Die waarde in die waardelose

  • 2

Fotobron: Pixabay.com

“Hierdie dromkrappers is net ’n bron van onheil en misdaad. As hulle nie kerkklokke en krane steel nie, identifiseer hulle wonings om later by in te breek. En kyk net die wiele van hulle waentjies – dit lyk suspisieus baie soos winkeltrollies s’n. Weet jy hoeveel verliese ly supermarkte as gevolg van gesteelde trollies?”  

*

“Ek sit my ou kos in ’n dubbelplastieksak bo-op die vullis in my swart sakke. Daar is baie honger mense wat in die asblikke grou vir kos.”

*

“Kyk nou … hierdie waste pickers bemors net die sypaadjies. Hulle strooi die vullis uit die dromme nét so op die grond om te sorteer en gooi nie alles terug in die wheelie bins nie. Die hele buurt ruik al soos ’n dump.”

*

“Van die vullisverwerkers se waentjies is so groot en dan loop hulle nog in die pad en dwing die karre om óm hulle te ry – dit het al botsings veroorsaak.”

*

“Mens het wragtig ook geen privaatheid in hierdie land nie. Die regering het toegang tot al ons inligting en ons selfoonnommers en pes ons met hul Covid-Gov-SMS’e; verder grou die scavengers in ons asblikke.”

.........

As die samelewing ’n spieëlbeeld van ’n ekosisteem was, was die vullisverwerkers die hiënas en aasvoëls – en ek sê dit sonder enige vooroordeel. Hulle ruim op, en dit is noodsaaklik. Maar om vir iemand kos in ’n vullisdrom te los, al is die bedoeling hoe goed, grens aan die skending van enige persoon se waardigheid.

..........

Hierdie uitsprake vorm deel van alledaagse gesprekke (met ’n stewige skeut white privilege daarby). En dis net so algemeen soos die afgeremde, vuil figure, beurend voor hulle yslike tuisgemaakte waentjies vol afval wat ons daagliks gewaar. Dis die “waste pickers”, oftewel die afvalverwerkers. As die samelewing ’n spieëlbeeld van ’n ekosisteem was, was die vullisverwerkers die hiënas en aasvoëls – en ek sê dit sonder enige vooroordeel. Hulle ruim op, en dit is noodsaaklik. Maar om vir iemand kos in ’n vullisdrom te los, al is die bedoeling hoe goed, grens aan die skending van enige persoon se waardigheid.

Die oorlede skrywer Jeanne Goosen het jare gelede in die Son-koerant geskryf: “Daar wag ’n groot toekoms op werkloosheid in Suid-Afrika. Werkloses gaan ánder werkloses in diens neem, subkontrakteer …” En al klink dié uitspraak absurd, het dit profeties waar geword in die geval van afvalverwerkers wat in groepe saamwerk met ’n leier wat die werk delegeer sodat almal wins kan maak uit die verkoopte afval.

.........

’n Vullisverwerker is ’n persoon wat herwinbare en herbruikbare materiale, wat deur ander weggegooi word, versamel. So ’n persoon is werksaam in die informele ekonomiese sektor, en in eie diens.

.........

’n Vullisverwerker is ’n persoon wat herwinbare en herbruikbare materiale, wat deur ander weggegooi word, versamel. So ’n persoon is werksaam in die informele ekonomiese sektor, en in eie diens. Hierdie waste pickers (’n term wat algemeen gebruik word omdat dit nie sosiale vooroordele bevat nie), is betrokke by afvalbestuur: die versameling, vervoer, verwerking en hersirkulasie van afvalstowwe. Vullisverwerkers dra swaar aan pejoratiewe benamings soos ragpicker, binner, poacher, salvager, scavenger, vulture, parasite, skarrelaar, dromgrawer, digger, grab grab, minza, ens. Ek was nooit bewus dat vullisverwerking as werk, of loopbaan, erken word nie – ek het die eerste keer daarvan kennis geneem toe die werkers onder vlak 3 van die inperking weer toegelaat was om besigheid te doen. Vanaf 27 Maart 2020, toe die inperking vir die eerste keer deur president Ramaphosa afgekondig is, tot 1 Junie kon hierdie brandarm en kwesbare werkers nie die asblikke myn vir herwinbare stowwe en lewensmiddele nie. Want die vullisverwerkers delf hulle volledige lewensonderhoud, soos klere, warmgoed vir die winter, huishoudelike toerusting, speelgoed, herstelbare elektroniese toerusting, ens, uit die vullisdromme. Dis verstommend wat mens alles in munisipale afval vind. Die regering het hulpfondse  belowe, maar aanlyn registrasie vir die vullisverwerkers was net ’n droom. Is jy ’n geregistreerde waste picker? Dokumentasie soos werkpermitte vir immigrante het die aansoeke gepootjie, en hongersnood was ’n gewisse voorland. Die (sporadiese) kospakkies het nie veel gehelp nie – daar was nie geld om vir afhanklikes te sorg nie. In April verlede jaar is ’n hofaansoek aan Nkosazana Dlamini-Zuma gebring waarin aangevoer is dat vullisverwerkers noodsaaklike dienste lewer en dat hulle as sodanig hulle herwinningsaktiwiteite mag voortsit. NDZ het die aansoek as “opportunisties” bestempel, en beweer dat slegs munisipale vullisdienste as noodsaaklik geag kan word en dat vullisverwerkers dit “vir die geld” wil doen. Die Minister se gevoelloosheid, onkunde en gebrek aan insig is ongefokkenlooflik – mense wat van die honger uit asblikke uit eet wil dit vir die geld doen? Duidelik verstaan die agbare rampproseskader nie hoe die ketting van afvalbestuur werk nie – vullisverwerkers bespaar munisipaliteite tussen R309,2 miljoen en R748,8 miljoen in stortingsterreine se lugruimte. (Lugruimte is die geprojekteerde kubieke meter van die stortingsterrein wat opgevul kan word deur afval, soos bereken deur opnameprojeksies.) “If we were any poorer we’d be dead,” het ’n vullisverwerker voor COVID-19 aan ’n joernalis gesê.

.........

Suid-Afrika het voor COVID-19 ongeveer 90 000 afvalverwerkers gehad; die syfer is nou, as gevolg van toenemende armoede en werkloosheid, véél hoër. Hierdie werkers versamel tussen 80% en 90% gebruikte herwinbare produkte wat hulle aan klein terugkoopondernemings verkoop, en die middelmanne en herwinningsagente verkoop dit weer aan groter instansies.

..........

Suid-Afrika het voor COVID-19 ongeveer 90 000 afvalverwerkers gehad; die syfer is nou, as gevolg van toenemende armoede en werkloosheid, véél hoër. Hierdie werkers versamel tussen 80% en 90% gebruikte herwinbare produkte wat hulle aan klein terugkoopondernemings verkoop, en die middelmanne en herwinningsagente verkoop dit weer aan groter instansies. Ongelukkig word hierdie werkers in die informele ekonomiese sektor se herwinningswerk nie erken nie – nóg deur die regering, nóg deur munisipaliteite, en ook nie deur die privaatsektor nie. Daar kleef ’n groot stigma aan “dromkrappers”: die burgery is skaam vir dié mense, wie se persoonlike higiëne as gevolg van hul vuil werk veel te wense oorlaat. Op ’n stadium het die United Nations Industrial Development Organisaton (UNIDO) aan lede van die South African Waste Pickers Association persoonlike beskermende drag, handskoene, stewels, maskers en ’n viertontrok gegee – en vir ’n rukkie was dit hemel op aarde. Maar die versoeke aan die owerhede vir beter werksgeriewe val op dowe ore. Die vullisverwerkers vra ’n basiese minimum loon vir hulle (gevaarlike) werk, kospakkies, sanitêre wasstasies, ontsmettingsmiddel en beskermende drag. Hulle vorm tog die ruggraat van die herwinningsbedryf, en hulle het by herhaling versoek dat hulle rol in die bestuur van die afvalbedryf formeel erken word. Maar kenmerkend van die regering bly die beloftes by lippediens en ambivalente double talk, so kenmerkend van die ANC.

Sedert antieke tye het mense in vullisdromme gegrawe – die sogenaamde ragpickers. Frankryk was simpatiek gesind teenoor dié arm randfigure, en hulle kon volgens wet sekere ure snags hulle afvalaktiwiteite beoefen. Die prokureur en diplomaat Eugène Poubelle het in 1884 die eerste vullisdrom, die oupa van die munisipale drom soos ons dit vandag ken, ontwerp. Van die eerste verwysings na ragpickers kom dan ook voor in die Franse letterkunde. In die ikoniese Les Misérables (1862) van Victor Hugo verskyn daar byvoorbeeld karakters wat ragpickers is; en Charles Baudelaire het in sy Les Fleurs du mal (1857) ’n gedig oor ’n ragpicker geskryf. In Hans Christian Andersen se sprokie De røde sko (Die rooi skoene) (1845) word die dogtertjie wat vir haar skoene uit stukkies afval/weggooigoed maak, waarskynlik as ‘n ragpicker verbeeld.

Daar is vandag na raming tussen 15 en 20 miljoen vullisverwerkers in die herwinningsbedryf wêreldwyd werksaam – mense wat ook die “frontlines against ocean plastic” genoem word, en vroue, kinders en migrantewerkers insluit. Hierdie randgemeenskap is besonder kwesbaar om COVID-19 op te doen en het min, of geen toegang tot formele gesondheidsorg nie.

Alhoewel vullisverwerkers in alle lande aangetref word, is hulle getalle besig om te eskaleer in ontwikkelende of Derde Wêreld-lande, of lande wat gebuk gaan onder die gevolge van postindustrialisasie. Die afgelope 50 jaar het toenemende verstedeliking soliede vullis op ongekende skaal begin lewer, wat aanleiding gegee het tot ’n wêreldwye handel in afval, die global waste trade. Vinnige verstedeliking het op sy beurt gelei tot ’n behoefte aan die versameling en verwerking van afval, want baie stede ontbreek die infrastruktuur en hulpbronne om die totale korpus afval te akkommodeer. Van die afval word in oop persele gebrand, wat tot lugbesoedeling lei, of dit beland in riviere. Vullisverwerkers verlig die las deur die herwinbare materiale te verwyder.  

Daar bestaan min betroubare data oor die werkmag van vulliswerkers, omdat akademiese navorsing kwalitatief eerder as kwantitatief gedoen word; ook word grootskaalse dataversameling gepootjie as gevolg die informele aard van die professie, die poreusheid van grense, die seisoenaal fluktuerende gedrag as gevolg van die wydverspreide en mobiele stortingsterreine, en die oor die algemeen ontoeganklike houding van vullisverwerkers teenoor navorsers.

’n Stortingsterrein is ’n gevaar vir enige persoon se gesondheid. Afvalbestuur beteken dat daar verskeie insekte uitbroei en dat daar dodelike gasse, soos metaan en koolstofmonoksied, afgeskei word. Die afval word soms meganies in blokke gekompakteer (om ruimte te bespaar), of gebrand (“termiese behandeling”), wat op sy beurt weer gevaarlike gasse soos dioksien afskei.

Daar is verskillende soorte afval, en ’n vullisverwerker moet sy storie ken:

- Herwinbare afval, soos metaal, papier, plastiek, glas, en voedselboksies van aluminium en tin.  

- E-afval (elektroniese afval) soos rekenaars, skerms, televisiestelle, selfone, ens, bekend vir hulle gevaarlike metale soos lood, kwik, kadmium, litium ens. Wanneer e-afval op stortingsterreine beland, sypel die toksiese afval in die grondwater in, wat ’n bedreiging vir beide land- en seediere inhou. Dié metale is gevaarlik vir ’n mens se hart, lewer en brein, en soveel gevaarliker as dit verhit word. Maar in die geval van byvoorbeeld ’n “dooie” selfoon is daar goud, koper, silwer en platinum wat herwin kan word.  

- Mediese afval, soos gebruikte snesies van Covid-lyers, spuitnaalde van dwelmverslaafdes, en so meer.

- Organiese afval, byvoorbeeld vleis of dieremis wat in vullisblikke gegooi word.

- Gevaarlike afval: vlambare stowwe (byvoorbeeld alkohol en asetoon), bytende chemiese stowwe soos swaelsuur, en reaktiewe stowwe soos giftige gasse wat vrygestel word in die teenwoordigheid van water.   

’n Joernalis van Spotlight, Luvuyo Mehlwana, het gaan kers opsteek by die vullisverwerkers by die Arlington-stortingsterrein en dié in Uitenhage, waar honderde werkers daagliks die stank en vullis trotseer om te oorleef. Volgens Martin Witbooi, ’n 31-jarige vader van twee, kry vullisverwerkers hulle maskers en handskoene (verkieslik tuinhandskoene), tussen die munisipale afval. Persoonlike beskermende drag is net ’n droom. Hy reken dis onmoontlik dat hulle nié COVID-19 sal opdoen nie. Mense met die virus gooi hulle besmette mediese afval in die vullissakke. Volgens mediese kenners kan gebruikte maskers en snesies, wat heelwat afskeidings bevat, die aansteeklike virus langer “beskerm” as gevolg van die feit dat dit met ander afval omring word. Baie munisipale werkers word ook siek met Covid. Maar die meeste vullisverwerkers het reeds respiratoriese probleme as gevolg van die chemikalieë, metaan en koolstofmonoksied wat hulle moet inasem – die stank wat selfs plante in die omtrek laat vrek. Hulle het ook ’n chroniese hoes en bly uitasem. En hulle is altyd lyfseer as gevolg van swaar voorwerpe wat hulle moet lig, beserings as hulle teen die steil stortingshope vol afval moet uitklim en val … Hulle sal nie eers weet as hulle Covid het nie, sê Witbooi. Hy erken dat vullisverwerkers ou kos uit asblikke uitgrawe en selfs daaroor baklei – die nood is groot. Hulle het aansoek gedoen om kospakkies, maar niks ontvang nie. Verder word hulle gereeld deur rotte en honde gebyt; is chronies siek en vol beserings, maar daar is geen genade nie – daar is gesinne wat versorg moet word. Op ’n “goeie dag”, vóór die Covid-pandemie, kon ’n vullisverwerker by die Arlington-stortingsterrein tot R700 ’n dag verdien. Dit het gekrimp van enigiets tussen R70 en R300 ’n dag omdat soveel meer vullisverwerkers intussen hul opwagting gemaak het. Dit is veral die immigrante (die “amakwerekwere”) wat die swaarste kry en deurloop onder viktimisering deur Suid-Afrikaners, omdat hulle “die brood uit hulle monde uit steel”. Al meer vroulike vullisverwerkers bewandel nou die strate en hulle word ook genadeloos geteiken. Manlike vullisverwerkers verdien altyd meer as hulle vroulike eweknieë; fisieke krag gee hulle ’n voorsprong om vinniger te werk, swaarder goed te lig en lywiger waentjies te trek. Hierdie werkers kry (weggooi-) kos by restaurante, kerke en privaat individue: die filantrope. Dis nou afgesien van die vullissakke.

.......

Al meer vroulike vullisverwerkers bewandel nou die strate en hulle word ook genadeloos geteiken. Manlike vullisverwerkers verdien altyd meer as hulle vroulike eweknieë; fisieke krag gee hulle ’n voorsprong om vinniger te werk, swaarder goed te lig en lywiger waentjies te trek.

.........

Ek gaan stap elke dag getrou, al van 1 Mei verlede jaar af. Vrydae word die munisipale vullisdromme met ’n onaardse gerammel na die sypaadjies gestoot en dan blaf die honde die buurt aan die brand. Die vullisverwerkers is in ’n oogwink daar. En die getalle neem by die dag toe – trouens, hulle is elke dag in die strate, nie net Vrydae nie.

Wat is die lewensiklus van weggooigoed? Die reïnkarnasie van rommel? Ek het onlangs twee vullisverwerkers sien baklei oor ’n betrokke straat se afval, en wie se grondgebied dit is. Dit is nie vuurwapens, geld of dwelms waarmee daar gehandel word nie – dit is herwinbare rommel. Die waarde in die waardelose. Die gangsters van die Covid-inperkingstyd is weerloos, honger en vuil en hulle wapens beswaarlik meer as bottelskerwe of skerpgemaakte voorwerpe.    

Die voordele van vullisverwerking is dat dit die verbranding van afval, en daarmee saam lugbesoedeling, verhoed; ook dat vullis nié in riviere beland nie. Hulle rol in omgewingsbeheer en publieke sanitasie moet nie onderskat word nie. Herwinning verleng ook die lewensduur van ’n stortingsterrein. Munisipaliteite bespaar astronomiese bedrae deur hierdie gratis diens in die ketting van afvalbestuur. Deur die terugsny van ’n groot hoeveelheid afval word ruimte gespaar in stortingsterreine, wat water- en energieverbruik verminder, lug- en waterbesoedeling teëwerk en ’n positiewe uitwerking op klimaatsverandering het. Intussen is daar ’n onsigbare hand in die mark aan die werk wat een van die groenste afvalbestuurstelsels ter wêreld skep en die belastingbetaler niks kos nie.

Maar vullisverwerking kom ook teen ’n duur sosiale prys.

........

Die persoonlike gevare wat hierdie mense moet trotseer, dra die grootste risiko: chemiese reste in bottels, swaar metale van batterye, feses, papier wat gekontamineer is met toksiese materiale, ens. Die lys is lank en die siektes en skade aan die liggaam geassosieer met besmette afval is legio.

..........

Met die omkeer van vullisdromme maak die vullisverwerkers nie behoorlik skoon nie, en bly daar rommel agter wat die sypaadjies ontsier. Baie inwoners sien dromkrappers as ’n bron van irritasie of skaamte – hulle gebrek aan higiëne en hul uiterste graad van armoede maak mense bang en ongemaklik. En dan is vullisverwerkers berug vir die diefstal van koperkabels, staalheinings en mangatdeksels – skroot betaal goed. Die persoonlike gevare wat hierdie mense moet trotseer, dra die grootste risiko: chemiese reste in bottels, swaar metale van batterye, feses, papier wat gekontamineer is met toksiese materiale, ens. Die lys is lank en die siektes en skade aan die liggaam geassosieer met besmette afval is legio. In Mexikostad is die gemiddelde lewensverwagting van ’n vullisverwerker 39 jaar, teenoor die 69 van die res van die bevolking. Die babas van vroulike vullisverwerkers leef nie lank nie.

Wêreldwyd stig vullisverwerkers organisasies en informele vakbonde – maar word nie ernstig opgeneem nie. Al wat hulle vra, is ’n billike kans op politieke bedingingsmag, waardigheid in die werkplek en beter besoldiging. In stede hiervan ervaar hulle, as die heel “laagste” burgers in die sosiale hiërargie, net stigmatisering en teistering. In Colombia, 1992, is die kadawers van 11 vermoorde vullisverwerkers by ’n universiteit in Barranquilla ontdek. Hulle organe is geoes vir oorplantings. Hierdie "disposables" (desechables), soos die plaaslike inwoners neerhalend na die vullisverwerkers verwys, se organe sélf het ’n bron van hersiklering geword.

Dis ’n vreemde lewe dié – en die ironie rondom die saak is inderdaad ’n bitter pil.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Nini, my debuut, rigtinggewende en enigste bydrae tot Suid-Afrikaanse teater het my reeds in my kleuterskooljare te beurt geval. As een van die hoofkarakters het ek ʼn leë bottel bier in “Die Lappop” vertolk; vandag speel ek die rol met selfs meer oortuiging as in die tyd van Toyota Corona. My kostuum was ʼn helse stuk karton, uitgeknip en bruin geverf met ʼn ronde gat vir my gesig. Soos die liedjie speel het ek wiegel-waggel en woordeloos van links na regs oor die verhoog beweeg ‒ fokken verbysterend.

    Gelukkig kon ek die woorde iewers op die internet opspoor en het dit sommer net so hier gespoeg-en-plak:

    “Iemand het 'n lappop,
    Op 'n ashoop weggegooi.
    Sy was gedaan en stukkend,
    Verbleek en nie meer mooi nie.
    Op die ashoop hoor sy stemme praat,
    En die verwelkom haar.
    Maar O! ellende, toe sy kyk,
    Wat sien die lappop daar?
    Net 'n vrot pampoen en 'n stukkende skoen
    'N grammefoonplaat en 'n kous sonder maat.
    Net 'n leë bottel bier, 'n verlepte angelier,
    'N gelapte binneband en 'n ou koerant.”
    En so aan.

    https://www.youtube.com/watch?v=_Wbw93Zfu0w

    Nog lank voor die Eskom-fiasko is gebreke in die stelsel al uitgewys ‒ maar helaas, Suid-Afrika het nie erns met sy mense nie. Dit sal ook help as jy bv. in die Krugerwildtuin jou rommel mooi sorteer sonder dat die manne alles die volgende oggend maar net weer in een groot hoop agterop die waentjie gooi.

    Die absolute minimum wat gedoen moet word, is om hierdie arme mense van handskoene, oorpakke, stewels en behoorlike maskers te voorsien.

  • Avatar
    Catherina Schenck

    Nini

    Ek en my kollegas het uitgebreide kwantitatiewe studies gedoen. Kontak my en ek stuur jou graag ons artikels.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top