
Prent: jessica45, https://pixabay.com/photos/lady-justice-legal-law-justice-2388500/
The role of the referee in the World Cup is somewhat simpler than that of the judiciary to the extent at least that he is applying the same set of rules to every game. In our field, the rules are made by parliament, supplemented by and against the background of rules of the common law, but the complication lies in the fact that parliament, understandably and indeed inevitably, tends to lay down different rules for different situations. (Bell 2012:22)
...........
Heelwat opspraakwekkende en uiteenlopende kwessies rakende die regbank in Suid-Afrika word van tyd tot tyd in die media gepubliseer en lei tot verrykende debatvoering. ’n Onlangse voorbeeld is die AARTO-wet van die Departement van Vervoer wat deur die Hooggeregshof in Pretoria in sy geheel onwettig en ongrondwetlik verklaar is.
...........
Heelwat opspraakwekkende en uiteenlopende kwessies rakende die regbank in Suid-Afrika word van tyd tot tyd in die media gepubliseer en lei tot verrykende debatvoering. ’n Onlangse voorbeeld is die AARTO-wet van die Departement van Vervoer wat deur die Hooggeregshof in Pretoria in sy geheel onwettig en ongrondwetlik verklaar is.
Notules van die ANC se kaderontplooiingskomitee het aan die lig gebring dat senior regters deur die ANC aanbeveel is vir aanstelling deur die Regterlike Dienskommissie.
Regter John Hlope (regterpresident van die Wes-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof in Suid-Afrika) was sedert 2004 gereeld in die nuus weens beskuldigings van onprofessionele optrede, onder andere vir onregverdige druk wat tydens die Jacob Zuma-verhoor oor korrupsie op regters Nkabinde en Jafta van die Konstitusionele Hof toegepas is.
Die onlangse opportunistiese aanval deur Lindiwe Sisulu op swart Suid-Afrikaanse regters was beslis die spreekwoordelike kersie op die koek.
Volgens Barak (2005) sal aanvalle deur politici op die regbank noodwendig altyd voorkom. Aanvalle kan byvoorbeeld op die aard van individuele regterlike uitsprake fokus (skuldig of onskuldig), of sekere neigings teiken (beweerde oormatige aktivisme/konserwatisme in uitsprake). Aanvalle kan matig, brutaal of selfs gewelddadig wees. Aanvalle kan doelbewus of implisiet die legitimiteit en onafhanklikheid van die regbank ondermyn.
Die belangrike punt is dat regters die hoofrat van die geregtelike feite-ondersoekspan vorm. Hulle opdrag is om te bepaal of die getuienis wat in hofsake na vore gebring word, met die beskikbare feite ooreenstem en om uitsprake te lewer en toepaslike vonnisse te bepaal (Pantazi, Klein en Kissine 2020). Die objektiwiteit van die proses is gevolglik van kardinale belang, en sal altyd in die gedrang kom.
In hierdie meningsartikel word kortliks gefokus op beginsels wat ’n invloed kan uitoefen op die wyse waarop regters uitsprake lewer. Die invalshoek van die artikel is in die eerste plek nie vergelykbaar met dié van ’n regspraktisyn nie, maar is dié van ’n onafhanklike navorser wat verslag doen oor ’n seleksie van navorsing wat in erkende vakkundige tydskrifte gepubliseer is.
Die hoofdoel is gevolglik om algemene beginsels uit te lig. Soos hier bo vermeld, is ek nie ’n regsgeleerde nie en soos dit later duidelik sal blyk, word geen melding gemaak van relevante hofbeslissings waarin soortgelyke beginsels seer sekerlik ook al uiteengesit en bespreek is in die regspraak nie. Die artikel moet dus finaal beoordeel word teen die agtergrond van my akademiese vakgebied.
Desnieteenstaande kan die volgende algemene stellings gemaak word. In die siviele reg moet die voorsittende beampte oordeel op “’n oorwig van waarskynlikhede” as onderliggende beginsel, wat beteken dat die party wie se getuienis en argumente die mees waarskynlike weergawe blyk te wees, die suksesvolle party in die regsgeding sal wees. In die strafreg, daarenteen, moet die voorsittende beampte as ’n regsbeginsel oordeel of die staat die saak “bo redelike twyfel” bewys het. Indien die beskuldigde se weergawe redelik moontlik waar is, self as hy/sy met betrekking tot sekere aspekte nie geglo word nie, moet ’n beskuldigde die voordeel van die twyfel kry en vrygespreek word (Du Toit 2022).
Die volgende kwessies word bespreek: Wat behels regters se strewe na integriteit en objektiwiteit in hofuitsprake? Is daar spesifieke faktore wat partydigheid (of sydigheid) van uitsprake op ’n subtiele wyse kan bevorder? Watter soort navorsing word hieroor gedoen? Wat behels die toekomstige rol van regterlike besluitneming veral teen die agtergrond van die invloed wat kunsmatige intelligensie op uitsprake sou kon hê?
.........
Die volgende kwessies word bespreek: Wat behels regters se strewe na integriteit en objektiwiteit in hofuitsprake? Is daar spesifieke faktore wat partydigheid (of sydigheid) van uitsprake op ’n subtiele wyse kan bevorder? Watter soort navorsing word hieroor gedoen? Wat behels die toekomstige rol van regterlike besluitneming veral teen die agtergrond van die invloed wat kunsmatige intelligensie op uitsprake sou kon hê?
............
Bennett (1984) spreek byna 40 jaar gelede reeds sy kommer uit oor die objektiewe basis waarop regsbesluite in die Amerikaanse regspraak geneem word. Dit gaan veral oor regsbesluite wat binne die konteks van die gemenereg en statutêre interpretasies ter sprake kom. Kommer bestaan ook oor die objektiwiteit van grondwetlike regsinterpretasies, veral omdat die formele kontroles (checks on) minder streng is as in gemeenregtelike en statutêre besluitneming.
- Enkele teoretiese gesigspunte
’n Afgetrede regter van ons Konstitusionele Hof, Johann van der Westhuizen (2021:7), wys daarop dat uitsprake deur regters deurentyd objektief, onafhanklik en veral kenmerkend van hoë vlakke van persoonlike integriteit moet wees. Regterlike integriteit word egter deurgaans beproef deur faktore soos politieke gedienstigheid, ideologieë, emosies, ambisies en selfs persoonlike vrese en beweegredes. Hy wys daarop dat volkome objektiwiteit as ’n vereiste vir regterlike uitsprake altyd ’n hersenskim sal bly, en dat regverdigheid as ’n ideaal waarskynlik ’n meer gepaste vertrekpunt sou wees.
..........
’n Afgetrede regter van ons Konstitusionele Hof, Johann van der Westhuizen (2021:7), wys daarop dat uitsprake deur regters deurentyd objektief, onafhanklik en veral kenmerkend van hoë vlakke van persoonlike integriteit moet wees. Regterlike integriteit word egter deurgaans beproef deur faktore soos politieke gedienstigheid, ideologieë, emosies, ambisies en selfs persoonlike vrese en beweegredes. Hy wys daarop dat volkome objektiwiteit as ’n vereiste vir regterlike uitsprake altyd ’n hersenskim sal bly, en dat regverdigheid as ’n ideaal waarskynlik ’n meer gepaste vertrekpunt sou wees.
............
Aharon Barak (2005), president van die Israeliese Hooggeregshof, merk op dat die plig van ’n regter onder andere daarop neerkom om landsburgers teen onregmatige staatsoptrede (abusive state action) te beskerm en sodoende ’n bydrae te lewer tot die ervaring van sinvolle burgerskap, burgerlike deelname en bevoegdheid (entitlement). Die regbank sal tydens die uitvoering van sy opdragte noodwendig met die ander vertakkings van die staat in botsing kom, veral omdat toenemend meer politieke kwessies deesdae as regsvraagstukke presenteer.
Regters moet ook te alle tye neutraliteit met betrekking tot die onderskeie partye handhaaf. Neutraliteit beteken nie ’n apatiese ingesteldheid teenoor die lotgevalle van die partye nie. Neutraliteit beteken regverdigheid (fairness) en onpartydigheid. Dit beteken ook vertroue in die regter se morele integriteit, en dat die regter se hoofmotief die beskerming van die oppergesag van die reg is en nie die beskerming van sy persoonlike mag of prestige nie.
Regters se argumente in uitsprake moet op eksterne normatiewe maatstawwe berus, en nie op hulle eie subjektiewe waardes en oortuigings nie.
