Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2026: ’n onderhoud met Donovan Lawrence

  • 0

Foto van Donovan Lawrence: verskaf

Donovan Lawrence praat met Naomi Meyer oor die Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2026 waarvoor aansoeke op die oomblik ingewag word. Hier is nog inligting:

Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2026

 

Donovan, dis baie goeie nuus dat die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs oop is vir aansoeke. Wat is die agtergrond van hierdie beurs? Hoeveel jaar bestaan dit en word dit reeds toegeken?

Dit is ’n gesogte beurs wat die nalatenskap van die skrywer Jan Rabie en die kunstenaar Marjorie Wallace vier en voortdra. Die egpaar was albei baanbrekers wat ’n blywende invloed op die Afrikaanse letterkunde en kuns uitgeoefen het.

Die beurs bestaan reeds sedert 2010 en word tweejaarliks aan ’n belowende Afrikaanse skrywer toegeken. Volgens die reglement is die doel daarvan om die ontvanger in staat te stel om ’n tyd lank sonder finansiële sorge navorsing te doen en aan ’n kreatiewe skryfprojek in Afrikaans te werk.

Sedert die instelling daarvan is die beurs toegeken aan van die opwindendste stemme in die Afrikaanse letterkunde. In volgorde was die ontvangers: André P Brink, Willem Anker, SJ Naudé, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Valda Jansen, Brian Fredericks en Lynthia Julius.

Wat hierdie beurs besonders maak, is dat dit nie net ’n finansiële toekenning is nie, maar ’n belegging in kreatiewe tyd, vernuwende denke en die toekoms van Afrikaanse skryfwerk.

Hoe het Jan Rabie en Marjorie Wallace dit reggekry om ’n beursfonds op die been te bring wat nou, jare later, nog skrywers ondersteun? Waarom het dit vir hulle saak gemaak om skrywers van die toekoms finansieel en tydsgewys in staat te stel om suksesvolle romans te kan lewer?

Jan Rabie en Marjorie Wallace het self hul lewens gewy aan skeppende werk, en hulle het goed verstaan hoe moeilik dit is om voltyds te skryf sonder ’n mate van finansiële sekerheid. Marjorie Wallace het daarom in haar testament die wens uitgespreek dat die opbrengs van haar boedel aan die Universiteit van Wes-Kaapland bemaak word vir die oprigting van ’n beursfonds. Daaruit word elke tweede jaar die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs toegeken vir skeppende skryfwerk in Afrikaans.

Die doel is om die ontvanger in staat te stel om ’n jaar lank sonder finansiële bekommernis aan ’n nuwe projek te werk. Aansoeke is dus oop vir enige skrywer wat ’n projekvoorstel wil indien – geen voltooide manuskripte word aanvaar nie, omdat die veronderstelling is dat die beurs gebruik word om ’n nuwe werk te begin.

........
Die doel is om die ontvanger in staat te stel om ’n jaar lank sonder finansiële bekommernis aan ’n nuwe projek te werk. Aansoeke is dus oop vir enige skrywer wat ’n projekvoorstel wil indien – geen voltooide manuskripte word aanvaar nie, omdat die veronderstelling is dat die beurs gebruik word om ’n nuwe werk te begin.
........

Die verwagting is dat die beurshouer binne redelike tyd ’n manuskrip sal voltooi en aan ’n uitgewer sal voorlê. Daarby word die skrywer ook gevra om ’n openbare lesing te lewer en betrokke te raak by kreatiewe skryfprogramme in die Departement Afrikaans en Nederlands by UWK – aktiwiteite wat in samewerking met die beurshouer beplan word.

Soos reeds genoem, wou Jan en Marjorie iemand die geleentheid bied om vir ’n redelike tyd uitsluitlik aan hul skryfwerk te wy, sonder streng voorskrifte of druk. Hulle het immers self vir ’n groot deel van hul lewe uit die opbrengs van hul kreatiewe werk geleef, en wou daardie vryheid – al is dit op beperkte skaal – vir iemand anders moontlik maak.

Philida, ’n slaweromanBuys, ’n grensverhaalDie derde spoelKompoun ... en nog meer. Vorige ontvangers het jy reeds hier bo genoem. Behalwe dat die skrywers wat hierdie boeke geskryf het, talentvol is, bied die beurs een van die waardevolste dinge waarvan ’n skrywer kan droom: tyd. En natuurlik: ’n finansiële manier om die skrywer wat sy of haar tyd reg aanwend, te ondersteun. Wat is die grootste uitdagings vir skrywers met planne vir ’n boek?

Ek dink die grootste uitdaging vir enige skrywer is juis, soos jy tereg noem, tyd (en geld) – en soos die gesegde lui: “Tyd is geld.” Selfs die talentvolste skrywer het nie net inspirasie nodig nie, maar ook die geleentheid om te sit, te dink, te lees, te hersien en soms net te wag dat die regte woord opdaag.

........
Ek dink die grootste uitdaging vir enige skrywer is juis, soos jy tereg noem, tyd (en geld) – en soos die gesegde lui: “Tyd is geld.” Selfs die talentvolste skrywer het nie net inspirasie nodig nie, maar ook die geleentheid om te sit, te dink, te lees, te hersien en soms net te wag dat die regte woord opdaag.
........

En ek glo dit is presies wat Marjorie Wallace in gedagte gehad het met haar bemaking – om iemand geld te gee waarmee hy of sy tyd kan “koop”: die tyd wat nodig is om sonder finansiële bekommernis aan ’n kreatiewe skryfprojek te werk.

Dis dikwels juis hierdie gebrek aan tyd wat belowende projekte laat stagneer of maak dat hulle nooit voltooi word nie. Baie skrywers moet hul skryfwerk tussen werk, gesin en ander verantwoordelikhede inpas, en dit laat min ruimte vir die diep, volgehoue konsentrasie wat goeie skryfwerk vereis.

Hierdie beurs maak daarom ’n werklike verskil – dit gee die ontvanger die vryheid om vir ’n jaar lank net op sy of haar skryfwerk te fokus, sonder die las van finansiële spanning. En dit is dikwels presies daardie vryheid wat ’n goeie idee in ’n volwaardige roman laat ontwikkel.

........
Hierdie beurs maak daarom ’n werklike verskil – dit gee die ontvanger die vryheid om vir ’n jaar lank net op sy of haar skryfwerk te fokus, sonder die las van finansiële spanning. En dit is dikwels presies daardie vryheid wat ’n goeie idee in ’n volwaardige roman laat ontwikkel.
........

Wat behels die keuringsproses? Hoe kan die paneel ’n goeie uitkoms vir die voorgestelde projek voorsien?

Die keuringsproses is deursigtig en deeglik. Vir elke ronde word ’n nuwe beurskomitee aangestel, wat uit verteenwoordigers uit die akademie en skrywerswêreld bestaan. Hierdie komitee bring dus ’n wye spektrum van literêre ervaring na die tafel, wat help om elke aansoek vanuit verskillende invalshoeke te beoordeel.

Omdat die beurs juis daarop gemik is om nuwe projekte moontlik te maak, word geen voltooide manuskripte aanvaar nie. Aansoekers dien eerder ’n projekvoorstel, motivering en uittreksel of konsepskets in wat die aard en visie van hul beoogde werk belig. Die oorwegende faktor in die keuring is die meriete van die aansoek, waar die komitee veral let op vernuwende elemente en die potensiële bydrae van die projek tot die Afrikaanse letterkunde.

Die keurders kyk dus na die oorspronklikheid van die idee, die skrywer se vermoë om dit te verwesenlik, en die moontlikheid dat die voltooide werk iets nuuts en betekenisvol tot die Afrikaanse kultuurlandskap sal toevoeg. Hulle probeer ook realisties bepaal of die projek binne ’n jaar afgehandel kan word sonder om die skrywer se kreatiewe vryheid te beperk.

Wat is vir jou persoonlik opwindend van die projek? En is dit nie moeilik om ander opgewonde skrywers se voorstelle van die hand te moet wys nie?

Wat vir my die opwindendste aan hierdie projek is, is dat dit ware vernuwing in die Afrikaanse letterkunde moontlik maak. Elke aansoek bring ’n unieke stem, ’n nuwe perspektief, ’n ander manier van kyk na die wêreld. Om daardie energie, passie en verbeelding raak te sien nog voordat die boek geskryf is, is ongelooflik inspirerend. Dis amper soos om vir ’n oomblik in die toekoms van die Afrikaanse letterkunde te kyk.

Behalwe dit, is daar vir my ook ’n besonder persoonlike voorreg en lekkerte daaraan verbonde om as voorsitter van die komitee die pryswenner self te bel met die goeie nuus. Dit bly maar lekker om te hoor hoe ongelooflik dankbaar en opgewonde die persoon is, en om te weet dat hierdie beurs vir iemand ’n geleentheid skep wat hulle dalk andersins nooit sou gehad het nie. Op daardie oomblik voel ’n mens regtig of jy deel is van iemand se droom wat bewaarheid word.

Terselfdertyd het ek groot bewondering vir die keurpaneel wat hierdie moeilike besluit elke tweede jaar moet neem. Daar is altyd só baie indrukwekkende aansoeke, en ek is eerlikwaar dankbaar dat ek nie self die onaangename taak het om soveel talentvolle voorstelle van die hand te wys nie.

Maar wat my telkens bemoedig, is dat geen goeie idee ooit verlore gaan nie – baie van die skrywers wat nie die beurs ontvang het nie, gaan later tog voort om hul projekte te voltooi en te publiseer. Die beurs dra dus nie net by deur die wenner nie, maar deur die kultuur van moontlikheid, geloof en ondersteuning wat dit in die Afrikaanse letterkunde kweek.

