Springmielies: Lara

  • 0

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

’n jeug om van te sterwe
’n jeug gewelddadig onrustig en gedrenk in verveling
wat sy met my gedeel het
sonder om haar te steur aan andere

(Uit: Paul Éluard: Éluard en die surrealisme, soos vertaal deur Uys Krige)

Éluard en die surrealisme, vertaal deur Uys Krige (1962)

Die glasstukke was die laaste wat ek onthou van die droom. Ek het een opgetel en in die dowwe lig bekyk: Daar was lemme, nee, swaarde van glas op die mat – die bloed was lewendig en taai.

In die maanlig vertoon bloed altyd swart, het Thomas Harris van Hannibal Lecter-faam gesê.

Ek was weer in die huis van ons kinderjare, 1980. Maar nou was ek ’n volwassene. Alleen. Die groot vensters van die eertydse sitkamer was uitgebreek – ’n roof? Waar was almal? Ek het opgekyk na die maan, ’n pêreloog tussen die vlieswolke.

’n Oervrees.

Ek het my been hoog oor die geskerfde vensterbank gelig en geweet dat ek moet wegkom.

* * *

Lara, Lara.

Skaars wakker, het ek my selfoon op die bedkassie gelig en begin google. Wat het van Lara Kruger geword? Ek het vir jare aaneen oor haar bly wonder. Om te praat van my “beste maat”, sou naïef klink. Infantiel. ’n Onskuldige kindertyd, lank gelede – ons almal het dit gehad. Tog; Lara was my geesgenoot, al was ons ook hóé jonk. Ons was inderwaarheid baie oud; kalenderouderdom was net ’n illusie van tyd. Soms het ons vir ure in stilte by mekaar gesit soos twee winterkatte in die son. Niks het ons voorberei vir die ontsetting wat later sou volg nie. Ek was lief vir Lara; ek was lief vir haar wese – al kon ek op sewe, agt jaar nie die woorde daarvoor vind nie. Ek raak lief vir mense se psiges, selfs dié wat ek nooit ontmoet het nie: skrywers, komponiste, skilders, filosowe; en ek treur lank as hulle sterf. Soos die dood van Breyten Breytenbach onlangs (net een voorbeeld van die galery van geliefde mense wat ek vanjaar verloor het).

.......
Tog; Lara was my geesgenoot, al was ons ook hóé jonk. Ons was inderwaarheid baie oud; kalenderouderdom was net ’n illusie van tyd. Soms het ons vir ure in stilte by mekaar gesit soos twee winterkatte in die son.
.......

Daar was nie ’n spoor van Lara nie. Sy het ook nie ’n digitale voetspoor gelaat nie – nêrens, niks; sy het doodeenvoudig verdwyn.

Toe het ek begin soek op Google Images.

MISSING ADULT ALERT, het die skokplakkaat opgedoem. LARA KRUGER. Age: 42 yr. Build: medium. Eyes: blue. Hair: black.

Die beeld het mistig geraak.

Lara was last seen on 19 July 2014. She needs to take medication.

Ná 10 dae is Lara teruggevind, verklap ’n opvolgplakkaat. Was sy ontvoer? Het sy doelbewus die huis verlaat? Ek het die foto afgelaai op my foon. Sy het na al die jare nog presies dieselfde gelyk as op skool: dieselfde hartverskeurende, skewe tuisgeknipte kuifie, dieselfde stralende glimlag en zig-zag tande.

Dit was onmoontlik. Nie Lara nie. Iewers was iets radikaal verkeerd.

She needs to take medication. Is dit lewensondersteunende medikasie vir iets soos diabetes, of vir ’n psigiatriese kondisie? Sy is as vermis aangegee met haar nooiensvan – het sy ooit getrou? Waarskynlik nie. Lara was ’n loner. Die plaaslike polisiestasie wat haar verdwyning aangegee het, was die een in die buurt waar ons gewoon en grootgeword het. Lara het waarskynlik nooit verhuis nie.

Ek het opgestaan en gebad; sout in die water gegooi om ontslae te raak van die goor aura van die nagmerrie wat my aankleef. Kerse gebrand. Wierook. Ek het oefeninge gedoen met 3 kg-gewiggies – enige iets om die beklemmende gevoel van onheil te verdryf.

........
Dit was in hierdie tyd dat ek ’n morbiede fassinasie met vermistes ontwikkel het en daagliks die verdwene mense op sosialemediaforums begin volg het.
........

