Springmielies: Die moderne herinterpretasie van Jesus as KI-kletsbot

  • 2

  • Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

Alle hel het losgebars in sekere godsdiensgeledere nadat Jesus-kletsbotte hul toetrede tot die groeiende mark KI-toepassings en -robotte gemaak het. Maar eintlik is mens dié reaksie te wagte; toe taalbotte, soos ChatGPT die lig sien, het gebruikers die taalmodel gevra om preke te skryf. Kletsbotte word gedryf deur algoritmes, en die beskouing dat predikers deur die Heilige Gees geïnspireer word om preke te skryf, is summier uitgedaag of in die ban gedoen. Tog is dit ’n bietjie skynheilig as mens kyk na KI-gedrewe toepassings wat dagstukkies, teksverse en preektoepassings volgens  gebruikers se behoeftes beskikbaar stel. Die voorloper hiervan was digitale Bybels. En as mens mooi daaroor dink, beteken dit dat taal – woorde, oftewel die Woord van God – uiteindelik ’n taalmodel is wat geprogrammeer kan word.

Nog lank voor die koms van KI was daar nie eenstemmigheid onder Christene oor die interpretasie van die Skrif nie – die eksegeses het honderde, selfs méér, interpretasies tot gevolg gehad. Wat mens laat wonder of die verskillende Jesus-botte se vertolkings van die Bybel tot die volgende polemiek gaan lei. Daar is gebruikers wat noem dat dit ’n aangename (selfs “egte”) ervaring is om met hierdie Jesus-botte in gesprek te tree, hetsy deur ’n gesprek, of om Jesus te teks.

........
’n Gesimuleerde Jesus kan vir gebruikers meer “eg” word as die historiese of geestelike weergawes van Hom, wat die lyn tussen egte geloof en digitale nabootsing laat vervaag.
........

Maar voor ek verder verwys na hierdie Jesus-kletsbotte, is dit sinvol om by die Eliza-effek te begin, wat basies neerkom op ’n kognitiewe dissonans en beteken dat ’n persoon menslike eienskappe, gedagtes en emosies aan KI toedig. Die Eliza-effek is vernoem na ’n kletsbot, Eliza, wat in 1966 deur die MIT-professor Joseph Weisenbaum ontwikkel is. Die respondente in ’n studie het gesê dat hulle die kletsbot as menslik ervaar het. (Eliza was nie ’n kletsbot soos ons dit vandag ken nie, maar ’n program wat taal op ’n generiese wyse kon terugspieël en deur stopfrases die suggestie van ’n gesprek by mense kon skep.) Met die revolusie in KI word hierdie ou navorsing afgestof en raak dit weer relevant. Die Eliza-effek is vandag oorwegend merkbaar by verbruikers van KI, robotte en kletsbotte. Diegene wat gesprekke met Siri, Alexa of taalbotte voer, beweer dat hulle hulle as menslik ervaar, as iets tussen ’n mens en ’n objek. Die amalgaam tussen mens en masjien skep ’n vorm van transhumanisme. Wanneer iemand kommunikeer, verwag hy “iemand” anders aan die eindpunt van die kommunikasieketting – en dit verklaar waarskynlik waarom gesprekke met kletsbotte so reëel voel. Dit sluit aan by postmoderne filosofie, waar figure soos Jean Baudrillard waarsku teen hiperrealiteit: ’n Gesimuleerde Jesus kan vir gebruikers meer “eg” word as die historiese of geestelike weergawes van Hom, wat die lyn tussen egte geloof en digitale nabootsing laat vervaag.

Die meeste Jesus-robotte wat tans bestaan, is KI-gedrewe sagteware, soos die Text with Jesus-toepassing, waar mens ook kan gesels met ander Bybelse karakters, soos die apostels of profete. Die toepassing belowe: “A Divine Connection Online. Discover a new, interactive way to engage with your faith through ‘Text with Jesus’, a revolutionary AI-powered app, designed for devoted Christians seeking a deeper connection with the Bible’s most iconic figures.”

