Springmielies: Tatoeëermerke as liminale merkers

  • 1

Foto: Taha Samet Arslan (Pexels)

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

“Waar het jy daardie mooi tatoe gekry?” skerts sy.

“Twaalf jaar vir messteek in Pollsmoor.”

“O.”

Bostaande grap som in ’n sekere sin die stereotipering van, en sy tweeling, vooroordeel jeens, tatoeëermerke op. Tog; binne die tydsgees van die dag beklee hierdie liggaamskuns ’n gans ander status – dit is lankal nie meer net matrose, gevangenes, gangsters of kriminele wat tatoes dra nie.  

Tatoeëermerke het deur die eeue heen ’n komplekse transformasie ondergaan, van heilige simbole en die sigbaarmaking van kulturele rites tot die moderne uitdrukking van individualiteit. Ondanks hul groeiende gewildheid in die hedendaagse Westerse samelewing word tatoeëermerke steeds met agterdog bejeën, veral in konserwatiewe of sekere professionele kontekste. Die destigmatisering van tatoeëermerke is ’n belangrike stap in die rigting van groter aanvaarding van selfuitdrukking, persoonlike vryheid en kulturele diversiteit.

Die woord tatoe is afgelei van die Tahitiaanse woord tatau, wat “streep” of “vlek” beteken, en behels ’n vorm van liggaamsmodifisering waar naalde gebruik word om ink onder die opperhuid aan te bring om die vel se pigment te verander. Die simboliese waarde van tatoes verskil van kultuur tot kultuur en van individu tot individu. Tatoes is onder meer tekens van liefde, assosiasie, stam en etnisiteit, beskerming, dapperheid, godsdiens, rang of seksualiteit.

Die negatiewe konnotasies verbonde aan tatoeëermerke is deels te wyte aan die volgende historiese faktore: (1) Keiser Konstantyn die Grote het in 330 nC die tatoeëring van gesigte verbied, terwyl die Tweede Konsilie van Nicea in 787 die tatoeëring van enige deel van die liggaam as ’n heidense praktyk verklaar het. (2) Slawe en gevangenes is met tatoes “gemerk”, byvoorbeeld die identifikasie van Jode in konsentrasiekampe deur die Nazi’s, asook die gesigstatoeëermerke wat die Zhou-dinastie in China aan gevangenes en slawe aangebring het. (3) Die negatiewe assosiasies rondom tatoes het later jare van China na Japan oorgespoel. Seevaarders het op hul beurt tatoeëerkuns na Europa gebring. ’n Mens kan vandag net jou kop skud oor die ondergrondse ateljees van daardie jare, die angs en die opwinding oor die verbode yk … en die onhigiëniese toerusting wat plek gemaak het vir moderne bio-elektriese werktuie en ’n groter verdraagsaamheid jeens individualiteit. Die joernale van individue se lewens verskil; en so sal ook die narratiewe van hulle liggaamskuns verskil.

Tatoeëermerke is met ander woorde nie ’n nuwe verskynsel nie, al mag daar mense wees wat so dink. Tatoes se geskiedenis strek duisende jare terug. In antieke kulture soos dié van Egipte, Polinesië en inheemse stamme in Noord-Amerika, was tatoeëermerke simbole van status, spiritualiteit of oorgangsrites. In Polinesiese gemeenskappe was tatoeëring byvoorbeeld ’n heilige praktyk wat mense se verbintenis met hul voorouers en kulturele identiteit sigbaar gemaak het. In kontras hiermee het tatoeëermerke in sommige Westerse samelewings histories ’n negatiewe konnotasie gekry, veral in die vroeë Christelike era, soos reeds genoem. Tot vandag toe is daar Christene wat tatoeëring as sondig of oneerbiedig teenoor die liggaam as “tempel van God” bestempel. Hierdie beskouing word egter nie universeel gedeel nie, en baie moderne Christene argumenteer dat tatoeëermerke júis ’n vorm van selfuitdrukking kan wees wat hul geloof versterk, soos tatoeëermerke van kruise of Bybelverse. ’n Voorbeeld van hierdie verwarring jeens tatoes sien ’n mens byvoorbeeld by die sanger Bobby van Jaarsveld, wat ’n tatoeëermerk van ’n kruis op sy boarm aangebring en dit weer laat verwyder het omdat hy sy liggaam as ’n tempel van God verklaar het.

.......
Tatoeëermerke is stadigaan besig om hierdie sosiale taboes, wat bloot veldiep is, af te skud ... Vandag is tatoeëermerke waarskynlik niks meer as ’n teken van selfuitdrukking of mode nie.
.......

