7

Kommentaar

  • Goeie resensie. Stem grootliks saam. Ek was 'n senior offisier in die staandemag, en dink die boekie is eensydig, subjektief en 'n poging tot aandag soek. Ja, ek het ook slegte tye beleef. Ja, ek het ook dikwels nagmerries. Maar nee, jy kan nie met klomp bitterbekke en G4K4's et al wat nie geestelik, emosioneel en fisies in staat was om aan te pas, oppervlakkige gesprekke voer, en dit as deeglike, algemeen geldende navorsing voorhou oor 'n baie komplekse saak nie. Ek stotter nie, ek is nie 'n grensvegter nie, maar ek skryf ook nie boekies oor WO2 asof ek alles daarvan weet, en in-diepte insig het, omdat ek hier en daar met paar bitterbekke gepraat het wat eintlik geen meningsvormers is nie. Wie is "ons"? Oorsese vlugters wat bekke uitspoel oor tye waarvan hulle niks weet nie? En wie se pa's "stotter" so daaroor? Dalk hulle wat nie sterk genoeg was nie, se saad tot in die derde en vierde geslag? Wag tot die boekie in die "bargain bin" lê by 'n pandjieswinkel, en as jy dapper genoeg is, koop dit vir R2-00.

  • Barend van der Merwe

    Marius ek kan ook nie onthou dat my pa gestotter het nie. Hy het wel soms, by geleentheid, kritiese geluide gemaak oor diensplig. Maar ek weet ook dat hy lewenslange vriende gemaak het, wonderlike vaardighede geleer het. En ek reken dat, was ek in sy skoene, sou ek seker dieselfde as hy opgetree het. Hulle was erg geïndoktrineer, en was oortuig dat wat hulle doen, die regte ding is.

  • Ek sou graag 'n boek of hoofstuk wou sien oor hoe mense wat geleer het om hul emosies weg te steek, na die oorlog "gerelearn" het hoe om dit mooi te hanteer. My massasteekproef van een dui daarop dat baie verhoudinge tussen gesinslede sleg hierdeur geraak is.

  • Wat bedoel die skrywer met pa's wat stotter? Nóg die skrywer nóg die resensent weet eintlik enige iets van die onderwerp af. So, dis maar 'n tas in die donker affêre vir beide.

  • Francois Verster

    "Hierdie boek is ’n werklik goedbedoelde poging wat al beter raak hoe verder jy lees." Aldus die resensent.
    Ek stem met heelwat wat Joubert skryf, saam, maar ek weet nie hoe hy kan weet of die boek goed bedoel was, of "aandagsoekery", soos een van die kommentare dit bestempel nie. Ekself is deur die skrywer gekontak en agterin aangegee as bron, maar ek het niks wat ek aan haar gesê het, in die boek gesien nie - waaroor ek wel bly is, want ek voel nie gemaklik met die boek in sy geheel nie. Ek weet ook nie wat die skrywer daaruit geleer het, indien enigsins, iets nie. Ek het ongelukkig self niks daaruit geleer nie, jammer om te sê, hoewel ek moet noem dat dit meer gebalanseerd is as wat ek verwag het na my (telefoniese) gesprek met haar, toe sy genoem het dat sy my generasie daarvoor verantwoordelik hou omdat sy oorsee moet woon en werk (ongelooflik). Diegene wat my boek "Omega, oor en uit," Tafelberg, 2016) gelees het, sal weet ek is anti-oorlog (maar niks is altyd eenvoudig om te veralgemeen nie), en onder omstandigehde met voorbehoude - geen grensvegter met nostalgie oor die weermag nie, maar ek het die "plig" in Diensplig nagekom, soos duisende ander - om Joubert se opmerkings oor die mark te beantwoord: daar is baie soos ek wat nog hieroor nadink en lees, en nie omdat ons stotter of bewe nie, maar omdat ons die groter prentjie probeer verstaan.

  • Jan-Jan, ek wil voorstel jy kry die reeks akademiese artikels in twee volumes, "In different times," in jou besit. Die redakteurs is proff. Ian van der Waag en Albert Grundlingh. Dit sal bietjie jou tydsbenamings oor wat alles as die Suid-Afrikaanse Bosoorlog beskou kan word regtrek. Daar word al hoe meer na totale tyd in suider-Afrika verwys as die "War for Southern Africa," wat alle konflikte in hierdie tyd in die subkontinent saamvat (die SWA/Namibie en tergelyklopende Angolese burgeroorlog word as die grootste beskou) en die verbindings op vele vlak uitwys.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top