As jy na die Afrikaanse letterkunde op hierdie tydstip kyk, hoe lyk dit anders as voor die vorige beursaansoektydperke?

Ek is meer van ’n taalkundige as letterkundige, maar wat ek sien, is definitiewe groei en vernuwing in die Afrikaanse letterkunde. Daar is ’n veelstemmigheid wat nie voorheen daar was nie: Meer skrywers laat hulle stemme hoor; meer skrywers skroom nie meer om te skryf soos hulle praat nie; meer skrywers vertel hulle stories op hulle eie manier, sonder om vas te hou aan tradisionele vorme of stylkonvensies. En dit is goed.

........
Daar is ’n veelstemmigheid wat nie voorheen daar was nie: Meer skrywers laat hulle stemme hoor; meer skrywers skroom nie meer om te skryf soos hulle praat nie; meer skrywers vertel hulle stories op hulle eie manier, sonder om vas te hou aan tradisionele vorme of stylkonvensies. En dit is goed.
........

Ek glo deel van hierdie beweging kan toegeskryf word aan programme soos die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs, wat skrywers die tyd, ondersteuning en vryheid gee om projekte aan te pak wat hulle andersins dalk nooit sou kon nie. Die gevolg is dat die Afrikaanse letterkunde vandag meer dinamies, uitgesproke en vol potensiaal is, en dit is opwindend om dit te kan waarneem en ondersteun.

Wat moet voornemende beursaansoekers nou doen om hulle sake agtermekaar te kry en voorleggings te stuur? Sal jy dalk praktiese reëlings uiteensit sodat elkeen wat hier lees en wil aansoek doen, presies weet hoe om die aansoek te rig?

Vir voornemende aansoekers is dit belangrik om goed vooruit te beplan en jou aansoek deeglik voor te berei. Die beurs bied ’n skrywer die kans om vir ’n jaar lank volledig aan ’n nuwe kreatiewe projek in Afrikaans te werk. Jou aansoek moet dus jou visie, werkplan en unieke bydrae tot die Afrikaanse letterkunde duidelik weerspieël. Aansoekers moet in gedagte hou dat die beurs slegs vir nuwe projekte is en dat voltooide manuskripte nie oorweeg sal word nie. Die voorstel moet getuig van vernuwing, literêre waarde en ’n unieke stem.

Vir enigeen wat wil aansoek doen, kan hierdie punte help om die aansoek voor te berei: 

  1. Sluit ’n motiveringsbrief in. Hierin moet jy verduidelik waarom jy die beurs benodig; hoe jy die tyd sal aanwend; en watter impak die finansiële ondersteuning op jou kreatiewe proses sal hê. Gee ook ’n bondige oorsig van jou skrywersloopbaan of publikasies.
  2. Sluit ’n CV en ’n voorbeeldeksemplaar van ’n onlangs gepubliseerde werk in.
  3. Sluit ’n projekvoorstel en werkplan in. Hierin beskryf jy die kern van jou projek, maw die storie, karakters, tematiek, vormlike vernuwing en jou beoogde bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Gee ’n duidelike aanduiding hoe jy beplan om die projek te voltooi, met fases, teikendatums en ’n realistiese tydraamwerk wat die uitvoerbaarheid van jou plan ondersteun.
  4. Sluit ’n uittreksel of konsepskets in. Dit kan wees in die vorm van ’n kort gedeelte van die voorgestelde werk wat die toon, styl en stem van jou skryfwerk demonstreer. ’n Volledige manuskrip is nie nodig nie.
  5. Jy kan ’n begroting insluit, maar dit is opsioneel. Die begroting kan ’n eenvoudige aanduiding wees van hoe jy beplan om die beursgeld aan te wend.
  6. Gee ook ’n verduideliking van hoe jy tyd sal skep en jou verpligtinge sal bestuur om die projek gedurende die beursperiode te voltooi.
  7. Stuur dan die volledige aansoek elektronies aan me Mubashirah Carollisen by: rabiewallacebeurs2026@uwc.ac.za. Aansoeke kan ook per hand afgelewer word by UWK by die rektor se kantoor op die derde vloer van die Administrasiegebou in die Oostelike Vleuel. Die sluitingsdatum is 30 Oktober 2025 om 12:00 die middag.

Hoe lank gaan die skrywers moet wag om te weet of hulle voorstel die paal gehaal het? Is dit die moeite werd om dan aan jou aansoek te slyp en weer ’n volgende keer aansoek te doen?

Die beurswenner sal op 27 November 2025 telefonies ingelig word. Ons moedig aansoekers aan om nie moed op te gee as hul voorstel die eerste keer nie suksesvol is nie. Dit is altyd die moeite werd om aan jou aansoek te werk en dit te slyp vir ’n volgende ronde – dikwels lei dit tot ’n sterker en meer afgeronde voorstel wat jou kan help om uiteindelik die beurs te wen.

Lees ook:

Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2026

Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2024: ’n onderhoud met Steward van Wyk

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top