
Die Universiteit van Wes-Kaapland kondig graag aan dat aansoeke ingewag word vir die negende toekenning van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs.
Hierdie beurs, befonds deur ’n ruim bemaking van wyle Marjorie Wallace, wil hoofsaaklik ’n belowende of gevestigde skrywer in staat stel om vir ’n periode te fokus op ’n projek in skeppende skryfwerk in Afrikaans. Die skryfprojek moet op publikasie gerig wees.
Die beurs word toegeken in die gees van Jan Rabie en Marjorie Wallace se werk en strewe ten opsigte van Afrikaans as die taal van ’n breë gemeenskap.
Elke aansoek moet vergesel word van ’n motiverende dekbrief, volledige CV, ’n eksemplaar van onlangse werk, ’n deeglike projekvoorstel met ’n werkplan en beoogde teikendatums asook enige ander toepaslike inligting. Die dekbrief moet onder meer kortliks die aansoeker se rekord as skrywer uiteensit. Aansoekers moet ook ’n aanduiding gee van reëlings wat getref sal word om vir die periode van die beurs voldoende tyd aan die beoogde manuskrip af te staan. Daar sal met die beurshouer onderhandel word om in die loop van die beurstydperk op paslike wyse deel te neem aan konferensies, seminare, en/of die openbare lesingreeks van die Universiteit.
Verdere besonderhede en ’n meer gedetailleerde inligtingstuk kan aangevra word by Mubashirah Carolissen, rabiewallacebeurs2026@uwc.ac.za.
Aansoeke moet die Universiteit teen 12h00 op Donderdag, 30 Oktober 2025 bereik en kan gestuur word aan: Dr. Donovan Lawrence , Departement Afrikaans en Nederlands, Jan Rabie & Marjorie Wallace-Beursfonds, Universiteit van Wes-Kaapland, Privaatsak X 17, Bellville, 7535.
Elektroniese aansoeke moet gestuur word aan rabiewallacebeurs2026@uwc.ac.za.
Aansoeke wat per hand afgelewer word, kan ingehandig word by die Rektor se kantoor op die derde vloer van die Administrasiegebou se oostelike vleuel.
Die Universiteit behou die reg voor om nie ’n toekenning te maak nie.
(Foto: Amanda Botha)
Lees ook:
Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020: ’n onderhoud met Steward van Wyk
Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas
’n Bosluis, Billy the Kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld

