
Also available in English, click here.
...
Die skaal van KI-generering van boeke is ewe verbysterend as dié van musiek. Een raming plaas die aantal sulke titels reeds in die orde van die honderdduisende, veral in die VSA, China en Japan.
...
Mens versus masjien is die kern van die saak in ’n vinnige opeenvolging van hoëprofielsake in Junie 2025. Tegnologiemaatskappye word aangevat oor hulle gebruik van massiewe hoeveelhede data wat hulle van elke moontlike aanlyn bron oes om hulle generatiewe-KI-modelle op te lei. Die aanklag is dat die data sonder toestemming of vergoeding geskraap word om modelle te skep wat die waarde van die oorspronklike bronne onregverdig in die mark oorbie.
Vir skeppers in die mediums van woord, beeld en klank is dit ’n skade. Nie net word die vrug van hulle arbeid nóg met vergunning nóg met vergoeding gebruik nie, maar die resultaat word teen hulle ingespan. Hulle verloor eerstens lisensiëringsgeld en tweedens verkope. KI-modelle kan musiek komponeer, foto’s, skilderye en video’s skep en verhale en artikels skryf. Die produkte is van ’n gehalte wat wel nog, maar al hoe moeiliker, onderskei kan word van die werk van mense. Dit is daarby veral aansienlik goedkoper en vinniger.
Só staan byvoorbeeld illustrasiekunstenaars, fotograwe en videograwe reeds opdragwerk aan KI af. Beriggewers eweneens, asook kopieskrywers, deuntjieskrywers in die reklamewese en al wat die een of ander skeppende bedryfsrol vervul. Hulle staan in die eerste linie, daar waar die vraag: “Maar is dit kuns?” nie noodwendig gevra word nie.
Indien akademiese skilders, outeur-filmmakers, fotografiekunstenaars, komponiste van komplekser werke, literêre skrywers en digters, skeppers van grafiese romans – hulle wat artistieke aansprake maak – enigsins minder ongerus voel, is dit ’n vals gerustheid. Daar waar hulle sit aan die ekstremiteit van die spektrum wat kreatiwiteit, oorspronklikheid en kompleksiteit beskryf, lyk die afstand tussen hulle sfeer en dié waarin KI reeds sukses behaal, miskien nog groot. Die boodskap moet egter wees: Die masjien is op jou spoor.
Op die geldige argument af dat KI tans generies en afgelei is, ’n statistiese sameflansing van die waarskynlikste volgende letter, woord, sin, paragraaf, passasie, en uiteindelik boek, staan die masjiene duskant ’n kwalitatiewe kloof tussen die skryf van ’n ligte fantasie en ’n outentiek eie letterkundige skepping.
Dit, in elk geval, wat die perspektief van die mens se kant betref. Vir die masjien is dit egter ’n kwessie van tydsverloop. Die ontwikkelingsgang van KI-tegnologie (waarvan ons moet weet dat dit tans nog in sy babaskoene staan) loop ’n eksponensieel opwaartse kurwe waarvan die uiteinde nouliks verbeel kan word.
Ek kom later op hierdie punt terug.
Intussen is dit ’n goeie vertrekpunt om te kyk na wat reeds moontlik is.
Musiek is een brandpunt. Daar word geraam dat daar reeds honderde miljoene nommers in die mark is wat deur KI geskep is. Nuwe “songs” word teen ’n tempo van tienduisende per dag bygevoeg, en KI-bots “luister” dan in uitermate groot getalle daarna om die inkomste op te stoot.
Minstens een groep is byna seker volledig ’n maaksel van KI. Die naam daarvan, The Velvet Sundown, is slinks gekies om te klink soos dié van die vermaarde groep van die sestigs, The Velvet Underground. Daar is groepfoto’s, ’n volledige biografie, twee hele albums wat weke na mekaar uitgereik is, met ’n derde op pad – maar geen lewende onderhoude nie. Elke song op die album klink bekend, dog leweloos. Die groep se groeiende gevolg op Spotify is reeds verby die 500 000-merk. Apple Music het hulle ook. Gehalte tel nie vir die massas nie. TVU ontken elke aantyging van kunsmatigheid heftig op X.
