........
"Ek stuur vir jou lig.” “Moenie bekommerd wees nie, die universe sal alles uitwerk.” “Sy het goeie vibes.” “Ek is sensitief, ek is ’n empath.” Dié is frases wat ’n mens dikwels op die sosiale media raaklees. Mense gebruik die lingua franca wat eie is aan die New Age-beweging, meesal sonder dat hulle daarvan bewus is.
.........
"Ek stuur vir jou lig.” “Moenie bekommerd wees nie, die universe sal alles uitwerk.” “Sy het goeie vibes.” “Ek is sensitief, ek is ’n empath.” Dié is frases wat ’n mens dikwels op die sosiale media raaklees. Mense gebruik die lingua franca wat eie is aan die New Age-beweging, meesal sonder dat hulle daarvan bewus is. Die term New Age dui nie op ’n formele sosiale beweging nie; dit is eerder ’n versamelnaam wat verwys na die herlewing van ou spirituele en mistieke idees. Die New Age-beweging is eklekties van aard en die volgelinge is oorwegend Westers, wit en hoër middelklas. Sedert die sewentigerjare is daar ’n hernieude belangstelling in die wêreld se oudste godsdienste, filosofieë en praktyke soos spiritisme, astrologie, toekomsvoorspelling en holistiese genesing, om enkeles te noem. Die vooruitsig van die Era van die Waterdraer (Age of Aquarius) ná die Era van die Vis (Age of Pisces) het die belofte van ’n verlengde tydperk van Verligting ingehou, ’n gees van liefde en verdraagsaamheid wêreldwyd, gewortel in humanisme en met die leiding van die Opgevaarde Wêreldmeesters. Die grootmoeder van die New Age-beweging is die Russiese skrywer, filosoof en esoteriese genie, Madame Helena Blavatsky (1831–1891), wat in die 1800’s reeds die grondslag vir New Age-idees gelê het. Sy het lang periodes in Tibet deurgebring en ’n nuwe doktrine, ’n sintese van wetenskap, filosofie en religie genaamd “Teosofie”, geskep. Emanuel Swedenborg en Franz Mesmer se okkultiese bydraes het verdere momentum aan die beweging gegee. Daar was ’n mildelike kruisbestuiwing tussen Oosterse invloede en die herlewing van antieke kennis – en alhoewel die New Agers graag die wetenskappe by die fusie van hul “nuwe” esoteriese benaderings wou byhaal, is die beweging as pseudo-wetenskap afgemaak. Dit is belangrik om te noem dat hierdie volgelinge verkies om nie die term New Age te gebruik of daarmee geassosieer te word nie, waarskynlik as gevolg van die vryer lewensbeskouing wat hulle volg. Hulle vermy etikettering.
Alhoewel die hippies in die sestigs die weg gebaan het vir die meer liberale en skeppende wêreldbeskouings van die free spirits, wat die New Agers van die VK en VSA sou word, het hierdie invloede eers in die negentigerjare in Suid-Afrika posgevat. Dit was postapartheid-Suid-Afrika, gekenmerk deur ’n gees van bevryding, die emansipasie van vroue, die wettiging van pornografie en die asemsnakkende skande van eerste Afrikaanse pornotydskrif, Loslyf. Afrikaanse skrywers se verhaalkuns is gekenmerk deur gekruide taal – nog nooit in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde het skrywers so baie gevloek as juis in die negentigerjare nie. ’n Mens kan dit verstaan: Na jare van onderdrukking deur die apartheidsisteem het ook die Afrikaanses die nuwe vryheid van demokrasie geniet wat gelei het tot ’n infantiele en rebelse oedipale opstand teen gesag. Die sinvolle belewenis van politieke volwassenheid en gepaardgaande verantwoordelikheid was nog in hul kinderskoene. Die 90’s was ’n honeymoon-fase wat die herontdekking van mede-Suid-Afrikaners se menswees ingelui het. Dit was die goue era van Mandela se bewind; die viering van Long walk to freedom; en die droom van ’n reënboognasie waarin ons sou verenig. Ook esoteriese winkels het vir die eerste maal hulle opwagting gemaak en klante het hulle verwonder aan die wye verskeidenheid boeke, artefakte, gelukbringers en snuisterye soos kristalle, pakke tarot- en engelkaarte, rune-klippies, wierook, Boeddha-beeldjies, en so meer, wat skielik te koop was. Ten spyte van die striemende waarskuwings van die kerk en die nasleep van die wêreldwye satanic panic van die 80’s, wat in Suid-Afrika die gesig van Rodney Seale of Kobus Jonker aangeneem het, kon mense ook op spirituele front hulle vryheid laat geld. Daardie jare was ek werksaam by ’n esoteriese boekwinkel – ’n magiese plek geleë in ’n akademiese woonbuurt. Bedags het ons CD’s gespeel met die rustige klank van voëlsang en watervalle en male sonder tal het ’n selfaangestelde Crusader by die winkel ingebars en gewaarsku: “Ek bid dat hierdie plek toemaak!” Sóveel liefde. QED.
........
Van die vroegste tye af het die mens ’n begeerte om te toor: Ek stel dit nou in plein Afrikaans. Want die mens is uitgelewer aan sy eksistensiële (nood-)lot, en daarom is dit nie vreemd dat van die oudste gelowe, bv Wicca, die indruk skep dat die mens deur persoonlike en magiese intervensie die uitkomste van sy lot kan verander nie.
.........
Van die vroegste tye af het die mens ’n begeerte om te toor: Ek stel dit nou in plein Afrikaans. Want die mens is uitgelewer aan sy eksistensiële (nood-)lot, en daarom is dit nie vreemd dat van die oudste gelowe, bv Wicca, die indruk skep dat die mens deur persoonlike en magiese intervensie die uitkomste van sy lot kan verander nie. Folklore en sprokies wemel van die spells (“towerspreuke” in Afrikaans; maar dié woord roep eerder die suggesties van hokus-pokus voor die oog as die ware Jakob, genaamd esoteriese towery). In die negentigerjare het JK Rowling se beroemde (en berugte) Harry Potter-reeks die wêreld getref – en in 2018 is dit geboekmerk as die grootste blitsverkoperreeks van alle tye. Daar is sedertdien 500 miljoen kopieë van Rowling se nimlike towenaarboeke verkoop, en die reeks is in 80 tale vertaal. Mens kan tereg wonder: Waarom juis Harry Potter? Een jaar het Harry Potter en die Bybel gekompeteer om die eerste plek vir die meeste verkope. Wat het die Bybel en Harry Potter gemeen? Verder: Wat het hierdie volgende bestsellers in gemeen? Don Quixote, The lord of the rings, The little prince, The hobbit, The twilight saga, Alice's adventures in Wonderland, The lion, the witch and the wardrobe, The Da Vinci code, en The alchemist. Die lys gaan aan. Wat hierdie topverkopers gemeen het, is magiese denke en die mens se preokkupasie met mirakelagtige gebeure en/of intervensie te midde van eksistensiële angst. In ’n neutedop. Of dit nou Bybelse wonderwerke of die mens is wat op bonatuurlike vlak die noodlot kan beïnvloed … Die nare waarheid is dat ons oomblik na oomblik uitgelewer is aan die willekeur van ons genadelose bestaan. Veronderstel jy kon ingryp en die meedoënlose kousaliteit van gebeure verander. In tye van nood, soos met Covid-19, gryp mense na selfhelpboeke.
En elke generasie het ’n selfhelpboek wat die zeitgeist van die dag reflekteer. Die skrywer Mark Manson het Rhonda Byrne se blitsverkoper, The secret, van nader bekyk. Selfhelpboeke se verkope vlieg in hulle ziljoene van die rakke af en vreet soos piranhas deur kopers se beursies. Natuurlik word so ’n blitsverkoper vergesel deur dokumentêre programme – en die sosiale media van die dag blaas die vlam verder aan. ’n Mens dink aan die vorige generasies se blitsverkopers, soos Napoleon Hill se Think and grow rich (1936), Norman Vincent Peale se The power of positive thinking twintig jaar later, of Anthony Robbins se Awaken the giant within in die negentigerjare. Dit is egter Rhonda Byrne se The secret wat sedert 2006 die septer swaai. ’n Vreemde eienskap van hierdie selfhelpboeke is dat dit basies dieselfde boodskap uitdra: Monitor jou eie gedagtes en bly positief, ongeag, bly fokus op jou doelwitte, vermy kritiek en selftwyfel en visualiseer wat jy wil hê – uiteindelik sal dit so gebeur. Elke boek neem die uitdagings van sy generasie onder die loep, soos Hills se werk wat raad gee oor hoe om geld te maak ná die Groot Depressie van die dertigerjare, en Peale se boek wat fokus op ’n kalm, huislike lewe en goeie verhoudinge ná WO II. Robbins se boek, weer, was die bybel van die baby boomers wat hulle middeljarekrisis in die gesig gestaar en lig gewerp het op selfaktualisering en die uitlewing van persoonlike potensiaal. Rhonda Byrne se boeke is gebore in die era van sosialemedia- en slimfoontegnologie – vandaar die skrikwekkende narsisme en die “ek is die sentrum van my eie heelal”. Byrne bring niks nuut na die selfhelptafel nie, bloot ou idees wat as moderne eliksers aangebied word. Die hoëpriesteres van populêre kultuur, Oprah Winfrey, het haar seën oor Byrne uitgespreek en verklaar The secret “werk”. Daar het jy dit. Die 2006-koei word steeds gemelk, al vir 15 jaar via Facebook-bladsye wat die law of attraction telkens op nuwe, maar meer grandiose, wyses proklameer.
Inderdaad: The secret handel oor die law of attraction. Die heelal bestaan uit energie wat teen ’n sekere frekwensie vibreer. Jou gedagtes resoneer met dié van die heelal – met ander woorde, jy trek via die uitsaaitoring van jou denke goeie of slegte energie na jou toe aan. Jou eie vibrasies bepaal jou lot. Hierdie boek is positiewe denke op steroïede – Byrne haak ’n klomp kosmologiese snert by, en jy mors nie met die heelal nie! Hoe meer goeie gedagtes jy uitstuur, hoe meer goeie dinge sal die heelal in ruil vir jou gee. Dieselfde geld vir negatiewe gedagtes. Volgens Byrne is die “geheim” eenvoudig: vra, glo en ontvang. Dit herinner aan Markus 11:24: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle wil hê, as julle bid, glo dat julle dit sal ontvang, en dat julle dit sal hê.”
Die law of attraction het ’n kultus van positiewe denke tot gevolg; in die vorige selfhelpboeke moes jy nog effort ingesit het om jou drome te verwesenlik. Volgens The game of life and how to play it deur Florence Shinn (1925) moes jy byvoorbeeld die hele dag lank affirmations opsê om deur die magiese vibrasie van die woord jou geluk na jou toe aan te trek. Nog nooit was sukses so maklik, so binne bereik soos juis nóú nie. Al wat jy hoef te doen, is om te wens en te visualiseer – en jou versoek in te dien by die heelal se besteltoonbank – en voila! Volgens Manson wemel The secret van misplaaste clichés, lawwe aanhalings en bygelowige snert, gedryf deur grandiose magiese denke. Dit is ’n speelboek vir selfgeregtigdheid wat kan lei tot roekelose besluite en onverantwoordelike optrede, wat op die langtermyn die Byrne-dissipels groot skade kan berokken. Inderwaarheid grens die blinde geloof in positiewe, selfabsorberende denke waarin gevaartekens geïgnoreer en genegeer word aan delusies – en ’n breuk met realiteit. Vergeet werk, inspanning, onderrig of enige voorbehoude verbonde aan sukses of rykdom. Nou: Waarom kry so baie mense dít wat hulle nie wil hê nie? Byrne se antwoord is eenvoudig: “Imperfect thoughts are the cause of all humanity’s ills, including disease, poverty, and unhappiness.” Liewe hemel. Het Covid-19 die wêreld getref omdat miljoene mense siekte, dood en ekonomiese swaarkry gevisualiseer het? Seer sekerlik nie. Maar, volgens Byrne saai jou negatiewe gedagtes op dieselfde frekwensie uit as jou positiewes: As jy bv sê “ek wil nie …”, vertaal die universe se woordverwerkingsprogram dit as “ek wil …”, en stuur vir jou net méér van die negatiewe vibrasies. Shakespeare, Newton, Lincoln, Einstein en Tesla het die beginsels van die law of attraction geken, beweer Byrne. En The secret is volkome in lyn met die beginsels van kwantumfisika. Nou kyk, hiér gee die New Age-skrywer darem gravitas aan haar positiewe denke. Sy haal selfs vir Churchill aan wat kwansuis gesê het “you create your own universe as you go along”. Sulke psychobabble klink nie vir my na die kwasterige ou staatsman se kwinkslae nie … Wel, hy hét dit gesê, maar Byrne het die konteks verdraai – Churchill het juis gespot met mense wat metafisiese denke populariseer. Hy het heel waarskynlik die draak gesteek het met Max Ehrmann se gedig “Desiderata”.
In The secret gebruik Byrne verskillende avatars, soos Ralph Waldo Emerson, wat die megalomanie verder aanblaas. “Tekens”, soos ’n muntstuk wat in ’n straat lê (daardie klein dingetjies, sien), bevestig onverwyld dat jou skip op pad is. Ensovoort. Byrne, ’n dame van 50 plus, beweer dat sy haar leesbril na net drie dae van positiewe denke weggesmyt en haar sig herstel het tot dié van ’n twintigjarige. Die Facebook-blaaie vir die law of attraction is egter besig om psigotiese afmetings aan te neem. Naas die gebruik van numerologiese geluksnommers, bv 11:11, duik daar elwe en ander magiese karakters op wat jou pols om “like” te klik, anders gaan jy uitmis. Bygeloof is nou erger as in die Middeleeue.
“This may seem kinda weird, maybe even a little surreal. BUT everything changed when I found out I could just push play to listen to a short musical track. And suddenly I attracted ANYTHING I WANTED into my life. Here’s how you can too …”
Al wat jy hoef te doen, is om na ’n uittreksel antieke musiek te luister, dan word jou onderbewuste wonderbaarlik geherprogrammeer om jou geluk “aan te trek”. Visualisering is nie meer genoeg nie – jy moet (uiteindelik) die voorgestelde pakket met die magiese musiek aankoop. Wel, as antieke musiek gewerk het, dan gaan dit op makroskaal lei tot wêreldvrede, die wêreldekonomie sal bestendig, Covid-19 gaan opdroog en ons gaan ons maskers wegsmyt en ’n toffee vir alle vaksiene gooi. Wonderlik, nè? Ek het reeds drie jaar gelede my versoek vir ’n Bugatti gefile, maar geen motor is sedertdien by my hek afgelewer nie. Ek dink die universe se diensverskaffer is oorlaai … dit is nou as die sisteem nie reeds gecrash het nie.