Alhoewel die gebruik van tatoeëermerke duisende jare oud is, beleef ons eers die afgelope dekade of twee wérklik ’n tatoerenaissance. Studies rondom die aanbring van – en die sielkundige dryfvere rondom – tatoeëermerke word gereeld geloods; dit is veral ’n gewilde onderwerp binne die populêre sielkunde. Hierdie bevindinge moet egter met omsigtigheid benader word. Die dae toe tatoes leuenverklikkers was vir ’n individu se promiskuïteit, kriminaliteit, verslawende of emosioneel labiele gedrag, is lankal verby. Tatoeëermerke is stadigaan besig om hierdie sosiale taboes, wat bloot veldiep is, af te skud – soortgelyk aan die mites rondom die terugspeel van langspeelplate wat kwansuis obskure, bose boodskappe bevat. Vandag is tatoeëermerke waarskynlik niks meer as ’n teken van selfuitdrukking of mode nie. Om Johnny Depp aan te haal: “My body is my journal, my tattoos are my story.” Die liggaam word die doek, en die tatoes die lewensverhale wat daarop aangebring word. En baie van hierdie verhale staan as liminale merkers, soos ek sal aantoon.

Die moderne tatoerenaissance word deur verskeie faktore gedryf. Eerstens het die kuns van tatoeëring self ontwikkel tot ’n gesogte en gerespekteerde vorm van artistieke uitdrukking. Moderne tatoeëring behels gevorderde tegnieke, komplekse ontwerpe en professionele kunstenaars wat hul werk as kuns beskou. Een van die ikoniese figure binne die letterkunde en populêre media wat geassosieer word met ’n tatoeëermerk, wat deel van haar identiteit vorm, is die hoofkarakter in Stieg Larsson se Millennium-trilogie wat ’n onuitwisbare indruk op die hedendaagse zeitgeist gemaak het. Die Sweedse aktrise Noomi Rapace vertolk die rol van ’n swaar getatoeëerde Lisbeth Salander in die 2011-film The girl with the dragon tattoo. Selde was daar so ‘n opwindende protagonis soos Salander in moderne fiksie – sy is ’n kuberkraker en ly aan Asperger-sindroom; beskik oor ’n fotografiese geheue; is afsydig, biseksueel, onafhanklik, avontuurlustig en wraaksugtig. Sinoniem met die karakter is die tatoeëermerk van ’n draak op haar rug.

Ook bekende glanspersoonlikhede, atlete en akteurs met sigbare tatoeëermerke, soos David Beckham of Rihanna, het bygedra tot die normalisering van hierdie liggaamskuns deur dit as modieus en stylvol voor te stel.

.......
Tatoeëermerke word nou gesien as ’n viering van diversiteit, eerder as ’n teken van afwyking.
.......

Die kulturele klem op individualiteit en selfuitdrukking in die 21ste eeu het vir die aanbring van tatoeëermerke ’n platform geskep vir mense om hul persoonlike stories, waardes of oortuigings te vertoon. Tatoeëermerke word nou gesien as ’n viering van diversiteit, eerder as ’n teken van afwyking. Tatoeëermerke wat hulde bring aan geliefdes, ’n kultuurerfenis of persoonlike katarsis dra byvoorbeeld by tot ’n dieper begrip van iemand se menswees.

Uiteraard speel die sosiale media ’n sleutelrol in die destigmatisering van tatoeëermerke. Platforms soos Instagram en TikTok het aan tatoeëringskunstenaars en -entoesiaste ’n globale verhoog gegee om hul werk ten toon te stel. Hutsmerke soos #tattooart en #inkspiration het miljoene volgelinge, wat tatoeëermerke tot ’n vorm van hoofstroom kuns bevorder. Hierdie sigbaarheid en blootstelling help om negatiewe stereotipes uit te daag en tatoeëermerke as ’n universele en inklusiewe praktyk te normaliseer.

Ongelukkig lei laasgenoemde ook tot ’n spanning tussen die individualiteit wat tatoeëermerke verteenwoordig en die risiko van oordadige kommersialisering. Soos tatoeëermerke meer hoofstroom word, is daar ook die gevaar dat hul persoonlike betekenis verwater deur massaproduksie, of neigings wat blote estetika bó betekenis prioritiseer. Dit kan ironies genoeg nuwe vorme van stigmatisering skep, waar mense met tatoeëermerke gekritiseer word vir die mode wat hulle volg, eerder as die vorm van outentieke uitdrukking wat nagestreef kon word.

Opsommend kan ’n mens redeneer dat tatoeëermerke sedert hul antieke oorsprong as heilige simbole, tot hul moderne status as kunsvorm, ’n merkwaardige evolusie ondergaan het. Alhoewel uitdagings soos konserwatiewe vooroordele bly bestaan, het die groeiende aanvaarding van tatoeëermerke in die hoofstroomkultuur, gevoed deur sosiale media en kulturele verskuiwings, die pad vir groter insluiting gebaan.

.......
Baie mense wat tatoeëermerke aangebring het, bestempel dit as die oorgang na ’n belangrike lewensgebeurtenis. Nou die dag kom die gedagte by my op: In watter mate figureer tatoes as merkers van liminaliteit?
.......

Baie mense wat tatoeëermerke aangebring het, bestempel dit as die oorgang na ’n belangrike lewensgebeurtenis. Nou die dag kom die gedagte by my op: In watter mate figureer tatoes as merkers van liminaliteit?

Die antropoloog Arnold van Gennep het liminaliteit beskryf as ’n tydelike toestand van tussenin wees – ’n ruimte waar die individu nie meer volledig in sy “ou staat” is nie, maar ook nog nie ten volle in sy “nuwe staat” gevestig is nie. Tatoeëermerke yk inderdaad hierdie oorgang op fisiese en simboliese wyse. 

Neem byvoorbeeld die tatoeëringsproses self: Dit is ’n ritueel wat die liminaliteit oproep. Die pyn, die tydelike ongemak, en die permanente resultaat weerspieël die fases van Van Gennep se oorgangsrites, naamlik skeiding (van die ou self: die “virgin flesh”); liminaliteit (die proses van tatoeëring self); en herintegrasie (die aanvaarding van die nuwe merker). Die tatoesalon word op sy beurt ’n liminale ruimte waar die individu getransformeer word, gelei deur die tatoeëerkunstenaar as ’n soort rituele gids. Hierdie rituele aard gee aan tatoeëermerke ’n dieper betekenis wat verder strek as die blote estetika daarvan. Die naald dring die vel binne, ’n grens tussen die innerlike en uiterlike self, en skep ’n permanente simbool wat die individu se oorgang na ’n nuwe fase van sy of haar lewe verteenwoordig. Iemand wat byvoorbeeld ’n tatoe kry ná ’n belangrike lewensgebeurtenis (soos die verlies van ’n geliefde, die viering van ’n mylpaal, of die omarming van ’n nuwe identiteit), gebruik die tatoeëermerk om daardie liminale oomblik vas te vang en te verewig.

Hierdie liminale eienskappe van tatoeëermerke is egter niks nuuts binne kulturele verband nie. In tradisionele samelewings, soos die Māoriori’s van Nieu-Seeland, is tatoeëermerke (of tā moko) nie net versierings nie, maar merkers van oorgange tussen lewensfases, byvoorbeeld van jeug na volwassenheid, of van een sosiale rol na ’n ander. Hierdie tatoeëermerke dra ook genealogiese inligting, wat die individu se posisie in die gemeenskap (be)vestig tydens rituele oorgange. In moderne kontekste kan tatoeëermerke soortgelyke funksies vervul, soos om ’n nuwe hoofstuk in iemand se lewe aan te dui – byvoorbeeld ’n tatoe wat die herstel van ’n verslawing, of die viering van selfaanvaarding simboliseer.

Die liggaam is, soos genoem, die doek waarop individue hulle persoonlike narratiewe skryf, en die tatoeëermerke word die sigbare tekens van interne verandering. In sekere subkulture, soos punk- of biker-gemeenskappe, is tatoeëermerke simbole van gebondenheid, wat ’n individu se oorgang na ’n spesifieke groep of leefstyl aandui. Hierdie merkers skep ’n gevoel van communitas, ’n term wat Victor Turner gebruik om die gedeelde eenheid in liminale fases te beskryf, en waar individue hulself met ander verbind deur gemeenskaplike simbole.

Dit is ongelooflik om te dink dat tatoes jare gelede tot soveel stigmatisering gelei het, terwyl dit letterlik bloudrukke van persoonlike ervarings is – veldiep. En die vooroordele het nog lank nie uitgesterf nie. Die destigmatisering van tatoeëermerke is ’n deurlopende proses wat geanker is in die herdefiniëring van kulturele norme, asook die omarming van diversiteit in selfuitdrukking.

Lees ook:

Springmielies: Oor vreemde fobies en ander volksmites

Springmielies: Die huis as argitek van die verbeelding

Springmielies: Die magiese en simboliese eienskappe van juwele

Springmielies: Oor die ydelheidsindustrie en ander skoonheidsnarratiewe

Springmielies: Lara

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top