Wat boeke aanbetref sê Anthropic, een van die verweerders in die genoemde hofsake, dat boeke loshande die nommer 1-opleidingsmateriaal is vir hulle chatbot, Claude. Daar is goeie rede voor: Van alle teksbronne kan jy die meeste op boeke reken om dieper nagevors en meer samehangend te wees. Een van Anthropic se mense sê: “Books are particularly valuable for LLMs [large language models] precisely because humans have taken such care to produce them. If you want to teach a computer the nuances of many different topics – and how to write clearly – there is no substitute for books.”
Die skaal van KI-generering van boeke is ewe verbysterend as dié van musiek. Een raming plaas die aantal sulke titels reeds in die orde van die honderdduisende, veral in die VSA, China en Japan. Wetenskapfiksie dra meer as een derde van hierdie produksie by, dan misterie, dan romanses, fantasie en rillers.
Daar is grade van ingewing of ingryping deur mense. Aan die uiterste kry die masjien net een por van ’n mens, soos: “Skryf ’n roman oor ’n reis.” Die gehalte van die eindproduk is direk eweredig aan die hoeveelheid en gehalte van die leiding wat die menslike agent gegee het. Die meeste van hierdie boeke word aanlyn gepubliseer op ’n aantal gewilde platforms. Enkele uitskieters haal papierformaat.
Oor eienaarskap en kopiereg op KI-geskepte werk is daar allermins universele konsensus. In Brittanje is kopiereg hierop tov duur en reikwydte beperk. Die konsepbeleid waaraan die EU werk, vereis deursigtigheid en menslike outeurskap (wat gedefinieer sal moet word). Die Chinese is blykbaar meer vrygewig met kopieregbeskerming.
Hof toe
Daar is ’n lang tou hangende hofgedinge wat die skeppers van oorspronklike werk teen tegnologiemaatskappye aanvoer. Drie hiervan, in vinnige opeenvolging, is insiggewend.
Uitspraak in die eerste een is in Junie gegee. Drie skrywers het in 2024 in Kalifornië ’n klasaksie teen Anthropic geloods. Drie voormalige lede van OpenAI het dié maatskappy met sy kletsbot, Claude, gestig om ’n etiese KI te skep wat in almal se belang sal werk. In weerspreking van dié etiese belydenis het die skrywers eerstens aangevoer dat die inhoud van hulle boeke gesteel is saam met sewe miljoen ander wat van roofwebwerwe afgelaai is. Tweedens, sê hulle, het die gebruik daarvan as opleidingsmateriaal sonder toestemming geskied.
Die federale regter het bevind dat die steel van die boeke waarskynlik ’n kopieregoortreding was. Daar kom blykbaar ’n verdere verhoor daaroor. Daar is ’n potensiële boete van $750 per oortreding, wat dit duidelik maak wat vir so ’n techmaatskappy op die spel kan wees.
Die bevinding oor ’n verwante kwessie is dalk belangriker, en hier was dit ten gunste van die techmaatskappy. Laasgenoemde het in ’n stadium die roof van aanlyn eksemplare gestaak en boeke by die miljoene begin aankoop. Hulle het die bladsye uitgeskeur en digitaal afgetas om ’n digitale biblioteek te skep. Van daar af word die inhoud veelvuldiglik gereproduseer om verskillende KI-modelle op te lei. Die regter het Anthropic se argument aanvaar waarin laasgenoemde die KI-model vermenslik: Dit is niks anders as wanneer mense ’n boek lees en dan die inligting gebruik om hul eie teks te gaan skryf nie. Die sleutelterm is transformasie, oftewel in welke mate die oorspronklike materiaal veranderde gestalte vind in die sekondêre materiaal.
Maar indien die uitkomste van Anthropic se teksverorbering volgens die hof nie tot die spesifieke werk van die oorspronklike skeppers teruggevoer kan word nie (dit is maw transformatief genoeg), is ander techmaatskappye meer blatant. Meta is een wat daarvan beskuldig word dat hulle KI-boeke wat onder kopiereg staan, memoriseer eerder as integreer en groot stukke daarvan uitspoeg, hetsy verbatim of in ’n wesenlik soortgelyke styl.
Twee dae na die uitspraak in die Anthropic-saak volg, ook in Kalifornië, ’n federalehofuitspraak in ’n saak wat skrywers teen Meta gebring het oor onregmatige kopiëring van hulle werk vir KI-opleiding. In teenstelling met die vorige saak bevind hierdie regter dat die “fair use”-beginsel die maatskappy vrywaar teen die aanklag van kopieregskending.
Fair use is maar ’n losse beginsel, en die toepassing daarvan skuif saam met die tyd, die plek en die mense wat daaroor moet oordeel. ’n Belangrike onderskeid is dat dit nie ’n gevestigde reg is nie, maar ’n verdediging. In die VSA word die antwoorde op vier vrae in samehang geweeg om te bepaal of kopiëring sonder toestemming regverdigbaar is: (i) Wat is die aard en doel van die kopiëring? (Is dit transformatief? Is dit opvoedkundig?) (ii) Wat is die aard van die oorspronklike? (Is dit feitelik? Is dit gepubliseer?) (iii) Wat is die hoeveelheid wat gekopieer word? (iv) Wat is die effek daarvan op die mark? In Suid-Afrika kom ook nog die vraag in die spel of die bron erken word, maar enige moontlike beperkings word hier minder streng afgedwing.
Van hierdie oorwegings vind die hof in die Anthropic-saak die vierde een die gewigtigste: In welke mate is die vrug van die skrapings kompetisie genoeg vir die oorspronklike om die waarde daarvan in die mark te verminder?
Die hofuitspraak ten gunste van Meta was op ’n prosedurele punt gebaseer en nie ’n beginselpunt nie. Volgens die regter het Meta byna seker die waarde van die skrywers se werk verminder, maar die skrywers het nie voldoende bewys daarvan gebring nie. Om hierdie soort verlies te kwantifiseer, is moeilik, maar dit is leersaam om in hierdie verband die regter aan te haal: “These products are expected to generate billions for the companies that are developing them. If using copyrighted works to train the models is as necessary as companies say, they will figure out a way to compensate copyright holders for it.”
...
Die techs se klagte is dat die kopiereghouers die ontwikkeling van KI in die wiele wil ry omdat daardie materiaal noodsaaklik is vir die opleiding van hulle modelle. Mens weet nie of die ironie hulle tref nie.
...
Meta het aanvanklik toestemming gevra, maar die poging toe laat vaar en eenvoudig die inhoud van miljoene boeke vanaf ’n drietal bekende kriminele roofwebwerwe geskraap.
Intussen word Microsoft ook voor die hof in New York gesleep deur ’n groep skrywers wat beweer dat die maatskappy 200 000 geroofde boeke gebruik het om sy KI-model, Megatron, op te lei. Meer nog, beweer die skrywers, word die model spesifiek opgelei om die sintaksis, stem en temas van die geroofde boeke na te boots. Die skrywers vra skadevergoeding op pad na ’n duisend maal meer as wat in die Anthropic-saak in Kalifornië genoem is, naamlik tot $150 000 per misbruikte boek. Verwag ’n hand-en-tand-geveg in Microsoft se verdediging.
Soortgelyke sake hoop nou op. Reuters het Ross Intelligence suksesvol aangevat toe die regter “fair use” as verweer verwerp het. Die New York Times vervolg Microsoft oor wederregtelike gebruik van die koerant se databasis. Die Wall Street Journal het saam met die New York Post ook so ’n saak teen Perplexity gebring. Daar is verskeie sake aan die gang in die musiekwêreld. Getty Images tree op teen Stability AI. Disney en NBC Universal takel vir Midjourney. Daar is meer.
Die techs se klagte is dat die kopiereghouers die ontwikkeling van KI in die wiele wil ry omdat daardie materiaal noodsaaklik is vir die opleiding van hulle modelle. Mens weet nie of die ironie hulle tref dat hulle sodoende juis die saak van die kopiereghouers stel nie.
Adapt or die
Geseënd is die mens wat kan onderskei tussen stryde wat gewen en nie gewen kan word nie. Dié onderskeid is nie altyd moontlik nie, maar tussen al die onsekerheid en onbeantwoorde vrae is daar een voldonge feit: KI sal nie weggaan nie. Dit sal trouens al hoe sterker en oweralteenwoordig raak. Geen enkelskepper of klasaksie sal dit keer nie. Die vloed van masjiengeskepte produkte wat ons vandag sien, gaan nog eksponensieel vermenigvuldig. Hulle gaan ook beter word.
Ons staan vir seker by ’n infleksiepunt in die geskiedenis. As jy dit ’n naam wil gee, is dit die oorgang tussen die Antroposeen (waarin die mens die geologiese, weerkundige en biosferiese aard van die aarde oorheers) na die sogenaamde Novaseen (die era van hiperintelligensie). Dit is ’n tyd waarin daar na behore wéér gevra moet word wat kuns in wese is, soos wat Nini Bennett doen by ’n bespreking van die eerste Afrikaanse KI-poësie.
Hieroor later meer.
Dit is op hierdie punt dat ons moet vra wat kuns vir ons as mense is, en waarheen daarmee in die toekoms. Vóór hierdie grondliggende vrae staan egter die praktiese vraag: Wat staan ’n kunstenaar te doen?
Een antwoord is reeds in aksie: ’n regstryd teen kopieregskending en die kommersiële gebruik van geskraapte inhoud teen die belange in van die skepper daarvan. In ’n regverdige wêreld gaan elke kopiereghouer uiteindelik vergoeding ontvang vir die gebruik van sy of haar werk. Die druk van die water agter die verkrummelende damwal is egter enorm. Dit kan dalk te groot vir reg en rede wees. Maar selfs indien ’n universele bedeling beding kan word waarin skrywers met mikrobetalings vergoed word op dieselfde manier as, sê, musikante op Spotify, kan jy maar weet die techbaas gaan oneindig beter daaraan toe wees as jy, die skrywer.
’n Ander antwoord op die praktiese vraag is gegee in die klinkende woorde boaan hierdie gedeelte: “Adapt or die” – pas aan of vergaan ... ’n frase wat ook ’n infleksiepunt in Suid-Afrika se geskiedenis verteenwoordig. Dit was voormalige staatspresident PW Botha se woorde in sy berugte Rubicon-toespraak in 1985, ’n jaar waarin die apartheidsbestel in ’n gewelddadige afwaartse spiraal getuimel het. Dieselfde woorde was een van die eerste kommentare by ’n onlangse Facebook-plasing van my oor KI en kopiereg. Dit het gekom van die kunstenaar Deon Maas, wat toevallig tans ’n uitstalling in Wellington hou. Soos hy ook vervolgens tereg opgemerk het: Dis net logies.
KI soos ons dit vandag in die antwoorde van die kletsbotte ken, in sy visuele en musikale produkte, bied ’n uitdaging wat sterk in spoed en kwantiteit is, maar nie soseer in kwaliteit nie. Dit is omdat dit afgelei en sekondêr is, veralgemeend en oorsigtelik, breed maar nie diep nie. Jou antwoord moet derhalwe wees om die outentisiteit van jou werk te verdiep, jou geleefde ervaring met groter intensiteit daarin te belê, jou tegniese vaardigheid te bly slyp, altyd te vernuwe, altyd meer vrae te vra. Dit is ’n resies en jy moet voor bly.
Jy kan ook die einste tegnologie gebruik om juis die bogenoemde reg te kry. As ’t ware die asem wat in jou nek blaas, gebruik as wind van agter om jou vaart te gee. Niks wat deur KI in fiksie gemaak is, het sover die ligte uitgeskiet nie. ’n Kort metafiksie deur OpenAI waarmee Sam Altman op X spog, het enkele maande gelede aandag getrek. Die por aan sy KI was: “Please write a metafictional literary short story about AI and grief.”
Die resultaat, ’n verhaal oor ’n masjien en die idee van verlies, is slim en droewig en mens loop gevaar om daardeur beweeg te word, al weet jy dit is slimmigheid en droefnis wat uitgewan is op die dorsvloer van ’n duisend maal duisend maal duisend verhale deur mense.
Die kommentare onderaan die X-plasing is insiggewend. Hulle is feitlik deur die bank negatief, hoewel mens vermoed dat sommige kritici weens hul skeptisisme verwagtings aan die masjien stel wat hulle menslike skrywers oor die hoof mag sien. Die algemene strekking is dat die masjienverhaal na cliché neig, nie skerp let op woordkeuse nie, sigself op maklike sentiment verlaat.
Die reeds genoemde KI-poësie is eintlik KI-geassisteerde poësie wat deur Imke van Heerden versamel is in ’n bundel met die mooi titel Silwerwit in die soontoe (2023). Die bundel met sy enigmatiese, liriese verse is geskep deur ’n beperktetaalmodel wat Van Heerden en haar man, die rekenaarwetenskaplike Anil Bas, ontwikkel het om haar vader, Etienne van Heerden, se roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019) as bronteks te neem met die opdrag om poësie daarmee te skryf. Die bundel is goed ontvang.