Regters behoort ook sensitief te wees vir tradisie. Daar moet ’n sensitiwiteit vir presedente (vergelykbare uitsprake uit die verlede) sigbaar wees. Elke nuwe uitspraak is ’n skakel in ’n ketting of deel van ’n stelsel. ’n Spesifieke uitspraak moet inpas by die reeds bestaande netwerk van uitsprake (web of law). Die reg is stabiel, maar behoort nooit te stagneer nie. ’n Arend in die lug is stabiel slegs indien dit bly beweeg. Die beweging van die reg moet evolusionêr eerder as revolusionêr wees, deurlopend eerder as ’n reeks spronge, alhoewel daar tye is wanneer groot en dapper spronge uiters noodsaaklik is.
- Bangalore-beginsels vir regterlike optrede
Die Bangalore-beginsels vir regterlike optrede is ’n aantal fundamentele waardebeginsels en dien as ’n basisdokument waarop internasionale geregtelike etiek gebou is. Die dokument is gedurende hulle 59ste sitting (April 2003) deur die Menseregtekommissie van die Verenigde Nasies onderskryf.
Die Bangalore-beginsels is kortliks daarop gemik om leiding aan regters te gee en sodoende die regbank van ’n raamwerk vir die regulering van regters se optrede te voorsien. Die beginsels gaan van die standpunt uit dat regters vir hulle gedrag en optrede verantwoordelik is. Regters se onafhanklikheid en onpartydigheid vorm ’n belangrike voorvereiste vir die oppergesag van die reg en is ’n grondliggende waarborg vir ’n regverdige verhoor. Regters moet geen belang hê by die saak of by die uitkomste van die saak wat verhoor word nie. Alle kante van ’n dispuut moet regverdige verteenwoordiging ontvang. Die regter se optrede moet van integriteit spreek, en moet altyd die gewone burgers se vertroue in die integriteit van die regbank herbevestig. Regters moet onbetaamlike optrede (impropriety) vermy. Enige opmerking of suggestie wat op selfs ’n sweempie partydigheid of vooroordeel kan dui, moet vermy word.
Die regbank moet die beginsel van gelykheid voor die reg konsekwent toepas. Dit beteken regters moet ’n goeie begrip van en ’n sensitiwiteit vir diversiteitsaangeleenthede in die samelewing toon.
Daar word van regters verwag om bevoeg te wees, en ywer aan die dag te lê. Die geregtelike take van ’n regter geniet voorrang bo alle ander aktiwiteite. ’n Regter moet sorg dat hy of sy voortdurend op die hoogte van sake met die ontwikkeling van internasionale reg bly. Voortgesette professionele ontwikkeling is dus van kardinale belang.
- Regterlike Gedragskode van Suid-Afrika
Die Regterlike Gedragskode van Suid-Afrika (soos gepubliseer in die Staatskoerant, 18 Oktober 2012) bestaan uit 17 artikels wat ’n wye spektrum etiese en professionele beginsels vir regters bevat. Die dokument sluit direk by die Bangalore-beginsels vir Regterlike Optrede aan.
Die kode bevat onder andere beginsels wat ten doel het om die objektiwiteit van uitsprake te bevorder en kan soos volg saamgevat word: Verbeter deursigtigheid deur die publiek se begrip van regsprosedures te verbeter; pas die audi alteram partem-reël (neem beide partye se standpunte volledig in ag) deurgaans toe; gee genoegsame, duidelike, logiese en weldeurdagte redes vir alle besluite; alle feite wat op hofsake betrekking het, moet deeglik ondersoek word; vermy deelname aan openbare debatte in verband met kritiek op hofuitsprake; vermy lidmaatskap van politieke partye en geheime organisasies; onttrek aan ’n geval indien daar sprake van belangebotsing of partydigheid ontstaan wat op tersaaklike regsfeite gebaseer is.
- Regterlike besluitneming
Die kernfunksie van ’n regter is om gegronde besluite te neem (Bell 2012). Die regter moet dus die meriete van verskillende stelle getuienis teen mekaar opweeg en tydens die besluitnemingsproses voorkeur aan ’n gegewe stel oorwegings bo een of meer ander stelle verleen. Hierdie groepering van inligting (of faktore) wys gewoonlik in verskillende rigtings en ’n sinvolle oplossing vir dié dilemma is slegs moontlik indien gewigte aan die verskillende moontlikhede toegeken word, op grond waarvan ’n finale besluit dan geneem moet word.
Regters neem gevolglik uiters komplekse besluite en moet dikwels tussen twee of meer opsies met verskillende gewigsladings kies om ’n finale uitspraak in ’n dispuut te maak.
Die kompleksiteit van regterlike besluitneming kan in vier fasette saamgevat word: die identifisering van toepaslike regsreëls; die interpretasie van regsreëls; die toepassing van regsreëls; en die skep van nuwe toepaslike regsreëls (Bell 2012).
4.1 Identifisering van toepaslike regsreëls
Anders as in die geval van ’n skeidsregter in ’n sportwedstryd beskik ’n regter nie oor ’n formele reëlboek wat vir alle moontlike spelreëls in ’n bepaalde sport voorsiening maak nie. Regters se taak is beslis meer kompleks as dié van ’n skeidsregter. Daar bestaan nie ’n vaste stel voorafbepaalde regsreëls waarop model-uitsprake in regsgedinge gebaseer word nie. Dit is onrealisties om te verwag dat regters klinkklare modelantwoorde op alle regsvrae uit die beskikbare regsreëls moet kan opdiep. In die praktyk is die regsdissipline gegrond op ’n komplekse vermenging van regsreëls, regspraktyke en waardes. Die verwagting dat volmaakte regsuitsprake gelewer moet word, staan bekend as die “mite van regsekerheid”.
Sommige regsreëls is uitdruklike opdragte. Ander regsreëls, wat as sekondêre reëls bekendstaan, is reëls wat handel oor hoe om verdere (nuwe) regsreëls te formuleer.
Die identifisering van die toepaslike stel regsreëls waarop die uitspraak van ’n bepaalde saak berus, is dus geen eenvoudige taak nie, en kan gevolglik ’n subtiele klimaat skep waartydens implisiete partydigheid tydens die keuse van regsreëls kan insluip. Sommige ander regsreëls kan korrek geïnterpreteer word slegs deur die uitsprake van vorige soortgelyke sake te bestudeer. Dit kan ook gebeur dat die regsvraag voor die regter dit noodsaak om tussen twee uiteenlopende waardebeginsels te kies. In die meeste gevalle tree ’n gepaste, duidelike oplossing vir die betrokke regsvraag wel na vore, maar dis onmoontlik om ’n vaste, klinkklare stel regsreëls vir alle variasies op die tema saam te stel. Selfs in jurisdiksies met ’n deeglike en weldeurdagte grondwet (soos Suid-Afrika s’n) is alle antwoorde op alle regsgedinge nie ’n vanselfsprekende luukse nie.
4.2 Interpretasie van regsreëls
Die taal waarin wetgewing geskryf is, is gewoonlik oop vir interpretasie. Dit is egter geen eenvoudige taak om regsreëls te interpreteer nie. Dubbelsinnighede in die bewoording is moontlik, en is nie voorsien toe die betrokke wetgewing opgestel is nie.
’n Regter benader nie wetgewing in die eerste plek as ’n vernuwer om wetgewing te verbeter nie, maar eerder as ’n bewaarder (conservator) wat te goeder trou optree en sodoende die voor die hand liggende betekenis probeer handhaaf. Die uitgangspunt is gevolglik dat ’n regter sy persoonlike teorieë oor wat die betekenis van reëls sou kon wees, op die agtergrond skuif. Die betekenis van regsterme is ook nie so duidelik soos klippe wat op die grond lê en wag om opgetel te word nie.
Die interpretasie van regstekste is dus nooit ’n meganiese proses nie. Regters lei gewoonlik tekstuele betekenis af (glean) op grond van hulle persoonlike perspektiewe en put perspektiewe uit ’n wye spektrum bronne, soos kulturele agtergrond, geslag, ouderdom, ervaring, ambisie, godsdienstige oortuigings, sosiale posisie, ekonomiese status en politieke moraliteit.
’n Breë spektrum onderliggende sielkundige faktore speel ’n rol in die mate waartoe betekenis gegee word aan die matriks van regsfeite wat tydens hofsake van toepassing is. Omdat die proses (bv in kriminele sake) hoofsaaklik ongestruktureerd is, moet regters deurentyd bedag wees op sielkundige slaggate wat die objektiwiteit van die proses kan benadeel.
Sielkundige hindernisse sluit in kognitiewe denkfoute soos bewese en waargenome partydigheid (apprehended bias).
