Só lyk die Wiskunde-kurrikulum vir die res van 2020: ’n gids vir ouers

  • 0

Fotobron: Canva

Skole sluit

Die aankondiging deur president Cyril Ramaphosa dat die skole weer vir ’n maand sluit, het gemengde reaksie uitgelok. Die Burger berig dat die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, vuur spoeg oor die maand lange sluiting van skole. Sy sê dat dié besluit nie in belang van die leerlinge is nie; ook dat dit onmeetbare skade aan die ekonomie gaan aanrig (Jackie Kruger, Die Burger, 24-07-2020).

Die onderwysvakbond SADOU en ook ander vakbonde het egter deurlopend gepleit vir die sluiting van skole tot met afplatting van die koronakrisis ter beskerming van leerders en onderwysers. SADOU het selfs gesê dat hul Schäfer persoonlik aanspreeklik sal hou vir enige regstreekse verontagsaming van die COVID-19-gesondheidsregulasies by skole en ook geen oomblik sal huiwer om strafregtelike klagtes teen haar te lê nie. (Wanda Meyer, Netwerk 24, 3-06-2020).

Die Demokratiese Alliansie sê onomwonde in ’n persverklaring (23-06-2020, News) dat Ramaphosa die knie gebuig het voor die vakbonde, en veral SADOU, wat volgens hulle nog nooit die belange van die kinders eerste gestel het nie.

Die skole het gesluit en vir die honderd en hoeveelste dag word kontak- en onderrigtyd met leerders beperk.

Hindernisse

Vir seker sal daar skole wees wat aangaan met die kurrikulum deur voortgesette virtuele onderrig, maar dan sal daar ook skole wees wat dit nie kan bekostig nie, of bloot net nie toegerus is daarvoor nie. Baie ouers het nie toegang tot die internet nie en in landelike en afgeleë gebiede is dié luuksheid van e-leer weinig meer as ’n droom. Ouers kan dit nie bekostig nie en in baie gevalle is baie ouers en leerders nog nooit blootgestel aan tegnologie nie. Rekenaars en rekenaarvaardigheid is ’n toekomsvisie.

Vir deursigtigheid is dit belangrik om te onthou dat skole in kwintiele gekategoriseer word.

Kwintiel 1–3-skole is skole wat nie skoolgeld hef nie en afhanklik is van staatsubsidiëring. Hulle ontvang gemiddeld R1 243 per leerder per jaar. Dié skole is dan ook verteenwoordigend van 86% van die skole in die land. Skole wat nie skoolgeld hef nie, byvoorbeeld skole in townships, is geregtig op verskeie voorwaardelike subsidies waartoe ander skole, veral Afrikaanse skole, nie toegang het nie. Kwintiel 4-skole ontvang gemiddeld R632 per kind per jaar en ’n kwintiel 5-skool word R215 per leerder toegewys. Die bedrae wissel egter per provinsie. ’n Kriterium word gebruik om die kategorisering te doen en die fokus is hoofsaaklik om te bepaal hoe arm die gemeenskap is, wat die werkloosheidkoers is en ook wat die vlakke van geletterdheid binne die gemeenskap is. (https://skole.co.za/skoolkwintiele-wat-beteken-dit).

Aanpassing van die kurrikulum

Intussen is die kurrikulum aangepas en wéér aangepas – hoe anders? ’n Derde van die jaar is verby met baie onderrigtyd wat verlore gegaan het. Kontaktyd hét verlore gegaan en daar is kinders wat agter geraak het, selfs met die gewysigde kurrikulum (hoewel dit nie die geval in alle skole is nie).

Ouers, leerders en opvoeders – ’n kollektiewe benadering is die oplossing

Wat nóú van belang is, is om nóú hande te vat en in samewerking met die departement te verhoed dat jou kind ’n agterstand gaan opbou, ’n agterstand wat moeilik, indien ooit, ingehaal kan word.

Uit ervaring as senior lektor en ook as senior leerkrag weet ek daar was nog geen veld wat so uitdagend was soos die aanbied van wiskunde nie; nie omdat wiskunde ’n moeilike vak is, soos veronderstel word nie, maar omdat elke individu se vermoë tot ontleding verskil en ook vanuit hierdie perspektief benader en aangespreek moet word. Elke kind hét die vermoë om te analiseer, maar dit is belangrik om te bepaal vanuit watter oogpunt die kind ’n probleemstelling benader. Niémand is beter toegerus as die ouers om dit te doen nie, want betrókke ouers sal hul kinders en ook die hindernisse wat uitvalle veroorsaak, kan identifiseer en die nodige leerondersteuning bied, individueel of in samewerking met die onderwyser.

Daarom is die tyd nou reg om die fokus te verskuif van politiek en geskille en om na die behoeftes van die kind om te sien – voordat daar dalk nóg tyd verlore gaan. Die korona-infeksies neem konstant toe en niemand kan voorspel wat die toekoms inhou nie.

Wiskunde – ’n vooruitskouing vir die res van die 2020- akademiese jaar

Op Donderdag 23 Julie 2020, tydens ’n virtuele vergadering vir Wes-Kaaspe leerkragte gelei deur Donovan Mackier, vakdviseur vir Wiskunde, is ’n vooruitskouing gedoen oor wat die wiskundekurrikulum en ook die assessering vir die res van 2020 gaan behels vir die intermediêre fase (graad 4–6) en senior fase (graad 7–9).

Die uitgangspunt hier is die beklemtoning van inklusiewe benadering in die aanbieding van die hersiene kurrikulum. Alle leerders moet deur dieselfde meetinstrument aangespreek word om ongelykhede te voorkom, met inagneming van kwintiel 1–5-skole.

Die implikasie van die hersiene sillabus in die praktyk

Die volgende is sleutelpunte mbt assessering van graad 4–9:

Die aard van summatiewe take sal uit skoolgebaseerde toetse bestaan. Moderering by skole sal voortgaan en daar sal ook geen verandering wees aan promosievereistes nie.

Enige afwykings van ’n voorgestelde skool tov die kurrikulum moet by die distrikskantore aangemeld word.

Dit is wel belangrik om te onthou dat geen leerder met heropening van skole mag wegbly sonder toestemming nie. Skole moet nie net in kennis gestel word nie, maar die nodige dokumentasie moet ingedien word om deregistrasie te verhoed. (Dit het betrekking op die riglyne van die departement oor watter grade wel mag terugkeer.)

Assesserings, take en toetse vir 2020

Geen formele assesserings sal plaasvind nie en geen take sal gedurende die tweede kwartaal gedoen word nie. Daar sal dus ook geen optekening van punte wees nie.

Een assessering sal aan die einde van die derde kwartaal plaasvind.

Daar sal geen finalejaareksamen gedurende 2020 plaasvind nie.

Slegs die werk wat in die klas gedoen is, mag geassesseer word in verdere assesserings.

As gevolg van die verlies aan tyd kan daar nie voorsiening gemaak word vir die bestaande assesserings nie (SBA).

Die hersiene kurrikulum en die voorgestelde skoolgebaseerde assessering sal as gids dien vir onderrig en wat weggelaat mag word.

Formatiewe assesserings moet geïntegreer word in lesaanbieding.

Kennis daaruit verwerf sal as assesseringsmodel dien.

Dit word beklemtoon dat dit wat die kinders nou nodig het om te weet, onderrig word.

Puntesamestelling en verwerking

Kwartaal 1 en 3 se assesserings verteenwoordig 80% van die jaarpunt. Dit sal bestaan uit twee take en ’n toets.

Die gewig van die taak en toets van kwartaal 1 is 25% en 30% onderskeidelik, en die taak van kwartaal 3 is 25%.

In die vierde kwartaal sal ’n skoolgebaseerde toets geskryf word waarvan die gewig 20% verteenwoordig.

Dit impliseer dat ’n leerder wat goed gevaar het in die eerste kwartaal se kanse skraal sal wees om nié bevorder te word na die volgende graad nie.

Slaagvereistes van 40%, wat jaarliks aangepas word sodat leerders gekondoneer kan word, sal ook bydra tot ’n goeie slaagpersentasie.

Op dié stadium word dit duidelik gestel dat die beginsel van by die essensie bly en maksimaal besnoei toegepas sal word; met ander woorde, kernareas sal aangespreek word en in sommige gevalle sal werk wat byvoorbeeld in graad 4 gedoen is, nie herhaal word in graad 5 nie.

Dié beginsel word dan ook deurgevoer na graad 6.

Kernareas word aandedui in die tabelle, asook die modules wat nie weer in 2020 aangespreek sal word nie.

Kwartaal 1

Kwartaal 2

Kwartaal 3

Kwartaal 4

Taak: 25%
Toets: 30%

Geen summatiewe assessering nie

Een summatiewe assesseringstaak (werksopdrag): 25%

Skoolgebaseerde formele toets: 20%

 

TOTAAL: 100%

 

GRAAD 4–6

Fundamentele kernareas

Voorgestelde onderwerpe en konsepte vir prioritisering

Getalle, Bewerkings en Verwantskappe

• Tel, rangskik, vergelyk, voorstelling van heelgetalle, plekwaarde
• Toepassing van alle bewerkings met heelgetalle
• Gewone breuke
• Desimale breuke (Slegs graad 6)

Patrone, Funksies en Algebra
(Slegs graad 6)

• Getalsinne
• Geometriese en numeriese patrone

Ruimte en Vorm
(Slegs Graad 5 en 6)

• Eienskappe van 3D-voorwerpe (herken, benoem, rangskik en vergelyk)

Meting

• Omtrek, oppervlakte en volume

 

GRAAD 7–9

Fundamentele kernareas

Voorgestelde onderwerpe en konsepte vir prioritisering

Getalle, Bewerkings en Verwantskappe
(Slegs graad 7 en 8)

• Gewone breuke
• Desimale breuke
• Heelgetalle

Patrone, Funksies en Algebra

• Funksies en verwantskappe
• Algebraïese uitdrukkings
• Algebraïese vergelykings
• Grafieke

Ruimte en Vorm
(Slegs graad 8 en 9)

• Meetkunde van reguit lyne
• Eienskappe van 2D-voorwerpe

Meting

• Oppervlakte en omtrek
• Buite-oppervlakte en volume

 

Wat die kurrikulum vereis

Graad 4

Graad 5

Graad 6

Kwartaal 1

1) Heelgetalle (rangskikking, vergelyking, voorstelling en tel)

2) Getalsinne

3) Optel en aftrek (afronding en skatting, optel en aftrek van heelgetalle)

4) Numeriese patrone (patrone en vloeidiagramme, vermenig-vuldiging en deling)

5) Tyd

6) Vermenigvuldiging en deling

7) Datahantering (versamel en organisering van data, teken van piktogramme en staafgrafieke, interpretasie van data en sirkeldiagramme, data-siklus)

8) 2D-vorms (vergelyk, benoem en rangskik 2D-vorms)

9) Vermenigvuldiging, deling, hersiening

1) Heelgetalle (rangskikking, vergely king, voorstelling en tel)

2) Getalsinne

3) Optel en aftrek (afronding en skatting, optel en aftrek van heelgetalle en omgekeerde bewerkings)

4) Numeriese patrone (patrone en vloeidiagramme

5) Vermenigvuldiging en deling (faktore en veelvoude, vermenigvuldig met 2-syfer-getalle, deel met heelgetalle en probleemoplossing)

6) Tyd

7) Datahantering (versamel en organisering van data, teken van piktogramme, interpretasie van data en sirkeldiagramme, datasiklus, bepaal die modus en besinning oor die bron van data)

8) 2D-vorms (identifiseer veelhoeke en teken 2D-vorms)

9) Inhoud en volume

 

1) Heelgetalle (rangskikking, vergelyking, voorstelling en tel, gebruik simbole om getalle te vergelyk)

2) Getalsinne (los getalsinne en ekwivalente getalstellings)

3) Optel en aftrek (afronding en skatting, optel en aftrek van heelgetalle, gebruik van sakrekenaars, gebruik van kolommetode om op te tel en af te trek)

4) Breuke (vorm breuke deur groepering, vergelyking en rangskikking van breuke en die optelling en aftrekking met breuke, ekwivalente breuke)

5) Tyd (analogiese en digitale tyd, die herleiding van tydeenhede, tydsones, interpretasie van kalenders)

6) 2D-vorms (identifisering, benoeming, sortering en vergelyking van 2D-vorms, hoeke en lyne en 2D-vorms en die teken en identifisering van 2D-vorms)

7) Datahantering (versameling en organisering van data, teken van piktogramme, staafgrafieke, bepaling van die modus en mediaan van ’n stel data, interpretasie van grafieke, datasiklus)

8) Numeriese patrone (vloeidiagramme, vermenigvuldiging van deling: omgekeerde bewerkings, bepaling van ontbrekende reëls en getalle)

Kwartaal 2

1) Heelgetalle (rangskikking, vergelyking, voorstelling en tel

2) Optel en aftrek

3) Gewone breuke

4) Lengte

5) 3D-voorwerpe

6) Vermenigvuldiging (2-syfer-getalle, vermenigvuldiging met faktore, skatting)

7) Simmetrie

8) Meetkundige patrone

9) Optel en aftrek (heelgetalle, gebruik van getallelyn, kontrolering deur die gebruik van teenoorgestelde bewerkings)

10) Deling (3-syfer-getalle, skatting, kontrolering en probleemoplossing)