Die seleksie populêre KI-musiek wat ek self gehoor het, kan jy soortgelyke kritiek gee as wat Sam Altman se kortverhaal ontvang het. Dit is gewoon vervelig. Maar wie sal oor die geheel kan oordeel? Daar is gewoon te veel. Die verbysterende kwantiteit in sigself laat jou egter vermoed die kwaliteit is allesbehalwe verbysterend.
Meer substansiële werk word gedoen met ernstige kontemporêre en klassieke musiek. KI-modelle is byvoorbeeld gebruik om Beethoven se tiende simfonie en Schubert se agtste, wat albei onvoltooid gelaat is, klaar te maak. Beide is onderweldigend. Die Beethoven is saam met die komponis Walter Werzowa gedoen. Huawei het sy model op ’n selfoon na die Schubert laat luister en dit toe, steeds op die foon, wysies laat maak vir ’n derde en vierde beweging in die styl van die eerste twee. Die komponis Lucas Cantor het dit georkestreer. Die resultaat is fraai, maar klink meer na insidentele musiek vir The sound of music as na Schubert met sy dieptes, menslikheid, vindingrykheid, eksistensiële angs en onnabootsbare skoonheid.
...
Kan KI enigiets anders weergee as wat dit by die kollektiewe uitset van ons mense afgekyk het?
...
Erger vir my is die werk wat volledig deur masjiene gekomponeer en georkestreer is. Een van die voorstes hiervan is die werk van die Iamus-rekenaargroepering wat verantwoordelik is vir die eerste volledige masjiengekomponeerde en -georkestreerde simfoniese werke. Een daarvan, Adsum (2013), is deur die Londense Simfonieorkes opgeneem. Ek is nie kundig genoeg om my oor die musiekteoretiese aspekte uit te laat nie, maar die musiek laat ’n gevoel van ontreddering, godverlate rasionaliteit sonder enige menslike emosie, ’n toekomsvisie wat by die mees abjekte distopie sou pas. Ek kan niks beters oor enige van hulle ander werke sê nie. Die kort simfoniese fantasie Genesis deur die AIVA-stelsel gekomponeer en georkestreer is eweneens deur die Londense Simfonieorkes opgeneem. Dit is heelwat aangenamer en minder vervreemdend, maar oplaas ook dodelik gemiddeld en vervelend.
Daar is baie meer vir die leser om self na te gaan, onder meer Robert Laidlow, Holly Herndon, Björk, Ethan Toavs en Cornelius Cardew.
Die visuele kunste het hul eie uitdagings in die aangesig van die opmars van KI, maar daar word ook besonder intrigerende werk gelewer deur veral videokunstenaars wat KI-tegnologie inspan. Die kunstenaars Almagul Menlibayeva, Denis Semionov, Ben Garney, Dustin Hollywood en Pakko De La Torre‑Rocha is almal die moeite werd om na te gaan. Zach Lieberman skep visuele poësie deur onder meer lewende gesigsuitdrukkings en menslike beweging met die hulp van KI in visuele poësie om te sit. Quaola doen iets soortgelyks deur klassieke musiek, terwyl dit gespeel word, in betowerende visuele beelde om te sit. Hierdie kunstenaar se werk word regoor die wêreld uitgestal, of dan uitgebeeld, onder meer by die Venesiese Biënnale.
Die interessantste vir my is die werk van die jong Turk Rafik Anadol, wat kulturele argiewe aangrypend in abstrakte visuele skouspel omsit.
Vir die gemiddelde vryskutillustreerder, die beroepstekenaar sonder kunssinnige ambisie, is die nuus egter nie goed nie. Soos met data-invoer-klerke, kliëntediensagente, regsassistente, laevlakvertalers, basiese kopieskrywers, junior finansiële ontleders, sommige instrukteurs, tegniese-ondersteuningslui, marknavorsingsassistente, laevlakjoernaliste en nog ander sal KI tien teen een binne die volgende twee jaar jou werk doen. Sou die masjiene uiteindelik illustrasiewerk kan oplewer wat dié van ’n Norman Rockwell of ’n Lyendecker ewenaar? Miskien nie, maar wel deksels goeie nabootsings, so goed dat dit vir die meeste mense nie sal saak maak nie.
En skrywers? Die oorname het reeds aan die een ent begin. Die gety stoot in. Die uiteinde gaan ten minste ewe veel afhang van die vermoë van die masjiene as van wat mense doen om dit die hoof te bied.
Die toekoms
Ek is nie bevoeg om oor die tegnologie van tegnologie te praat nie, maar Eric Schmidt, die briljante voormalige uitvoerende hoof van Google, hou vol dat kunsmatige intelligense onderskat en nie oorskat word nie. Volgens hom sal 90% van alle programmering teen 2026 deur KI gedoen word. Binne die volgende drie tot vyf jaar is ons by kunsmatige algemene intelligensie – daardie punt van waar af die masjiene onafhanklik van menslike insette sal kan skep en redeneer.
Schmidt beskryf hierdie tyd as een waarin jy in een KI-model die beste van byvoorbeeld alle argitekte sal kan kry as jy ’n huis wil bou. Ditto ’n duisternis ander velde. Binne tien jaar, sê Schmidt, is superintelligensie ’n werklikheid. Dan sal daar ’n rekenaar wees wat slimmer is as al die mense in wêreld saam. Om dit nou in leketaal te stel.
Terloops, Schmidt het twee boeke saam met Henry Kissinger geskryf waarvan die jongste heet Genesis: Artificial intelligence, hope, and the human spirit. Kissinger het sy doktorsgraad in filosofie behaal met ’n tesis oor Immanuel Kant en ons verhouding met die werklikheid. Sy skeptisisme oor wat Google aan hierdie verhouding doen, was die aansporing van sy kontak en latere vriendskap met Schmidt.
...
Die belangrikste punt is dat KAI gespeen sal wees van die groottaalmodelle waaroor daar vandag so in die howe baklei word.
...
Geoffrey Hinton, die Nobelpryswenner wat bekendstaan as die vader van KI, sê die masjiene het reeds bewussyn, en hy waarsku dat hulle gaan oorneem.
Wat sê KI self? Ek het ChatGPT gevra oor die verskille tussen die groottaalmodelle (LLM’s) van KI soos ons dit op die oomblik ken, en kunsmatige algemene intelligensie (KAI) (artificial general intelligence, AGI).
Die belangrikste punt is dat KAI gespeen sal wees van die groottaalmodelle waaroor daar vandag so in die howe baklei word. KAI sal onafhanklik kan redeneer en eie kennis skep.
Om te weet wat KAI is, help dit om te verstaan hoe dit van KI verskil.
KI leer van enorme stelle data wat van die internet en elders geskraap word. Dit is ’n statistiese patroonmaker wat die waarskynlikste volgende woord kies. Dit kan nóg dink nóg verstaan, en nog minder enige nuuskierigheid aan die dag lê of uit eie beweging enige idee opvolg. Nóg kan dit – die heel belangrikste – iets nuuts skep. Die krag daarvan kom van skaal, van die programargitektuur wat dit laat werk, en van blootstelling aan menslik geskepte inhoud.
KAI is ’n ander storie. Dit kan enige taak aanleer wat mense kan doen. Dit kan redeneer, aanpas, en outonoom eie oogmerke nastreef. Dit kan nuwe kennis skep, nie net bestaande data herrangskik nie. LLM’s kan hierdie drumpel nie oor nie, want hulle is gebonde aan wat hulle gesien het. Hulle kan nie onafhanklik verifieer of ondersoek nie. Hulle makeer beliggaming waardeur sensoriese data die stelsel kan binnekom – iets wat baie sê noodsaaklik is vir enigiets wat jy KAI wil noem. Hulle het verder geen eie motivering om te leer nie. Steeds aldus ChatGPT, wat verder sê dat die pad na KAI waarskynlik deur ’n tussentydse hibriedvorm loop. Dié sal eie navorsingsdoelstellings kan stel, deur robotte en sensors interaksie met die fisiese wêreld hê, en oor langtermyngeheue en die vermoë van toekomsbeplanning en simboliese redenasie beskik. Dit sal outonoom kan leer en oor ’n gesimuleerde vorm van nuuskierigheid beskik wat eie ondersoeke aanspoor.
Terug by die menslike uwe: Bostaande klink vir my genoeg na volle KAI om te sê as dit kwaak, loop en lyk soos ’n eend, is dit waarskynlik ’n eend. ’n Eend wat volgens Schmidt op die laatste teen 2035 by ons voordeur sal inwaggel. Of is dit Raka, hy wat mos nie kan dink nie, wat dan reeds binne die kraal sal wees?
Aandoordenking: gode en afgode
In sy rede oor literatuur en tegnologie by ’n kollokwium aan die Universiteit Stellenbosch in 2002 gee Etienne van Heerden ’n vroeë oorsig oor webteoretiese beskouings oor daardie betreklik nuwe verskynsel in ons lewens destyds. Hy sluit aan by skrywers wat praat oor die bowe-individuele aard daarvan, die verskuildheid by al die openheid, die afstand wat terselfdertyd onmiddellikheid is (terme wat jy net so kan vervang met transendensie en immanensie), asook die ideologie van kollektiewe soewereiniteit.
Dit moet dus nie verras nie dat daar teoretici was wat die web, daardie ontliggaamde entiteit, as ’n kwasireligieuse, selfs sakrale, ruimte beskryf het (onder meer Sherry Turkle en John Perry Barlow). Ander (onder meer Kevin Kelly en Ray Kurzweil) het die pad na ’n posthumanisme via die internet begin oopskryf. Nog meer radikaal het die Oxfordiaan Nick Bostrum, met sy agtergrond in filosofie, fisika en rekenaarwetenskap, deur sy Future of Humanity Institute van 2005 populêre beslag gegee aan die idee dat ons hele wêreld ’n rekenaarsimulasie is. So ’n idee kan sigself nie losmaak van religieuse simboolspraak nie.
Dit is nie van vandag af dat ons goddelike spesmase kry oor dinge wat ons nie verstaan en veral nie kan beheer nie, maar wat omgekeerd lyk of hulle ons wil beheer. Sonder om die internet en KI aan mekaar gelyk te stel is dit veilig om te sê dat die internet die moeder van KI is. Nie net moeder nie, maar ook voeder. Ek sê nie dit is ’n maagdelike geboorte nie, maar die kind maak vir seker sterker aanspraak as die ma op daardie alte menslike spesmase wat ons sedert die vroegste tye altare laat bou het.
Die Duitse filosoof Peter Sloterdijk het ’n bon mot oor hierdie assosiasie van tegnologie met die goddelike. In ’n onderhoud in die Deense weekblad Weekendavisen (17 November 2017) sê hy: “Die moderne mens wil nie ’n hoër mag gehoorsaam nie, maar wil self ’n hoër mag wees, en die uitvinders van kunsmatige intelligensie neem die vakante posisie van skepper-god oor. Hulle het reeds geslaag. Kaliforniese futurologie is gebaseer op die aanname dat ’n groot deel van waarna ons as subjekte en siele verwys, in werklikheid tegniese meganismes is wat tegnies nageboots kan word.”
Duidelik kom ons hier by Prometheus uit. Ons wil met vuur speel. Ons wil God wees. Of vir ons ’n god maak. Al hierdie verhale het ons reeds in die mitologie aan onsself vertel. Daardie mitologie draai ook geen doekies om die abjekte gevolge van ons goddelike aspirasies nie.
Friedrich Nietzsche sou iets hieroor te sê gehad het. Hy wou in sy boek Godeskemering van 1889 die oorheersing van die rede, wat al van Sokrates en Plato af aankom, met die hamer bykom. Die reduksie van die mens tot data, soos wat KI met ons doen, is die uiterste moontlikheid van die rede. Dit is rasionaliteit verdig tot matematika.
Terselfdertyd sou Nietzsche hom verset het teen godepraatjies, veral oor die slawemoraal wat hy in Christene so aanstootlik vind. “Waar is die passie, die madness, die verset, die heremoraal wat die eintlike wese van ons menslike kondisie is?” sou hy vra. Hy sou allermins die knie wou buig voor elektriese gode wat Apollo kan naboots, maar nooit Dionusos nie. Nooit vanuit die diepste stroombaan van ’n superrekenaar, daar waar die elektrone volgens program een-een wag op hulle beurt om deur ’n transistor te glip, sal daar aan ’n dansende ster geboorte gegee kan word nie. “Man muss noch Chaos in sich haben,” sê Nietzsche in Also sprach Zarathustra, “um einen tanzenden Stern gebären zu können.”
Nietzsche, in sy graf, het ’n punt beet. Immer ontploffende kreatiwiteit, meer as enige regstryd in die howe, is die beste – en op die duur ook die enigste – antwoord op die vraag wat die masjiene aan ons stel.