Toe het ek ’n soektog begin loods na Lara se twee broers en twee susters, maar daar was nie ’n spoor van hulle nie. Die hele gesin het soos ’n groot speld verdwyn. Dit was in hierdie tyd dat ek ’n morbiede fassinasie met vermistes ontwikkel het en daagliks die verdwene mense op sosialemediaforums begin volg het. Ek het deur die honderde plakkate van vermiste persone geblaai. Die anatomie van verdwyning vereis ’n baie noukeurige persoonsbeskrywing: die genadelose tentoonstelling van die liggaamlike idiosinkrasie. Die sigbare is nou onsigbaar; en die onsigbare word dwingend sigbaar gemaak. Die detail rondom jou tatoes en littekens (waar; hoeveel): wáárdevolle inligting. Liggaamsbou: swaar, medium, petite. Jou gewig in kilogram. Lengte. Die toestand van jou tande (jou eie; ’n kunsgebit; onegalige tande; vermiste tande – waar en hoeveel). Die kleur van jou hare, oë. Klerasie – tot jou skoene (die handelsmerk: Nike; Adidas). Alle besonderhede kom onder die soeklig. Jou hele bestaan konvergeer tot een fokuspunt: jou voorkoms en bewegings vóór die verdwyning. Dan word die plakkaat saamgestel en versprei, teen lamppale opgesit vir die publiek se honger oë, en saam met gemorspos in voorstedelike posbusse gedruk. Jou laaste foto word ’n spookbeeld. Daar is min dinge juis so teenwoordig as die plakkaat van ’n verdwene persoon. Dit word die beliggaming van eksistensiële angs.

Dit was ’n jaar voor haar dood.

Die drome het egter nie opgehou nie. Angsdrome oor my sielemaat wat ek nie kon opspoor nie. En dan weer salige drome oor ons kindertyd saam.

Die Kruger-gesin was brandarm. Maar kinders oordeel nie. Lara se jeughuis was ’n bouvallige ou kasarm, onnet en erg verweer. Tog was dit die utopie waar ons die gelukkigste was. Al wat ek raakgesien het, was my vriendin – haar grenslose gees en gesig wat altyd gestraal het, die wakker blou oë en humorsin en intellek wat hemelhoog gerank het. Stories, beeldspraak, kennis en verbysterende insigte het uit haar geborrel – Lara was heel waarskynlik geniaal. Hulle algemene klasgemiddeld op skool het gewissel tussen 93% en 95%. Ek kon haar nooit akademies klop nie, maar het haar bewonder. As ek terugdink, kon sy nie baie tyd aan huiswerk spandeer het nie. Armoede is tydrowend. Geld koop tyd, maar as jy arm is, maak jy planne om te oorleef – jy stap, waar ander ry. Alles wat kits is, kos geld. Lara was meestal in ons buurt se biblioteek. Sy het soos ’n kommandowurm deur die biblioteek gevreet. Die Kruger-egpaar het vyf kinders gehad, en hoe dikwels moes sy nie sê nie: “Daar is nie geld nie.” Die gelate afstandname van die negatiewe eksistensiële sin het my hart gebreek. Om te bely “My pa het nie geld nie” is ’n persoonlike katarsis. Daar is nié. ’n Lotsaanvaarding. Lara was altyd bewapen met ’n dun, kwesbare skans. As ek terugdink, onthou ek haar ma, ’n moeggeleefde huisvrou wat die deurgeloopte Belgotex-matte met ’n kombuisbesem gevee het dat die stofwolke so trek; die rugbedekking het blink deurgeslaan. Dit was ’n nimmereindigende taak – al die kinders, die vuil huis, die wasgoed en koskook wat nooit end gekry het nie. Die agterjaart was besaai met scrap, wat eindelik deel van ons speletjies gevorm het. By die voordeur het een van die daknokke ineengestort; in my geestesoog het houtspeke verander in kraters; termiete in die binne-oog. Die ou huis het morbied gesug onder die vrag van sy inwoners. Ook dít het ek terugskouend besef. Want hoe lekker het ons nie gespeel nie! Daar is egter iets aan ’n ou huis wat nooit weer kan skoon kom nie. Geen skropborsel of seep kan die verwering genees nie – nié die dowwe blokkiesvloer met politoer nie; nié die nuwe huid van ’n vars uitverf nie. ’n Ou huis se ruite is grys en dof, aangepak met die katarakte van tyd. ’n Ou huis is moeg, en die vuil bly kleef, aanvoelbaar, onsigbaar vir die blote oog. Maar kinders kyk met ongeskonde oë, oë wat nog nie verwonding ken nie; hulle kyk met oë wat koninkryke raaksien en beërwe. Ek probeer nie armoedepornografie gebruik om ’n punt te maak met dié vertelling nie. Armoede is nie apologeties nie; dis nie ekshibisionisties nie – dit ís net. Daar het slegs in die sitkamer gordyne gehang; die slaapkamers se verslete lakens was argeloos oor die gordynraam gerangskik. ’n Sweetreuk het uit die handdoeke gedamp. Die onvars beddegoed (om waspoeier te spaar) – en ek wat op ’n kol vir my ma vertel dat beddegoed ruik na mensvleis. Sy het geskok begin lag.

