
Foto van Lynthia Julius: verskaf
Lees Lynthia Julius, beurshouer van die 2024-Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs, se gedenklesing na aanleiding van dié beurs. Die lesing het op 19 November 2026 om 16h00 by die Skool vir Openbare Gesondheid | School of Public Health op die UWK se hoofkampus in Bellville plaasgevind.
Ek het verlief geraak op die formele filosofie. En sit op ’n dag op die Kovsies-kampus. En ek doen nie wat nie. Ek sit en luister af. Daai tyd rook ek nog Marlboro Beyond Blue. Ek rook nou Courtleigh. In Kimberley noem ons Courtleigh “die getroude ghwaai”.
Ek moet modules kies en ek sit luister twee vrouens af wat Engels loop-praat. Die een sê vir die anner een: “Filosofie is een van daai modules wat jy óf mee kliek óf nie. Daar’s nie ’n tussengrond nie.” En ek dink wag, wag, wag. Ek hou hoeka van dinge. Ek loop vat nou daai module en kyk wat in hom aangaan. Ek is daai tyd in my vroeë twintigs en leer toe my gunstelingfrase: In vino veritas.
As my ma my sê ek is te wild ek moet ophou soos ’n koedoe aangaan – da sê ek “In vino veritas.” As my pa sê ek moet minner - da sê ek “In vino veritas.” Ek sê meer “In vino veritas” as wat ek “amen” sê. En my ma light ’n Pall Mall rooi, blaas die rook uit en sê sy’t my universiteit toe gestuur vir ’n graad toe fokken kom ek ’n heiden terug.
........
En my ma light ’n Pall Mall rooi, blaas die rook uit en sê sy’t my universiteit toe gestuur vir ’n graad toe fokken kom ek ’n heiden terug.
........
Nou meen ek ek hou my slim. Ek gaan terug Noord-Kaap toe van Kovsies af en loop gooi woorde rond soos eksistensialisme, fenomenologie, dasein en wat die woord simposium oorspronklik beteken. Ek praat van Descartes en Aristoteles en Sokrates en ek dink ek is die hoof-xhobba. Ek gaan op ’n naweek Kimberley toe. Ons klomp vriende sit agter op antie Lilla se stoep. My vriendin, Justine, van Kakamas, kyk my, sluk van haar bitterbier en sê vir my: “Jou universiteitkont.” Ek het, ná daai, my nooit weer slim gehou nie.
.........
Maar ek is nog nie klaar met in vino veritas nie. Ek in vino veritas nog steeds ver meer as wat ek die “Onse vader” sê. Ek vang graad en my mense is trots. My vriend Eward van Upington bel my en sê: “Jy’t nou ’n graad, Lymf en onthou. Geen man kan hom uit jou uit moer nie.”
.........
Maar ek is nog nie klaar met in vino veritas nie. Ek in vino veritas nog steeds ver meer as wat ek die “Onse vader” sê. Ek vang graad en my mense is trots. My vriend Eward van Upington bel my en sê: “Jy’t nou ’n graad, Lymf en onthou. Geen man kan hom uit jou uit moer nie.” Ons hou gradeplegtigheid en my ma ontmoet my filosofiedosent. Sy het nog nie eens sy hand gevat nie, toe sê sy: “Doktor, hoekom loop staan leer Doktor dié (mei...)kjeent van in vino veritas? Die kjeent suip boks op ’n boks wyn uit en as ek hom aanpraat vertel hy vir my van wat hy in die klas geleer is.” Ek was so skaam. Ek was diep skaam en nie oor wat nie. My ma kan mis ten minste gesê het ek drink bottelwyn.
In die filosofieklas leer ek van Descartes. I think therefore I am. En nee, voel ek, dit kan nie so eenvoudig wees soos dink nie. My suster sê my op ’n dag: “Nana, jy kan mos maar dink ...” Voor sy haar sin klaar kan praat, toe sê ek haar: “Dink, Fransisca? Jy wil hê ek moet dink, ha? Die ding wat vir Sokrates doodgemaak het?”
I think therefore I am. Ek koop dit nie. Jy kan nie die mens se bestaan afrond tot die naaste dink nie. Wan imagine nou Justine drink bitterbiere en sy lê tiep. Am sy nie meer nie oor sy tiep? Wan dit weet ek vir seker: ’n Dapper tieper am nog steeds. Hy am so laat hy moet opstaan en afstry hy was nie dronk nie en sy glas uithou en sê: “Gooi da.”
Ek loop bly in Namakwaland en besef opnuut waffer bloed ek in my het. Ek het Namakwalandse bloed in my en jy kan nie daai bloed in jou het as jy nie kan stories vertel nie. Wat, baas Descartes, wat baat dit jy kan dink maar jy kan nie stories vertel nie? Jy laat dra die Jirre ’n size 28-jean. Jy kan nie am as jy nie stories kan vertel nie. Namakwaland het nog nooit die orale tradisie uit hom uit gevee soos ’n verkeerde HB-potlood-antwoord in ’n eksamenvraestel nie. Hy wat nie stories kan vertel nie, word by die deur uitgesmyt. Ien fek, hy word goed gemoer.
..........
Ek loop bly in Namakwaland en besef opnuut waffer bloed ek in my het. Ek het Namakwalandse bloed in my en jy kan nie daai bloed in jou het as jy nie kan stories vertel nie. Wat, baas Descartes, wat baat dit jy kan dink maar jy kan nie stories vertel nie? Jy laat dra die Jirre ’n size 28-jean. Jy kan nie am as jy nie stories kan vertel nie. Namakwaland het nog nooit die orale tradisie uit hom uit gevee soos ’n verkeerde HB-potlood-antwoord in ’n eksamenvraestel nie. Hy wat nie stories kan vertel nie, word by die deur uitgesmyt. Ien fek, hy word goed gemoer.
...........
Ek kry ’n dag ná my dertigste verjaarsdag die nuus laat ek die skrywersbeurs gekry het. Ek sit in Gauteng in ’n goedkoop gastehuis en voor die een jirre, laat djik daai beddegoed nie net jou arms en bene nie. Daai beddegoed laat djik jou hart. Ek lewe só ver onner die broodlyn laat ek hom nie eens kan sien nie. Ek is swanger en van psych-medikasie af.
Hulle verduidelik my my liggaam gaan nou deur onttrekkings. Vir ag maande kan ek nie slaap nie. Ek skenk geboorte aan ’n pragtige dogtertjie, Aria (wat se hairline lyk soos die oompie van Joshua Doore s’n), en ... Nie “en” nie. “Maar.” Maar nageboortedepressie slat my soos gôt die Israeliete in die Ou Testament geslat het. Ek eet nie. Ek lag nie. Niemand waag dit om my alleen te los of om my alleen met my baba te los nie.
My pa, ’n harde man, ’n oudsoldaat wat uit ’n apartheid-army kom, kyk my dogter deur die aande. Hy sê my ek moet my pille drink en gaan slaap. Ek het die volgende oggend ’n boek om te skryf. Ek voel ek kan myself iets maak. Hulle vertrou my nie om alleen met my baba te is nie. Ek voel soos ’n missed call.
Miskien, sê ek myself ... Miskien moet ek maar ’n lening by Capitec loop maak om die beurs se klomp tjelde terug te betaal. Maar o jirre, besef ek, Capitec leen net tjeld vir mense wat werk en waar kry ek ’n staff nommer?
As my ma-goed nie by die huis kan is nie, vra hulle vir oom Gert van oorkant die pad om by my te kom sit. Agter sy rug noem ek hom “Die Son” – die son sien alles. Oom Gert weet wie se kjeent die tik gelos het en nou weer gebegin tik het. Oom Gert gee tydings oor mense wat die Jirre nog nie kom haal het nie. Oom Gert vertel jou wie se kaart in U-Save gedecline het. Oom Gert ken wie se doodsgenootskappe nie opbetaald was nie en wie se begrafnis se hoenerkerrie landmynhoener was. En wie se Lewis-bed en -yskas terug gekom vat is. Hy ken tot hoevil wie in die kollektebord gooi.
Oom Gert kom sit by my as my ma-goed moet iewers gaan. Hy sus vir Artjie en sing vir haar tot sy slaap. Op Namakwalandse wintersaande sit ek en hy op die stoep. Hy met ’n Chief-ghwaai in die hand en ek met ’n Courtleigh. Hy troos my nie as ek huil en vee my trane af nie. Oom Gert vertel vir my stories.
Hy vertel oor sy dae in die Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps. Soms vol humor en soms laat slat hy my hart af. Hy vertel van die reuk van dood en die klank van gewere en wie van ’n landmyn ingebreek is. Soms vertel hy hoe groot manne sit huil het oor die huis. Oor groot huis toe verlang. Party aande sit my pa, om die ghelliebliek, saam met my en oom Gert. Een aand drink hy sy brou klaar, gooi die teesakkie in die vuur en sê: “Dinky, hulle het ons ‘PW Botha se honde’ genoem.” Ek mis vir oom Gert. Ná drie strokes is hy nou in die ouetehuis.
My ma sê as ek in Wynhoek is, rook al die Chief- en Sahawi-rokers Courtleigh. Ek laat lewe die mense lekker. Lyntieja, jy sal nog op jou moer kry van so loop en aan mense se fokken lippe hang.
En aanhou, aanhou kom Ronelda Kamfer se woorde na my toe:
julle Kaapse mense sê mos die son sien alles
hierso sien die mense alles...
wanneer jy jou mense se storie ken en daar’s nie slams of boesman
in nie maar jy moet maar ja en amen want al wat jy het is die
oorvertel.
Die oorvertel uit die Oerknal – die orale tradisie. En vir oorvertel het jy nodig om te luister om te am. Om af te luister om te am. Lynthia:1 – Descartes: 0.
En soos wat Ronelda dig oor Kaapse mense, kom humor met dit saam. Oor ek van die Platteland is en oor Plattelanders bang is vir die Kaap. Vir die Kaap en vir Engels. Toe ons klein was, was al wat ons van die Kaap gehad het, die afluister. Die Engels het ons sommer by Days of our lives gehoor. Ons sê nie Kapenaars praat Kaaps nie. Ons sê hulle praat “hoog”. En jy weet. Nee, jy weet, daai een wat loop kuier by sy oom of sy antie in die Kaap. Daai een kom baie windgat terug. Hy kom terug lyk hy is die Jirre se niggie of se neef. Daai een praat nie meer plat nie en dit kan ons vergewe. Maar party kom Engels terug en maak vir Johannes die Doper, Johannes die Wynverkoper.
Soos Ou Bees se broerskjeent wat Kaap toe gegaan het. Hy kom terug en hy kom Engels terug. Die mense is so gexhou’am vir sy soort praat. Maar sy ouma is baie trots. Sy’s trots, wan sy het uiteindelik ’n kleinkjeent wat Engels praat. Oukei, die Kaap kan nie kroeshare, nylonhare maak nie, maar ten minste leer hy jou Engels. Hy kom huis toe met die taxi en kom by die deur in. Hy, “Good day, Mother” en “Good day, Father.” Maar toe hy by sy peetpa kom, toe slat sy brein af soos fase 6-beurtkrag en hy sê: “Hâ boebâh.”
Ek is van die Platteland. Ek is van Namakwaland. ’n Vriendin vertel my van ’n skietvoorval in Steinkopf. Die man het heel gôtse aand by die vrou aangelê en sy wou hom nie hê nie. Maak nie saak hoevil Breezers of Savannas hy gekoop het nie. Da lê hy weer aan, da nip sy hom weer soos ’n ghwaai. Tot hy dit later nie meer kon uithou nie. Hy gaan uit, kom terug en skiet haar. Teen die pram. Hy skiet haar met ’n kettie teen die pram.
Nou moet ek en my broer en sy vriend Greg Kaap toe en Carl en Greg gaan by sy antie in Eersterivier slaap. Greg is van Rietfontein. Hulle ry nog donkiekarre in Rietfontein. Ek vra, “Greg, waar is Eersterivier in die Kaap en waffer soort area is dit?” Al wat Greg sê is laat Eersterivier so veilig is laat hulle kerk toe kan stap. “Greg, waar is Eersterivier?” “Nana,” sê hy, “ek weet nie hoe om te verduidelik nie. Ek was nog laas daar toe ek klein was, maar ons het kerk toe gestap.” Carl sit stres en sê hy traak nie waar dit is nie, maar hy ry met my pa se boerbakkie tot daar en “My bra, die taaima gaan my doodmaak as daai boerbakkie iets oorkom.” “Greg,” vra ek weer, “waar is Eersterivier?” Greg hou vol, hulle stap kerk toe in Eersterivier. En hoe meer ek my vriende vra waar dit is en of dit veilig is hoe meer kry Greg se hart hondsdolheid. Dit lyk hy wil my later met die braaistênd gooi. Toe ek sien Greg se onnerlip bewe nou al soos ’n ou ratelslang, toe sê ek: “Oe, jirre, Eersterivier is op Robbeneiland.”
