Springmielies: Intro- en ekstroversie – ’n digotomie, of viering van diversiteit?

  • 2

Foto: Nils Jacobi via Canva

........
Ek is ’n geswore introvert, en ja, in ’n groep mense voel ek so oorweldig soos ’n muskiet in ’n nudistekamp.
........

’n Fiktiewe toneel. Dit is 50 000 jaar gelede, en twee Homo sapiens – Groog, ’n ekstrovert, en Blarg, ’n introvert – sit om ’n vuur en gesels.

Groog (opgewonde, leun vorentoe): Blarg! Ons het lank laas gesels. Ek dag ek sien jou nie weer nie – waarheen verdwyn jy? Die res van die stam wonder ook. O, ek moet jou vertel: Ek het gister ’n mammoet gejag. Lekker vleis; en ek kan doen met nog ’n pels. Wat het jý gejag?

Blarg (staar in die vuur): Hmm. Net ’n volstruiseier.

Groog (ignoreer die gebrek aan entoesiasme): En toe? Het daardie groot voëls jou gejaag? Vertel, vertel? Ek weet hoe vinnig hulle kan hardloop … en oopgesnyde volstruispens is hemels!

Blarg (trek sy kop in sy skouers in): Nee, ek was net gelukkig. Ek het die eier opgetel. 

Groog: So, ek het gedink … miskien moet ons hele stam vanaand bymekaar kom. Ons kan sing en dans, jagstories deel, selfs nuwe spiestegnieke bespreek. Of … ons kan velle uitruil, jy weet, dit help darem om die lastige insekte weg te hou. Ag, daar is so baie om oor te praat … Wat sê jy, is jy in? Dit sal pret wees!

Blarg (staar afwesig in die vuur): Ek weet nie. Ek is besig om ’n atlatl uit ’n ribbebeen te vyl. Ek wil nie oor jag praat nie. Die vrou en die kinders moet eet, dis al hoekom ek jag.

Groog (geïrriteerd): Jy weet, Blarg, ek het altyd gedink jy’s ’n stil, sterk ou, maar man, jy hou jou darem eenkant.

Blarg: Ek is nie juis ’n buitelugtipe nie; ek is meer van ’n grotmens. Ek hou van teken teen die mure en om my wapens te poleer, jy weet. Ek verkies om alleen te wees.

Groog (lag hardop): Klassieke Blarg! Jy het daardie “wyse sjamaan”-uitstraling, weet jy? Maar jy mis so baie, my vriend! Nee, ék weer is die buitelugtipe. Ek hou van jag, kuier, dans en al die mooi dinge in die lewe. Jy weet, hulle sê om te praat, is soos jag. Jy moet baie spiese gooi voordat jy die teiken tref. Maar ek is goed daarmee – jag en praat. En jy?

Blarg (swyg).

Groog (glimlaggend): Miskien kom ek ná die tyd by jou grot inloer vir ’n vinnige geselsie. Ek kan nie wag nie!

Blarg (swyg).

Die ewige spanning tussen intro- en ekstroverte bestaan waarskynlik al vir duisende jare: ’n prehistoriese sosiale ekosisteem van diversiteit.

2

En gepraat van diversiteit: In die natuur bestaan daar organismes, soos diere en plante, wat figuurlik gesproke, oor intro- en ekstrovertiese (ook bekend as ekstravertiese) eienskappe beskik. ’n Wilgerboom of ’n treurwilg is ’n “alleenboom” en sy sade waai kilometers ver. (Alhoewel dit nie altyd die geval is nie, kan hierdie bome solitaire oorleef.) In letterkunde byvoorbeeld staan ’n treurwilg as ’n simbool van eensaamheid, melankolie en introspeksie. Diere wat introverte eienskappe toon, is onder meer uile, luidiere, miervreters, orangoetangs en katte. En interessant genoeg is dit meesal introverte wat katte as voorkeurtroeteldiere verkies. ’n Mens dink byvoorbeeld aan digters en hulle voorliefde vir katte. 

Daar bestaan inderdaad ’n legio selfhelpboeke vir introverte: The secret lives of introverts – inside our hidden world (Jenn Granneman); The introvert’s way: Living a quiet life in a noisy world (Sophia Dembling); The introvert’s edge. How the quiet and shy can outsell anyone (Matthew Pollard); Success as an introvert – for dummies (A Wiley Brand); en The awakened introvert (Arnie Kozak). Dit is egter net ’n handvol; daar is nog dosyne voorbeelde. Wat hierdie selfhelpboeke gemeen het, is dat dit “oukei” is om ’n introvert te wees; dat daar tegnieke is om in ’n ekstrovertgedrewe wêreld te oorleef; en daar is selfs boeke wat introversie verromantiseer; dat sulke individue spesiaal en begaafd is. Wat al die boeke wel gemeen het, is ’n apologetiese aanslag, asof dit die een of ander defek, of aberrasie, is om ’n introvert te wees.

Dit is egter verstommend hoe dieselfde “werklikheid” deur die verskillende lense van intro- en ekstroversie beleef word. Carl Jung was een van die eerste psigoloë wat in die twintigerjare van die vorige eeu die verskille tussen intro- en ekstroverte persoonlikheidstipes ondersoek het. Alhoewel hierdie navorsing verouderd is, word dit steeds as fundamenteel in die beskouings oor verskillende persoonlikheidspsigologie beskou.

Ekstroverte put hulle bron van energie uit hulle omgewing en ander mense, terwyl introverte hulle energie uit hulle binnewêreld van idees en emosies put. Dieselfde geld vir fokus en aandag: die digotomie van binne – introvert – en buite – ekstrovert. En soos ons almal weet, geniet ekstroverte sosialisering en het dikwels ’n groot netwerk kennisse en vriende, terwyl introverte eintlik doodgelukkig is met hulle eie geselskap, of andersins dié van min en intieme vriende.

Op sensoriese vlak voel introverte hulle aangetrokke tot alleen- of laestimulusomgewings, terwyl ekstroverte stimulerende omgewings, vol aktiwiteit, mense en energie opsoek. Maar die persoonlikheidstipes se belewenis van sensoriese omgewings verskil lynreg van mekaar. Introverte is meer sensitief vir hul omgewing en kan maklik oorweldig voel deur geraas, helder ligte of skares mense. Hierdie verskil in stimulasietoleransie is vermoedelik in neurologiese variasies gewortel. Studies dui daarop dat ekstroverte moontlik ’n hoër drempel van dopamien het, terwyl introverte oor ’n laer drempel beskik en makliker oorgestimuleer voel.

........
Uiteindelik beweeg alle mense binne ’n kontinuum van intro- en ekstroversie, terwyl sommige eienskappe meer dominant, en ander meer dormant is.
........

Uiteindelik beweeg alle mense binne ’n kontinuum van intro- en ekstroversie, terwyl sommige eienskappe meer dominant, en ander meer dormant is.

Dan is daar die ambiverte wat aanpasbaar is in sosiale omgewings; selfgeldend, maar wat ook die waarde van alleentyd en selfrefleksie geniet. Ambiverte kan in enige omgewing, en by enige persoon aanpas.

Bekende persoonlikheidstoetse om intro- en ekstroversie te bepaal is byvoorbeeld die Myers-Briggs Type Indicator (MBTI), wat gebaseer is op Jung se navorsing en steeds as gesaghebbend beskou word. Klik gerus op die skakel om vas te stel oor watse persoonlikheidstipe jy beskik: https://www.truity.com/test/type-finder-personality-test-new.

In haar boek Entwined lives skryf die vooraanstaande navorser oor tweelinge, Nancy Segal, oor die interessante bevindings tydens haar jare by die Universiteit van Minnesota se Sentrum vir Tweeling- en Aannemingsnavorsing. Met haar studies het sy persoonlikheidsooreenkomste vergelyk tussen monosigotiese tweelinge (uit dieselfde eier) en disigotiese tweelinge (uit verskillende eiers) wat apart, en wat saam grootgeword het.

Toe 50 herenigde tweelinge die subjekte van haar navorsing was, was die ooreenkomste verstommend. Monosigotiese tweelinge wat in verskillende omgewings grootgeword het, het ’n merkwaardige verskeidenheid spesifieke gedeelde eienskappe getoon. Een tweelingpaar het hulle gunstelingonderwerpe bespreek: die grootmaak van perde en honde. ’n Ander identiesetweelingpaar was albei brandweermanne en bekend vir hul ongeduld met minderwaardige kos. Nóg ’n tweeling wat mekaar nog nooit tevore ontmoet het nie, het in ligblou Chevrolets by die hereniging opgedaag. ’n Ander identiese tweeling het dieselfde seldsame tandepasta uit Swede gebruik.

