
Grafika: Canva
Nico Geldenhuys skryf vir LitNet aantekeninge oor die hofsaak Mavundla v MEC: Department of Co-Operative Government and Traditional Affairs KwaZulu Natal and Others.
Pietermaritzburg het ’n nuwe sheriff; haar naam is Elsje-Marié Bezuidenhout.
In Oktober 2022, toe sy nog ’n senior advokaat was, het die land se huidige hoofregter Mandisa Maya (toe nog die adjunkhoofregter) met haar ’n onderhoud gevoer toe ’n permanente pos as regter van Pietermaritzburg se hooggeregshof vakant was.
Op die dag van die onderhoud was Bezuidenhout geklee in ’n donker pak, sebramotief-bloes en haar blonde hare het los oor haar skouers gehang. Haar Engels is keurig, maar haar Tukkies-aksent onverbloemd.
Een vir een het sy regter Maya deur die mylpale op haar CV geneem: sy het haar loopbaan begin as ’n staatsamptenaar gemoeid met maatskappynaam-registrasies, daarna was sy ’n Johannesburgse aanklaer in bedrogsake voordat sy geroep is na die balie en saam met haar gesin na KwaZulu-Natal verhuis het. Pietermaritzburg se reikwydte is klein in vergelyking met baie ander hoë howe. Die instruksies wat ’n advokaat hier ontvang, soos dispute oor beeste en plattelandse huismoles, kan die buitestaander opval as ietwat provinsiaal.
Maar Bezuidenhout se hardwerkendheid is beloon deurdat sy verskeie kere waargeneem het as regter en reeds 67 uitsprake op haar kerfstok gehad het teen die tyd van haar suksesvolle aansoek om ’n permanente aanstelling.
Maar nou weet die hele land se regspraktisyns van haar ná ’n opspraakwekkende uitspraak vroeg in die jaar wat kwessies aanroer rondom etiek en die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) as navorsingshulpbron.
..........
Maar nou weet die hele land se regspraktisyns van haar ná ’n opspraakwekkende uitspraak vroeg in die jaar wat kwessies aanroer rondom etiek en die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) as navorsingshulpbron.
..........
Normaalweg is ’n uitspraak van dié aard niks om oor huis toe te skryf nie: ’n Verloopte ANC-man wat om sy politieke oorlewing veg, se interdikaansoek is van die hand gewys, waarna hy om verlof tot appèl aansoek gedoen het. Die aansoek om verlof tot appèl is óók afgewys.
Die aansoeker is egter niemand anders nie as Philani “PG” Mavundla. En in ’n baie seldsame stap het regter Bezuidenhout die prokureursklerk van Mavundla se regsfirma ingeroep om – in ’n ope hof ten aanskoue van die gehoor – te verduidelik of haar kliënt se pleitstukke miskien met die hulp van ChatGPT opgestel is.
............
Die aansoeker is egter niemand anders nie as Philani “PG” Mavundla. En in ’n baie seldsame stap het regter Bezuidenhout die prokureursklerk van Mavundla se regsfirma ingeroep om – in ’n ope hof ten aanskoue van die gehoor – te verduidelik of haar kliënt se pleitstukke miskien met die hulp van ChatGPT opgestel is.
.............
Weens die prokureurs se ploeterwerk, is Mavundla met ’n kostebevel en ’n kous oor die kop huis toe gestuur, maar toe beveel Bezuidenhout dat sy prokureur in sy persoonlike hoedanigheid die geld opdok. In mooi Latyn word dit ’n kostebevel de bonis propriss genoem.
Die hofuitspraak is sedertdien wyd op sosiale media gedeel – veral op LinkedIn wat deesdae ’n miernes van regskundige beïnvloeders geword het – maar die hoofstroommedia het die storie ook gate uit geniet.
Oor Mavundla se eie lewe kan iemand nog die Groot Suid-Afrikaanse Roman skryf. Op 55-jarige ouderdom spog hy met ’n aandeel in ’n bou-onderneming wat hy in 1994 saam met twee vriende begin het en wat uShaka Marine World, die ICC Durban en Sibaya Casino help bou het.
Na berigte het hy drie vroue en so twintig stuks kinders. Sy politieke loopbaan het vele omswerwinge gemaak deur KwaZulu-Natal se komplekse landskap: Na dekades se getroue ANC-lidmaatskap het hy in 2019 na die National Freedom Party oorgeloop, voordat hy op die ANC se verjaarsdag in 2020 sy eie politieke party, die Abantu Batho Congress (ABC), geloods het. In die uMvoti-munisipaliteit waar Greytown geleë is, het hy in 2023 die burgemeester geword van ’n stormagtige munisipale raad, waar die ANC, IVP en ABC onderskeidelik 10, 9 en 7 van die beskikbare 27 setels hou.
In Mei verlede jaar het die ANC en IVP op ’n spesiale raadsvergadering ’n mosie van wantroue bekragtig waardeur Mavundla uit die kussings gelig is. Hy het dadelik aansoek in die Pietermaritzburgse hooggeregshof gebring vir ’n dringende interdikbevel en ook gevra dat die resolusie waardeur die mosie van wantroue bekragtig is, ter syde gestel word. Soos reeds genoem, was sy aansoek onsuksesvol en het hy om verlof tot appèl aansoek gedoen.
Soos die leser miskien weet, liasseer ’n applikant ’n kennisgewing van verlof tot appèl waarin hy of sy hul gronde vir appèl uiteensit. Teoreties hoef die kennisgewing nie ’n langdradige uiteensetting van die regsargumente en toepaslike gesag te bevat nie, daarvoor liasseer litigante afsonderlike hoofde van betoog nader aan die hofdatum.
Maar Mavundla was oorgretig gewees: Hy het appèl aangeteken nog voordat die regter haar redes vir die uitspraak geskryf het. Ditself is ook nie ongewoon nie. Die Konstitusionele Hof het verlede jaar ’n uitspraak met verreikende implikasies vir Jacob Zuma onder groot tydsdruk voor die verkiesing gelewer, maar gevra vir ’n paar ekstra weke voordat die regters deeglike redes vir hul uitspraak verskaf.
’n Paar dae later lewer regter Bezuidenhout toe haar geskrewe redes vir die uitspraak en Mavundla se prokureurs liasseer inderhaas ’n aanvullende kennisgewing van appèl, volgepak met vae verwysings na vorige hofuitsprake wat kwansuis hul regsgronde staaf.
Miskien was hulle bekommerd dat hul kliënt op die agtergrond is, of dalk was dit die ou truuk om die hof te oorreed dat die meriete van jou kliënt se saak eintlik “trite law” is (oftewel, so duidelik soos daglig).
Die regter lees egter Mavundla se aanvullende appèlkennisgewings en vermoed waarskynlik dadelik onraad. Byna geen enkele verwysing na ’n hofuitspraak daarin is korrek nie. Die ergste: Mavundla appelleer oënskynlik selfs teen bevindings wat die regter nooit gemaak het nie. Byvoorbeeld, sy sou kwansuis die interdikaansoek verkeerdelik as ’n ex parte-aansoek getipeer het, maar dit staan nêrens in die uitspraak nie!
Die beleërde appèlkennisgewing is duidelik onder groot gejaag saamgestel. Mavundla se regsverteenwoordiger in die hof, Pillay, moet uiteindelik verantwoording doen vir enige foute in haar kliënt se hofstukke, maar sy besluit om die vinger te wys na haar opdraggewende prokureur se klerk, Farouk. Dis nie duidelik uit my eie soektogte wie hierdie twee dames is nie. Dit sou ook nie deug om hulle in hierdie artikel met die teerkwas by te dam nie.
Die kwelvraag is egter: Was dit bloot ’n gesamentlike oordeelsfout deur Mavundla se ganse regspan (die klerk, die opdraggewende prokureur en die regsverteenwoordiger wat namens hom voor die regter verskyn), of is hul optrede meer verdag as wat dit op die oog af lyk?
.............
Die kwelvraag is egter: Was dit bloot ’n gesamentlike oordeelsfout deur Mavundla se ganse regspan (die klerk, die opdraggewende prokureur en die regsverteenwoordiger wat namens hom voor die regter verskyn), of is hul optrede meer verdag as wat dit op die oog af lyk?
...................
In haar uitspraak maak regter Bezuidenhout ’n paar sydelingse opmerkings wat haar vyandige gesindheid jeens KI as ’n regsnavorsingshulpbron openbaar. (Paragraaf 50: “In my view, relying on AI technologies when doing legal research is irresponsible and downright unprofessional.”) Dis miskien ietwat oordrewe. Mavundla se prokureurs het van ChatGPT gebruik gemaak, wat gratis of teen ’n geringe intekenbedrag as toepassing op enige slimfoon afgelaai kan word. ChatGPT is fantasties vir ’n matrikulant wat sukkel om sy Valentynsgediggie te laat rym, maar vir regsnavorsing het dit bepaald beperkte nut.
By Sandton en Kaapstad se fynproewerfirmas word KI egter al geruime tyd uiters doeltreffend aangewend in onder andere omsigtigheidsondersoeke en klasaksie-litigasie. Die KI-toepassings wat vir die besigheidsmark ontwikkel word, kan deur die ontleding van ingevoerde data selfs ’n akkurate voorspelling maak of ’n litigant se saak in die hof sal slaag of nie. Trouens, Handré Brand het al in 2022 hieroor in ’n artikel vir LitNet geskryf.
Toegegee, die land se regspraktisyns wou hulself slap lag oor die nuus dat ’n litigant oënskynlik met ChatGPT-geskrewe hofstukke voor ’n hooggeregshofregter opgedaag het en gedink het hulle kan daarmee wegkom. Hierdie kollektiewe leedvermaak verklap wel iets van die eksistensiële krisis waarmee die globale witboordjiewerkskorps die laaste twee jaar worstel.
..........
Maar by ’n nadere lees van die Mavundla-uitspraak was KI nie die werklike vark in die verhaal nie: eerder die appèllerende regspan se valsheid toe hulle uitgevang is. Die opdraggewende prokureur was ontstoke met regter Bezuidenhout wat dit waag om ’n jong klerk se bekwaamheid as strewende regspraktisyn te bevraagteken.
............
Maar by ’n nadere lees van die Mavundla-uitspraak was KI nie die werklike vark in die verhaal nie: eerder die appèllerende regspan se valsheid toe hulle uitgevang is. Die opdraggewende prokureur was ontstoke met regter Bezuidenhout wat dit waag om ’n jong klerk se bekwaamheid as strewende regspraktisyn te bevraagteken.
Maar uiteindelik is die eintlike kwessie tog een rondom etiek. Eerstens, die etiese plig wat ’n prokureur het (veral as sy die een is wat voor die regter verskyn) om aan haar betalende kliënt ’n professionele diens te lewer. Tweedens, ’n plig om nie die ander partye in die geding doelbewus te mislei nie. Die tweede kwessie is meer omstrede, aangesien ’n mens vir die rekord moet noem dat Mavundla se prokureurs dit ten sterkste ontken dat hulle enige kwaadwillige bedoelings gehad het. Hul ontwykende antwoorde op regter Bezuidenhout se vrae vertel egter ’n storie van hul eie.
’n Paar jaar gelede het Johannesburg se regterpresident Ronald Sutherland hom skerp uitgelaat oor die noodsaaklikheid van ’n simbiotiese verhouding tussen regsverteenwoordigers en regters in ’n bydrae tot die South African Judicial Education Journal. Regter Bezuidenhout het die artikel in haar uitspraak aangehaal. Soos Sutherland tereg opmerk, gaan ons land se regters gebuk onder ’n swaar werkslading weens die druk op die howe. Hierdie werkslading en gepaardgaande spanning skep ’n teelaarde vir menslike foute.
.............
Soos Sutherland tereg opmerk, gaan ons land se regters gebuk onder ’n swaar werkslading weens die druk op die howe. Hierdie werkslading en gepaardgaande spanning skep ’n teelaarde vir menslike foute.
...............
Alle rolspelers in die beroep moet dit altyd voor oë hou dat prokureurs en regters in nederige interafhanklikheid teenoor mekaar staan. Enige poging om ’n regter of jou opponent van stryk te bring met misleidende verwysings na gesag, staan lynreg teenoor hierdie strewe.
Geen wonder nie dat regter Bezuidenhout, as ’n laaste salvo, ook beveel het dat die hofklerk ’n afskrif van die uitspraak aan die Regspraktisynsraad stuur, sodat die raad die optrede van Mavundla se prokureurs verder kan ondersoek en moontlik teen hulle optree.
Onderhoude vir regtersposte by die Regterlike Dienstekommissie was die laaste klompie jare betreurenswaardig, aangesien politieke partye die onderhoudproses vir eie gewin wou kaap. Dit plaas bykomende druk op regters, veral dié wat droom van ’n aanstelling na een van die land se hoogste howe, om die reg en etiese beginsels sonder skroom te handhaaf. Aan die begin van ’n nuwe jaar, waarin die eerste skote reeds klap tussen ’n groep spogfirmas en die departement van handel en nywerheid, verdien hierdie sjarmante Natalse Tukkie ’n veer in die hoed vir haar durf.
Lees ook:
KI en kopiereg: kreatiewe skryfwerk van die masjien versus kreatiewe skryfwerk van ’n mens
Goue lint, my storie begint: Kunsmatige Intelligensie (KI) en kinderboeke
Waarom KI in die klaskamer aanwend? ’n Onderhoud met Riaan van der Bergh
SteedsDink met LitNet Akademies: Burgert Senekal oor sy akademiese navorsing
Die simfonie van silikon: Die impak van kunsmatige intelligensie (KI) op musiek