Springmielies: Die opgaarversteuring – wanneer jy níks kan weggooi nie

  • 0

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Beskou hierdie toneel: Jy het ’n nuwe buurman wat jy selde sien. ’n Bekende kettingwinkelsupermark se motorfiets kom lewer gereeld kruideniersware af, en met ’n gesteun gaan die voordeur oop, vergesel van kreungeluide om die sakke met moeite na binne te sleep.

Jy begin wonder toe oor die ou.

By tye hoor jy dowwe plofgeluide, soos iemand wat val, gevolg deur ’n geswets. ’n Rot skarrel verskrik by jou voordeur verby. Wat gaan aan?

Jy klop aan Buurman se deur, en stampend en stotend gaan die voordeur oop.

Beskou hierdie toneel: Sover as wat jy in die sitkamer kan insien, staan daar sakke bousement, bokse met honderde dokumente wat oor die vloer besaai lê, ’n gekraakte spieël en vuil klere, oral argeloos tussen die chaos verstrooi. Stukke halfgeëete kitskos, die feses van ’n dier (’n kat?) en rommel, rommel, rommel, onherkenbaar onder ’n dik laag grys stof, asof dit gefossileer is. Jy kan die kontoere van ’n smerige, versteende handdoek uitmaak. Die deuropeninge na die ander vertrekke is toegepak – geblokkeer – met ’n deurmekaarspul van huislike en persoonlike items en ander vullis.

En jy weet: Dis net ’n kwessie van tyd en Buurman gaan homself lewendig begrawe onder al die gemors en huisraad wat die hele huis volgepak staan.

Klink dit bekend? Jy ken bes moontlik ’n opgaarder, of jy het perdalks ’n televisieprogram of kletsprogram oor die opgaarversteuring, of hoarding disorder, gesien.

Die opgaarversteuring bestaan. Dis nie net nog ’n een of ander Kafkaeske verbeeldingsvlug nie; dis ’n daadwerklike probleem. Baie mense verwys na hulself as opgaarders, bedoelende dat hulle graag sentimentele besittings iewers stoor en traag is om daarvan ontslae te raak. Maar volgens die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-5) verteenwoordig bogenoemde versteuring ’n diepgaande en ontwrigtende psigiatriese siekte. Laasgenoemde verskil ook van versamelaars wat op ’n geordende wyse sekere items, meesal volgens die een of ander indeks, versamel.

........
Die verskil tussen iemand wat tydelik lui is en nie sy rommel opruim nie, en dié wat aan opgaarversteuring ly, lê in die vrees om enige iets, ongeag die waarde daarvan, weg te gooi. Opgaarders “rou” oor die weggooi van dinge, ook rommel.
........

Die verskil tussen iemand wat tydelik lui is en nie sy rommel opruim nie, en dié wat aan opgaarversteuring ly, lê in die vrees om enige iets, ongeag die waarde daarvan, weg te gooi. Opgaarders “rou” oor die weggooi van dinge, ook rommel. Dit lei tot die oormatige opeenhoping van onder meer gemors, wat die uitgange van kamers en leefruimtes blokkeer en dié mense se daaglikse funksionering benadeel.