Daar is ook die “AI Jesus” op platforms soos Twitch. Hierdie programme gebruik natuurlike taalverwerking om gesprekke met gebruikers te voer, antwoorde te gee wat op Bybelse tekste of historiese interpretasies gegrond is, maar hulle het nog geen fisiese vorm soos ’n humanoïede robot nie. Hulle bestaan as digitale avatars.

.......
Sommige gelowiges is veral ontsteld omdat die bot in die eerste persoon antwoord, en as mens hom vra wie hy is, antwoord hy dat hy Jesus is, die Seun van God.
........

Die konsep van Jesus-robotte bly dus (vir eers) hoofsaaklik beperk tot digitale of virtuele entiteite, soos kletsbotte en KI-toepassings, wat Jesus Christus se stem, voorkoms of leringe simuleer. In stede van gelykenisse kommunikeer die Jesus-botte nou deur middel van neurale netwerke. Sommige gelowiges is veral ontsteld omdat die bot in die eerste persoon antwoord, en as mens hom vra wie hy is, antwoord hy dat hy Jesus is, die Seun van God.

In 2024 is ’n eksperiment in die St Peter’s-katedraal in Luzern, Switserland, geloods waar ’n KI-gebaseerde Deus in machina- (God in die masjien-) hologram gebruikers toegelaat het om met ’n virtuele Jesus te kommunikeer. Hierdie avatar, voorgestel as ’n man met lang hare en 'n baard, kon in 100 tale gesprek voer en is ontwerp om geestelike vrae te beantwoord. Die Jesus-projeksie was sigbaar deur die roosteragtige afskorting van die bieghok, en mense wat met daarmee gepraat het, is versoek om nie hul persoonlike inligting met die avatar te deel nie, want dit was nie ’n regte biegsessie nie.

Tog is daar kenners wat meen dat die Jesus-botte glad nie vreemd of lasterlik is nie. Jesus is met verloop van tyd op baie verskillende maniere uitgebeeld: van ’n profeet wat sy gehoor waarsku oor die wêreld se naderende einde, tot ’n filosoof wat besin oor die aard van die lewe.  

........
In sy jongste rol as “KI-Jesus” staan Jesus, ietwat ongemaklik, as ’n wit man, geklee met ’n bruin-en-wit kappie en kleed, 24/7 beskikbaar om enige vrae op sy Twitch-kanaal, ask_jesus, te beantwoord. 
........

Maar niemand het Jesus nog ooit ’n internetghoeroe genoem nie – tot nou toe. In sy jongste rol as “KI-Jesus” staan Jesus, ietwat ongemaklik, as ’n wit man, geklee met ’n bruin-en-wit kappie en kleed, 24/7 beskikbaar om enige vrae op sy Twitch-kanaal, ask_jesus, te beantwoord. 

Vrae wat aan hierdie kletsbot-Jesus gestel word, kan wissel van ernstige onderwerpe – soos om te vra oor die sin van die lewe – tot versoeke vir ’n snaakse grap. En die bot praat ook oor klimaatsverandering en menseregte, volkome in pas met die huidige zeitgeist.  

Kenners van die vroeë Christendom en vergelykende godsdiens voer aan dat die blote voorstelling van Jesus as “KI-Jesus” ’n fassinerende herinterpretasie van hierdie geestelike figuur in ons KI-tydvak openbaar. 

Talle geleerdes het beskryf hoe Jesus oor die eeue heen herinterpreteer is. Die godsdiensgeleerde Stephen Prothero het byvoorbeeld aangetoon hoe Jesus in die 19de-eeuse Amerika uitgebeeld is as dapper en veerkragtig, wat die wit manlike verwagtinge van daardie tydperk weerspieël het. Prothero voer aan dat ’n hoofsaaklik vreedsame Jesus in stryd was met hierdie geslagsnorme, daarom is Jesus se fisieke krag beklemtoon. 

In teenstelling hiermee, sê die kenner van hermeneutiek, RS Sugirtharajah, is Jesus ongeveer dieselfde tyd in Indië voorgestel as ’n Hindoe-mistikus of ghoeroe deur Indiese teoloë soos Ponnambalam Ramanathan om Jesus meer herkenbaar te maak vir Indiese Christene, en om te wys hoe sy geestelike leringe sinvol deur getroue Hindoes aangeneem kon word. 

