Springmielies: Die huis as argitek van die verbeelding

  • 0

1

“Vertel my van al die huise waarin jy gewoon het en wat daar gebeur het. Wat is dit van die skakelhuis en die rose en die spoorweghuis naby die stasie waar die verrimpelde ou man met die wolmus woon? En die bouvallige kasteel met die drie stukkende klaviere en die swembad vol bruin glibberige visse? Wie is daar vermoor?”

Die begin van Jeanne Goosen se kortverhaal “Beste M” in haar kortverhaalbundel ’n Kat in die sak (1986) laat mens dadelik regop sit. Waarom? Omdat ruimtes soos huise en kastele onmiddellik atmosfeer skep by die leser, of die kyker van films; en omdat daar iets intrinsiek poëties is aan binneruimtes.

Ook eiendomsagente is bewus van die binnelewe van huise … en sensitiewe siele, soos empate, wat na ’n huis se “vibes” verwys. As ek by ’n plek instap, is die atmosfeerwisseling dadelik tasbaar. Party huise is oud en melankolies, asof hulle sug onder die jare lange gewig van hulle inwoners. Huise wat op die grond geleë is, beskik oor meer karakter as byvoorbeeld woonstelle, of eenhede wat ”in die lug” met trappe of hysbakke aan mekaar verbind is. Party huise het ’n serene gevoel. Ander huise is jonk en gelukkig, met speelgoed wat rondlê en die afdrukke van vuil kinderhandjies om die kosyne.

........
Huise is soos mense. Party huise is siek, ander gesond. Só het die ikoniese gruwelverhaalskrywer Stephen King op ’n kol beweer.
........

Huise is soos mense. Party huise is siek, ander gesond. Só het die ikoniese gruwelverhaalskrywer Stephen King op ’n kol beweer. En King ken al die truuks. Mens dink byvoorbeeld aan die Overlook Hotel, die berugte, spookagtige hotel in King se 1977-roman The shining en die 1980-rolprentverwerking met gelyknamige titel wat deur Stanley Kubrick geregisseer is.

Die afgeleë, historiese hotel is geleë in die rotsgebergte van Colorado, maar die hotel is ’n lewende entiteit met ’n sinistere wil van sy eie. Die hotel se geskiedenis van geweld en tragedie dring déúr sy fondamente en dit teer op die gedagtes en swakhede van die inwoners. Die spookagtige en hallusinêre visioene lei uiteindelik tot die sielkundige disintegrasie van sy inwoners.

Ja, ’n spookhuis haal asem. Dit is die gekreun van krimpende dakbalke as die huis snags afkoel; die onrustige gerittel van deure in kosyne as die wind waai; die gekraak van trappe, afgeslyt deur generasies se voetstappe. Kriewels, kriewels, kriewels. Om só ‘n huis binne te gaan is soos om ’n persona te ontmoet, ’n getuie van verhale en van donker geheime soos moord, geweld, waansin, of die bedreiging van die vorige inwoners.

Soms lyk dit asof spookhuise oor ’n wil van hulle eie beskik, soos reeds genoem … of dat hulle die wandade van hulle vroeëre inwoners weerspieël en hulle personas as’t ware “oorneem”. In baie grufilms verander huise ook van gedaante en teister só hulle inwoners: creepy inderdaad. Interessant is dat die fisiese verval van ’n gebou ook simbolies van die morele of geestelike verval van sy inwoners kan wees, wat die onheilspellende aard van hierdie huise verder beklemtoon. Ek het Mark Z Danielewski se briljante roman House of leaves (2000), met as subteks ’n gedisoriënteerde huis – wat shapeshift in die gedaante van ’n labirint – baie geniet. Dié huis in Ash Tree Lane is ’n onvergeetlike en vreesaanjaende karakter. Mens lees byvoorbeeld: “The walls are endlessly bare. Nothing hangs on them, nothing defines them. They are without texture. Even to the keenest eye or most sentient fingertip, they remain unreadable. You will never find a mark there. No trace survives. The walls obliterate everything. They are permanently absolving.”

Huise is, of word, personas – ’n nuwe huis wat nog nie ingeleef is nie, het nie juis atmosfeer of karakter nie. Want dis die óú huise, sien ...

........
Ja, ’n ou huis het ’n droewige hartklop; jy is bekend met die vat van elke deurknop, vensterknip, laaihandvatsel of sleutel. Jy weet bedags presies hoe die son oor die vloere skuif ... of hoe die ou bad roeserig aan jou sitvlak klou.
........

Daar is soms iets aan ’n ou huis wat nooit weer kan skoon kom nie. Geen skropborsel of seep kan die verwering genees nie – nié die dowwe blokkiesvloer met politoer nie; nié die nuwe huid van ’n vars uitverf nie. ’n Ou huis se ruite is grys en dof, aangepak met die katarakte van tyd. ’n Ou huis is moeg, en die vuil bly kleef, aanvoelbaar, onsigbaar vir die blote oog. Dit is ook ou huise wat mens die beste onthou – met die ingeleefde karakter van sy vorige inwoners. ’n Huis wat jy langsamertyd leer ken soos jou eie lyf. Ja, ’n ou huis het ’n droewige hartklop; jy is bekend met die vat van elke deurknop, vensterknip, laaihandvatsel of sleutel. Jy weet bedags presies hoe die son oor die vloere skuif ... of hoe die ou bad roeserig aan jou sitvlak klou.

Mens dink ook aan die karakter van ou, Gotiese kastele – met ’n swerm vlermuise wat skemeraand om die dakspitse kring. En wie sou beter weet as ’n skrywer soos Edgar Allan Poe? Lees mens The fall of the house of Usher, dan herken jy dié huis as melankoliese argetipe wat ’n rilling van vrees of plesier teen jou rug afstuur.

Die veelvlakkige betekenis van huise is al vir eeue deur filosowe, psigoloë en argitekte ondersoek. Ek het ’n besondere liefde vir die Franse fenomenoloog en filosoof Gaston Bachelard, wat in 1957 een van die mooiste en aangrypendste werke ooit oor die dieper betekenis van ’n huis gepubliseer het, naamlik La poétique de l’espace (The poetics of space) oftewel die poëtika van ruimte. Met sy fyn aanvoeling vir literatuur en poësie nooi Bachelard die leser uit om die subjektiewe en emosionele aspekte van ruimtes te herontdek, van die nederige huis tot die uitgestrekte heelal. Sy werk is ’n viering van die dromende bewussyn, asook van die manier waarop huise ons innerlike interieur vorm en weerspieël. Die kern van Bachelard se beskouing is dat sekere ruimtes argetipiese betekenis dra wat diep in ons psige ingegraveer is. Dit is in die hoeke waar ons drome gebore word; die kelder waar ons vrese skuil; die solder waar ons herinneringe geberg word.

........
Drome oor huise verteenwoordig volgens Jung die dromer se psigologiese toestand en reis na individuasie. As ’n argetipe vergestalt die huis die idee van beskerming en identiteit – maar ook ’n ruimte van beide veiligheid en misterie wat die kompleksiteit van die menslike psige weerspieël.
........

Op sy beurt het Carl Jung ’n huis beskou as ’n kragtige simbool en argetipe van die menslike psige. In sy analitiese sielkunde verteenwoordig die huis dikwels die Self, met sy verskillende kamers en vertikale beweging wat die onderskeie aspekte van die onbewuste simboliseer. Kelders en ondergrondse vertrekke dui byvoorbeeld gewoonlik op die dieper, meer verborge lae van die onbewuste, insluitend onderdrukte herinneringe of primitiewe instinkte, terwyl die boonste verdiepings hoër bewussyn of aspirasies kan simboliseer. Drome oor huise verteenwoordig volgens Jung die dromer se psigologiese toestand en reis na individuasie. As ’n argetipe vergestalt die huis die idee van beskerming en identiteit – maar ook ’n ruimte van beide veiligheid en misterie wat die kompleksiteit van die menslike psige weerspieël.

Maar van ’n droom, terug na die werklikheid. Dit is so dat die hoogte van ’n persoon se huis subtiel sy sosio-ekonomiese status weerspieël. Ryker individue se eiendomme is hoër geleë, soos op heuwels of riwwe, wat ’n panoramiese uitsig oor die natuur en ’n gevoel van privaatheid bied. In Suid-Afrika eindig hierdie woonbuurte se name met woorde soos “Hills”, “Heights” of “Ridge”, en is die hoër topografiese ligging ook ’n simbool van eksklusiwiteit, met veral die klem op sekuriteit – vandaar die toenemende ontwikkeling van sekuriteitskomplekse vir mense in ’n hoërmiddelklas- of hoërklas-inkomstegroep. Groot huise is verteenwoordigend van status. Dit is waarskynlik ook simbolies vir “uit die hoogte” woon en leef. Verhewe liggings kan ook geassosieer word met beter luggehalte en minder geraasbesoedeling. Daarteenoor is laerliggende gebiede dikwels waar meer bekostigbare behuising, insluitend informele nedersettings en digbevolkte woonbuurte, gekonsentreer is. Ongelukkig is hierdie liggings meer vatbaar vir risko’s soos oorstromings, brande en beperkte toegang tot geriewe.

........
Die letterkunde, geskiedenis en die Bybel beklemtoon die rustigheid en permanensie van ’n huis om die hemelse tuiste te verbeeld; Psalm 23, met sy eteriese kwaliteit, is ’n goeie voorbeeld: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.”
........

En van die tydelike na die ewige ... ’n Huis is inderdaad veel, veel meer as ’n boukonstruksie wat beskerming aan sy inwoners bied. Mens hoor dikwels hoe ’n persoon op sy sterfbed sê “Nou gaan ek huis toe.” Die metafoor van die hemel as huis of woonplek is inderdaad vertroostend. Die letterkunde, geskiedenis en die Bybel beklemtoon die rustigheid en permanensie van ’n huis om die hemelse tuiste te verbeeld; Psalm 23, met sy eteriese kwaliteit, is ’n goeie voorbeeld: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.” In talle religieë word die hemel beskryf as ’n woning wat nie deur mensehande gebou is nie, maar deur ’n goddelike argitek. Almal ken die bekende woorde van Jesus in Johannes 14:12: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; […].” Insgelyks word die hemel in sommige poëtiese tradisies uitgebeeld as ’n helder herehuis (mansion), gevul met lig en sereniteit, wat in skerp kontras staan tot die verganklike en dikwels onstuimige aard van aardse wonings. Herehuis ... Is dit nie ’n mooi, dubbelsinnige woord nie?

2

Die huis onthou jou. Nog lank voor jy daar was, het die huis jou geken – en daarná. Eendag, in die verre verlede, beweeg jy deur die ou bekendheid. Die leunstoel syg diep onder jou sit. Jy staan op en kyk deur die kantgordyn. In die ruite glim die ou lig van vergetelheid. Daar is ’n sigaretbrandkol van jare gelede – dís hoe jy die magiese gordyn, soos ’n wasige bruidsrok, onthou. Snags, as jy deur die huis wandel, herken jy die geheime binnelewe van meubels. Eintlik was jy nooit weg nie. Huise kies hulle eienaars, ongeag hoeveel verskillende bewoners oor verskillende tye dit bewoon. Die huis onthou jóú. Op die vensterbank onder die sitkamer se kantgordyn wag die bevrore vleis om deur die loop van die dag te ontdooi. Die katte loop draaie om die wintervleis, maar jou hart juig: Jou ma het weer ’n skaap gestuur na Pretoria-stasie sodat jy jou kinders ordentlik kan voed. Die huis weet dit, en die huis is saam met jou verheug. Jou oog val op die oop klavier. Die vibrasie van ’n huis verander onmiddellik in die teenwoordigheid van ’n musiekinstrument. Musiek open die vierde dimensie. Jy sal plaasneem op die harde houtstoel en Debussy se “Gesonke katedraal” begin speel. Die huis sal luister en asem ophou, want die huis self dra die kleed van impressionisme.

........
Jy moes verhuis. Jy het al hoe meer begin slaap – opgekrul gelê op die bed, die labirinte sluimer van ’n skulp, die infiniteit van dagdrome, die poësie van ’n verlore huis. Maande later in “die nuwe plek” het jy my vertel dat jou verlange na die ou huis so groot is, jy droom snags in reekse daarvan. Elke aand wag jy jou droom in – en elke nag wag die huis jóú in. In mens se verbeelding kan jy niks verloor nie.
........

Daardie noodlottige dag van die bankrotveiling – daardie dag toe hulle die borde ingeslaan het, dáárdie dag het Pretoria se rooigrond bloed getrek. Die varings het in geel en bruin getreur. Jy het langs jou rotstuin gehuil; die hele ensemble vetplante, die vygies, plakkies en die koel stilte van die hotnotsvy het geweet. Die bitter krag van jou bossies tussen die witgekalkte klip. In die somer het die sproeier fluoressent gebreek en daar was kringe rysmiere om die straatlampe; ja, jy was altyd lief daarvoor om tuin nat te spuit. Die dae het in wolke verbygedryf, hipnoties. Jy moes verhuis. Jy het al hoe meer begin slaap – opgekrul gelê op die bed, die labirinte sluimer van ’n skulp, die infiniteit van dagdrome, die poësie van ’n verlore huis. Maande later in “die nuwe plek” het jy my vertel dat jou verlange na die ou huis so groot is, jy droom snags in reekse daarvan. Elke aand wag jy jou droom in – en elke nag wag die huis jóú in. In mens se verbeelding kan jy niks verloor nie. In jou verbeelding is verlies net die bevestiging van besit. En ek het iets van die reverse psychology begin verstaan: dat die reverie aan Bachelard se huis uit vrye wil opgeroep kan word as beskermingmeganisme. Die dromer rig die verbeelding om veilig te voel. Daar is ’n dominante huis van verlies in ons almal, ’n huis wat nóg deur stootskrapers, nóg deur vendusies of deur die blinde vensters van verdriet gewis kan word. Selfs daardie kelder met sy rillende spinnekopdrade boesem nie meer vrees in nie en word ’n plek van koestering. Die geliefde frustrasies – die laaie wat briek in hulle verslete spore. Kriekende kasdeure: jou ma se aandrokke en die reuk van ou meubelolie, motbolle en die geur van versweë en eksotiese parfuum wat boontoe walm as jy die sleutel draai. Die idille. Ja; net goedheid en guns sal jou volg al die dae van jou lewe, en jy sal in die huis van Bachelard bly in lengte van dae.

Lees ook:

Springmielies: Lara

Springmielies: Die intieme kameraderie tussen vreemdelinge

Springmielies: Oor die ydelheidsindustrie en ander skoonheidsnarratiewe

Heil die Leser!: Oor wonderwerke en die antieke gebruik van vas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top