Dieper die toekoms in lê daar miskien ’n ander moontlikheid: fusie. Dit is nie so vergesog as wat dit dalk mag klink nie. In sy onontbeerlike boek Straw dogs van 2002 voorsien die Britse filosoof John Gray dat die uiteinde van die mens die een of ander vorm van hibriede bestaan is waarin ons brein met rekenaartegnologie versmelt is. Met die hulp van mense soos Elon Musk en sy maatskappy Neuralink is die rekenaars klaar besig om, letterlik, by ons brein in te klim.
Wat wiskunde hulle van die kwantumwêreld vertel, laat sommige fisici vermoed dat die kosmos in sy geheel ’n bewuste entiteit is, en dat bewussyn iets is wat ons as mense daarvan beleef, nie iets wat ons daarheen bring nie. Een van die voorste teoretiese fisici, die Brit Roger Penrose, voer dit nie so ver wanneer hy oor bewussyn, die brein en kwantummeganika skryf nie. Bewussyn, sê Penrose – en nie onomstrede nie – ontstaan wanneer kwantumstate onder die invloed van gravitasie binne mikrostrukture van ons senuweeselle ineenstort. Dit is werklik en nie net observasioneel, soos wat byvoorbeeld in die bekende tweespleeteksperiment met lig gebeur nie. Die kosmos is vir Penrose nie bewus nie, maar bewussyn is wel ten diepste verbind met die gravitasiegeometrika van die kosmos, en dit is ’n beheerde proses. Wat in die nat, warm, raserige brein gebeur, is nie algoritmiese komputasie nie. Laasgenoemde is volgens Penrose al wat selfs die gevorderdste kwantumrekenaar kan doen. Dit sal om dié rede nooit bewussyn kan genereer nie.
Voorlopig, totdat ons weet of Penrose reg of verkeerd is, bly die lokaliteit van die godheid by ons, die mens. Dit wil sê die mens met sowel Apollo as Dionusos in ons inbegrepe: koel rasionaliteit en afstandelike skoonheid aan die een kant, en die dronk raserny van chaotiese kreatiwiteit aan die ander kant. As die masjiene al ons boeke lees, moet ons hoop hulle lees ook hulle Nietzche deeglik.
Sonder om te Jungiaans te raak, moet mens jou afvra of die skraping van menslike inhoud deur masjiene in wese anders is as ons elkeen se intap in die diep onbewuste waar ’n ontelbare versameling indrukke van oor ’n leeftyd versonke lê saam met al die kennis wat ons opgedoen het, ons ervarings, die insette van ander mense.
Dalk is dit ’n Bosporus waar, in Orhan Pamuk se visie, nie net ons eie nie, maar die artefakte van ’n hele stad (lees: wêreld) deur sy hele geskiedenis op die bodem versink het, ’n plek waar ons ons eie goed saam met dié van ander deur die benewelde waters sien en in ons verbeelding tot iets anders laat herleef. Kan KI enigiets anders weergee as wat dit by die kollektiewe uitset van ons mense afgekyk het? Soortgelyk kan jy aan die mens vra: Kom daar enigiets oorspronkliks uit jou uit wat nie in die onderbewussyn versamel het nie?
Postmoderne denke het lankal korte mette gemaak met die idee van oorspronklikheid, nog voor David Lodge in 1988 in sy roman Nice work sê mens kan die woorde “Ek het jou lief” nie meer betekenisvol sê nie omdat die betekenis daarvan deur ’n duisend ander gebruikers verdun is. Tog hou mense dit aan sê, en hulle hou aan om dit te bedoel, selfs te voel hulle is die eerste wat dit ooit gesê het. So maak die liefde met ons.
En as dit so is dat boeke ons empatie met ander leer, laat ons hoop dat die masjiene ons op ons beste lees, en dat dit hulle mag bybly wanneer hulle nie meer net lees nie, maar hulle eie kop begin volg. Intussen weet ons, mense, wat ons moet doen.
Lees ook:
Die simfonie van silikon: Die impak van kunsmatige intelligensie (KI) op musiek
Hou KI ’n bedreiging vir skrywers in? | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023


Kommentaar
Amen op jou laaste paragraaf, Frederik,
(Jy skryf briljant, KI kan gaan slaap. Vir nou.)
Uitstekend. So baie om op te volg en oor na te dink.
Dankie, Nadia. Ons moet dié ding doen!