’n Dag in die lewe van ’n Facebook-narsing

  • 4

Ons almal ken daardie meem wat sê: “They call it a selfie, because narcissistic is too hard to spell.” Nou kyk, selfies maak my kriewelrig. Soos die berugte Facebook-narsing, Yolandré-Marie Spies. Die ouwêreldse Hollywood-mite van Marilyn Monroe, en meer onlangs Barbie, het by haar vasgesteek. Lang blonde hare met ’n krultang uitgeklok op die skouers. Op die een gedokterde selfie lyk sy soos Farrah Fawcett – die rookgevlekte tande is só gebleik, jy het ’n sonbril nodig teen die glare. Al die beauty funksies is vol-volume oopgedraai, soos die thin face: Die kakebeen word smaller tot op ’n punt wat dit alienagtig begin lyk. Maar as jou gesig so punttrek, vertoon die oë wyer uit mekaar. ’n Paar finishing touches later ... en Michelle Pfeiffer is gebore. Die Barbie doll look vorm die sjabloon vir ánder gedokterde selfies wat volg, want nou kompeteer Yolandré-Marie teen haarself. Sy morf in Liz Hurley in – en Charlize Theron. Sy speel in die top liga van Hollywood se skoonheidskoninginne. Die groot misterie is dat min mense weet hoe sy regtig lyk. (Dis nou afgesien van ’n paar virtuele minnaars wat sy ge-video call het, en dié ouens het hulle boeglam geskrik. Volgens die handvol ooggetuies is sy eintlik ’n pokkel met ’n laggie soos ’n Sméagol.)

........
Yolandré-Marie is gewoond aan die goeie lewe sedert sy dekades gelede werksaam was as LO-onnie by ’n laerskool in die Moot.
........

En of jy nou na the real housewives, die Kardashians of pleinweg net na poeierholle verwys, al drie is van toepassing op Yolandré-Marie. Sy woon in ’n herehuis in Woodhill, dáár waar die honde blaf met ’n Pretôria-Oos oksent: whô-whô-whô ... (met apologie aan Jeanne Goosen). Yolandré-Marie is gewoond aan die goeie lewe sedert sy dekades gelede werksaam was as LO-onnie by ’n laerskool in die Moot. O, om saam met vriendinne te gaan shop in Menlyn; of om te gaan tee drink en lemon meringue eet in Brooklyn; of ’n gawe wegbreek na Leriba Lodge te geniet; of om Vrydae-aande na Nataniël se shows te gaan kyk; of eksklusiewe boekbekendstellings by te woon, die tipe wat geopen word met ’n praatjie van die een of ander professor in letterkunde (UP of Stellenbosch, hoe dan anders?). Dan is daar die beplanningsgesprekke rondom kerkfunksies, soos die afwagting op Gretha Wiid, daardie charismatiese onderbroeksalwer wat weer ’n Worthy Women-byeenkoms gaan hou. “Die Bybel in die binnekamer”, beloof die jongste lokplakkaat. Yolandré-Marie het ’n druk sosiale lewe, maar wanneer dit by selfies kom, speel sy solo – geen groepfoto’s nie. Ander Facebook-narsings weer is sosiaal awkward, sit heeldag by die huis en doen shopping op Takealot, Temu of Wish, maar skep die illusie van ’n druk sosiale lewe, hegte vriendinne asook vriendskappe met celebrities saam met wie daar onmiddellik selfies geneem word na die enkele vertoning wat hulle bygewoon het – en hierdie selfies word aangebied asof hulle ou vriende is.

Soos fotoredigeringsprogramme verbeter, só het Yolandré-Marie die fontein van ewige jeug ontdek. Sy lyk nou jonger as haar dogter, Sussa. Haar Facebook-blad is immers die uitstalkas van die gesin se drie B’s: Beauty, Brains en Breeding. In soverre dit Facebook-foto’s aangaan, het Yolandré-Marie nie ’n groot repertoire nie, net solank (die illusie van) haar perfek gekonstrueerde ontwerperslewe deur ander mense se nuusvoer beweeg. Aan die Spiese se talente is daar geen einde nie. ‘n Voorbeeld: Yolandré-Marie poseer agter ’n esel met ’n innige uitdrukking, besig om te skilder. Die selfiestok is die enigste getuie. Sy staar met ’n gewroegde kyk na die canvas (art for art’s sake), of sy gooi ’n serene pose, iewers verlore in ’n pastorale idille ... of sy poseer met so ‘n klein, misterieuse glimlaggie soos die Madonna self. (Dit is egter opvallend dat niemand nog ooit enige van haar skilderye gesien nie, slegs foto’s van haar aan’t skilder.)  

........
Wanneer Facebook-vriendinne hulle profile pics verander, vertel hulle vir mekaar hoe beeldskoon hulle is. Volgens hierdie beginsel is dit ’n vereiste dat ’n kompliment beloon word met ’n wederkerige kompliment wanneer die ander party ’n selfie plaas. Dit is soos bobbejaanwyfies wat mekaar groom en vlooie soek.  
........

Sy tel kort-kort die likes by haar varsgeplaaste kiekies. (Sy tel heel eerste die hartjies.) Haar geplukte wenkbroue, soos verbaasde halfmane, verklap dat haar vyftigerjare soos gevalle domino’s ágter haar lê. Haar Facebook-maters, die getroue sosiale-media-slawe, kén die dril. Al verander sy haar profile pics ’n paar keer ’n dag, cheer die juigkommando: Beeaauutiful!! Dan beloon Yolandré-Marie die komplimente met ’n sticker van ’n hasie wat ’n hartjie omhels. Kyk, vroue verstaan die ongeskrewe reël van wederkerigheid op Facebook: Wanneer Facebook-vriendinne hulle profile pics verander, vertel hulle vir mekaar hoe beeldskoon hulle is. Volgens hierdie beginsel is dit ’n vereiste dat ’n kompliment beloon word met ’n wederkerige kompliment wanneer die ander party ’n selfie plaas. Dit is soos bobbejaanwyfies wat mekaar groom en vlooie soek.  

En wanneer Yolandré-Marie moeg raak om ou (nuwe) getoorde selfies te pos, spog sy met Sussa, oftewel Karolizé-Marie. (Oupa Karel en Ouma Elizé se name kruisbestuif. Mens kan enige meisiesnaam in Afrikaans verbind met “Marie”, dan kry dit ’n eksotiese klankie.) Want sien, Sussa is ’n tandarts en haar praktyk identifiseer as in vrouebesit. Sjuut, moet niks sê van haar verdwene pa, die stinkryk tril en IT-triljoenêr, Coenrad Spies (van Spies & Plesier-faam) nie – om so ‘n weelderige tandheelkundige kliniek soos Sussa s’n te bekostig, sit nie in enige girl se broek nie. Tjieng! Die patriarg s’n. Ma Yolandré-Marie is mos finansieel onafhanklik sedert sy haar egskeidingsooreenkoms van miljoene 24 jaar gelede gesluit het en haar makelaar hom sedertdien oor die goue eier ontferm. Sy is ’n vry vrou, sê sy gereeld. (Die here hoor my, ’n vry fokken vrou, aka Antjie Krog.) Warmpraatjies met vreemde mans saans as die opsitkers begin krimp (of is dit nou groei?). En só besluit ’n paar om die hasepad te kies nadat Yolandré-Marie begin skimp het sy is lus vir ’n lekker potjie boereseks.

Sussa, die formidabele tandarts, hou van power dress, dan dra sy baadjiepakke met shoulder pads uit die ‘80’s en sy vou haar arms verbete voor haar spreekkamer. (Respek.) Sy gooi ’n wipgatstappie en gee so ‘n skewe glimlag soos Bella in The Twilight Saga, want sy is sexy én slim, dit moet almal weet. En natuurlik staan Ma Yolandré-Marie gereed met die video-opsie op haar Samsung Galaxy (met die pienk bling-selfoonhouer), want dié grepie moet ’n ereplekkie op Sussa se eksklusiewe website beklee. ’n Toneel later, en Sussa verskyn in haar scrubs, gemasker en gehandskoen –Carpe diem!

Ma Yolandré-Marie is ’n woke feminis. Dis eenvoudig: All men are bastards. As sy ’n man met ’n sterk mening of persoonlikheid teëkom, druk sy die foon dood of blok die lummel summier op Facebook nadat sy hom mooi vertel het hoe “toksies manlik” hy is. Sy is lief om groot woorde soos “histrionies” te gebruik, en sy hou daarvan om haar vyande met haar kennis van popsielkunde te psigoanaliseer. Sy pick ’n paar fights ’n dag, dan ruk sy en Sussa, die Streetwise Two, op en terroriseer die mense. Yolandré-Marie se lys geblokte vriende is langer as Pablo Escobar se hitlist. Sy sit oorgehaal soos ’n blaasoppie agter haar desktop en bestuur haar Facebook-settings soos ’n vegvlieënier sy beheerpaneel: BLOCK, UNBLOCK (gou weer ’n bietjie spy vir 72h), UNFRIEND, UNFOLLOW, SNOOZE, SEE LESS, TAKE A BREAK ... Maar Yolandré-Marie is blokbefok, dít is haar gunsteling setting en die sneller wat sy gereeld trek. Soos die uitvinder van die AK-47, Mikhail Kalashnikov, besef mnr Zuckerberg nie hoeveel mag hy vir iemand soos Yolandré-Marie met die block knoppie gegee het nie. Wegkruipertjie – nou-kan-jy-my-nie-sien-nie! Keyboard warriors is gevaarlike mense – en sy het reeds eiehandig haar virtuele wegraping bewimpel.  

Dan is daar Boetietjie. Sy naam is Marais: Ouma Spies se nooiensvan. Marais Spies, aangename kennis. Yolandré-Marie plaas egter baie minder kiekies van Boetietjie op Facebook, want hy is nie so ‘n superster soos Sussa nie. Hy ly aan depressie en maak stukkende selfone reg in die Kolonnade. In sy vrye tyd bak Boetietjie, dan nooi hy vir Sussa, die uitskieter oor, sodat hy ook iewers op ’n selfie mag pryk. Boetietjie het intussen ’n fris Boeremeisie met Sjinese bloed op die lyf geloop, maar sy voldoen nie aan Ma se hoë standaarde nie. Yolandré-Marie en Sussa is ’n matriargie, die Streetwise Two, en Boetietjie & kie kén hulle plek in die pikorde.

Wanneer Yolandré-Marie haar aftiklys van oulikies deurgewerk het, verander sy haar dekfoto: ’n ikoniese gebou iewers in Europa. (’n Reisfoto.) Dís nou klas. Want die Spiese het supergene, dit het haar Facebook-vriende al male sonder tal gesê. Sy tel die likes en kry amper ’n emosionele orgasme – 60! Weliswaar uit 600 vriende, maar ag wat. En dan is daar nog die funksie vir vername vriende wat sy moet reël – die ete gaan in haar reuse tuin (die werk van ’n vername landskapsargitek) plaasvind. Die tuin van 1 001 narsings. Ja, die Spiese is nie sommer van hier nie. Die psychic wat sy weekliks gaan sien, het te vertelle dat Yolandré-Marie binnekort ’n sakeman gaan ontmoet. Iets soos ’n CA of CEO. Skynbaar ’n Adonis van ’n man, en dan nog so slím ook.

Intussen trek die psychic die toutjies, kompleet soos in die Woody Allen-fliek You will meet a tall dark stranger; dan vertel sy vir Yolandré-Marie nét wat sy wil hoor. Die selfvervullende profesie speel ... nou ja, vanself uit – ’n lonende besigheid as jy kaarte of teeblare lees. (Vertel vir enige persoon presies wat hy wil hoor, en dit sal so gebeur, want confirmation bias is aan die werk.)

........
Aandag op Facebook is soos cocaine – die versmagting is altyd daar, onversadigbaar, en die enigste fix is opsnuif van honderde emoji’s.
........

Uit pure verveling, want ’n rykmansvrou het baie tyd op hande, recycle sy ’n klomp selfies. Die goue oues. Sy verander haar profile pic na ene waar sy tjello speel – haar Facebook-maters moet tog kennis neem dat sy musikaal óók is. Dis in die gene. Die foto is nege jaar oud, maar wie sal nou kyk? Dit het al honderde likes geakkumuleer, maar tja – as jy gewild is, is jy gewild. Yolandré-Marie kon ongelukkig nie die tjellofoto photoshop nie, want dan vermink sy die arme musiekinstrument tot dit soos ’n platgestrykte mandolien eindig.

Aandag op Facebook is soos cocaine – die versmagting is altyd daar, onversadigbaar, en die enigste fix is opsnuif van honderde emoji’s. Dit bly tog komies, die onderskeie weergawes van selfies soos die foto’s deur verskillende redigeringsprogramme gestuur is. Dat jy op dieselfde foto se drie verskillende weergawes heeltemal onherkenbaar kan lyk. Die maanligvel wat geen foundation op aarde kan bied nie. Op party foto’s het Yolandré-Marie se gesig so ‘n silikatekstuur, veral hier by die voorkop langs. Sommige selfies is grillerig soos die waspoppe van dooie aktrises in die Hollywood-wasmuseum. En fotoredigering se versagtingseffekte werk nie vir die krakies om die oë nie, so, veroudering geskied selektief en heel gelokaliseerd. (Dit moet nie met Botox se appelkooswange verwar word nie.) Ag, en dan die gesukkel met ’n neus op ’n selfie! Geen neus kom ooit reg uit op ’n selfie nie; om die een of ander rede kap die lens dit teen ’n hoek waar al die foto’s soos een reuse familiesaamtrek begin te lyk ... knopneuse, soos sjampanjebottels se proppe.

........
Selfie, selfie, in my hand, wie’s die mooiste in die land?
........

Yolandré-Marie ontdek ’n gratis KI-program om ’n foto van haar en Sussa te photoshop, maar die eindresultaat ... Ma-en-dogter se lang hare vloei ineen, kompleet soos ’n Siamese tweeling wat aan die een oor aan mekaar vas is en een bos hare deel. En sy het skielik ses vingers aan haar een hand.

Laatmiddag neem Yolandré-Marie wéér ’n selfie, die suffelste een vir die dag. Die regterarm groei grotesk uit, maar word genadiglik geamputeer deur die lens.

Selfie, selfie, in my hand, wie’s die mooiste in die land?

Ná noukeurige kosmetiese redigering plaas sy die jongste vonds. Maar iets is verkeerd. Sy kyk. Sy kyk weer. Haar oë gluur die niet in: ’n skisofreniese inkyk op die self.

Die swartspieël kom nader.

’n Afgrond.

Yolandré-Marie het Nietzsche se abyss gesien.

Sy breek met die geklingel van skerwende glas dwarsdeur die groeiende skerm en verander in dít wat sy nog altyd wou wees: ’n narsing, die mooiste, mooiste mitiese blom.

Lees ook:

’n Kultus van positiewe denke

Barbie: ’n Feministiese ikoon of ’n paradoks in pienk?

Die stereotipering van vroue

Die stereotipering van mans

 

  • 4

Kommentaar

  • This is so funny I forgot to laugh. Warrit iemand uit die Moot al ooit vir jou gemaak? Mootmense sal nie 'n vlieg skade aandoen nie. Humor waarin name, vanne, diere en dorpe beswadder word, hoort nie tuis op LitNet nie. Die jirre het my lyfie mooi gemaak, baie-baie mooi gemaak. Ag nee, Nienie, lyfbeswaddering hoort nie hier tuis nie-nie. Tsk, elke blad het maar sy trol of 'n drol. As jy miskien hier lees Boerkjint ... as jy dalk Stellenbos toe neuk, kan ek 'n lift kry?

  • Boerkint (dolerend)

    Henning, hierdie leesstof is so bietjie bo my pay grade. Maar weens jou kommentaar het ek nou maar die stuk aandagtig deurgelees. Ja die narsings van Saron sal daar altoostyd wees. Alles wat verkeerd is in vroue se lewens, ook hulle obsessies met uiterlike skoonheid, is maar weens die patriargie se sondes.

    'n Mens kan op jouself fokus in die lewe, en die wereld sal moun, of jy kan jou neus in andere se sake indruk, en die wereld sal steeds moun.

    Wat my veel meer ongemaklik laat, is daardie Afrikaners wat hulle week elke Maandag begin met 'n skeut Stief Stemsing. Nou ja, ek geniet self soms 'n stukkie Stief, as die gier my pak. Ek het self darem ook deur die 90s geleef. Maar, ek verkies dit dat hy sing en nie praat nie. Al is dit dan nou ook die blessitse Stem van SA.

    En dan, skakel klomp ook elke ander dag in om te luister na die pakkieman. In die hoop dat hulle pakkies eendag uitbetaal. Soms luister hulle ook na Niekie, op die Waarheid Radio. Ai, in die 90s het ons ALMAL nog na Niekie geluister. Onthou jy dit Henning? Daai jare was Niekie nog by die SAUK. Se wie goeiemiddag. Skakel net asseblief jou draadloos af!

    Ennieway, ek loop nou draaie en gatswaaie. Hier is wat ek eintlik vir jou wil sê. Gits, ek het amper my tong ingesluk toe ek jou woorde lees. Ek was juis vanoggend Stellenbosch toe (spioeneer jy op my?!). Maar ek kom eintlik min daar. Ek het belangrike familie daar I'll have you know. En soms kry ons ook ienwaaits om te gaan kyk hoe lewe rykmense en om aan hulle tafels aan te sit. Ja ja ek gedra my goed en vat altyd iets saam vir hulle kinders.

    Ek was daar vandag vir aankope, maar dit skyn ek het verniet gery en kon alles aanlyn bestel het. Die lewe is nie maklik as jou brein nog in die 90s vassit nie. Ten minste kon ek heerlike pere koop by die Boord. Ons kry nie sulke goeie vrugte hier in die swakker dele van die Kaapse noordelike voorstede nie.

    Ek lief die Moot se mense. Sal wat wou gee vir bietjie uitstappie Gauteng toe.

  • Ja, pout is out en bly lief vir ʼn brief! is my leuse. Pout is mos ook ‘to push both lips forward in a sexually attractive way,’ sê my Cambridge. (Ek sien UK kraai weer koning met die Moot se eie universiteit vyfde ‒ nietemin, watter onsin.) Jy sal verlig wees om te verneem ek is nie ʼn bekruiper (stalker, he-he-he ...) nie, maar in dieselfde asem (moenie nou jou tong sluk nie) is ek ʼn meester van die kripto-analise, as’t ware ʼn Alan Turing in die kleine. So snap ek maklik mense se doen en late. Ek streef in die geheim ook na die ondergang van die fascisme.

    Ou Stevie-babes! Een aand sit ek en ʼn vriend by College, Pretoraa, en hier kom koop hy ʼn hamburger. Dit was waarskynlik die laat tagtigs, maar die negentigs werk vir goed my. (Omdat tyd nie werklik bestaan nie. Als relatief.) Boerkint, nee verder onthou ek nie veel nie ... van Niekie en RSG. Ek was ʼn ander mens as die gekultiveerde Henning wat jy vandag hier op LitNet leer ken; destyds selfs onafgerond, maar soos jy puntenerig uitwys: moun sal hulle moun. Niks is ooit goed genoeg nie. As ek bv. wyn by die bure gaan leen in hulle afwesigheid verwag hulle dat ek dieselfde kultivar ens. en so aan vervang, anders raai wat: moun-moun-moun ... ek weet nie meer nie.

    Ja, sit jou radio af. Nou praat jy. Ek oorweeg dit om te spaar vir ʼn taboe (Boe!) bundeltjie gedigte, maar jy is reg, daarvoor hoef ek nie my voete in Stellies te sit nie. Bestel sommer. Hei, dalk ry ons ʼn ander keer iewers na een van die vele opwindende Afrikaans-feeste in ons mooi land Suid-Afrika, net solank dit nie in Gauteng is nie.

    Groete vir jou (ryk)mense. Eisj, ek voel die maan raak weer vol (waterteken). Hier op die berg waar ek woon, beweer van die inwoners ek bly onder ʼn klip soos die swartskerpioen. Het jy geweet daar is mense wat Maan snuif? Fokkit. Anyway, sien jou hier rond.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top