Heil die Leser! Sameer Rawjee: KI in perspektief

  • 0

Titel: Taking the anxiety out of AI. Humans, economics and jobs in the age of artificial intelligence
Skrywer: Sameer Rawjee
Uitgewer: Penguin Random House, 2025
ISBN: 9781776392100

........
Taking the anxiety out of AI kon nie tydiger gekom het nie. Sameer Rawjee is ’n sober stem in die robuuste gesprek rondom kunsmatige intelligensie; hy is veral bekend vir sy vermoë om komplekse KI-konsepte aan ’n wyer gehoor te verduidelik.
........

Die skrywer is die stigter van Google’s Life Design Lab, ’n inisiatief vir die verkenning van taakgerigte werksbenaderings wat al meer as 10 000 Google-werknemers wêreldwyd bedien het; dis ’n program wat ook by INSEAD, Trinity College en die London Business School aangebied word. Rawjee is ’n reeks-entrepreneur van O School Ventures, waar hy met maatskappye soos Meta, Salesforce en TikTok saamwerk om jong professionele persone voor te berei vir die nuwe toekoms. Hy is voorts genooi om by Standard Bank, ENS en Investec te praat oor hoe om in ’n nuwe wêreld intelligent te wees, en hy het sy gedagtes oor die toekoms van onderwys en besigheid met die Investec Private Wealth-gemeenskap regoor Suid-Afrika gedeel. Voorheen het Sameer ’n EdTech-onderneming begin om universiteite aanlyn te bring. Van sy werk het op CNN, in die Sunday Times en in die Real Leaders-tydskrif verskyn.

Taking the anxiety out of AI deur Sameer Rawjee (Penguin Random House, 2025)

Taking the anxiety out of AI kon nie tydiger gekom het nie. Sameer Rawjee is ’n sober stem in die robuuste gesprek rondom kunsmatige intelligensie; hy is veral bekend vir sy vermoë om komplekse KI-konsepte aan ’n wyer gehoor te verduidelik. Met Taking the anxiety out of AI lewer hy ’n pragmatiese gids wat ’n gebalanseerde perspektief op KI bied en nie swig voor utopiese verwagtinge, of die beskouing van ’n distopiese Brave New World nie. Sy skryfwerk beklemtoon die belangrikheid daarvan om KI se grondbeginsels te verstaan en ingeligte betrokkenheid te bevorder in die tegnologiese revolusie wat KI inhou. Deur toeganklike verduidelikings streef Rawjee daarna om individue te bemagtig om die potensiaal van KI te omarm, terwyl hy terselfdertyd die etiese en maatskaplike implikasies daarvan erken en aanspreek.

Belangrike skrywers wat oor KI geskryf het, is onder meer James Lovelock met Novacene: the coming age of hyperintelligence (2019), waarin hy die aanname maak dat die Antroposeen verby is, en dat die nuwe epog van kunsmatige intelligensie – die Novaseen – aangebreek het. Nexus: a brief history of information networks from the stone age to AI (2024) deur Yuval Noah Harari is insgelyks ’n landmerk oor hierdie onderwerp. Die sosioloog Sherry Turkle, skrywer van onder meer Alone together: Why we expect more from technology and less from each other, se geesteswetenskaplike blik op aanlyn konneksies tussen digitale gebruikers is óók ’n belangrike werk.

........
Meer as ooit tevore word die mens se antroposentriese posisie as heerser van die wêreld/aarde/heelal uitgedaag; die mens is ook (op hierdie stadium nog) in beheer van KI. Rawjee besin indringend oor wat dit beteken om mens te wees; en hy put sinvolle insigte uit die filosofie oor wat die menslike bewussyn, siel en intelligensie behels.
........

Meer as ooit tevore word die mens se antroposentriese posisie as heerser van die wêreld/aarde/heelal uitgedaag; die mens is ook (op hierdie stadium nog) in beheer van KI. Rawjee besin indringend oor wat dit beteken om mens te wees; en hy put sinvolle insigte uit die filosofie oor wat die menslike bewussyn, siel en intelligensie behels. Op bl 9 lys hy die vyf dimensies van menslike intelligensie, naamlik die intellektuele, emosionele, fisiologiese, intuïtiewe en spirituele dimensies. So, wat is KI dan? “AI is just mimicking human intelligence, that’s it” (10). KI beskik wel oor kritiese denkvermoëns en vaardighede om probleme op te los, maar dis ’n kwessie van tyd en KI sal al vyf dimensies van menswees kan naboots, of selfs aanleer. Die kloof tussen die wetenskappe en filosofie sal mettertyd verdiep, want daar bestaan nog nie eens eenstemmigheid onder wetenskaplikes wat KI presies behels nie. Die belangrikste verskil tussen mens en masjien is die begrip mortaliteit – dat die mens eendag moet sterf, en ’n robot nie.

En van humanoïede robotte gepraat: Heelwat van ons onthou Bicentennial man (1999), ’n filmverwerking van ’n verhaal van Isaac Asimov. Andrew, ’n (futuristiese) geselskapsrobot, begin al hoe meer soos ’n mens op te tree: Hy dra klere, ontwikkel ’n estetiese bewussyn, en wonder toenemend hoe dit moet voel om volwaardig mens te wees. Uiteindelik raak biotegnologie so gevorderd dat Andrew via biologiese modifikasie ’n mens word: Hy begin verouder, voel pyn en menslike liefde, en trou met ’n vrou, die liefde van sy lewe. Hy sterf aan die einde van die film saam met sy geliefde vrou. Dit is insiggewend dat hierdie verhaal/film, wat eens wetenskapfiksie was, nou inderdaad ’n soort profesie word. Want die toekoms het sci-fi ingehaal; mens moet dalk die “-fiksie” in “wetenskapfiksie” met “-faksie” vervang.

........
Die rol van die mens gaan verander van ’n transhumanistiese na ’n posthumanistiese een – en gaan KI nog ’n plek vir mense gun, lank nadat die mens sy apeksposisie in die wêreld verloor het?
........

En alhoewel KI nog in sy babaskoene verkeer, sal ons die volle effek daarvan eers oor jare of dekades voel. Uiteindelik gaan robotte begin om vir hulself te dink; om hulself te leer via diep masjienleerprosesse; en met mekaar begin kommunikeer. Die rol van die mens gaan verander van ’n transhumanistiese na ’n posthumanistiese een – en gaan KI nog ’n plek vir mense gun, lank nadat die mens sy apeksposisie in die wêreld verloor het? Rawjee beweer: “Yes, computers will be able to perform most tasks better than humans and may even have better ideas for organizing society than is already imagined. When you can see data from every angle, at rapid speed, against millions of models, you’ll likely see things most humans never see or that would take humans decades to see.” En hiermee stel Rawjee die moontlike herstrukturering van samelewings soos ons dit ken, in die vooruitsig.     

Dit is egter normaal om tegnologiese vooruitgang te vrees. Trouens die geskiedenis wemel van talle voorbeelde. Met die koms van die televisie in 1975 in Suid-Afrika het ons voorouers gevrees dat dit  kwansuis die merk van die dier is. ’n Onskuldige TV met haasore – en sonder afstandsbeheer. Ek onthou hoe ek, synde die jongste lid van ons gesin, moes opstaan om die knoppe te draai om die klank harder of sagter te stel. Tóé was afstandbeheer nog net ’n droom. Maar gaandeweg het kykers besef dat die televisie, met aanbieders soos Roelf Jacobs, Riaan Cruywagen en Carike Keuzenkamp, nie uit die bose is nie, en dat mens televisieprogramme maar mag geniet. Outydse tegnologie was taktiel en hardhándig, en ’n streelpaneel net ’n futuristiese droom. Wanneer die toetspatroon laataand opgekom het, was dit slaaptyd. Tot in die vroeë ’80’s het kinders by mekaar gespog oor wie ’n “tiewie” aan huis het.

En verder terug in die geskiedenis was mense maar net so tegnologies weerstandig – ’n kollektiewe vrees vir die onbekende. Van die koms van die drukpers tot die verskyning van die sakrekenaar se oupagrootjie (wat in die ’50’s so groot soos twee yskaste langs mekaar was); en van die televisie wat kon “beeldsend” (’n woord wat mens nie meer hoor nie) tot die koms van die internet het die mensdom herhaaldelik geworstel met vrese en vooroordele rondom hierdie vernuwings. Eers terugskouend sal die KI wat ons vandag vrees, volkome sin maak (of dalk nié).

Een primêre rede vir tegnologiese vrees lê in die inherente onsekerheid wat die nuutjie vergesel. Wanneer ’n nuwe tegnologie ontstaan, is die langtermyngevolge daarvan onduidelik. Mense neig terug na die bekende en gevestigde, en die bekendstelling van iets radikaal anders kan destabiliserend voel. Televisie is aanvanklik gevrees vir sy potensiaal om gesinsinteraksie te laat disintegreer, passiwiteit te bevorder, en kykers aan moreel twyfelagtige inhoud bloot te stel. Net so is die internet begroet met vrese oor privaatheidskendings, die verspreiding van verkeerde inligting en die potensiaal vir sosiale isolasie in ’n hipergekonnekteerde wêreld.

Verder skep nuwe tegnologieë vrese vir sosiale en ekonomiese ontwrigting. Die vrees vir werksverlies was ’n herhalende tema deur die industriële geskiedenis, en met die koms van die internet was dit nie anders nie. Daar het kommer ontstaan oor outomatisering wat menslike vaardighede oorbodig sou maak. Toegegee – elke nuwe tydvak se tegnologieë lei tot ’n verlies aan werk. Met KI gaan dit nie anders wees nie, en Rawjee takel hierdie verskynsel op ’n nugter wyse in sy boek.

........
Die proses om hierdie vrees te oorkom is veelvlakkig en geleidelik. Eerstens speel ’n kennismaking met vernuwings, sowel as opvoeding daarin, ’n deurslaggewende rol. Namate mense ervaring opdoen met die nuwe tegnologie, begin die aanvanklike misterie verdwyn.
........ 

Die geskiedenis toon egter dat hierdie aanvanklike vrese, hoewel dikwels geldig in hul voorspelling van potensiële risiko’s, selde tot die absolute verwerping van transformerende tegnologieë lei. Die proses om hierdie vrees te oorkom is veelvlakkig en geleidelik. Eerstens speel ’n kennismaking met vernuwings, sowel as opvoeding daarin, ’n deurslaggewende rol. Namate mense ervaring opdoen met die nuwe tegnologie, begin die aanvanklike misterie verdwyn. Opvoedkundige inisiatiewe en toeganklike verduidelikings van hoe die tegnologie werk dra by tot demistifisering en verminder die vrees vir die onbekende.

Ten slotte is die vestiging van regulerende raamwerke en kulturele integrasie ’n sleutelfaktor in die oorkoming van tegnologiese vrees. Namate nuwe tegnologieë ingebed raak in ons daaglikse lewe, verloor hulle hul nuutheid en word hulle genormaliseer. Televisie het ontwikkel van ’n futuristiese nuwigheid tot ’n alomteenwoordige huishoudelike toestel, ’n sentrale punt vir gesinsbyeenkomste en gedeelde kulturele ervarings. Net so het die internet ’n onontbeerlike instrument vir kommunikasie, handel, onderwys en sosiale interaksie vir miljarde wêreldwyd geword.