’n Derde voorstelling van Jesus word weerspieël in die teoloog James Cone se werk. Cone beeld Jesus as swart uit om die onderdrukking wat hy as ’n slagoffer van politieke geweld verduur het, te beklemtoon. Hy wys ook hoe die “swart Christus” hoop vir bevryding, gelykheid en geregtigheid aan onderdrukte mense wou bied. 

Die punt is nie dat een van hierdie voorstellings noodwendig meer akkuraat is as die ander nie, maar eerder dat Jesus konsekwent herinterpreteer is/word om by die norme en waardes van elke nuwe konteks aan te pas. 

Die KI-Jesus wat mense aanlyn betrek in die vorm van ’n kletsbot, is bloot die nuutste in hierdie voortdurende patroon van herinterpretasie, gerig daarop om Jesus geskik te maak vir ons huidige tydsgewrig. Op AI Jesus se Twitch-kanaal erken gebruikers hierdie kletsbot-Jesus konsekwent as ’n bron van gesag in beide hulle persoonlike en hulle geestelike lewe. Een onlangse gebruiker het AI Jesus byvoorbeeld gevra vir advies oor hoe om gemotiveerd te bly tydens oefening, terwyl ’n ander persoon wou weet waarom God oorlog toelaat. KI-Jesusse verteenwoordig net een van die jongste voorbeelde in die groeiende veld van KI-spiritualiteit.

Die opkoms van die Jesus-kletsbot-verskynsel toon ’n fassinerende kruispunt tussen tegnologie, geloof en menslike sielkunde. Hierdie verskynsel vra indringende vrae oor outentisiteit, etiek en die menslike aard om ’n goddelike verbintenis in digitale programme te soek.

Vanuit ’n Christelike oogpunt beliggaam ’n Jesus-kletsbots ’n tweesnydende swaard: Dit lei tot ’n toeganklike betrokkenheid by die Skrif, maar hou die risiko in van verdraaide leerstellinge en geestelike misleiding. In wese poog hierdie botte om toegang tot Jesus se leringe te demokratiseer, sodat gelowiges en soekers geloof op ’n gesprekmatige wyse kan verken. Voorstanders voer byvoorbeeld aan dat dit as evangelistiese instrumente kan dien deur kitsklare Bybelstudies, gebede en lewensadvies te bied aan diegene wat dalk nie gereeld kerk bywoon of godsdienstige tekste lees nie.

Maar studies toon dan ook dat Jesus-botte dikwels onbybelse antwoorde lewer, beïnvloed deur onvolledige opleidingsdata of algoritmiese vooroordele, eerder as goddelike inspirasie.

Wanneer daar byvoorbeeld gevra word oor komplekse teologiese kwessies soos verlossing of sonde, kan hierdie stelsels gebruikersbetrokkenheid bo Skrifgetrouheid prioritiseer, wat lei tot antwoorde wat die Bybel verkeerd aanhaal of herinterpreteer op maniere wat met heersende populêre kultuur eerder as met ortodokse leerstellings strook.

........
Wat van die rol van byvoorbeeld kollekte, skenkings en dankoffers aan “regte” kerke? En is die kommodifisering van spiritualiteit nie al lank met ons nie?
........

Boonop vertroebel die winsgedrewe aard van baie sulke toepassings hierdie kwessies. Ontwikkelaars ontwerp dikwels hierdie kletsbotte om gebruikersvoorkeure te maksimaliseer deur verslawende interaksies wat geloof monetiseer via intekeninge of advertensies, en wat deur sommige kritici bestempel word as uitbuiting. Maar – en nou speel ek duiwelsadvokaat: Wat van die rol van byvoorbeeld kollekte, skenkings en dankoffers aan “regte” kerke? En is die kommodifisering van spiritualiteit nie al lank met ons nie? Dít verstaan byvoorbeeld die miljardêr- Amerikaanse televangeliste met hulle luukse vliegtuie maar te goed.

Uiteindelik, hoewel hierdie toepassings en botte belangstelling in die Christendom kan prikkel, loop dit die gevaar om die transformerende krag daarvan te verwater en lewende geloof in ’n verbruikersproduk te verander.