Namate die sentrum meer herenigde tweelinge bestudeer het, het dit duidelik geword dat hul temperament meer ooreenstem as wat verwag is. Hieroor laat Segal haar soos volg uit:

’n Verrassing was dat tradisionalisme – die ondersteuning van tradisionele gesins- en morele waardes – geen gemeenskaplike gesinsinvloede getoon het nie. Met ander woorde, saamwoon met iemand lei nie noodwendig tot ooreenstemming met gedrags- of ouerskapstandaarde nie.

Studies het ook getoon dat disigotiese tweelinge wat saam grootword, baie minder ooreenstem as monosigotiese tweelinge wat apart grootgeword het. Hierdie studies bevestig wat Jung lank gelede reeds beweer het: Ons word gebore met ’n aangebore temperament.

Segal beweer verder: “Die kern van die saak is dat saamwoon nie mense in ’n gesin dieselfde maak nie, en dat ooreenkomste deur gedeelde genetika verklaar word.”

Nóg ’n belangrike kenner op die gebied van persoonlikheidstipes is Susan Cain, met haar gewilde TED-praatjie “The power of introverts”, wat in 2012 op die internet verskyn het in tandem met haar boek, Quiet: the power of introverts in a world that can’t stop talking.

In haar praatjie wys Cain tereg daarop dat ons in ’n globale samelewing leef wat oor die algemeen die inherente eienskappe van ekstroversie bevoordeel. Oopplan kantore het ten doel om groepswerk, besprekings en samewerkende optrede te fasiliteer. Dieselfde geld vir skoolklaskamers en universiteitslokale. Hierdie instellings akkommodeer nie introverte se begeerte om “alleen” te funksioneer nie, en mog selfs ’n negatiewe uitwerking op hulle hê. Skoolkinders word dikwels aangeraai om berading of “hulp” vir hulle introversie te kry, en word selfs op kampe gestuur om te leer om beter te sosialiseer.

........
Die internet, met sy stammentaliteit, het Jung se oorspronklike interpretasies van intro- en ekstroversie op sy kop gedraai, met die klem op polariserende eienskappe.
........

Maar die internet is baie introverte se wapen – die sg keyboard warriors is meermaal introverte – en hulle slaan met mening terug. Ongelukkig is stereotipering hier aan die orde van die dag: Introverte word gemistifiseer as individue wat begaafd, sensitief, kreatief en gesofistikeerd is; intellektuele elitisme, dus. In teenstelling hiermee word ekstroverte uitgebeeld as luidrugtig, “die siel van die partytjie”, of mense wat oppervlakkig is. Die internet, met sy stammentaliteit, het Jung se oorspronklike interpretasies van intro- en ekstroversie op sy kop gedraai, met die klem op polariserende eienskappe. Só word introverte verromantiseer as besinnende siele wat hulle besig hou met die diep dinge in die lewe – en na alle waarskynlikheid is die beskouing van introversie állereers gebore uit die Romantiek, byvoorbeeld die stil, lydende kunstenaar met diepgang en verbysterende intelligensie wat hom met grootse dinge besig hou. Hierdie stereotipering lei tot onnodige misverstande en wanpersepsies.

Marti Olsen Laney se The introvert’s advantage: How to thrive in an extrovert world bied ’n verfrissende en gebalanseerde perspektief op beide persoonlikheidstipes. Sy bied raad aan introverte hoe om hulle weg deur ’n ekstrovert-oorheerste samelewing te navigeer sonder om hul ware aard prys te gee. Eerstens verduidelik sy die wetenskap onderliggend aan introversie – hoe breinchemie en energiedinamika die introverte ervaring vorm – en dan spreek sy die uitdagings aan wat introverte in die gesig staar, soos netwerkvorming, oorstimulasie en kommunikasie, asook strategieë hoe om hierdie uitdagings te oorkom. Laney se werk is ’n insiggewende gids vir introverte wat hul natuur wil omarm en hulself wil bemagtig – én wil floreer – in ’n wêreld wat dikwels ekstroversie prioritiseer.

3

Ek is ’n geswore introvert, en ja, in ’n groep mense voel ek so oorweldig soos ’n muskiet in ’n nudistekamp. Ná so ‘n sosiale sessie is ek in die reël baie moeg en gaan slaap ek terstond my introvertbabelas af. Ek herlaai my batterye deur alleen te wees. Maar ek doen my bes om ook op die kontinuum van ekstroversie te beweeg, al voel dit soms of ek small talk en ekspressiewe interaksie moet mimiek. Ek herinner my dat die skrywer Chris Barnard ook êrens beweer het dat mense hom geweldig uitgeput het. 

Dus, hoe ervaar ’n introvert ’n ekstrovert? Dit wissel, maar uitgaande persoonlikheidstipes met hulle harde stemme, geanimeerde liggaamstaal en (soms) ’n aura van dominansie kan nogal intimiderend wees. ’n Groep ekstroverte wat saam klets en tierelier, is annoying, soos pop-up vensters. Ja, ek weet! Ek maak my hier skuldig aan die einste stereotipering waarna ek vroeër verwys het, maar dit is die enigste manier waarop ek my ervaring kan deel. Vergeef my, liewe leser, maar mens wil nou ook nie ’n lekker anekdote bederf met feite nie.

........
En dít is hoe ’n introvert ’n dominerende ekstrovert ontwapen: met sy stilte.
........

Ek vind dit altyd komies as ’n ekstrovert my vra “Wat’s fout?” omdat ek waarskynlik strakker en stiller voorkom as die uitgaande personas. Daar is absoluut niks fout nie – my genot (of gawe in die lewe – klink dit verwaand?) is in die eerste plek om waar te neem. As voorbeeld: Ek besoek elke dag ’n winkelsentrum waar daar talle stalletjies in die gange is om produkte bekend te stel en te bemark. Maar o wee as een van die verkoopspersone jou oog vang! Dis of mense intuïtief ander mense lees (of aanvoel), en outomaties aanneem ’n introvert is manipuleerbaar. Dit verskaf my eindelose binnepret as so ‘n verkoopspersoon (meesal ’n ekstrovert) met my begin praat en my probeer intrek in die gesprek – maar ek dan net aanstap met ’n pokergesig en geslote liggaamstaal terwyl ek oogkontak met die persoon behou. Dit neem die wind heeltemal uit hul seile ... want hulle pogings om my te oorrompel met hulle promosies, het nie gewerk nie. Inteendeel, male sonder tal het ek verwarde uitdrukkings op hulle gesigte gewaar. En dít is hoe ’n introvert ’n dominerende ekstrovert ontwapen: met sy stilte. Mellet, my oorlede man, ’n groot ekstrovert, het altyd vir my gesê dat in die periode waartydens hy klas gegee het aan US (bedryfsingenieurwese), die “stil” studente hom ontsenu het. Hy het genoem dat dit voel of hulle hom takseer, opsom en te lig bevind, maar wanneer hy hulle vrae gevra het, hul antwoorde getuig het van buitengewone kennis en insig. Van hierdie stil studente het dan ook later hulle nagraadse studie onder sy leiding voltooi.

Dan, tydens ’n rusie, hoe reageer ’n introvert? Weer eens met ’n strategie wat ’n ekstrovert ontwapen? Met stonewalling. Ek lees nou die dag op die een of ander Facebook-popsielkundeblad dat jy fronsend na iemand wat jou probeer manipuleer se skoene moet staar – ook dít haal die wind uit so ‘n persoon se seile. 

Die legio selfhelpboeke vir introverte spreek letterlik boekdele oor samelewings waarin die leiers, die alfamanne en -vroue asook ánder ekstroverte, die apex-posisies beklee. Tog is daar introverte wat in top leiersposisies ingestem was. Ek dink byvoorbeeld aan (die voormalige president) Joe Biden wat deesdae herinner aan ’n karakter uit die film Awakenings, met sy een hand wat broos deur die lug bly draal terwyl hy praat.

........
Dit is ongelukkig so dat negatiewe stereotipering van introverte steeds aan die orde van die dag is.
........

Dit is ongelukkig so dat negatiewe stereotipering van introverte steeds aan die orde van die dag is. Dink byvoorbeeld aan die idioom “Sy is ’n kruidjie-roer-my-nie.” Sy is in haar dop gekruip. Sy is inkennig / in haarself gekeer / die stil enetjie / ingetoë – en so kan ’n mens aangaan. Kyk jy na die gewilde romantiese maatsoekprogramme op televisie, word vroue dikwels negatief uitgebeeld omdat hulle “aan die stil kant” is. Introversie is nié dié gewilde keuse nie.

Daar bestaan ook heelwat Facebook-blaaie vir introverte, met meme en grappe,  byvoorbeeld oor ’n introvert wat sku na sy selfoon loer as dit lui, sonder om te antwoord. Ek het ’n vermoede (en ek kan verkeerd wees) dat introverte moontlik sensitiewer wesens is as ekstroverte – en dan op hul beurt weer sensitief is oor die feit dat hulle sensitief is. In die film The pallbearer is een van die karakters só patologiese introvert dat hy moet lysies maak alvorens hy iemand bel – en dan dít wat hy wil sê, aflees van die lysie tydens die gesprek. Introversie word vergesel van véél meer humor as wat mense noodwendig besef. Al word jy bejeën as ’n vaal muurblom, of ’n maan in ’n stilfilm, daar is altyd komiese situasies waarin introverte hulle bevind. En die skadukant van introversie … kom ons swyg vir eers oor die feit dat die meeste reeksmoordenaars, of die los kanonne wat van skooldakke af mense skiet (in die VSA), bykans almal groot introverte was/is. Dís weer ’n storie vir ’n ander dag.

........
Dink net watse wonderlike plek die wêreld sou wees as ons mekaar se uiteenlopende eienskappe as ’n bate, of bonus, aanvaar en omarm, amper soos die ontbrekende pasmaats in ’n legkaart.
........

Maar terug na introvertehumor: Tydens sosiale geleenthede herken jy so ‘n persoon op ’n afstand:  hy herinner aan ’n buikspreekpop met ’n wiegende kop, wenkbroue wat opspring, en ’n tandstywe glimlag.

Dan is daar ekstroverte wat, uit die aard van hul uitgaande persoonlikheid, ook luidrugtig sulk, al is hulle alleen. Ek het so familielid. Wanneer hy luidkeels sug, klink dit soos ’n Boeing wat opstyg, en hy hoes selfs ’n oktaaf hoër (histerie).

Maar nou ja, ’n mens moet die ons-versus-hulle-retoriek in die introvert-ekstrovert-narratief laat vaar. Dit baat niemand as die een persoonlikheidstipe die ander oorheers nie. Dink net watse wonderlike plek die wêreld sou wees as ons mekaar se uiteenlopende eienskappe as ’n bate, of bonus, aanvaar en omarm, amper soos die ontbrekende pasmaats in ’n legkaart. Sonder vooroordeel of stereotipering – maar aanvullend. Ekstroverte se entoesiasme, spontaniteit en sosialenetwerkvorming is van onskatbare waarde in dinamiese omgewings. Introverte, weer, dra by tot fokus, besinning en analise wat vernuwende perspektiewe bied, en noukeurige besluitneming bevorder. Die erkenning van die verskille tussen hierdie persoonlikheidstipes stel individue, organisasies en gemeenskappe in staat om die diversiteit van die denke en ervaring wat elkeen bied, na waarde te skat – as die unieke bydrae wat elk tafel toe bring.

Lees ook:

Hippokrates se vier temperamentstipes: ’n parodie

Die opkoms van die introvert

Springmielies: Die intieme kameraderie tussen vreemdelinge

Springmielies: Die terapeutiese waarde van oorlogsfilms

Springmielies: Lara

 

  • 2

Kommentaar

  • Philippus van Rensburg.(met hoofletters😁)

    Waar laat dit my/ons? In die moeilike lewe van saamwees, saamdoen. Tussen mense wees, eie oortuigings, vooroordele, smake, keuses, daar moet ek myself wees, uitleef, terwyl daar allerhande verwagtinge is waarvan "sukses" die finale oordeel is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top