Met bewese partydigheid kan bewys word dat die regter die betrokke saak met ’n geslote gemoed benader het. Die regter was vas oortuig van ’n bepaalde uitkoms en die uitkoms sou onder geen omstandighede gewysig word nie, ongeag die bewyse wat voorgelê of die argumente wat aangevoer is.
’n Gewilde toets vir waargenome partydigheid is of ’n ingeligte bystander met kennis van die objektiewe feite ’n redelike begrip sou kon vorm dat ’n partydige of bevooroordeelde uitspraak op ’n bepaalde saak van toepassing is.
Park (2021) onderskei vier beginsels op grond waarvan die onderskeie partye kan aanvoer dat waargenome partydigheid tydens die hofuitspraak ’n rol speel:
- Belange: Direkte of indirekte belange by die hofverrigtinge (hetsy finansieel of andersins) laat ’n vermoede van vooroordeel of partydigheid posvat.
- Gedrag: Sekere optredes deur regters tydens of ná afloop van die hofverrigtinge lei tot ’n persepsie van partydigheid.
- Assosiasie: Partydigheid word verbind met direkte of indirekte verhoudings of kontak tussen regters en persone wat belang by die hofverrigtinge sou kon hê.
- Nietoelaatbare inligting: ’n Vermoede van partydigheid ontstaan weens die gebruik van irrelevante, skadelike en ontoelaatbare inligting tydens die hofverrigtinge (byvoorbeeld hoorsêgetuienis).
Numeriese denkfoute is ’n verdere element van partydigheid en kan onbedoeld ontstaan wanneer regters komplekse statistiese data moet interpreteer.
Spesifieke vooroordele spruit normaalweg uit emosionele oorwegings, met die gevolg dat emosionaliteit ’n bykomende subjektiewe invloed op uitsprake kan uitoefen.
Die persoonlike eienskappe van die litigante kan ook ’n rol speel in die wyse waarop uitsprake gelewer word.
Dieselfde argument geld ook vir die persoonlike eienskappe van die regter. In hierdie opsig is demografiese faktore soos geslag, ouderdom, waardeprofiel, godsdienstige opvattings, ervaring, ambisie, persoonlikheidsprofiel, status en bevorderingsverwagtinge van belang.
Faktore binne en buite die hof wat regters se besluite kan beïnvloed, sluit in: optrede van advokate en deskundige getuies; hofreëls en prosedures; die invloed van ander regters; die publiek en media; die aard van samewerking en die netwerkvestiging tussen regters uit verskille jurisdiksies (die sogenaamde kruisbestuiwingeffek).
4.3 Toepassing van regsreëls
Die derde fase in die geregtelike besluitnemingsproses is die toepassing van regsreëls op ’n gegewe matriks van feite wat spruit uit ’n regsgeding tussen twee of meer partye (Bell 2012). Dit is dikwels onmoontlik om te voorspel hoe ’n bepaalde stel regsreëls op ’n spesifieke situasie toegepas sal word en wat die uitspraak deur ’n regter onder hierdie omstandighede sal wees.
Toepassing van wetgewing kan uiters moeilik wees. Gemeenregtelike terme soos redelik, onvoorsiend, gewetenloos en afgeleë laat soveel ruimte vir interpretasie in die toepassing daarvan toe dat dit onmoontlik is om een enkele betekenis daaraan te heg. Dieselfde verskynsel kom na vore in statute waarin algemene terminologie gebruik word en wat gevolglik op ’n wye spektrum feitelike situasies van toepassing kan wees. Dit word aan die howe oorgelaat om realistiese toepassings saak ná saak uit te pluis.
In terme van die assessering wat die regter moet uitvoer, is daar dikwels geen perfekte regte of verkeerde antwoord nie. Inherent aan hierdie balansering en opweeg van feite is die moontlikheid dat twee persone twee verskillende uitsprake op grond van dieselfde feitestel sou kon lewer.
- Navorsing oor regterlike besluitneming
Die soekterm “Objectivity of supreme court rulings” op die EBSCOhost-databasis het 889 verwysings opgelewer onder ewekniebeoordeelde artikels wat sedert 2020 in Engels gepubliseer en aanlyn in volteks beskikbaar is.
Weens die bondige aard van hierdie artikel kon slegs enkele artikels ingesluit word om die aard van internasionale navorsing oor die objektiwiteit van regterlike uitsprake te illustreer.