Toe ons op pad Van Rhynsdorp toe is, toe sê Greg: “Kyk, daar is Tafelberg.” Ons ken nie die Kaap nie en ons lag daaroor. Al wat ons het oor die Kaap is die oorvertel. Die oorvertel en die afluister. Maar humor loop raak erns ná jy loop krap het in die geskiedenisboeke en jy leer waar die eeue lange wond vir die Kaap vandaan gekom het. Die val van slawerny in die Kaap het die val van ’n anner volk beteken – die volk van Klein Namakwaland. Toe slawerny afgeskaf is, het die setlaars, in die naam van skape en wol, af Namakwaland toe gekom. Trane, het ek in die Noord-Kaap geleer, trane betaal trane.
My vriendin van Kakamas se ouma haat mense met gladde hare. Sy sê sy hou fokkol van ’n baster nie. Sy sê die val van ’n bruin man is ’n meid met gladde hare. En ’n basterman mag darem nog voor haar hek staan, maar ’n bastermeid moet by die stopstraat bly staan. ’n Gladdehaarmeid kan nie knie nie. En eers vind jy dit snaaks, maar later loop luister jy af wat die grootmense vertel en wat hulle van hulle se grootmense en hulle se grootmense en hulle se grootmense afgeluister het en jy leer waar die wrok van die Boesmans teenoor die basters vandaan gekom het. Hoekom Boesmanbloed sukkel om basterbloed te vergewe. Die grootmense sê die basters en die boere het saam poppehuisie gespeel. Jy leer van Tgaams. Tgaams, 'n platoppervlakberg wes van Namies. Tgaams was die laaste vesting van die Boesmans van Klein Namakwaland. ’n Laaste groep van Boesmans het, oor hulle soos wilde diere gejag is deur kommando’s, in die 1870’s op die bergvesting gevergader. Nee, nie eintlik gevergader nie, hulle loop versteek. Die kommando’s kon geen spoor van hulle vind nie. Dit was hulle se laaste poging om uit die grepe van menseslagting te kom. Tot 'n setlaar 'n kloof op die noordelike hange van Tgaams gevolg en ontdek het dat die berg hol is. Boesmankampe het die vallei besaai en daar was troppe vee. Hy het teruggekeer met 'n groot kommando (wat bestaan het uit basters en wit setlaars) wat Tgaams beleër en die laaste Boesman-verset uitgewis het. Volgens oorlewering het die kommando die vlugtende Boesmans tot by Loeriesfontein agtervolg en een vir een vermoor. Met die uitsondering van een klein kindjie wat 'n Bastervrou onder 'n sinkbad versteek het. Die Boesmans het as kulturele entiteit uit alle gebiede suid van die Garieprivier verdwyn.
........
In die afluister leer ken jy die wond. En die wond het nog nooit dink nodig gehad om te bestaan nie. So luister ek. Ek luister mense af. Ek luister my uit daai graf van ’n nageboortedepressie uit en ek leer, dít ís waar: Mens is mens deur anner mens. Maar mens is mens deur sy stories. Wys my die stories en ek wys jou die nasie.
.........
In die afluister leer ken jy die wond. En die wond het nog nooit dink nodig gehad om te bestaan nie. So luister ek. Ek luister mense af. Ek luister my uit daai graf van ’n nageboortedepressie uit en ek leer, dít ís waar: Mens is mens deur anner mens. Maar mens is mens deur sy stories. Wys my die stories en ek wys jou die nasie.
Ek sit buite. Light Courtleigh op Courtleigh en ontvang. Ontvang deur sien, hoor en ruik. Soos in die geval van Meide-Meid en Koekie Bock. Meide-Meid stry met Koekie Bock terwyl hulle Daisy sit drink. Meide-Meid sê vir Koekie Bock: “Man lipnaai jy met jou klein stertjie soos bedeldrinkgoed.” Koekie Bock antwoord haar onmiddellik terug en sê: “Ag jirre hoekom lipnaai jy nie? Ewige langbek soos ’n handsak.”