........
Ek wil nóg redigeer, nóg sensureer aan my herinnering. Eers as volwassene het ek besef watse trauma my vriendin moes deurmaak.
........

Ek wil nóg redigeer, nóg sensureer aan my herinnering. Eers as volwassene het ek besef watse trauma my vriendin moes deurmaak. Die kerk en ander weldoeners het gereeld ingegryp. Lara moes elke jaar in die skoolsekretaresse se kantoor in ’n groot ou staankabinet ander kinders se ou skoolklere gaan uithaal. Handouts. “Vry klere”, soos hulle dit in die ou dae genoem het. Vir ’n sensitiewe kind moes dit vernederend gewees het. As student het dit my die eerste maal opgeval dat Lara nooit tandedraadjies gedra het nie. Vandag kan ek huil oor haar skewe tande soos vallende domino’s. Daar is nié. Geld nie. Ek onthou haar pa, ’n frisgeboude man met lang kouse en ’n kortbroek, Brylcreem in die hare en sy groot, vierkantige Ford-bakkie met sy werkers agterop. Hy het altyd net gewerk, gewerk om vir sy groot gesin te sorg. Eendag het Lara met ’n fluisterstem vir my die geheim vertel: “My pa werk nou skelm.” Ek het gedink dit is vreemd; eers later besef dat hy twee werke gehad het en dat dit kontraktuele implikasies moes gehad het. Kos – ja, gelukkig was daar nie ’n tekort aan kos vir die gesin nie. Maar geen lekkernye nie. In die ’80’s het mens nog vla gekook op die stoof; daar was nie kitsvla soos vandag nie. Dan het Lara my oorgenooi vir die sonderlinge bederf. Geen fietse, geen troeteldiere, geen geskenke vir Kersfees of verjaardae nie. Ek onthou wel dat Lara haar eerste fiets gekry het op haar elfde verjaardag. Dieselfde tyd, haar fluisterstem teen my oor, die treurige klankbaan van armoede: “My ma tik op die koppies.” Lara se ma, het ek onthou, het begin tikwerk doen vir ’n weermagbasis. Later het sy as gevolg van ’n senuwee-ineenstroting in Weskoppies beland.

Daar is nié.

Ek was bevoorreg om vir Lara te ken, dat sy my gekies het as haar beste maat. Ek was gekompliseerd, maar Lara, met haar grenslose gees en ouwêreldse wysheid, het my nukke en grille verstaan. Kortom: Sy was ’n wunderkind uit ’n brandarm huis. Ek het dikwels aan haar gedink in terme van die film Good Will Hunting, maar sonder die geweld en rebelsheid. Vandag voel ek skuldig oor ek so laks was en aan min buitemuurse skoolaktiwiteite deelgeneem het (asof dit eintlik saak maak, bygesê). Maar Lara het elke geleentheid met ’n dankbare desperaatheid aangegryp: sport, redenaars, die skoolkoerant. Ook die onderwysers en skoolhoof het raakgesien watse sonderlinge kind sy was, en sy is verkies as onderhoofmeisie in ons matriekjaar. My suster het vir haar haar ou kleurbaadjie gegee vir die geleentheid, waarop sy dankbaar opgemerk het dat die akademiese erekleuresakwapen darem een ding minder was wat haar ma moes vaswerk. Ek onthou Lara, o, so trots tydens die inhuldigingseremonie! Die kleurbaadjie se moue was hopeloos te kort – sy was lank en skraal; my sus veel korter as sy. Geld vir ’n nuwe rok vir haar ma was daar nie, en ons het gegiggel omdat haar ma ’n rok by ’n kettingwinkel op sig geneem het en gestraal het oor haar pragkind, nes haar pa – die ouers moes teenwoordig wees op die verhoog. Ná die seremonie het haar ma die rok teruggeneem na die betrokke winkel, die prysetiket nog intak (wat sy vir die seremonie netjies ingevou het in die kraag).

Net ek het geweet van Lara se groeiende angs – of sal ek sê OKV? – wat ek, as ek terugdink, in standerd 5 reeds bemerk het. As die skoolklok lui, moes sy eers tien doele met haar netbal deur die net gooi, al het ek senuagtig gepor en gemaan dat ons gaan laat wees. Op daardie stadium het ek dit afgemaak as deel van haar inherente perfeksionisme en fanatieke drif om haarself te bewys. Lara was altyd banger as ek, maar omdat sy soveel taaier was, het ek dit nie nooit besef nie. Alhoewel my ma streng was, het my mater baie beter maniere as ek gehad. Sy was hoflik en hulpvaardig gebore; sy sou waarskynlik ’n goeie burokraat kon gewees het later jare, het ek, die gebore rebel, gedink. Lara, die konformis, die saggeaarde mentor wat my teruggeruk het na die werklikheid as ek te veel stokkiesdraai of teëpraat met die onderwysers.

Ek en Lara het dikwels by mekaar oorgeslaap, soos maats maar doen. Ek onthou die fyn perkussie van krieke tydens die swoel somernagte. Die Augustuswind se geloei was opwindend – die wekroep van sade wat wag op die eerste reën. Eers veel later sou die wind my onrustig stem. Die deure en ruite wat met die gekrys van verslete hingsels rittel en die agterdeur laat sidder in die kosyn.

.......
Ek en Lara was albei wanaangepas – o, die bisantynse kompleksiteite van die gees! – maar ons het dit nooit besef nie, want ons was mekaar se Milton-paradys.
.......

Ook sou ek waarskynlik van Lara se bestaan vergeet het, maar nadat ons albei gegradueer en kontak met mekaar verloor het, het die drome begin. En vir jare aangehou. Ek en Lara was albei wanaangepas – o, die bisantynse kompleksiteite van die gees! – maar ons het dit nooit besef nie, want ons was mekaar se Milton-paradys.

My melankolie het op hoërskool begin, alhoewel dit van my geboorte af maar skuilgegaan het in die agtergrond. Dit het net nog nie ’n naam gehad nie. By tye het ek verkies om eerder koud en afsydig voor te kom, net solank niemand daarvan weet nie. Die mond is te geheim om pyn nie te voel nie, en dít het my maat in haar grenslose wysheid begryp.

Min het ek geweet dat die loot soveel swaarder op Lara sou val.

Ja, ons het wild gespeel. Sy het my ge-dare om van ’n brug af te spring, en ek hét. Vandag stap ek met ’n knikkende linkerknie. Dit maak nie saak nie. Ek het ons memorie in-ingelyf, die tawwe dare oorleef. Die lewe was ongekompliseerd. Lara se kleinboet, Jan-Jan, en sy maters het intussen rof begin saamspeel en ons het almal met blou kolle anderkant uitgekom, maar ons was steeds vriende.

En toe, op ’n dag, spoor Lara se een suster my op. Sy het my herken aan iets wat ek geskryf het. My selfoon het gepieng: Iemand het ’n boodskap op Messenger gestuur.

Ek het gekyk na die ellipse wat soos ’n vistenk borrel, maar onthou net ten dele.

--- Baie dinge het gebeur

--- jou vertel van Lara se dood

--- selfmoord gepleeg …

--- aan skisofrenie gely …

--- baie weggeloop van die huis …

--- ’n oordosis pille met spiritus gedrink …

--- die siekte het haar lewe gesteel …

--- sy het baie gevra na jou, geweet jy sou verstaan …

--- het jou jare lank gesoek, nie geweet watter getroude van nie …

--- van SASSA geleef …

Nee, Lara.

Néé, Lara.

Daardie dag het ek nie gehuil nie. Ek het begin bloei. Of ’n wond liggaamlik of psigies is, daar is nie ’n verskil nie. Iewers het ek my bewussyn verloor en met die wilde ysterreuk van denkbeeldige bloed in my neus wakker geskrik, uit my psychoma ontwaak en gekyk na die skoon, spierwit beddegoed. Gedink aan Maud Sumner se Stations of the Cross. Daar was geen bloed op Christus se lydingsdoeke nie.