’n Voorbeeld van ’n navorsingstudie oor die invloed van die persoonlikheidsamestelling van regters (as ’n indirekte faktor) op regterlike uitsprake word ook ingesluit.
Die hoofklem word deurgaans op die metodologie en bevindings van die navorsing geplaas.
Gleason, Jones en McBean (2019) gebruik WCopyfind-sagteware en doen ’n geoutomatiseerde teksanalise van 601 geliasseerde hofdokumente van verskillende partye in die Amerikaanse Hooggeregshof. Hulle bevindings dui daarop dat die opinies en uitsprake van manlike regters beïnvloed word deur manlike advokate se styl van bewysvoering wat in ooreenstemming is met die tradisioneel manlike gendernorme. Met ander woorde, manlike regters gee erkenning aan die koelberedeneerde, rasionele en nie-emosionele styl van bewysvoering van sommige manlike advokate. Daarteenoor is geen bewyse gevind dat die opinies van vroulike regters beduidend deur geslagsrolverwagtinge beïnvloed word nie. Aangesien die regsdissipline veronderstel is om “blind” te wees, dui hierdie studie op die invloed van geslagsrolverwagtinge op uitsprake en plaas die bevindings vraagtekens oor die objektiwiteit van regterlike besluitneming.
Bevestigingsvooroordeel is ’n denkfout wat onbewustelik insluip wanneer inligting geïnterpreteer word. Dit kom daarop neer dat ’n “hipotese” oor ’n aangeleentheid vooraf gevorm word, en dat ’n persoon dit moeilik vind om later onafhanklik van dié vooropgesette hipotese te redeneer (Lidén, Gräns en Juslin 2019). So ’n houding veroorsaak ’n vasbeslotenheid om met ’n bepaalde mening te volhard en ’n onsensitiwiteit vir die integrasie van nuwe tersaaklike inligting. Hierdie soort standpunte word baie lank gehuldig, voordat bevestigingsvooroordeel laat vaar, of die ongunstige denkwyse ernstig uit eie geledere bevraagteken word.
Lidén ea (2019) gebruik 64 Sweedse regters in hulle empiriese studie, wat die implikasies van die konsep van bevestigingsvooroordeel vir regsuitsprake illustreer. Die regters moes elkeen ’n reeks scenario’s oor agt beskuldigdes lees, waarna hulle uitspraak moes lewer oor die wenslikheid van aanhouding sonder verhoor, of daaroor uitspraak moes lewer nadat hul vooraf oor ’n kollega se mening oor aanhouding sonder verhoor ingelig is. Die regters moes ook die beskuldiges beoordeel in terme van geloofwaardigheid as getuies, die geloofwaardigheid van elke stuk individuele getuienis in vergelyking met die feite, en die geloofwaardigheid van die getuienis in die geheel, en moes ook finale uitspraak oor die saak lewer. Oor die algemeen dui die bevindings daarop dat beskuldigdes wat vooraf tot aanhouding sonder verhoor gevonnis is, as minder betroubare getuies beskou is. Wanneer ’n regter self ’n aanhoudingsbevel uitgereik het, is die totale stel getuienis teen die beskuldigde as van beter gehalte beoordeel en is die beskuldigde deur meer regters skuldig bevind. Bevestigingsvooroordeel speel dus in hierdie studie ’n deurslaggewende rol in die bepaling van die rigting van die uitsprake van die regters.
Rassin (2020) het ’n steekproef van 105 Nederlandse professionele strafregters in sy studie oor bevestigingsvooroordeel gebruik. Die totale groep is in twee subgroepe, beskuldigde-vriendelik (n=50) en beskuldigde-onvriendelik (n=55), verdeel. Elke groep moes getuienisdokumentasie oor ’n aanrandingsgeval lees. Die dokumentasie het bestaan uit tien verklarings wat op tien bladsye uiteensit is. Dit het beëdigde verklarings, profielfoto’s, mediese en psigiatriese verklarings, vorige kriminele rekords en verbatim weergawes van ondervragingsessies ingesluit.
Die beskuldigde-vriendelike groep het ’n dokument ontvang waarin die effek van die aanranding op die slagoffer minder traumaties beskryf is. Die beskuldigde is ook as meer naïef en as relatief goed aangepas voorgestel. Die beskuldigde-onvriendelike groep, daarenteen, moes ’n dokument lees waarin die beskuldigde ’n vorige kriminele en psigiatriese rekord gehad het. Die beskuldigde se geneigdheid tot kriminaliteit is ook meer blatant vir die groep aangebied.
Die uitslag van die studie toon dat die konteks van die getuienis ’n beduidende effek op die regters se uitspraak gehad het. Hoe meer onvriendelik die getuienis aangebied is, hoe meer dikwels is die beskuldigde aan ’n misdaad skuldig bevind. Dit blyk duidelik dat bevestigingsvooroordeel hier ’n rol gespeel het, omdat inkriminerende inligting in die formulering van die finale regsuitspraak bo verontskuldigende inligting verkies is.
In hulle studie oor die rol van waarheidsvooroordeel in uitsprake maak Pantazi, Klein en Kissine (2020) gebruik van 42 professionele regters en 73 skynjurielede (eerstejaar- sielkundestudente). Hulle uitgangspunt is die hipotese dat waarheidsvooroordeel aanwesig is wanneer ’n persoon geneig is om gegewe inligting as die waarheid te aanvaar, alhoewel die inligting duidelik foutief of vals is. Waarheidsvooroordeel word geklassifiseer as ’n vorm van metakognitiewe miopie (tonnelvisie), met ander woorde, die algemene onsensitiwiteit van sommige mense vir die gehalte en korrektheid van die beskikbare inligting oor die omgewing. Die resultate dui daarop dat die regters en die skynjurielede vir waarheidsvooroordeel in hulle uitsprake vatbaar was, omdat besluite en geheuefunksies ten opsigte van die sake wat hul moes hanteer, deur die invloed van vals inligting gekontamineer is.
Die persoonlikheidstruktuur van ’n groep Chinese regters van albei geslagte is deur Feng en Yin (2013) bestudeer. Hulle gebruik die volgende psigometriese instrumente in hul assessering: die Groot Vyf-persoonlikheidsvraelys (GVP); ’n mediesegesondheidsvraelys en ’n lewensgehaltevraelys. Die response (op die vraelyste) van 360 regters (’n responskoers van 91,6%) verbonde aan die Sjandong Opleidingsinstituut vir Regters is vir ontledingsdoeleindes gebruik. Geen geslagsverskille ten opsigte van lewensgehalte het in die data-ontledingsproses na vore gekom nie.
Van die vyf persoonlikheidsfaktore soos deur GVP gemeet, het slegs neurose ’n beduidend negatiewe effek op lewensgehalte vir die totale groep respondente getoon.
Die oorskryding van die werkrolgrense is as die vernaamste beroepstresfaktor aangedui. Dit is veral konflik tydens die uitvoer van die regterlike toesigrol en konflik tussen botsende faksies wat ’n uiters negatiewe impak op die ervaring van beroepslewensgehalte het.
- Rol van tegnologie en kunsmatige intelligensie in die formulering van uitsprake
Regterlike analise (hofanalise of regteranalise) verwys na die identifisering van en verslagdoening oor opvallende patrone wat in die data van hofverrigtinge en regsuitsprake waarneembaar is (McGill en Salyzyn 2020). Dit is ’n algoritmiese ontleding van groot datastelle en sluit kategorieë in soos beskrywende analise (organisering en tabulering van data), voorspellingsanalise (voorspelling van moontlike toekomstige rigtings van besluitneming op grond van die data), en voorskriftelike analise (die formulering van aanbevelings oor besluite rakende die toekoms).
Profilering behels die monitering, voorspelling en vergelyking van regters se optrede, gewoontes en gedragspatrone. Dit sluit in die ontleding van taalgebruik en die spesifieke logika wat die onderbou in uitsprake vorm; die soort sake wat voor spesifieke regters dien; hoe lank ’n bepaalde regter neem om uitspraak te lewer; die konsekwentheid van regters se uitsprake in sekere soorte sake; die sukses of mislukking van appèlle teen die uitsprake van regters; en uitkomsanalise van uitsprake in terme van geslag en ras.
Daar bestaan egter ernstige bedenkinge oor algoritmiese profilering in sekere kringe. Om ’n enkele punt van kritiek te noem: Nie alle gedragspatrone van ’n regter word op rekord vasgelê nie, en nie alle hofinligting is in digitale formaat beskikbaar nie.
In 2019 het die Franse regering by wyse van wetgewing ’n verbod geplaas op alle vorme van regterlike profilering. Selfs akademiese navorsers word verbied om Franse hofinligting in enige formaat na buite bekend te maak.