Volgens Manson is die BS van die law of attraction inderwaarheid ’n versuikerde weergawe van die teorie van bevestigingsvooroordeel (confirmation bias), wat reeds in die sestigerjare geskep is deur die kognitiewe sielkundige Peter Cathcart Wason. Volgens dié teorie is mense geneig om bewyse te aanvaar wat hulle bestaande oortuigings bevestig, en getuienis wat lg weerspreek te verwerp. Ons almal het al miljoene kere bevestigingsvooroordeel beleef, ons was net nie daarvan bewus nie. Veronderstel jy wil ’n kar koop, maar het in die verlede nie veel ag geslaan op karre nie. Skielik sien jy motors en hulle fabrikate raak, want dit is nou relevant tot jou leefwêreld. The secret is ’n poging om bevestigingsvooroordeel te versterk tot jou eie voordeel. As jy konstant positiewe dinge dink, begin jy klein dingetjies waarneem – soos ’n veer wat in die pad lê en ’n goeie boodskap inhou, of die herhaling van geluksyfers op jou tablet of mikrogolfoond – wat jou help om jou positiewe sienings te versterk en sodoende dít wat jy wil hê te bewaarheid. As jy konstant negatiewe gedagtes oor jouself koester, sal die negatiewe terugvoer in jou omgewing begin uitstaan, wat jou nog slegter oor jouself sal laat voel. The secret is dus bevestigingsvooroordeel op steroïede. Maar jy mag nooit negatiewe gedagtes laat deurglip nie, nooit gevaartekens rondom besigheidspraktyke, verhoudings of jou gesondheid ignoreer nie – wat beteken jou gewaande positiwiteit kan lelik backfire en soos orkaan Elsa op pad na Florida fasette van jou lewe bedreig, indien nie verwoes nie. Sielkundiges waarsku ook dat wanneer persone met depressie of OKV aanhoudend negatiewe gedagtes onderdruk, hulle juis meer daarvan kry, bv dwanggedrag wat ’n siklus van negatiwiteit sneller. Volgens Manson is The secret die McDonald’s van die gees; dit maak mens emosioneel vet en lui, selfgenoegsaam en minder gemotiveerd. Daar is bloot dinge wat mens nie in ’n materiële bestaan kan inwens nie. Volkome en gesonde menswees word uitgedaag en teen weerstand, pyn en angs in gevorm.
........
Tog is daar besliste bewyse dat positiewe denke werk en inderdaad gelei het tot ’n legio suksesverhale. ’n Ou kennis van my, wat sy hele lewe opgefoeter het deur drankmisbruik, is lief om te sê dat hy ’n bestseller gaan skryf oor hoe om jou lewe te verongeluk.
.........
Tog is daar besliste bewyse dat positiewe denke werk en inderdaad gelei het tot ’n legio suksesverhale. ’n Ou kennis van my, wat sy hele lewe opgefoeter het deur drankmisbruik, is lief om te sê dat hy ’n bestseller gaan skryf oor hoe om jou lewe te verongeluk. Dan wys hy met ’n lang indeksvinger na sy keel en sê: “Drie plase. Kan jy glo daar is drie plase in hierdie keelgat af?” Ja, ek het ook soortgelyke artikels gegoogle – en daar is niks nuuts onder die son nie. As lesers toondoof raak vir al die selfhelpboeke wat positiewe denke bevorder, dan kan mens altyd die teenoorgestelde benadering gebruik; soos die artikel “100 Ways to fuck up your entire life” deeglik uiteensit.
Kommentaar
Heerlik gelees! Dankie Nini.
Briljante opsomming, tong-in-die-kies en in die kol!
Dis moontlik in algemene terme waar dat 1994 by Afrikaans-skrywers 'n gevoel van bevryding en selfs 'n "infantiele osptand teen gesag" bewerkstellig het, maar jare voor 1994 het Afrikaanse skrywers en literatuurwetenskaplikes (onder andere) hulle ernstig toegewy aan die afskaffing van apartheid en die emansipasie van die vrou.
Dis veral by die politiek korrekte media waar 'n kultus van voel goed/goeie nuus posgevat het, in die aangesig van die realiteit van 'n vervallende demokratiese SA. Moet ons onsself nog aan die neuse laat lei? In die land van blindes bly eenoog koning? Die koning is kaal en het nie 'n wonderlike kleed aan nie!