Die opgaarversteuring word geklassifiseer onder die obsessief-kompulsiewe en verwante versteurings in die DSM-5, gepubliseer deur die American Psychiatric Association. Om aan die diagnostiese kriteria te voldoen moet ’n individu die volgende simptome toon: dat hy of sy oor ’n onvermoë beskik om besittings weg te gooi of van die hand te sit, ongeag hulle waarde – byvoorbeeld rommel. Die lyers het ’n diepgewortelde behoefte om aan hulle items vas te klou, en toon angs, depressie en selfs simptome van rou wanneer ’n derde persoon afstand doen van hulle goed, en wéér eens, dinge soos rommel of verrotte kos ingesluit. Of nog erger ... Die opgaar van die items sal mettertyd die lyers se aktiewe leefruimtes besoedel en hulle bedoelde gebruik benadeel, byvoorbeeld ’n onvermoë om in ’n kombuis te kook, of in ’n slaapkamer te slaap; selfs om ’n badkamer te gebruik, mog ’n saak van onmoontlikheid word. Die opgaarversteuring word verder gekenmerk deur ’n patologie en tas die persoon se sosiale en beroepsfunksionering aan. Voorts: Bewyse uit epidemiologiese studies beraam dat die voorkoms van hierdie versteuring ’n geskatte 2–6% van die wêreldbevolking betrek, wat mans en vroue ewe veel raak en wat tipies ’n aanvang tydens adolessensie toon met progressie vererger soos die lyers se ouderdom toeneem.

Die kernsimptoom, naamlik ’n oorweldigende drang om voorwerpe te bekom en te behou, met die gevolg dat huise tot hul volle kapasiteit gevul is met enige iets en wat-nog, word deur die lyers ervaar as items wat hulle self-identiteit of toekomstige behoeftes (“net vir ingeval”) definieer. Hierdie mense ervaar skaamte en isolasie oor die vuil en chaotiese toestande in hulle huise en vermy dikwels besoekers, met die gevolg dat hulle uiteindelik alleen deur die lewe gaan.

Die fisieke manifestasies van die versteurings sluit die brandgevaar van geblokkeerde uitgange, asook die risiko van plaagbesmetting en strukturele skade in. In gevallestudies wat die International OCD Foundation geloods het, is daar gevalle gerapporteer van lyers wat hulself lewendig onder die hope rommel begrawe het, en is noodontruimingsaksies weens gesondheidsoortredings ingestel. Komorbiede versteurings, verwant aan die opgaarversteuring, is algemeen: tot 75% van die opgaarders ly aan ernstige depressie en 50% ly aan angsversteurings, volgens ’n 2011-studie in Behaviour Research and Therapy.

Die opgaarversteuring ontstaan uit ’n komplekse wisselwerking van genetiese, neurobiologiese en omgewingsfaktore. Tweelingstudies dui op oorerflikheidsrisiko van 40–50%, wat ’n genetiese predisposisie insluit.

Neurologiese studies toon dat opgaarders ’n verhoogde aktiwiteit in die brein se anterior cingulate cortex en insula tydens besluitnemingsaksies oor besittings toon. Laasgenoemde is die brein se “brandalarm” as dit by obsessief-kompulsiewe gedrag kom, en lei tot oordrewe emosionele gehegtheid én onbeslistheid.

Omgewingsfaktore, op hul beurt, sluit in traumatiese lewensgebeure – verlies aan ’n geliefde, egskeiding of armoede – wanneer die opgaarversteuring as ’n substituut vir waargenome skaarsheid, of die verlies aan ’n persoon, word. Daar is bevind dat 60% van opgaarders trauma in hul kinderjare beleef het, wat hulle obsessiewe gehegtheidspatrone rakende persoonlike besittings versterk het. Om in ’n huis vol rommel groot te word kan iemand later meer vatbaar maak om goed op te gaar. Die assosiasie met rommel in iemand se kinderjare kan soms ironies as troos ervaar word.

Dan, ten laaste: Die opgaarsindroom word dikwels vergesel van ernstige depressie, angs of ADHD, wat die lyer se motivering en uitvoerende gedragsfunksies beïnvloed.

Die opgaarversteuring kan insgelyks ontstaan uit probleme met emosionele regulering en die hantering van verhoudingstres. Sommige mense sukkel om gesonde verhoudings te vorm en vervang dit met besittings wat ’n gevoel van sekuriteit of troos gee.

Perfeksionisme, afgewissel met besluiteloosheid, word dikwels by opgaarders gemerk. Die persoon kan byvoorbeeld voel dat om iets weg te gooi ’n vermorsing of verlies is.

Die impak op individue en die samelewing is verreikend en die opgaarversteuring erodeer uiteraard die lyers se lewenskwaliteit. Dit hou verhoogde risiko’s in, soos om te val oor die opgehoopte besittings in ’n huis, maar ook respiratoriese probleme as gevolg van skimmel en muf, asook wanvoeding, as kombuise ontoeganklik en onbruikbaar is. Op sosiale vlak lei dit tot vervreemding van familie, met baie opgaarders wat stoksielalleen opeindig en ’n verhoogde risiko vir selfmoord in die gesig staar.

.......
Opgaarders se behandeling is uitdagend weens hulle gebrekkige insig in hulle eie versteurings.
.......

Opgaarders se behandeling is uitdagend weens hulle gebrekkige insig in hulle eie versteurings. Kognitiewe gedragsterapie, soos ontwikkel deur die kenners in dié versteuring, byvoorbeeld die sielkundiges Frost en Steketee, word as ’n duimreël gebruik. Dit behels die vaardigheidsopleiding in die organisasie, besluitneming en blootstelling aan die weggooi-aksies van rommel. Tog geskied die terapie met matige sukses: Volgens die Behaviour Research and Therapy het lyers slegs ’n 35–40% verbetering in simptome ná eers 26 sessies gerapporteer.

Medikasie soos SSRI’s (oftewel antidepressante wat help met komorbiditeite soos OKV, in Afrikaans bekend as serotonien-heropname-inhibeerders) toon ongelukkig ’n beperkte doeltreffendheid in die behandeling van die versteuring se kernsimptome.

Voorts kombineer gemeenskapsintervensies terapie met die praktiese skoonmaak van huise, asook die deurlopende bystand aan lyers.

Die opgaarversteuring kan inderdaad verskillende gedaantes aanneem. Terwyl die meeste mense dink dat die roekelose opgaar van items beteken om net te veel goed te versamel, is daar eintlik verskillende tipes, elk met sy eie uitdagings. Hier is die drie hooftipes van die opgaarsindroom:

1) Die opgaar van nat items. Dit behels die versameling van bederfbare items, soos kos, plante, of selfs biologiese materiale. Laasgenoemde kan lei tot ernstige gesondheidsrisiko’s, insluitend muf, bakteriese groei en peste of plae. Algemene voorbeelde sluit in die opgaar van groot hoeveelhede kos wat verby hul vervaldatum is, of die ophoping van diere-afvalmateriaal.

2) Die opgaar van droë items. Dit is die mees algemene vorm van die opgaarsindroom, en sluit die oormatige berging van niebederfbare items in, soos klere, koerante, meubels en versamelobjekte. Al het hierdie items nie ’n vervaldatum nie, kan hulle steeds onveilige lewensomstandighede skep deur uitgange te blokkeer, brandrisiko’s te verhoog en strukturele skade aan ’n huis te veroorsaak.

3) Die “opgaar” van diere. Dit gebeur wanneer iemand ’n groot aantal diere (soos straatkatte) inneem en “versamel”, sonder die vermoë om hulle behoorlik te versorg. Dikwels glo die persone dat hulle die diere help, maar die oorvol en onhigiëniese omstandighede lei tot verwaarlosing, wanvoeding en ernstige gesondheidsprobleme vir beide die diere en die opgaarder.

Die opgaarversteuring word gekenmerk deur vyf fases (of vlakke), en met vlak 5 – waartydens die versteuring kritieke afmetings aanneem – kan mens die volgende te wagte wees: ’n Yslike hoeveelheid rommel maak nou die huis onbewoonbaar. Kamers is onbruikbaar, nutsvoorrade is afgesny en daar is groot veiligheidsrisiko’s, soos knaagdierbesmetting en onhigiëniese toestande (soos menslike en dierlike ontlasting wat oral in die huis voorkom).