- Samevattende gevolgtrekkings
Die werk van ’n regter is sonder twyfel baie meer kompleks as die werk wat ’n skeidsregter tydens ’n sportwedstryd verrig.
Regters is voortdurend besig om feite wat op regsgedinge van toepassing is, kwalitatief teen mekaar op te weeg. Daar is geen resepmatigheid in hulle werk nie; inteendeel, regterlike besluitneming behels ’n hoë graad van abstraksie.
Duidelike etiese riglyne is nasionaal en internasionaal beskikbaar waarin die grense van regterlike professionaliteit duidelik uitgespel word.
Die regbank strewe deurgaans na objektiwiteit, regverdigheid, neutraliteit en onpartydigheid. Die mens se psige (’n dinamiese interaksie van kognitiewe, affektiewe en konatiewe funksies) is ’n subjektiewe faktor met ’n impak op regterlike uitsprake en kan nie geminimaliseer of geïgnoreer word nie.
Omvattende navorsing word wêreldwyd oor die objektiwiteit van regterlike besluitneming gedoen. Studies oor die konstruk bewese en waargenome partydigheid is veral gewild en lewer insiggewende navorsingsbevindings op.
Algoritmiese profilering van regters se besluitnemingsprosesse, uitsprake en optrede is ’n nuwe rigting binne die regte as vakgebied. Daar bestaan egter meningsverskille oor die etiese geloofwaardigheid van hierdie metodes.
Bibliografie
Barak, A. 2005. The role of a judge in a democracy. Judicature, 88(5):199–201.
Barry, BM. 2021. How judges judge. New York: Routledge.
Bell, E. 2012. Reflecting on the judicial role: How valid is the analogy that judges are like umpires? Commonwealth Law Bulletin, 38(1):3–30.
Bennett, RW. 1984. Objectivity in constitutional law. University of Pennsylvania Law Review, 132:445–96.
Du Toit, JJ. 2022. Persoonlike kommunikasie, 7 Februarie.
Feng,D, L Ji en Z Yin. 2013. Personality, perceived occupational stressors, and health-related quality of life among Chinese judges. Applied Research in Quality of Life, 9(4):911–21. DOI: 10.1007/s11482-013-9277-z.
Gleason, SA, JJ Jones en JR McBean. 2019. The role of gender norms in judicial decision-making at the US supreme court: The case of male and female justices. American Politics Research, 47(3):494–529.
Irwin, HJF en DL Real. 2011. Unconscious influences on judicial decision-making: The illusion of objectivity. McGeorge Law Review, 42(1):1–18.
Lidén, M, M Gräns en P Juslin. 2019. “Guilty, no doubt”: detention provoking confirmation bias in judges’ guilt assessments and debiasing techniques. Psychology, Crime & Law, 25(3):219–47. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1080/1068316X.2018.1511790.
McGill, J en A Salyzyn. 2020. Judging by numbers: How will judicial analytics impact the justice system and its stakeholders? Ottawa Faculty of Law Working Paper, 2020-13, SSRN: https://ssrn.com/abstract=3652468.
Pantazi, M, O Klein en M Kissine. 2020. Is justice blind or myopic? An examination of the effects of meta-cognitive myopia and truth bias on mock jurors and judges. Judgment and Decision Making, 15(2):214–29.
Rassin, E. 2020. Context effect and confirmation bias in criminal fact finding. Legal and criminological psychology, 25(2):80–9. DOI: 10.1111/lcrp.12172.
Smith, AB en AS Blumberg. 1967. The problem of objectivity in judicial decision-making. Social Forces, 46 (1): 96.
Van der Westhuizen, J. 2021. Is regters die vyand? Rapport Weekliks. 5 Desember, 7.


Kommentaar
Wat 'n interessante artikel! Juis op hierdie tydstip is ons land se regters meer as ooit onder die vergrootglas en is die kwessie van objektiwiteit aanhoudend in die nuus. Dankie vir 'n blik op die ongelooflike uitdagings wat die regters die hoof moet bied.
Die artikel is weer eens baie aktueel! Regterlike integriteit word inderdaad orals beproef en daar is baie beginsels wat 'n rol kan speel, veral die kwessie van objektiwiteit.
As sodanig is "regters se taak beslis meer kompleks as die van 'n skeidsregter"!