Daar is ‘n paartjie in Upington wat heel week oor die weg kom en naweke baklei hulle soos hond en kat. Veral Sondae. Elke Sondag dreig die man hy gaan hom doodmaak. Hy gaan hom doodmaak, wan onner dié meid van hom het hy nie ’n lewe nie. Dit raak Sondag en hy dreig weer. Hy dreig weer hy gaan hom doodmaak. Opgestaan, gaan die ou agter in sy suster se jaart en loop breek ’n tou van sy suster se wasgoeddraad af. Hy gaan hom hang by die groot boom voor in sy suster se jaart en hy wil niks hoor nie. 08:00 by die huis. 09:00 by die kerk. 10:00 by die gat. Hy gaan hom hang. Maar daai tou is so pap laat almal weet hy sal breek as hy hom moet hang. Maar dreig, dreig hy. Sy suster gaan in die huis, kom uit en gee hom ’n lead. “’n,” sê sy”, “’n. Maak jou vrek en maak jou reg vrek.” Hy bekyk die besigheid só en vra sy suster: “Hoe kan jy ’n tou wil bring vir my om myself mee dood te maak as jy weet ek moet môre gaan werk?”
’n Anner karakter is Pieta. Pieta kyk nie diep in die bottel nie. Pieter am die bottel. Ien fek, soos ek, glo die ou in vino veritas. Hulle sê hy was ’n evangelis, nou is hy ’n ewige las. Die ou drink Daisy en sy vrou het hom nou al hoevil keer by die voete van die Jirre neergelê laat hy reg kan kom. Maar niks. Pieta sien nie reg nie. Hy was al twee keer drankskool toe en toe hy die tweede keer terugkom toe los hy die Daisy en drink maar Castle Lager. Sy vrou sê sy het nie ’n lewe onner hom nie en hy moet kies. Is óf sy gaan hom los, óf hy gaan drankskool toe. “Kies, Pieta en jy beter reg kies. Ek is moeg van jou kak.”
Die ou is bang vir sy vrou verloor en hy gaan maar weer. Hy gaan maar weer vir die derde keer drankskool toe. As hy nou terugkom, sê hy homself, gaan hy sy vrou wys. Hy gaan regkom. Sy gaan sien. Van nou af is hy nie meer ’n aambei nie. Van nou af is hy ’n trofee. Die ou kom terug van die drankskool af. Hy kom terug van die drankskool af en kom kry ’n hele leë huis. Sy vrou het als gevat, die meubels, die klô-goed, als, die one-ply-toiletpapier, als.
Sy’t als gevat maar ook nie als nie.
In die garage gekom sien hy sy het sy hele leë Castle Lager empties vir hom gelos. Hy begin huil. Hy begin huil lyk hulle begrawe weer sy ma. Kak wat voete aan het, sê hy homself. Pieta huil soos ’n man wat uitgevind het sy kjeeners is nie synes nie. Hy huil en tel een vir een die leë empties op om hulle breek te gooi teen die garage se mure. Soos die ou huil en die leë empties breekgooi, skrou hy:
Is jou dag laat my vrou my gelos het.
Is jou dag laat my kjeeners weg is.
Is jou dag.
Is jou dag.
Pieta tel die derde laaste leë empty op om breek te gooi. Toe hy hom optel, toe voel hy, wag. Wag, wag, wag. Dié is da ’n vol bier. Hy vee sy snot af met sy Jet-jersey (die een wat sy vrou vir hom gekoop het voor hy weg drankskool toe is) se mou en sê vir die vol Castle Lager quart: “En jý. Jý. Jy het niks met dié saak te doen nie.”
........
So am ek weer. Ek raak ’n ís. Ek ís. Tussen die afluister en stories en ’n is is ’n ding wat nie was nie. Ek ís, sonner om daaroor te dink, en ek leer hoe om weer myself te wil hê. Ek leer hoe om my kjeent te wil vashou. Ek leer hoe om nie mee bang vir my kjeent of myself te is nie. Ek leer dit deur stories.
.........
So am ek weer. Ek raak ’n ís. Ek ís. Tussen die afluister en stories en ’n is is ’n ding wat nie was nie. Ek ís, sonner om daaroor te dink, en ek leer hoe om weer myself te wil hê. Ek leer hoe om my kjeent te wil vashou. Ek leer hoe om nie mee bang vir my kjeent of myself te is nie. Ek leer dit deur stories. Antie Lilly sit by my op die stoep (ná sy weer ’n Courtleigh gevra en ek gegee het). Sy vertel my stukkies oor haar lewe en ek wil haar vashou maar ek is soos my ma – ons weet nie hoe om te troos nie. Antie Lilly het swanger geraak van ’n man wat haar geverkrag het. Met ’n tweeling. Haar ma-goed glo nie in aborsies nie en in die Noord-Kaap sê ons nie ’n vrou het ’n aborsie gehad nie. Ons sê haar liggaam is nog tempel maar haar baar is ’n graf.
Antie Lilly se ma-goed glo nie in aborsie nie en sy hou die kjeeners. Sy kraam en by geboorte sterf een kjeentjie. ’n Seun. Die dogter wat oorbly wil sy nie vashou of pram gee nie. As sy die kjeent vashou voel sy sy wil haar teen die muur gooi. Haar ma-goed los haar nie alleen met haar dogter nie en wanneer mense kom kuier wat die baba wil sien, klim sy in ’n kas om hulle nie te sien nie. Sy trek die Courtleigh diep, blaas die rook uit en sê: “Ek het eendag op die stoep gesit, ’n ghwaai gerook en gevra, wat skyn so? Toe ek tot verhalens kom was my dogter ’n jaar oud. Ek het vir ’n jaar lank nie die son voel of sien skyn nie.
Al wat ek gehad het was die afluister.
Nie laat die afluister altyd ’n goeie ding is nie. Ek moet op ’n aand skiet vir ’n TV-onnerhoud. Op Zoom. Die lig in die sitkamer is nie lekker nie en boonop kyk my pa rugby, so ek gaan maar uit stoep toe. Die stoep se muur is mooi wit en sy lig is helder so laat ek da maar daar met die mense Zoom. Ek sit nog só toe hoor ek een antie skree vir die anner een: “Jouuuu ma se kont.”
Ek lees en ek skryf en ek sit luister als en almal af. Die mense kom by onse hek in en my ma skrou vir hulle: “Jyyyy. Draai om en net daar om. Moenie met dié meid praat nie. Die meid sit kyk vir jou binne-in jou bek en loop skryf als neer wat jy gesê het en hy wen alleen pryse.”
Ek besluit op ’n dag ek vat my kamera en ek sê my pa ons moet die veld in ry. Ek sê hom ek wil loop sien waar my hoofkarakter bly. Ek ken nie waar hy bly nie maar ek sal ken as ons daar kom. Hy ry en ek sê hy moet aaneen ry. Ons is naby Goudstad, oorkant Bitterpoepil-se-plaas. Die bruinmense in die kroek het die boer só genoem. Ek sê my pa daar, daar Daddy, ry tot by daai kokerboom daar. My karakter bly daar. My pa ry tot daar en toe ons daar kom toe is daar ’n fondasie van ’n huis wat jy ken joere terug afgebreek is. Die grond begin praat en ek luister. Ek luister die grond en die aarde af.
Ek ry agter storievertellers en agter plante aan. Ek kyk en luister die veldplante en die koppietjies af. Springbok. Carolusberg. Okiep. Steinkopf. Nababeep. Concordia. Hondeklipbaai. Kleinzee. Port Nolloth. Ek sien waar my karakter geloop het en waar hy sou stop om klippe op Heitsi-Eibib se graf te pak. Waar hy sou stilstaan of loop sit van verlang na sy ma se huis toe. Ek sien sy ma se graf – daar wat hy vir die eerste keer soos Jesus geraak het – Jesus het geween.
Ek droom van spieëls en kom op spieëls af in die navorsing wat ek doen. Ek droom name en ek sien plekke. Ek ruik xhwa (soos ons die dood noem). Ek krap en ek krap en ek kom op nog mense, nog plekke en nog name af. Ek skryf en hoe meer trauma ek op afkom, hoe meer gee my hande in. Hoe meer pyn my gewrigte. Ek kyk vir Gamsberg as ons op pad Springbok toe of op pad Kimberley toe is en ek sien. Ek sien daai laaste kjeent wat gejaag is tot in Loeriesfontein.
My hoofkarakter is ’n Nama-medisyneman en ek bestudeer plante en ek sê vir my verloofde, Eugene (wat ek aspris Djoedjien noem oor mense in die Platteland só sy naam uitspreek), hierie man: Jy moet pasop. Jy beter versigtig is. Jy sal begin glo jou naam is Lynthia en jou van is Julius so verlief sal jy op my wees en nou brand ek nog my brandgoed ôk. Oh Lord. Oh Lord. Jy beter versigtig wees. Ek het geleer hoe om love potions te maak.
Ek skryf oor kjeeners. Oor die broosgeid en weerloosheid van hulle en ek wil, soos my suster geskryf het, hulle in ’n boks sit waar die lewe hulle nie kan skaad nie. Ek kyk my dogter en ek wil aan haar xhaai, ek wil aan haar xhaai oor die lewe nie altyd mooi met kjeeners is nie en oor nie alle grootmense kjeeners beskerm nie. Kraai, wat nou en dan my pa by die huis help. Dieselfde kraai wat, toe ek sê my broer en Eugene is in ’n verhouding, vir hulle gevra het: “Is julle xhei, ha?”
Kraai kom by onse huis en sing vir Whitney Houston. Kraai sing: I believe the children for the future. Ek wil vir Kraai sê, ek ook. Ek glo ook the children for the future, maar Kraai, die wêreld is boos en breek en lelik vir onse kjeeners en ek ken nie of daar genoeg beskerming in ons is om hulle veilig te hou nie. Kraai, die wêreld is nie altyd mooi met onse kjeeners nie en ek weet nie wat die ergste is nie. Ek weet nie of die ergste is laat grootmense hulle wil breek en wil seermaak óf of die ergste is laat anner grootmense wegkyk nie. Jirre, Kraai, I believe the children for the future. Ek ôk, Kraai. Maar wat maak wat ek en jy wil hê saak?
Ek leer ken my karakter en sy slagoffers en iewers, iewers in my soek ek vir hom empatie. Oor die lewe breek en inbreek en oor Fiela Komotie gesê het gôt vergewe ons nie oor ons ’n kjeent skaad nie. En die dag as my hartseer en moedeloosheid te veel vir die skryf van die roman raak, draai ek weer na die mense toe om my. Die mense om my, in Namakwaland. Ek draai na die aardsgeid en die mooigeid en die rykgeid van taal toe. Ek draai na dit en wie my hoop gee.
In Kimberley sê ons nie jy praat die waarheid nie. Ons sê, jy praat die ding wat ís. As jy vra waar iemand is en daai mens is by die huis of hy is nog in Kimberley, sê ons, hy ís.
Al wat ek gehad het en nog steeds het, is die afluister. Die afluister maak ons, van die orale tradisie, ’n ís. Nie ’n gehad nie. Gehad is ’n stukkende is.
Descartes, jy’t kak gepraat.
My ma se oom, wat ek oom Mannetjie gaan noem, is ’n emeritus professor in kleptomanie. As verset teen apartheid het hy net by wit mense se huise ingebreek en van hulle gesteel. Oom Mannetjie se vingers het nie net gedjik nie. Hulle het hondsdolheid gehad en gepraat van hondsdolheid. Oom Mannetjie het al ’n hond drie keer gesteel en drie keer aan drie verskillende mense geverkoop.
Hy’t by ’n huis ingebreek, ’n doktersjas gesien en die deep fridge vol beesvleis leeg gesteel en in die doktersjas toegedraai. Xhoeroepoort oor is hy met die klomp vleis en kom by my oorlede oumagrootjie se huis aan wat begin skel oor die boere sal kom en hom in sy moer maak. Hulle gaan vir hom opnaai en styf opnaai soos laas. Hy was die vorige keer so erg geslat van die poeliese laat sy gesig skeef was. ’n Man het hom, met sy skewe gesig, snaaks gekyk. Waarop hy vir die man sê: “My gôt. Ek is mos nie só gebore nie.”
Oom Mannetjie en sy vriende het bekendgestaan as die vetterige manne. Hulle het kliphard musiek gespeel, op fietse gery en ghwarragoed vir hulle se ma’s van die slagpale op die fietse gebring. Hy het die skool gelos om werk te loop soek oor dit swaar in die huis gegaan en oor die meneer hom so gemoer het. Hy sê: “Gôt man, ek kan mis nie by die huis en by die skool gemoer word nie.” Hy rou nog oor my oom Allie, sy enigste broer. Oom Allie was ’n onnerwyser, hy’t geruik na drank en eensaamheid. Hy’s in ’n karongeluk oorlede. My ma sê oom Allie was te slim vir die wêreld en sy slimgeid het eensaamheid geword. Sy sê ek laat dink haar baie aan hom. Maar al rou jy ook hoe lank oor ’n lyk, hy kom nooit weer terug nie. Al seil bloed ôk waar pis nie kan loop nie.
Oom Mannetjie steel die beesvleis, kom met die klomp vleis by die huis aan en my oumagrootjie skel hom. Hy sit die vleis op die tafel neer en sing vir haar: “Beesvleis is mos kos. Beesvleis is mos kos.” Een aand kom oom Mannetjie met sy bottel huis toe, sit met ’n donkerbril op die stoep en hy sing een ding aaneen. Hy sing, “Hosh Marella”. Niemand verstaan wat hy sing nie en so speel die ou die kitaar en sluk van sy bottel. “Hosh Marella.” Wat my ma-goed later leer die liedjie “Gimme hope Jo’anna” is. “She’s got a system they call apartheid. It keeps a brother in subjection.”
Ek kyk vir oom Mannetjie, luister sy stories, hang aan sy lippe en besef, elke keer opnuut, apartheid het die mag gehad om van storievertellers leë blaaie te maak. Oom Mannetjie is tronk in en tronk uit en hy vertel altyd hy’t vir mister Mandela in Pollsmoor geontmoet en met hom Engels gepraat. Ek weet nie baie nie. Ek weet net as die lewe anners was sou my meestersgraad in skryfkuns syne wees. Is net. Sy slaag sou summa cum laude wees. Maar universiteite gee nie grade vir drome of ampers nie.
En dalk is dit oor die verlede van dié land wat ek so liefhet laat ek stories oor en van die verlede kan afluister om die Afrikaanse letterkunde in te blaas. Of dalk is dit laat ek nou kan lees en skryf en skool klaar kon maak. Laat ek kon in vino veritas en klas loop laat die orale tradisie oorgedra kan word.
Ek dink nie meer dat die waarheid in die wyn lê nie, biekaas as ek dit aanhou dink gaan my ma my aanhou in die skande steek. In die oorvertel lê die waarheid en in afluister ís jy. Jy was nie. Was is ’n ding wat jy met seep in ’n skotteltjie maak en voor die een jirre ek het so baie beurstjeld gekry laat ek net banknote in my geyser gehad het om mee te was. En jy hoef nie bubble bath in tjeld te gooi nie. Tjeld maak sy eie skuim.
In ’n gedig van Warsan Shire sê sy: “Maybe we’re okay kid.” En ek dink ons is. Solank ons nog kan afluister, sal ons altyd orraait is. So Descartes moet binne-in sy moer loop vlieg. Ek luister af. Daarvoor kan ek nou vir my oom Mannetjie na ’n restaurant toe vat en net aan sy lippe hang. Daarvoor kan hy my nou laat xhoulag tussen seekos en steaks en ons hoef nie te worry oor die rekening nie biekaas Gôt en storievertel voorsien. Daarvoor kan ons nou chenin blanc drink terwyl ons seekos eet. Daarom kan oom Mannetjie die bottel vat, die alkoholpersentasie kyk en sê: “Pragtige, pragtige persentasie.”
Daarvoor kan ek nou vir hom sê hy moet sy storie neerskryf oor Kakkerlakkie wat ’n speurder gaan word. Ons ís oor ons stories het. En ek ís oor ek afluister. Al word my ma elke tien tellings gevloek. Al moes ek hoor ek lewe van ’n beurs soos die NSFAS-studente, toe ek die skrywersbeurs kry. As daar niks anners is nie, is daar net die stories om aan the xhaai. Solank daar ’n storie is, is daar een ding in die wêreld wat orraait is.
En is oor storievertellers met hulle stories moes dood laat ek vandag stories kan afluister en vertel. Ek luister af. Daarvoor ís ek.
Lees ook:
Die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs 2024: ’n onderhoud met Lynthia Julius
Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2026: ’n onderhoud met Donovan Lawrence
Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2026
Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024: ’n onderhoud met Steward van Wyk
Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020: ’n onderhoud met Steward van Wyk
Tweespraak met Lynthia Julius: "Daar’s ’n kokerboom in my hart wat wil groei"
Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas
’n Bosluis, Billy the Kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld

