........
Die narratief van beeldskone vroue is so oud soos die mensdom self. Mens kan nie kompeteer met die skoonheidskoninginne van Hollywood, die sosiale media, die geskiedenis en selfs verhaalkuns nie.
........
1
Die glansvoorkoms
“Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie’s die mooiste in die land?”
“U, my koningin, is die mooiste in die land.”
Maar wanneer Sneeuwitjie ouer en mooier as die koningin word, sê die spieël:
“U is mooi, o koningin, dit is waar,
maar Sneeuwitjie is duisend maal mooier en klaar.”
Ons almal ken dié frase uit die Sneeuwitjie-sprokie, wanneer die towerspieël die koningin antwoord.
Die druk op vroue om mooi te lyk kom al vir eeue saam – en kyk mens na die makeover-programme op televisie, is daar iets aan die sprokiesagtige kwaliteit van ’n vrou wat transformeer van ’n lelike eendjie tot ’n swaan. (Nie dat ek impliseer dat die deelnemers aan die programme nie aantreklik is nie, maar dit is die narratief wat kykers graag wil glo.) Kyk mens na die geskiedenis, blyk dit duidelik dat vroue allereers beoordeel en aanvaar is op grond van hulle voorkoms. Mens neem kennis van beeldskone skone, véél meer as byvoorbeeld intelligente vroue, of vroue met leierseienskappe. Binne feministiese studies word na hierdie verskynsel verwys as “die manlike voyeur”, wat vir epogge reeds mag oor vroue het en die skoner geslag evalueer op grond van hulle looks (en nie noodwendig intelligensie nie).
Deur die geskiedenis heen het sekere vroue die kollektiewe verbeelding aangegryp met hul legendariese skoonheid, wat dikwels kulturele verandering oorskry het. Figure soos Nefertiti, die Egiptiese koningin wie se borsbeeld ’n ikoniese simbool van vroulike bekoring bly, en Helena van Troje, wie se mitiese skoonheid na bewering die Trojaanse Oorlog ontketen het, staan as vroeë voorbeelde. En laat ons ook nie vir Cleopatra vergeet nie ... Hierdie vroue het ’n onuitwisbare stempel op die geskiedenis gelaat.
En die manlike voyeurisme, dat ’n vrou “mooi” moet wees, het uitgespeel in die moderne multimiljard-ydelheidsindustrie (vanity industry) waarin vroue gepor word om kosmetiese en selfsorgprodukte aan te koop en te gebruik. Om van gewilde makeovers op televisie nie te praat nie. Vrouetydskrifte mistifiseer die beskouing dat skoonheid en mode geassosieer word met selfbeeld en status – en dat dit ’n noodsaaklikheid is. Want vroue moet teen elke denkbare prys goed versorg of mooi lyk – dit word immers van haar verwag. Dink aan die bekende advertensies, “Maybe she’s born with it” of “Because you’re worth it”, wat die belofte inhou dat ’n vrou haar skoonheid op outentieke wyse sal ontsluit wanneer sy sekere produkte gebruik.
Die wêreldwye ydelheidsindustrie – wat grimering, haarprodukte en mode insluit – is ’n uiters florerende sektor met ’n geskatte waarde van $646,2 miljard in 2024, en ’n verwagte jaarlikse groei van 3,33% tussen 2024 en 2028.
Maar wat is die redes vir die groei in die ydelheidsbedryf?
Sosiale media en beïnvloeders op platforms soos TikTok en Instagram bepaal nuwe tendense en beïnvloed vroue se aankoopbesluite. Tot 67% kopers laat hulle lei deur die inligting oor skoonheidsprodukte van sosialemediabeïnvloeders.
Daar is ’n groeiende tendens om skoonheidsprodukte te gebruik wat nie net uiterlike voorkoms verbeter nie, maar ook innerlike welstand bevorder, byvoorbeeld produkte met natuurlike adaptogene en probiotika wat lei tot ’n toename in “skoon” en ekovriendelike produkte. Die ydelheidsbedryf floreer dus weens ’n kombinasie van tegnologiese innovasie, veranderende verbruikersvoorkeure en die invloed van sosiale media.
.........
Makeovers van vroue is so gewild omdat dit menslike behoeftes aanspreek, soos die soeke na selfvertroue, aanvaarding, identiteit en ’n sprokiesagtige transformasie. En natuurlik handel makeovers lankal nie net oor die uiterlike nie – met goeie bemarking lei ’n uiterlike transformasie nou ook tot ’n innerlike transformasie – en kykers hou van die dramatisering van die vóór- en ná-oomblikke wanneer die deelnemer haarself in die (tower-) spieël met ’n wow-uitdrukking bewonder.
........
Makeovers van vroue is so gewild omdat dit menslike behoeftes aanspreek, soos die soeke na selfvertroue, aanvaarding, identiteit en ’n sprokiesagtige transformasie. En natuurlik handel makeovers lankal nie net oor die uiterlike nie – met goeie bemarking lei ’n uiterlike transformasie nou ook tot ’n innerlike transformasie – en kykers hou van die dramatisering van die vóór- en ná-oomblikke wanneer die deelnemer haarself in die (tower-) spieël met ’n wow-uitdrukking bewonder. Nóú simboliseer die transformasie persoonlike groei – van onsekerheid na selfvertroue. En hierdie gevoel van bemagtiging gee die vroue wat makeovers ondergaan het, ’n hupstoot wat hulle selfbeeld betref. Hierdie transformasies word vergesel deur fantastiese werklikelewe-stories wat kykers diep raak.
Glam Guru, die makeover-program op kykNET wat aangebied word deur die skoonheidskenner, Hannon Bothma, het sedert 2008 vroue gehelp om hul voorkoms en selfvertroue op te knap. Die program fokus op die verbetering van die uiterlike deur middel van haarstyle, grimering en modewenke.
........
Dalk is Hannon reg. ’n Goedversorgde voorkoms gee mens inderdaad ’n voorsprong as dit by dinge soos onderhoude vir werk kom. Dit is werklik ’n plesier om hierdie Aspoesterverhale te aanskou, en dit bied ’n inspirerende blik op die selfvertroue wat hierdie dames ontwikkel ná so ’n suksesvolle makeover.
........
En Hannon, met sy sjarmante persoonlikheid en geesdrif, weet presies hóé: Hy het byvoorbeeld ’n dame op sy program gehad wat nie haar skoolloopbaan voltooi het nie en op ’n kol as ’n motorwag gewerk het. Hannon en sy span het haar onder hande geneem en voilà! Ná haar uiterlike transformasie het sy ’n joppie as ’n adminklerk gekry en kon sy haar eie loopbaan begin. Dalk is Hannon reg. ’n Goedversorgde voorkoms gee mens inderdaad ’n voorsprong as dit by dinge soos onderhoude vir werk kom. Dit is werklik ’n plesier om hierdie Aspoesterverhale te aanskou, en dit bied ’n inspirerende blik op die selfvertroue wat hierdie dames ontwikkel ná so ’n suksesvolle makeover.
Briljante bemarker wat die Glam Guru is, weet hy presies wat se narratiewe vroue (of kykers in die algemeen) sal raak om in te koop op die idee van makeovers (en natúúrlik sy eie reeks selfsorg- en skoonheidsprodukte). Soos ’n aanbieder iewers gesê het: Hannon hou net nie op nie; hy is soos belasting. Met sy glitz en glam het hy reeds vir 22 reekse en 23 programme propvol vermaak gesorg. Sy sin vir humor is net so sprankelend soos hyself – soos: “Jy wil graag lyk soos jou buurvrou, ’n filmster, of tannie in die boekklub. Nee. Ons gaan die beste weergawe van jóú skep!”
Mens kan die gewildheid en relevansie van hierdie makeover-televisieprogramme verstaan. In ’n wêreld waar die beginsel “voorkoms is alles” dikwels geld – veral in professionele en sosiale kontekste – is die duimreël dat ’n goeie voorkoms ’n hulpmiddel tot sukses is. Weens die gewildheid van hierdie programme het die uiterlike makeovers ondertussen uitgebrei na die belangrikheid van gesondheid, gewigsverlies, sielkunde en meditasie. Trouens: ’n Vrou se héle leefstyl word nou gekoppel aan haar uiterlike voorkoms. Die ydelheidsindustrie maak inderdaad voorsiening vir baie moontlikhede – en vir gróót geld.
2
Maar in die werklikheid ...
It hurts to be beautiful.
In die regte lewe is dit moeilik om ’n vrou te wees. Gegewe bogenoemde eise wat aan ’n vrou gestel word om mooi, of goed versorg, te lyk, is dit veral middeljariges wat swaartrek.
Sit jy jou eyeliner aan, kyk die Oog van Horus geskok terug na jou in die spieël, want in stede van een ooglid, is daar nou twee ooglede. Al opgemerk dat wanneer ’n vrou haar eyeliner aansit, haar mond oophang? Waarom? En vroue wat swak oë het, of ’n bril moet dra: Ja, sonder kontaklense is dit nogal ’n stryd om jou oë mooi te omlyn, sonder om soos ’n hanswors op te eindig. Ek het al dikwels ouer dames gesien wie se foundation soos polyfilla aangeplak is – met strepe en kolle wat hulle nie raaksien nie, en wat die porieë op hulle neuse aksentueer.
.......
’n Tipiese werklikelewe-scenario: Daar is vroue wat nie kan wag om van alles wat knel, ontslae te raak as hulle ná ’n lang dag by die voordeur instap nie. Skoene, oorbelle, bangles, die bra, tandeplaatjie – alles trek deur die lug.
.......
’n Tipiese werklikelewe-scenario: Daar is vroue wat nie kan wag om van alles wat knel, ontslae te raak as hulle ná ’n lang dag by die voordeur instap nie. Skoene, oorbelle, bangles, die bra, tandeplaatjie – alles trek deur die lug. Teen die spoed wat die klere en bybehore deur die lug vlie, herinner dié ritueel nogal aan die begin van ’n bar fight. Ek kan verstaan waarom sommige mans in hul mou lag vir vroue; miskien is my brein ook anders bedraad. Want ek kry ook lag.
Ek bewonder vroue wat met grasie op hoë hakke of stiletto’s kan loop. Want dit vereis balans en koördinasie. Min vroue kan egter so vinnig op hoëhakskoene hardloop as Agent Dana Scully van die X-Files-faam. Ek het al film ná film gekyk of iemand haar kan klop, maar nee: vir Gillian Anderson bly dit ’n sonderlinge prestasie. Geen special effects nie; dis ’n talent om met spykerskoene te hol en ’n skelm agterna te sit. Wat my neem na die dag wat ek aangeneem en voorgestel is in die NG Kerk, in standerd 9. My ma het vir my ook ’n paar hoëhakskoene vir die okkasie gekoop, maar met dié verskil: Ek het nog nooit voorheen met sulke hoë, bewerige hakke geloop nie, en die skoene was bietjie te groot. Ongelukkig het dit die vorige aand gereën en die kerk se grasperk was nog lekker sag en reëndeurweek. Ek het in my nuwe outfit aangestrompel, al waggelend oor die gras ... en seker so sewe, agt treë later onraad bemerk toe ek op my sykouse aansuiker en die nattigheid onder my voetsole voel. Ek het omgedraai en my spognuwe hoëhakskoene, wat verdwaas in die modderige gras vasgesteek het, agterna gestaar. En dít alles ten aanskoue van die lidmate en ander katkisante. Dit was die laaste sien van die blikkantien, en vir my jeugdige ego, één te veel.
Nou ja, alles verander wanneer mens ouer word. Met ’n vrou se middeljare ontwikkel sy skielik twee middellyne en wroeg soggens om haar broek of romp op die mees gepaste (waggelende) ronding vas te maak. Die meeste dames gaan op meganiese wyse deur die motions: hare, grimering, geskikte bypassendhede. Genugtig, ek is net bly ek het nie tydens die Victoriaanse tyd gelewe nie, want ek sou ’n power specimen van ’n vrou gewees het. Dink net aan die gestyfde onderrokke, korset en nate en some belyn met van walvisbaard, staal of hout. Die dae toe rokke nog tente was!
........
En, soos met enigiets in die lewe, kan daar met die aanwend van grimering iets leliks verkeerd gaan.
........
En, soos met enigiets in die lewe, kan daar met die aanwend van grimering iets leliks verkeerd gaan. Só het ek een dag myself vir ’n book launch gegrimeer, en tipies van die Kaapse weer, was dit reënerig en bewolk buite. Ek het die kamer se lig aangesit, maar duidelik was dit nie helder genoeg nie. Omdat ek bleek van gelaat is, sukkel ek om die regte skakering gesigspoeier te kry. Daarom gebruik ek babapoeier. Maar o wee ... in die doflig het ek die bruin oogomlyner verwar met die rooi lipliner, en verstrooid soos ek is, my oë omlyn met ’n knalrooi potlood. Aangekom by die funksie het ’n klomp genooides my agterdogtig betrag. ’n Vriend het kom vra: “Is jy oukei?” Waarop ek geesdriftig geantwoord het: “Natuurlik, dankie, en jy?” Maar die kommer wou nie wyk van die ou se sy gesig nie. “Is jy ... dalk ... jy weet, dalk siek?” Waarop ek verward geantwoord het: “Nee, ek is so gesond soos ’n vis in die water.” En toe die Jackpot-uitdrukking op sy gesig: Natúúrlik, sy’s ’n Goth, maar méér as dit, sy’s ’n vampire! Sonder dat ek dit besef, het die babapoeier en rooi eyeliner my inderdaad laat lyk soos ’n vampier wat pas ontwaak het in ’n doodskis. Gelukkig troos ek my daaraan dat die ander gaste daar kon gedink het ek ly aan hooikoors of iets ... dan praat ek nie eens van lipstif wat aan jou tande afsmeer en bly kleef en die bloederige glimlag wat jy onwetend uitdeel nie.
Vroue probeer konformeer met die skoonheidskodes van die dag, maar dis moeilik. Dis móéilik om ’n vrou te wees. Of altans, vir my. Dan is daar die evasgeslag wat dit geniet om deur al hierdie rituele wat skoonheid en selfsorg vereis, te gaan ...
Maar oor my persoonlike flaters: om mooi en bý te probeer bly met skoonheidstendense kan ek ’n boek skryf. Ek het geen geduld met naellak nie; ek kan bloot nie wag tot dit droog is nie. Om my naels te laat doen, verlig nie die ongeduld nie. Ek kan net nie daardie dooie minute omwag nie; my naellak smeer áltyd.
Op ’n dag besluit ek om my naels swart te verf. Maar nee, dit het gevlek tot oor die onderskeie vingers se naelvliesies. Ek het terstond die gemors met naellakverwyderaar afgehaal, maar die swart kolle en strepe wou nie wyk nie. Deeglik en verwoed het ek my naels begin vyl, en ten einde laas, bleikmiddel op my nerfgeskuurde naels gesit om van die laaste strepe ontslae te raak. In ’n oogwink het my naels pienk en baie dun daar uitgesien – en ék wat geskok na my (nuwe) gelatiennaels, kompleet soos dié van ’n pasgeborene, staar. Ek vermoed die keratien het dáái dag heeltemal in die slag gebly ...
Dan, laat ons nie van fotoredigering, die kitskosmetiek, vergeet nie. Party gedokterde selfies laat mens lekker smile. Soos die dames wat ál die beauty funksies volvolume oopdraai, byvoorbeeld die thin face app: Die kakebeen word smaller tot op ’n punt waar die gesig alien-agtig begin lyk. Die geplooide gesig maak plek vir maanligvel wat geen foundation op aarde kan bied nie. Op party foto’s kry die gesig so ’n silikatekstuur, veral hier by die voorkop langs. En fotoredigering se versagtingseffekte werk nie vir die krakies om die oë nie, so, veroudering geskied selektief en heel gelokaliseerd. (Dit moet nie met Botox se appelkooswange verwar word nie.) O, dan is daar die tande wat terstond verander in ’n A1-skaterwit wat selfs ’n tandarts sal laat bloos.
........
Soos fotoredigeringsprogramme verbeter, só het sekere vroue die fontein van ewige jeug ontdek; ’n sestigjarige lyk skielik soos ’n drie-en-twintigjarige prikkelpop. Ek het my al boeglam geskrik wanneer ek iemand in lewende lywe ontmoet ...
........
Soos fotoredigeringsprogramme verbeter, só het sekere vroue die fontein van ewige jeug ontdek; ’n sestigjarige lyk skielik soos ’n drie-en-twintigjarige prikkelpop. Ek het my al boeglam geskrik wanneer ek iemand in lewende lywe ontmoet – en dié persoon glad nie lyk soos op haar profile pic nie!
Wanneer Facebook-vriendinne hulle profielfoto’s verander, vertel hulle vir mekaar hoe beeldskoon hulle is. Want vroue verstaan die ongeskrewe reël om mekaar te komplimenteer met hul looks. Dis soos bobbejaanwyfies wat mekaar groom en vlooie soek. En wanneer ’n vrou sukkel om die gepaste Facebook-foto op te laai, het haar ego seergekry. Gee tog vir die dame komplimente om haar beter te laat voel! Nie almal vee hulle vorige profile pics uit nie – maar laat ’n virtuele rekord van hoe hulle gewroeg het om te besluit op die regte foto.
Die narratief van beeldskone vroue is so oud soos die mensdom self. Mens kan nie kompeteer met die skoonheidskoninginne van Hollywood, die sosiale media, die geskiedenis en selfs verhaalkuns nie. En jou kans om ’n makeover op TV los te slaan, is maar skraal. So, wat bly oor? Dra jou war paint met ’n blymoedige en oop gemoed – en, as dít jou nie behaag nie, leef androgien. Wees vry. Die gelukkigste vroue wat ek teëgekom het, is dié’s wat hulle bra’s brand en net volkome mens is.
Lees ook:
Springmielies: Die magiese en simboliese eienskappe van juwele
Springmielies: Intro- en ekstroversie – ’n digotomie, of viering van diversiteit?



Kommentaar
Ek geniet altyd Nini Bennett se bydraes op LitNet geweldig. Sal wonderlik wees as haar artikels in boekvorm gebundel kan word.