Die kernoorsake van die opgaarversteuring is kompleks en bestaan uit verskeie faktore, soos genetiese invloede, breintrauma, stresvolle lewensgebeure en sielkundige steurnisse, soos depressie, angs en OKV, soos reeds genoem. Daar is nie één enkele oorsaak nie, maar ’n kombinasie van faktore kan lei tot die ontwikkeling van die versteuring. Dit begin dikwels in die tienerjare of vroeë volwassenheid en word gekoppel aan ’n familiegeskiedenis met dieselfde probleem.

Baie mense met hierdie versteuring het stresvolle of traumatiese gebeure beleef, soos mishandeling, egskeiding of die dood van ’n geliefde. Hierdie mense kan die opgaar van goedere ervaar as ’n manier om weer in beheer te voel.

Dan is daar is ’n genetiese komponent; baie mense met die versteuring het ’n familielid met dieselfde probleem.

Soos genoem, kan verskille in breinfunksie ’n rol speel. Veranderings in breinchemikalieë soos serotonien mag moontlik betrokke wees.

Die omgekeerde van die opgaarversteuring is die kompulsiewe opruim- en weggooiversteuring (compulsive decluttering). Maar laasgenoemde probleem word meesal verwar met spring cleaning en is sosiaal aanvaarbaar. Ongelukkig nie vir die mense wat met dié patologie sukkel nie, want hulle ly dikwels groot finansiële skade deur bloot kompulsief bates en besittings weg te gooi. Óf hulle sal byvoorbeeld ou familiesentiment, soos fotoalbums en ander erfstukke, bloot weggooi ... Hulle huise beskik oor die minimum huisraad en mens kan letterlik van die skoon vloere af eet. Hierdie lyers sal ook aanhoudend e-posse, boodskappe en foto’s van hulle digitale toestelle af uitvee – want dit is dwanggedrag – net om later met ’n groot gesukkel weer noodsaaklike inligting te bekom. Daar is, interessant genoeg, weinig inligting beskikbaar oor die terapie en remedie vir mense wat kompulsief goed weggooi en delete.

.......
Dit is ’n bisarre en verreikende geestessiekte wat gewortel is in emosionele, kognitiewe en biologiese kwesbaarheid.
.......

Maar om terug te keer na die opgaarversteuring. Dit is ’n bisarre en verreikende geestessiekte wat gewortel is in emosionele, kognitiewe en biologiese kwesbaarheid. Alhoewel dit nie geneesbaar is nie, bied sosiale intervensies hoop vir die toekomstige bestuur van die probleem. ’n Groter openbare bewusmaking rondom die versteuring, en voldoende navorsingsbefondsing, is noodsaaklik om dié siekte te destigmatiseer en om geaffekteerde individue te ondersteun om hul lewens en ruimtes te normaliseer. Soos samelewingbegrip ontwikkel, sal dit ook die potensiaal bied vir ’n deernisvolle benadering tot die probleem. In die VSA word talle toeligtingsprogramme oor die versteuring geloods – wat ongelukkig nie in Suid-Afrika die geval is nie. Die meeste mense se reaksie op die probleem sal “sies, kyk hoe leef die vark”, of iets in dier voege wees. En dit is skrikwekkend om te dink dat die opgaarversteuring létterlik die lyers daarvan se lewens kan eis, sou hulle uiteindelik lewendig onder hulle eie rommel begrawe word ...

Lees ook:

Springmielies: Die entrepreneurskap van werkloses

Springmielies: Die moderne herinterpretasie van Jesus as KI-kletsbot

Springmielies: Intro- en ekstroversie – ’n digotomie, of viering van diversiteit?

Springmielies: Tatoeëermerke as liminale merkers

Springmielies: Oor vreemde fobies en ander volksmites

Springmielies: Die huis as argitek van die verbeelding

Springmielies: Oor die ydelheidsindustrie en ander skoonheidsnarratiewe

Springmielies: Die terapeutiese waarde van oorlogsfilms

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top