Namate KI algemener in die werkplek en in die samelewing word, watter impak sal dit op jou werkplek, jou lewe en die wêreld rondom jou hê? As KI al hoe meer van die take wat mense by die werk verrig, kan oorneem en dit doeltreffender kan doen, waar laat dit die mens? Taking the anxiety out of AI ondersoek wat KI kan doen en wat dit nié kan doen nie; watter take altyd beter deur mense verrig sal word; en hoe die toekoms sal lyk in ’n wêreld waar mens en KI saamwerk. Of jy nou ervaring het met die gebruik van KI of nou eers daarmee begin, bied Rawjee se gids ’n noodsaaklike kompas om die nuwe toekoms te navigeer.

........
Dié boek se krag lê in die vermoë daarvan om KI-konsepte te demistifiseer sonder om dit te vereenvoudig. Rawjee verduidelik vernuftig ingewikkelde onderwerpe soos masjienleer, neurale netwerke en natuurlike taalverwerking in helder, bondige taal met herkenbare analogieë.
........

Dié boek se krag lê in die vermoë daarvan om KI-konsepte te demistifiseer sonder om dit te vereenvoudig. Rawjee verduidelik vernuftig ingewikkelde onderwerpe soos masjienleer, neurale netwerke en natuurlike taalverwerking in helder, bondige taal met herkenbare analogieë. Hy vermy waar moontlik koeterwaals, en definieer tegniese terme waar nodig, wat dié boek toeganklik maak vir lesers met min tot geen voorkennis van die onderwerp nie.

Benewens die tegniese verduidelikings, delf Rawjee in die praktiese implikasies van KI in verskeie sektore, van gesondheidsorg en finansies tot onderwys en vermaak. Hy ondersoek beide die potensiële voordele – verhoogde doeltreffendheid, nuwe ontdekkings, verpersoonlikte ervarings – en die legitieme bekommernisse rondom werkskepping, die skadukant van algoritmes, en etiese oorwegings van KI. Belangrik is dat hy nie wegskram van hierdie uitdagings nie, maar dit eerder sien as geleenthede vir proaktiewe bespreking en die ontwikkeling van verantwoordelike KI-praktyke.

Die skrywer skilder nie ’n prentjie van ’n glansryke KI-gedrewe toekoms nie, maar beklemtoon die belangrikheid van menslike agentskap. Die boek bepleit ’n samewerkende benadering waar mens en KI in sinergie hul onderskeie sterk punte benut. Ja, iewers in die toekoms gaan mens en robot saamwerk, skouer aan skouer. Op hierdie stadium is dit nog moeilik om ons in so ‘n scenario in te dink – en nee, Rawjee voorspel nie ’n vyandige oorname van robotte soos in wetenskapfiksiefilms nie. Die doomsday-scenario is hipoteties die “finale” fase waar robotte sonder menslike ingryping kan dink, optree en besluite neem. In die toekoms sal ons egter aan die evolusie van masjiene gewoond moet raak.

Rawjee se Taking the anxiety out of AI bied ’n broodnodige stem van rede in ’n dikwels polariserende gesprek oor die transformerende krag van KI. Hierdie werk is belangrik – want die KI-revolusie is een van die vernaamste ontwikkelinge ooit vir die mensdom, ’n verskynsel wat vergelykbaar is met die ontdekking en gebruik van vuur, landbou en elektrisiteit.

Lees ook:

Heil die Leser! ’n Oorsig van wetenskapkommunikasie

Springmielies: Oor kuberboelies en keyboard warriors

Kunsmatige Intelligensie kan leergeleenthede verryk

Hoe herken jy KI-geskepte teks?

Argiewe: Bêre of brand in die digitale era?

Wat sê Bettina? Hoekom ek weier om KI te gebruik

Hulpvaardige kubernetiese skilpaaie: Kunsmatige Intelligensie en robotte in en om die huis

Die simfonie van silikon: Die impak van kunsmatige intelligensie (KI) op musiek

Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns

Die impak van grootdata op tradisionele argiewe: ’n oorsig van uitdagings en geleenthede

Voordele en uitdagings van KI vir die universiteitswese

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top