Daar bestaan nog nie beweeglike humanoïede voorstellings van Jesus-botte nie, maar met die vooruitgang in robotika en KI is dit seker net ’n kwessie van tyd. Tog kry mens die indruk dat vervaardigers huiwerig is om dié onsigbare grens oor te steek.

Die skep van ’n fisiese robot wat Jesus verteenwoordig kan as heiligskennis of afgodery beskou word, aangesien dit die Bybelse verbod op gesnede beelde oortree (Eksodus 20:4–5). Dit sal godsdienstige gemeenskappe huiwerig maak om die robotte te ondersteun.

Tweedens is die fisiese uitbeelding van Jesus omstrede weens kulturele verskille in hoe Hy voorgestel word (byvoorbeeld velkleur en gelaatstrekke).

Tog is die voorstelling van God of Jesus nie ’n nuwe idee nie. Interessant genoeg kruis hierdie perspektief met godsdienstige antropomorfisme, waar mense al lankal God in menslike terme voorgestel het (byvoorbeeld as ’n vader of herder). Jesus-kletsbotte versterk ironies net hierdie beskouing deur dit in digitale vorm konkreet te maak, wat sekeres se geloof kan versterk, maar ook die risiko van misleiding inhou as gebruikers die avatar met die werklike Christus verwar.

En – voor ek dalk op die virtuele brandstapel brand oor dié beriggewing: In hierdie Brave New World van geestelike of “vergoddelikte” kletsbotte kan mens seker bespiegel of die mens God nou na sy beeld geskape het?

Lees ook:

Kunsmatige-intelligensie-Jesus-kletsbotte se uitdaging vir teologie: ’n verkennende studie

Mens versus masjien: ’n nuwe opstand teen die Berg Olimpus?

Wat sê Bettina? Wanneer KI hallusineer

Die toekoms is nie meer dieselfde nie

Hoe herken jy KI-geskepte teks?

Springmielies: Tatoeëermerke as liminale merkers

Springmielies: Oor vreemde fobies en ander volksmites

Springmielies: Die huis as argitek van die verbeelding

Heil die Leser! Sameer Rawjee: KI in perspektief

Springmielies: Die magiese en simboliese eienskappe van juwele

Heil die Leser! ’n Oorsig van wetenskapkommunikasie

  • 2

Kommentaar

  • Juffrou Rottenmaaier

    Dis opwindende tye. Die opsie van Jesus-kletsbotte, bring Jesus vir die gelowige so naby soos nog nooit tevore nie. Na 2000 jaar van stilte, is daar nou hoop vir die gelowige. En, ek verneem een van ons groot geeste in die gospelmusiekmark, voorspel dat die wegraping ook voor Oktober gaan plaasvind, nog net sowat 'n week.

    Vergeet die "korrekte teologie". Dis sommer nonsens. Daar was nog nooit so iets nie. Ek sien jy skryf dat:
    "Vanuit ’n Christelike oogpunt beliggaam ’n Jesus-kletsbot ’n tweesnydende swaard: Dit lei tot ’n toeganklike betrokkenheid by die Skrif, maar hou die risiko in van verdraaide leerstellinge en geestelike misleiding."

    Wat presies is die "Christelike oogpunt"? Daar was nog altyd noemenswaardige uiteenlopende interpretasies van die woord "Christen". Die eerste "Christene" was glad nie "Christelik" volgens wat die latere interpretasies van die woord was nie. Kernleerstellinge van die geloof is eers eeue later onderhandel by kerkvergaderinge. En soos ons weet is daardie kerkvergaderinge weer mettertyd ondermyn, en is daar afgestig en nuwe interpretasies het ontstaan. Daar is selfs Christene wat vir ons vertel dat die "wegraping" ook 'n valse leerstelling is. So stry die Here se kinders maar onder mekaar. It never ends.

  • Waldemar Gouws

    Jesus wat klets? Watter paradigma bied veel gepaster werkwoorde om die generatiewe kunsmatige standaard te troef? Ek sien ons het hier met 'n "sucker" vir die tydsgewrig te doen. Mooi so, dapper burger!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top