
Foto: Pexels
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Ek sien onlangs hierdie volgende op ’n kollega se WhatsApp-profiel: “Artificial intelligence is no match for natural stupidity.” Dalk nie, maar wanneer kunsmatige intelligensie, of robotintelligensie, soos ek verkies om dit te noem, flaters begaan, is dit nogal in ’n klas van sy eie. Ek vermoed dis omdat dit menslike onnoselheid nodig het om ten volle geïmplementeer te word.
Dink maar aan die prokureurs wat hulle betoë deur ChatGPT laat skryf het sonder om dit weer deeglik na te gaan en toe ontdek dat die robotintelligensie verkeerde of selfs niebestaande sake gelys het. ’n Kombinasie van luiheid, nalatigheid en onnoselheid aan die menslike kant het gehelp om betoogshoofde te skryf wat in die toekoms gebruik sal word om professionele nalatigheid, en hopelik die gevare van robotintelligensie in ’n professionele situasie, uit te wys.
Ek sien ’n week of wat gelede ’n Facebook-plasing met ’n skakel na ’n artikel wat skrywers nooi om te kyk of hulle boeke onregmatig gebruik was om verskillende robotintelligensieprogramme te “leer skryf”. En wraggies, my Nicci de Wee-boeke was gebruik – sonder my toestemming – om die rekenaar te leer skryf.
........
Die robotintelligensie/rekenaar kan dit doen in ’n fraksie van die tyd wat dit neem vir my om ’n boek te skryf. Maar die robot kan nie skep nie, dit kan net my kreatiewe arbeid steel en verwerk.
........
Dis vreeslik baie pret om voor die rekenaar te sit en instruksies in te voer – soos “Skryf ’n speurverhaal in die styl van Bettina Wyngaard.” Of “Teken ’n skildery in die styl van Van Gogh.” Of wat ook al. Die robotintelligensie/rekenaar kan dit doen in ’n fraksie van die tyd wat dit neem vir my om ’n boek te skryf. Maar die robot kan nie skep nie, dit kan net my kreatiewe arbeid steel en verwerk. Dis een stappie verwyder van die WhatsApp-groepie diewe wat pdf’s van boeke steel.
In my loopbaan het ek al baie te doen gekry met wat mense so graag slagofferlose misdade noem. Wanneer daar by jou huis ingebreek word, en jou televisie word gesteel, dan voeg jy sommer ’n rekenaar en selfoon by want jy wou hoeka opgradeer. Dis mos slagofferloos, want jy betaal versekering. Behalwe dat dit nie slagofferloos is nie, want nou word jou eie versekeringspremie aangepas, en die area waarin jy woon, word op ’n hoër risiko (en dus hoër premies) gekwoteer. En omdat jy nie die slagoffer se naam en van ken nie, beteken dit nie daar is geen slagoffer nie.
En wie is die skelm wat voordeel trek uit my werk wat gesteel was om robotte te leer skryf? Nie ’n arm ou wat maar net kos op die tafel wil sit vir sy gesin nie. O nee, dis miljardêrs wat alreeds nie die einde van hulle rykdom ken nie, wat steel van kunstenaars wat nie kan droom om in hierdie lewe meer as ’n stofkorreltjie van daardie mense se inkomste te verdien nie. En elke keer wanneer ons robotintelligensie gebruik, is ons besig om ons eie menslike kreatiwiteit verder te ondermyn.
Maak deesdae enige soekenjin oop en vra iets. Die heel eerste opsie waarmee jy beantwoord word, is ’n robotintelligensie-opsomming. Dis maklik om te gebruik, dis gerieflik. Ek blaai verby, uit beginsel, want een of ander rekenaarkenner se werk gaan binnekkort uitgewis word as ons aanhou robotintelligensie gebruik.
........
Ek wil nie deur ’n robot gediagnoseer word nie. Ek wil nie deur ’n robot vertroos word nie. Bowenal wil ek nie ’n storie deur ’n robot geskryf, lees nie.
........
Moet my nie misverstaan nie. As robotte die werk kan doen wat lewensgevaarlik vir mense is, fantasties – ek sal dit ondersteun. As robotintelligensie ingespan kan word om my huis skoon te maak, my skottelgoed te was, my tuin skoon te maak en blare onder my bome weg te hark, dan is ek eerste in die tou om dit te gebruik – met die verstaan dat die mense wat dit nou doen, anders aangewend kan word in aktiwiteite wat nie hulle gesondheid, liggame en waardigheid in die gedrang bring nie. Maar enige aktiwiteit wat verbeelding of empatie of meelewing vra, kan nie aan robotte oorgelaat word nie. Ek wil nie deur ’n robot gediagnoseer word nie. Ek wil nie deur ’n robot vertroos word nie. Bowenal wil ek nie ’n storie deur ’n robot geskryf, lees nie. Hoekom nie? Robotte kan nie skep nie, hulle kan net steel. Ek wil nie ’n fliek kyk waar akteurs se beelde gesteel was om die film saam te stel nie. Die ateljeebase betaal minder uit aan akteurs, maar flieks word nie goedkoper nie. Die rykes steel net meer en meer van die armes om hul eie sakke voller te stop.
Dink aan die implikasies vir waarheid. As ’n robot misinformasie kan saamstel en versprei in ’n breukdeel van die tyd wat dit ’n ondersoekende joernalis neem om die waarheid te ondersoek, te toets en bloot te stel, hoe lank voordat ons in ’n see van verkeerde inligting leef? En as ons ons kinders toelaat om ChatGPT en wat ook al te gebruik om hulle opstelle te skryf en navorsing te doen, sit ons binne een geslag met ’n bevolking wat nie in staat is tot kritiese denke nie. Ook nie kreatiewe denke nie, want dis mos makliker om die rekenaar opdrag te gee om binne sekondes iets banaal uit te skop in die styl van X, Y of Z as om self die bloedsweet van iets uitdink, verfyn en skep, deur te maak.
Uiteindelik gaan dit nie net daaroor dat robotintelligensie ons werk steel nie; dit ontneem ons van ons menslikheid. Onthou hoedat die robot in die Will Smith-fliek I, Robot by ’n ramptoneel aankom en besluit wie gehelp kan word deur middel van ’n ontleding wat persentasies uitskop? ’n Mens sou gehelp het, is die wrok waarmee Smith se karakter loop. Dis fiksie, ja. Fiksie, moet ons onthou, wat menslike verbeelding nodig gehad het om dit te skep.
Een en twintig jaar nadat daai fliek gemaak is, help ons ewe vrolik robotintelligensie leer hoe om ons werk te doen.
Ek weier om mee te doen.
Lees ook:
KI en kopiereg: kreatiewe skryfwerk van die masjien versus kreatiewe skryfwerk van ’n mens
Goue lint, my storie begint: Kunsmatige Intelligensie (KI) en kinderboeke
Waarom KI in die klaskamer aanwend? ’n Onderhoud met Riaan van der Bergh
Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld