
Foto via Pexels
- Nini Bennett-Moll skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
Die skrywer Jeanne Goosen het jare gelede in Son-koerant in een van haar rubrieke geskryf: “Daar wag ’n groot toekoms op werkloosheid in Suid-Afrika. Werkloses gaan ánder werkloses in diens neem, subkontrakteer …” En al klink dié uitspraak absurd, het dit profeties waar geword. Daar is inderdaad werkloses wat saamwerk, met ’n leier wat die werk delegeer sodat almal wins kan maak uit die entrepreneurskap van werkloosheid. Alhoewel Goosen se opmerking tiperend van haar aweregse en donker humor is, is dit ook skrikwekkend akkuraat. Ek skryf hierdie rubriek met die grootste deernis teenoor my mede-Suid-Afrikaners. Ons is mos ’n robuuste spul wat die humor in alles raaksien!
Maar op ’n somberder noot: Volgens die jongste data uit die Quarterly Labour Force Survey, wat vir die tweede kwartaal van 2025 deur Statistiek Suid-Afrika vrygestel is, staan die amptelike werkloosheidsyfer op 33,2%. Hierdie syfer beklemtoon die voortdurende uitdaging in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark met besondere hoë vlakke van werkloosheid, veral onder die jeug (rondom 60%).
Volgens die General Household Survey vir 2024 ontvang ongeveer 25,4 miljoen Suid-Afrikaners staatstoelaes. Dit kom neer op 40,1% van die totale bevolking, wat ongeveer 63,4 miljoen mense uitmaak. Vir sommige huishoudings is dit selfs hoër, met 50,4% van alle huishoudings wat ten minste een vorm van ’n staatstoelaag ontvang. Hierdie toename word gekoppel aan stygende armoede en werkloosheid, met toelae wat nou die tweede grootste bron van huishoudelike inkomste vorm ná salarisse. In hierdie rubriek verwys ek na die kreatiewe en innoverende entrepreneurskap, gebore uit armoede, en nie na misdaad nie.
In die strate, voor die verskeie takke van Binnelandse Sake, begin besigheid al lank voor sonop. Nie omdat die deure bloudag oopmaak nie, maar omdat werkloses reeds hulle besigheid bedryf. Hierdie entrepreneurs, bewapen met ou komberse en ’n onwrikbare geloof in die waarde van ’n goeie staanplek, slaap oornag voor die kantore van hierdie staatsinstansies – die Departement van Arbeid is ook ’n goeie voorbeeld. Dié mense is “plekhouers” – en kom ons wees eerlik: Niemand hou daarvan om in ’n lang tou te staan nie, veral nie as dit reën of die fel somerson jou skroei nie. Van sitplek buite is daar bitter min sprake – en as jy ná ’n paar uur met krampe in jou kuite na die binnekant van die gebou beweeg, is jy gedaan. ’n Staanplek is baie werd; jy kan byvoorbeeld nie summier ’n draai gaan loop nie …
.......
Dit is kapitalisme op sy beste – geen kwalifikasies, geen CV, net ’n kombers en ’n skerp sakesin.
.......
Teen sesuur, wanneer die wagtende burgers in die tou inval wat op die sypaadjie begin sigsag of om die straathoek krul, is hierdie werklose entrepreneurs gereed: Wil jy nommer een in die tou wees? Of nommer vyf, tien … R500, R300, R150 … en geen kwitansie nie. Jy hoef jou nie te bekommer oor kontant nie – jy kan sommer ’n oorplasing via jou banktoep doen. Dit is kapitalisme op sy beste – geen kwalifikasies, geen CV, net ’n kombers en ’n skerp sakesin.
Dan is daar grant stacking, wat verwys na die praktyk in Suid-Afrika waar individue of huishoudings gelyktydig verskeie maatskaplike toelae van SASSA ontvang om finansiële ondersteuning vir gesinne te maksimaliseer en só armoede te verlig. Dit gebeur wanneer ’n persoon of huishouding vir meer as een toelaagtipe kwalifiseer weens oorvleuelende kwalifikasiekriteria. SASSA administreer verskeie toelae, byvoorbeeld kindersorgtoelae, bejaardetoelae, gestremdheidstoelae en andere met spesifieke kriteria, gebaseer op inkomste, ouderdom, gestremdheid, of versorgingsverantwoordelikhede. Die term grant stacking word nie amptelik deur SASSA gebruik nie, maar word gereeld in beleids-, akademiese of openbare diskoerse gebruik om die kumulatiewe effek van toegang tot groter toelae te beskryf om huishoudelike inkomste te verbeter.
Dan: Ons is almal bekend met ’n vullisverwerker wat vuil en verweer in ’n asblik grawe, ook bekend met die pejoratiewe etikette soos ’n ragpicker, binner, poacher, salvager, scavenger, vulture, parasite, skarrelaar, dromgrawer, digger, grab grab, minza of waste picker. ’n Vullisverwerker is ’n persoon wat herwinbare en herbruikbare materiale, wat deur ander weggegooi word, versamel. Só ’n persoon is werksaam in die informele ekonomiese sektor, en in eie diens. Hierdie werkers – en entrepreneurs – is betrokke by afvalbestuur: die versameling, vervoer, verwerking en hersirkulasie van afvalgoed.
Vullisverwerkers versamel tussen 80% en 90% gebruikte herwinbare produkte wat hulle aan klein terugkoopondernemings verkoop, en die middelmanne en herwinningsagente verkoop dit weer aan groter instansies. Ongelukkig word hiérdie werkers in die informele ekonomiese sektor se herwinningswerk nie erken nie – nóg deur die regering, nóg deur munisipaliteite, en ook nie deur die privaatsektor nie. Daar kleef ’n groot stigma aan “dromkrappers”; die burgery is skaam vir die mense, wie se persoonlike higiëne as gevolg van hulle vuil werk veel te wense oorlaat. Tog vorm die werkers die ruggraat van die herwinningsbedryf, en hulle het by herhaling versoek dat hulle rol in die bestuur van die afvalbedryf formeel erken word.
Daar is vandag na raming ongeveer 20 miljoen vullisverwerkers wêreldwyd in die herwinningsbedryf werksaam – mense wat ook die “frontlines against ocean plastic” genoem word en vroue, kinders en trekarbeiders insluit. Hierdie randgemeenskap is besonder kwesbaar vir siektes en hulle lewensverwagting is nie hoog nie.
Alhoewel vullisverwerkers in alle lande aangetref word, is hulle getalle besig om te eskaleer in ontwikkelende of Derde Wêreld-lande, of lande wat gebuk gaan onder die gevolge van postindustrialisasie. Die afgelope 50 jaar het toenemende verstedeliking soliede vullis op ongekende skaal begin lewer, wat aanleiding gegee het tot ’n wêreldwye handel in afval, die “global waste trade”. Vinnige verstedeliking het op sy beurt gelei tot ’n behoefte aan die versameling en verwerking van afval, want baie stede het nie die infrastruktuur en hulpbronne om die totale korpus afval te akkommodeer nie. Van die afval word op oop persele verbrand, wat tot lugbesoedeling lei, of dit beland in riviere. Vullisverwerkers verlig die las deur die herwinbare materiale te verwyder.
Al meer vroulike vullisverwerkers bewandel nou die strate en hulle word ook genadeloos geteiken. Manlike vullisverwerkers verdien altyd meer as hulle vroulike eweknieë; fisieke krag gee hulle ’n voorsprong om vinniger te werk, swaarder goed te lig en lywiger waentjies te trek. Hierdie werkers kry (weggooi-)kos by restaurante, kerke en privaat individue: die filantrope. Dís nou afgesien van die vullissakke waarin hulle grawe.
.......
Wat is die lewensiklus van weggooigoed? Die reïnkarnasie van rommel? Ek het onlangs twee vullisverwerkers sien baklei oor ’n betrokke straat se afval en wie se grondgebied dit is. Dit is nie vuurwapens, geld of dwelms waarmee daar gehandel word nie – dit is herwinbare rommel. En dít bied ’n tragiese blik op ons land se wankelende ekonomie.
.......
Wat is die lewensiklus van weggooigoed? Die reïnkarnasie van rommel? Ek het onlangs twee vullisverwerkers sien baklei oor ’n betrokke straat se afval en wie se grondgebied dit is. Dit is nie vuurwapens, geld of dwelms waarmee daar gehandel word nie – dit is herwinbare rommel. En dít bied ’n tragiese blik op ons land se wankelende ekonomie.
Wêreldwyd stig vullisverwerkers organisasies en informele vakbonde, maar word nie ernstig opgeneem nie. Herwinning is waarskynlik die belangrikste komponent van die werkloosheidsindustrie, en nou praat ek nie net van rommel nie, maar ook van die waarde wat enige vorm van herwinbaarheid vir die entrepreneur inhou.
Die idee om ou yskaste in braaiers te omskep is ’n slim, groen truuk wat in baie gemeenskappe voorkom. Jy neem die yskas se metaaldeur of -kas, sny dit oop, voeg ’n rooster in vir die kole, en voilà! – ’n unieke, funksionele braaier wat ook ’n storie vertel. Dit spaar geld, verminder afval en pas perfek by die leefstyl van die informele ekonomie in. ’n Weggooi-yskas is ’n veelsydige ding – ’n mens kan natuurlik altyd wieletjies aanbring en dit gebruik as ’n mobiele waentjie as jy ’n paar snuisterye langs die pad wil smous. Van hierdie entrepreneurs het al YouTube-kanale waar hulle demonstreer en praatjies lewer oor hoe veelsydig ’n weggooi-yskas is. Hier is een so ’n voorbeeld: https://www.youtube.com/watch?v=j8t1Ornr0WY
Junk art het my nog altyd gefassineer. Of dit nou asbakkies gemaak uit bierblikke of ander rommelkuns uit draad, glas en plastiek is – Suid-Afrika beskik oor ’n magdom entrepreneurs en talent wat hulle artefakte op ’n informele wyse smous. By Kampsbaai is daar beeldhouers wat tydens laagwater die mooiste beelde uit die sand bou. En op ’n Facebook-blad soos “Moeggesukkel” deel talle lede wenke hoe om te oorleef, soos byvoorbeeld die seun wat sy motorfiets in ’n waentjie, kompleet met “bakkie” en al, omskep het om sy grassnyer en ander tuingereedskap vir sy tuindiensonderneming te vervoer.
Om troeteldiere op te pas, of met hulle te gaan stap, het mettertyd ook die status van ’n “regte” werk bereik. Dan is daar entrepreneurs wat teen ’n fooi selfone laai, of ou motorbande omskep in stoele of swaaie. Daar is oneindige moontlikhede! Ook: die aanlê van groentetuine, om die groente langs die pad te verkoop; die dienste van informele haarkappers; agterplaas-motorwerktuigkundiges – en, as dit regtig broekskeur gaan, kan jy altyd die geluksgodin besoek via stokvels: informele spaargroepe waar lede bydra en in noodgevalle kan uithelp. Werkloses steun swaar op gemeenskaps- en familiebande.
Trots – en eg – Suid-Afrikaans is daardie motorwag met die glimbaadjie wat vir jou glimlag en groet. (’n Groet kos al meer as R10 en die ongeskrewe reël is wanneer jy teruggroet, beteken dit “kyk maar”.) Die ironie van hierdie praktyk is dat motorwagte niks kan doen in die geval van diefstal of geweld nie. Dit is asof die “kyk maar” die magiese woorde is wat aan jou motor vyfsterbeskerming sal bied.
Ook hierdie mense organiseer hulself met ’n leier – en aanvaar selfs kaartbetalings via ’n banktoep vir hulle dienste, veral as daar ’n karwas betrokke is. Dié karwassers het dit nie maklik nie en is bewapen met ’n waentjie waarin emmers, lappe en ander skoonmaakmiddels voorkom. Já; dis moeilik om ’n motor sonder ’n tuinslang te was. Kliënte het dan ook klagtes dat van die sand wat onder op die boom van die emmer lê hulle karre krap.
Die straatfilosoof en evangelis, op hulle beurt, het werkloosheid tot ’n kunsvorm verhef. ’n Mens tref hulle by robotte aan waar hulle teen R10 vir jou ’n motiveringstoepraak lewer wat Tony Robbins en Billy Graham soos amateurs laat lyk.
......
In Suid-Afrika het die werkloses hulle eie ekonomie geskep, een waar vernuf, vryheid en kreatiwiteit die geldeenheid is.
......
In informele nedersettings het huisvesting beslis ’n bepaalde mark. Met ou sinkplate, drome en baie verbeelding bou die entrepreneurs woonwaens – mobiele huisies gemaak van herwonne materiale. Hierdie mense verhuur hulle huisies aan ander werkloses vir ’n daaglikse fooi, of verkoop dit as selfstandige lewensruimtes; die verhuring van ’n backroom in ’n sinkhuisie kan vir jou enige iets van R500 – R1000 ’n maand in die sak bring.
Jeanne Goosen was nie verkeerd nie: Daar wag inderdaad ’n groot toekoms op werkloosheid. In Suid-Afrika het die werkloses hulle eie ekonomie geskep, een waar vernuf, vryheid en kreatiwiteit die geldeenheid is. Hierdie entrepreneurs bewys dat werkloosheid nie die einde is nie, maar die begin van ’n nuwe, innoverende vorm van kapitalisme.
As jy dus volgende keer by ’n robot stilhou of in ’n tou by Binnelandse Sake staan en sweet, groet die entrepreneurs langs jou. Hulle is nie werkloos nie – hulle is die pioniers van Suid-Afrika se benouende ekonomie. Want hier in Mzansi is entrepreneurskap nie ’n keuse nie; dis oorlewingskuns.
Lees ook:
Springmielies: Die moderne herinterpretasie van Jesus as KI-kletsbot
Springmielies: Oor die ydelheidsindustrie en ander skoonheidsnarratiewe