........
Ek het dit geweet. Iewers, weggebêre in die skuiltes van my lyf, het ek dit vermoed, maar die gedagtes onderdruk. Hoeveel geheime berg mens in jou lyf, maar jy is te bang om die gedagtes vastrapplek te gee? Hoe diep kan mens ’n wete begrawe?
........

Maar die skokbesef: Ek het dit geweet. Iewers, weggebêre in die skuiltes van my lyf, het ek dit vermoed, maar die gedagtes onderdruk. Hoeveel geheime berg mens in jou lyf, maar jy is te bang om die gedagtes vastrapplek te gee? Hoe diep kan mens ’n wete begrawe?

Dae in sepia agter ’n donkerbril. Ek het getreur. Ek sal altyd. Dood kom as ’n seismiese skudding; die skokgolwe ruk die grond onder jou uit, die aarde bars in afskuwelike splete oop en jy spring verbyster weg om nie ingesluk te word nie. Die menslike brein kan die dood nie begryp nie, nie aftas nie, daarom word rituele en die nagedagtenis aan die oorledene so konkreet as moontlik gehou. Blomme. Foto’s. Elke keer wat mens ’n foto besoek, is dit van voor af ’n afskeid.

Ek het weer die inboks gelees. “Die siekte”: ’n spookwoord, te erg om uit te spreek: My liewe Lara was ’n skisofreen. Spiritus. Skrikbeelde van mense wat op straat woon het by my opgedoem. Lara se suster het my ’n vriend op sosiale media gemaak, en ek het ou foto’s van my maat geroofkyk en afgelaai. Op die een foto is sy Auschwitz-maer; op ’n ander, swaargebou. Haar hare was dun en plek-plek het die kaal kolle op haar kopvel deurgeslaan. Maar dis die verslae, gewroegde uitdrukking in haar oë wat my onkant betrap het. Dit was nie my Lara nie, nee, dit was ’n totale vreemdeling. Verwaarloos; vroeg oud. Haar glimlag was ’n grimas en iewers het ’n tand ontbreek.

........
Soms, vir ’n breuksekond, skeur die vlies tussen wêrelde en sien jy met jou binne-oog.
........

Soms, vir ’n breuksekond, skeur die vlies tussen wêrelde en sien jy met jou binne-oog. En in die grysland van die verbeelding bly dié beeld my steeds besoek.

Dit is Lara se elfde verjaardag, ’n silwerwit somersdag – en ons jaag met ons fietse teen ’n afdraand af; ’n afdraand wat nie ophou nie. Ek kyk na Lara, haar gesig na bo gedraai in die volson. Sy lig haar arms op terwyl sy “Ek free!” uitroep. (Dís hoe ons dit as kinders genoem het as jy fietsry sonder om die handvatsels vas te hou.)

Lara se gesig het begin straal soos Stefanus s’n in die Bybel. Engelagtig en sereen, met haar oë toe het sy haar arms steeds hoër gelig: “Ek free!”; haar fietsbande singend in ’n dun, reguit lyn. Sy het die fietsklokkie gelui en ek hoor nog steeds die borrelende silwer klank.

Ons het almal die een of ander sentiment wat ons koester jeens musiek. ’n Song of komposisie kry ’n naam, ’n gesig, word ’n verhaal.

Een aand het ek die bedliggie afgeskakel en omgedraai om te slaap. Die skielike dowwe lig van my selfoon op die bedkassie het my aandag getrek, en tot my verbasing het die musiekvouer op my foon oopgegaan en stilgestaan by een lêer – vanself begin speel. Zbigniew Preisner se Requiem for my friend het die nagstilte gevul. Ek het geweet dat die nagmerries nou sou ophou; en dat Lara vir my wil sê sy weet; sy verstaan.

Alles is oukei.

Alle beskrywings, name en gebeure is vir die doel van hierdie skets gefiksionaliseer.

Lees ook:

Springmielies: Die intieme kameraderie tussen vreemdelinge

Analoognostalgie: ’n elegie aan ’n verlore tyd

Heil die Leser!: Oor kortkuns, briewe en toesprake

Heil die Leser! Die omstrede Vance – en sy boeiende memoires

Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top