
- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Hy weet. Hy weet van daardie eend wat hom dophou en kwakend en snaterend op sy spoor is. Hy hardloop en voel hoe sy rughare – wat nie bestaan nie – rys. Hy draai vlugtig om – die glurende eend loer tussen die bosse na hom. Dis net ’n kwessie van tyd. Want dít is sy grootste vrees, daardie eend…
Hierdie is nie die begin van ’n surrealistiese of absurde verhaal nie; nee, dit is die werklikheid. Anatidaefobie verwys na die fobie wat sommige mense het, naamlik ’n irrasionele vrees dat ’n eend hulle dophou.
.......
’n Primêre oorsaak vir die ontstaan van fobies is dikwels ’n traumatiese ervaring, soos om deur ’n eend gejaag te word as kind, wat die brein programmeer om eende met gevaar te assosieer.
.......
Fobies is intense, ongegronde vrese vir voorwerpe, situasies of lewende wesens. Waar vrees ’n natuurlike reaksie op gevaar is, dui fobies op ’n patologiese vrees vir iets wat nie werklik ’n bedreiging inhou nie. Oorhoofs beskou, vorm fobies deel van ’n groter angsversteuring. Terwyl sommige fobies, soos ofidiofobie (’n vrees vir slange) of akrofobie (’n vrees vir hoogtes) gesetel is in ’n primêre oorlewingsdrang en deels verstaanbaar is, is die meeste fobies irrasioneel – maar nie minder reëel nie – vir die persoon wat daaraan ly.
’n Primêre oorsaak vir die ontstaan van fobies is dikwels ’n traumatiese ervaring, soos om deur ’n eend gejaag te word as kind, wat die brein programmeer om eende met gevaar te assosieer. Genetika speel ook ’n rol: As jou ouers geneig is tot angs- of paniekversteurings, kan jy oor ’n biologiese geneigdheid beskik om fobies te ontwikkel. Omgewingsfaktore, soos kulturele bygelowe, speel verder ’n rol – dink byvoorbeeld aan die bygeloof dat jy vir sewe jaar ongelukkig sal wees as jy ’n spieël breek. Op neurologiese vlak kan fobies verklaar word wanneer die brein se “paniekknoppie”, die amigdala, oorreageer op waargenome bedreigings, hetsy werklik of irrasioneel. Die amigdala is diep in die brein se mediale temporale lob geleë. Dit speel ’n sleutelrol in die verwerking van emosies soos vrees, emosionele herinneringe en die belewenis van bedreigings, wat ’n veg-of-vlug-reaksie tot gevolg het. ’n Persoon met ’n disfunksionele amigdala is vatbaar vir angs- en posttraumatiese-stres-versteurings, asook fobies.
’n Interessante fobie is hippopotomonstroseskwipedaliofobie, oftewel ’n vrees vir lang woorde. O, die ironie … dit is ook die langste woord in die Engelse woordeboek, en voel soos ’n wrede grap. Hierdie fobielyers bars in angssweet uit as hulle lang linguistiese konstrukte (woorde) voor ander mense moet sê, soos tydens ’n vergadering.
.......
’n Interessante fobie is hippopotomonstroseskwipedaliofobie, oftewel ’n vrees vir lang woorde. O, die ironie … dit is ook die langste woord in die Engelse woordeboek, en voel soos ’n wrede grap.
.......
Arachibutyrofobie is die verskriklike vrees dat grondboontjiebotter aan jou verhemelte sal vassit, en tot verstikking of selfs versmoring sal lei. Toegegee, ek vind die tekstuur van grondboontjiebotter ook grof en grillerig, maar ek sal nie ’n volskaalse paniekaanval kry met dit in my mond nie. Dit is die soort fobie wat klink of dit in ’n Mr Bean-komediefilm hoort, maar vir diegene wat dit ervaar, is dit geen grap nie. Stel jou voor: iemand gee vir jou so toebroodjie, maar dit ontaard in ’n lewensbedreigende gevaar…
Omphalofobie is die akute vrees vir naeltjies. Ja, daardie klein voutjie op jou maag wat eens jou naelstring na jou moeder was, is vir sommige mense ’n bron van koue sweet en bewing. Hulle plak hulle eie naeltjies met pleisers toe om dit nie te sien nie. Die grootste nagmerrie vir hierdie lyers is waarskynlik om op ’n strand te wees, en die honderde starende ogies te trotseer.
In die digitale era is nomofobie – die vrees om sonder jou selfoon of netwerkverbinding te wees – miskien nie so bisar nie, maar steeds vreemd as jy daaroor nadink. Die term is afgelei van “no mobile phone phobia”, en dit is die paniek wat inskop wanneer jou foon se battery onder 10% val, of as jy per ongeluk in ’n gebied sonder ’n Wi-Fi-verbinding beland. Vir nomofobielyers is dit nie net ’n irritasie nie, maar ’n volskaalse krisis.
Xanthofobie is ’n irrasionele vrees vir die kleur geel. Dis seker deels te verstane, omdat geel dikwels met waansin geassosieer word – mens dink byvoorbeeld aan sommige Van Gogh-skilderye soos Sterrenag en Sonneblomme waar geel die skilder se innerlike onrus uitdruk; of Die geel huis wat ’n gevoel van vervreemding skep, en wat kykers assosieer met Van Gogh se gefolterde gemoedstoestand.
Ablutofobie is ’n vrees om te bad/stort of jouself te was. Slegte liggaamsreuke het vir seker ’n impak op jou algemene funksionering, en hierdie arme mense leef meesal geïsoleerd, omdat hulle vermy word in sosiale situasies. Ek wonder nou of waterlose seep en sjampoe hulle sal help – en of hulle dit sal gebruik?
Optofobie is die vrees om jou oë oop te maak. Hierdie lyers verkies om hulle oë toe te hou, of leef soos vampiere in dof verligte of donker huise. Uiteraard het hulle ’n swak lewenskwaliteit.
Globofobie is ’n akute vrees vir ballonne. Hierdie mense sal verjaardagpartytjies en ander feestelikhede vermy – daar is darem ’n vorm van selektiewe beheer oor dié fobie, maar ’n ballon kan terstond enige tyd, enige plek opduik – ’n angswekkende belewenis.
Pogonofobie is, op sy beurt, ’n vrees vir baarde. En ja, weer eens sal só ’n fobie die lyers se sosiale interaksie belemmer. En hoe gemaak as jou kollegas by die werk, of familielede, baarde het?
Ergofobie is ’n patologiese vrees vir werk, of enige iets wat met die persoon se werksomgewing te doen het. Dís ’n dilemma, en om te gaan boemel is nie ’n oplossing nie.
Eisoptrofobie, ook spektrofobie or katoptrofobie genoem, is ’n irrasionele vrees vir spieëls, en dié arme siele kry letterlik paniekaanvalle as hulle hulle eie weerkaatsings in ’n spieël moet aanskou. Narsissus het definitief nie ’n draai gemaak by hierdie individue nie …
Fobiefobie is, interessant genoeg, ’n intense vrees vir vrees self. Ek kry hierdie mense regtig jammer, want swewende angs het die nare gewoonte om te bly eskaleer.
Chrometofobie is ’n irrasionele vrees vir geld, of enige iets wat met finansies te doen het. Die ergste ding wat hierdie individue kan oorkom, is om die Lotto te wen. Wat vir die een persoon hemel is, is vir ’n ander – só ’n lyer – loutere hel.
Dis eintlik verstommend hoe baie (ander) fobies daar is – soos ’n diepgewortelde vrees vir die pous, syfers, knope (op klere), pêrels, oop en eng ruimtes, ens.
.......
’n Kat, wat toevallig swart kan wees, beskik oor die kosmiese vermoë om jou lewe te ontwrig. Dit is magiese denke in sy suiwerste vorm – die (by)geloof dat ’n toevallige gebeurtenis ’n direkte invloed op jou lewenslot kan uitoefen – vergeet vir eers van die wetenskaplike beskouing van oorsaak en gevolg.
.......
Fobies ontstaan nie in isolasie nie. Wanneer bygelowe en fobies mekaar ontmoet, ontstaan daar ’n fassinerende kruisbestuiwing van kulturele mites en psigologiese vrese. Mens sou dink dat in die moderne tydsgewrig waarin ons leef, en waar wetenskap en tegnologie die pas aangee, ou bygelowe en magiese denke in die vergetelheid sou verdwyn, saam met die heksejagte en alchemie van ouds. Maar nee, die mensdom klou vas aan irrasionele fobies en magiese idees, van swart katte wat teëspoed bring tot die vrees dat ’n gebreekte spieël jou sewe jaar se swaarkry sal besorg. Dis duidelik dat ons menslike brein maar geprogrammeer is vir ’n goeie skeut drama en mistiek. Dink byvoorbeeld aan die klassieke bygeloof van ’n swart kat wat jou pad kruis, en wat wêreldwyd as ’n voorbode van onheil beskou word. Die logika hieragter is natuurlik kostelik: ’n Kat, wat toevallig swart kan wees, beskik oor die kosmiese vermoë om jou lewe te ontwrig. Dit is magiese denke in sy suiwerste vorm – die (by)geloof dat ’n toevallige gebeurtenis ’n direkte invloed op jou lewenslot kan uitoefen – vergeet vir eers van die wetenskaplike beskouing van oorsaak en gevolg. En dan is daar die spieël. Breek per ongeluk een, en jy’s glo gedoem tot sewe jaar se teëspoed. Waarom sewe? kan mens tereg vra. Miskien omdat 7 bekend is as ’n mistieke getal. Die irrasionele fobie oor ’n gebreekte spieël gaan nie net oor die skade aan jou dekor nie, maar oor die feit dat die heelal bewus is van jou kosmiese oortreding. Hierdie bygeloof – of fobie – het sy oorsprong in antieke kulture, waar spieëls as poorte na die siel beskou is. Om een te breek was soos om jou siel te versplinter, en die sewe jaar se teëspoed was die tyd wat dit glo geneem het vir die siel om te herstel.
Irrasionele fobies en bygelowe is inderdaad lojale metgeselle. Neem byvoorbeeld die vrees vir die getal 13 (triskaidekafobie). In sommige kulture, veral in Westerse lande, word die 13de verdiepings van hotelle en kantoorgeboue heeltemal oorgeslaan; dit is insgelyks die geval met lugrederye wat die dertiende sitplek in ’n vliegtuig doodeenvoudig “weglaat”, want as jy die betrokke vloer of sitplek “14” noem, flous jy die noodlot en bly almal veilig. Weer eens: Dit is magiese denke op steroïede – die beskouing dat ’n syfer, ’n arbitrêre simbool wat saam met ander gebruik word om dinge te tel, die krag het om ’n hysbak te laat val of jou motor te laat rol.
’n Interessante geval van triskaidekafobie is dié van die komponis Arnold Schoenberg se vrees vir die getal 13. Hierdie fobie het ’n groot invloed op sy lewenskwaliteit gehad, aangesien hy tot uiterstes gegaan het om 13 te vermy. Hy het byvoorbeeld “13” met “12a” in van sy musiekmanuskripte vervang. In sy opera Moses und Aron het die komponis doelbewus “Aaron” as “Aron” gespel om te verseker dat die titel 12 letters in stede van 13 het.
Die ironie is dat Schoenberg op 13 September 1874 gebore is en op 13 Julie 1951 oorlede is op die ouderdom van 76 (7 + 6 = 13). In 1950 het ’n astroloog, Oskar Adler, hom gewaarsku dat sy 76ste jaar gevaarlik sou wees, wat sy angs uiteraard verder vererger het. Op die dag van sy dood, Vrydag 13 Julie 1951, het Schoenberg in die bed gebly, oorweldig deur angs en depressie, oortuig dat die ergste sou gebeur. Sy vrou, Gertrud, het opgemerk dat hy om 23:45 oorlede is, net 15 minute voor middernag, asof sy fobie in ’n bisarre selfvervullende profesie uitgespeel het.
Maar daar het, ironies genoeg, ook positiewe goed voortgespruit uit die komponis se triskaidekafobie. Schoenberg is bekend vir die ontwikkeling van die 12-toon-tegniek (dodekafonie), ’n komposisiemetode wat al 12 note van die chromatiese skaal gelyk gebruik. Hierdie metode maak van hom ’n pionier in die 20ste-eeuse musiek, wat aanleiding gegee het tot atonaliteit en reeksmusiek.
In Japan, weer, is die getal 4 die groot boosdoener, ’n bygeloof wat spruit uit die feit dat die woord shi (“vier”) in Japannees dieselfde uitspraak het as die woord vir “dood” (ook shi) maar die enigste ooreenkoms is dat dié twee woorde homofone is. Gevolglik word hospitaalkamers en woonstelle sonder die getal 4 ingerig, want niemand wil blykbaar in die kamer van die dood slaap nie.
Dan is daar die fobies wat uit bygelowe gebore is, maar ’n wil en lewe van hulle eie gekry het, soos die vrees om onder deur ’n leer te loop. Op die keper beskou klink dit redelik prakties – niemand wil byvoorbeeld hê dat ’n emmer verf op sy kop val nie. Maar die bygeloof se oorsprong lê veel dieper: ’n Leer teen ’n muur vorm ’n driehoek, ’n heilige simbool, en om onder deur die driehoek te loop is heiligskennis, en om die gode te tart. Die resultaat? ’n Volkome rasionele mens sal eerder oor ’n besige straat loop as om onder ’n leer deur te loop, want wie wil hom nou die toorn van ’n antieke driehoekgodheid op die hals haal?
.......
Magiese denke gee ons ’n illusie van beheer in ’n wêreld wat onvoorspelbaar is. Dit herinner ons daaraan dat vrees, in al sy manifestasies, ’n diep persoonlike en komplekse ervaring is, en dat die menslike psige grootliks ’n onontginde enigma bly.
.......
En natuurlik, waar daar bygelowe en fobies is, is daar ook rituele om die bose te besweer, soos: Gooi sout oor jou linkerskouer, en die demone neem die wyk. Volgens sekere kultuurtradisies loer ou Niek se vabonde oor jou linkerskouer. Sout is op sy beurt is ’n universele simbool van reinheid en heiligheid, bekend vir sy besweringseienskappe wat in verskeie rituele, towerformules en magie gebruik word, maar ook in die Bybel vermeld word vir sy veredelende eienskappe.
O, en moenie eens daaraan dink om ’n sambreel binnenshuis oop te maak nie, want dan nooi jy die noodlot terstond in jou huis in. Hierdie wydverspreide bygeloof dateer terug na die Victoriaanse era, toe sambrele lomp en gevaarlik was, met skerp metaalpunte wat mense kon seermaak en skade kon aanrig.
Die ironie is dat hierdie rituele dikwels meer vrees inboesem as wat dit troos – dit is inderdaad so dat vrese maklik kleintjies kry, want ’n ánder faset van neurotiese gedrag is dat die betrokke lyers met OKV kan sukkel. Die vraag is waarom ons, in ’n wêreld van kwantumfisika en KI, steeds aan hierdie ou idees vasklou. Die antwoord lê in die menslike brein se voorliefde vir patrone en betekenis. Ons is bedraad om oorsaak en gevolg te soek, selfs al bestaan daar geen kousaliteit nie. Fobies ontstaan uit ’n behoefte om chaos te beheer, en bygelowe bied ’n gerieflike raamwerk: “As ek X vermy, sal Y nie gebeur nie.” Die humor kom wanneer ons besef hoe absurd sommige van hierdie oortuigings is. Magiese denke gee ons ’n illusie van beheer in ’n wêreld wat onvoorspelbaar is. Dit herinner ons daaraan dat vrees, in al sy manifestasies, ’n diep persoonlike en komplekse ervaring is, en dat die menslike psige grootliks ’n onontginde enigma bly. Maar daar is hoop vir hierdie lyers. Sielkundiges sal byvoorbeeld van kognitiewe gedragsterapie en blootstellingsbehandeling gebruik maak, wat tot langtermynverligting van fobies kan lei.
Lees ook:
Springmielies: Die magiese en simboliese eienskappe van juwele
Heil die Leser!: Oor wonderwerke en die antieke gebruik van vas