1) Heelgetalle (rangskikking, vergelyking, voorstelling en tel

2) Optel en aftrek

3) Gewone breuke

4) Lengte

5) Vermenigvuldiging (3-syfer-getalle met 2-syfer-getalle, verwerk met faktore en veelvoude, omgekeerde bewerkings met deling)

6) Eienskappe van 3D-voorwerpe (erkenning en benoeming van 3D-voorwerpe en die bou van modelle)

7) Meetkundige patrone

8) Simmetrie (lynsimmetrie en draaiingsimmetrie)

9) Deling (faktore en veelvoude, die gebruik van vermenigvuldigings-feite om te deel, deling deur 2-syfer-getalle, deling met ’n res, vergelyking van 2 hoeveelhede om te deel, probleemoplossing met deling

 

1) Heelgetalle (rangskikking, vergelyking, voorstelling en tel, 9-syfergetalle en afronding met heelgetalle)

2) Vermenigvuldiging (faktore en veelvoude, die opbreek van getalle om vermenigvuldiging te doen, kolommetode, skatting van antwoorde en probleemoplossing)

3) Eienskappe van 3D-voorwerpe (identifisering, bou, sortering, vergelyking en interpretasie van 3D-voorwerpe)

4) Meetkundige patrone (uitbreiding van patrone en reëls, die  identifisering van patrone en reëls)

5) Simmetrie (rotasie- en lynsimmetrie)

6) Deling (faktore, priemgetalle, omgekeerde bewerkings en langdelingsmetode)

7) Desimale breuke (lees, skryf, tel, herleiding, vermenigvuldiging, afronding, vergelyking, optel en aftrek en probleemoplossing met desimale breuke)

8) Kapasiteit en volume (herleiding, vergelyking en probleemoplossing, skatting en meting van kapasiteit)

Kwartaal 3

1) Inhoud en volume

2) Gewone breuke

3) Tel, rangskik, vergelyk en stel heelgetalle voor heelgetalle voor. Plekwaarde en afronding.

4) Optel en aftrek 

5) 2D-vorms (vergelyking en rangskikking, identifisering, benoeming en saamgestelde vorms

7) Verskillende voorwerpe: aansigte

8) Datahantering

9) Numeriese patrone

10) Optel en aftrek (teenoorgestelde bewerkings, skatting en opbreekmetode)

11) Vermenigvuldiging (2-syfer-getalle)

12) Getalsinne

13) Probleemoplossing

14) Transformasies (transformasie van 2D-vorms)

1) Gewone breuke

2) Massa

3) Heelgetalle (tel, rangskik en vergelyk die voorstelling van heelgetalle

4) Optel en aftrek

5) Die aansigte van voorwerpe

6) Eienskappe van 2D-vorms

7) Transformasies (leerlinge moet transformasies kan gebruik om bewegings van vorms te beskryf en om saamgestelde vorms te maak)

8) Temperatuur

9) Skatting, meting (die lees, skat, meting en rangskikking van temperature)

10) Datahantering (die versameling, organisering en voorstelling van data. Bepaal die modus, werk deur ’n datasiklus, interpreteer en ontleed data en vergelyk grafieke)

11) Getalpatrone (leerders moet getalpatrone kan skep en die reël vir ’n getalpatroon kan bepaal, ondersoek getalreekse)

12) Vermenigvuldiging (vermenigvuldig 3-syfer-getalle met 2-syfer-getalle, vergelyk hoeveelhede, veelvoude en faktore)

1) Heelgetalle (tel, rangskik en vergelyking, plekwaarde, uitgebreide notasie)

2) Massa (herleiding, skatting en meting asook meeteenhede vir massa)

3) Optel en aftrek (skatting, kolommetode, gebruik van sakrekenaars, omgekeerde bewerkings, optelling en aftrekking met hakies)

4) Voorwerpe (aansigte)

5) Eienskappe van 2D-vorms (identifisering, beskrywing, vergelyking en ook teken van 2D-vorms op roosterpapier)

6) Transformasies (die gebruik van transfor-masies om patrone te beskryf)

7) Persentasies (herlei breuke tot persentasies, desimale breuke en persentasies, bepaling van persentasies van ’n heelgetal)

8) Temperatuur (vergelyking, lees, meting en berekenings met temperatuur)

9) Datahantering (insameling, organisering en voorstelling van data, modus en mediaan, interpretasie en ontleding, vergelyking van grafieke)

10) Numeriese patrone (inset- en uitsetreëls, konstante verskil en konstante verhouding, inset- en uitsetgetalle, die soek van reëls om die uitsetgetal van ’n insetgetal te kry, gebruik van patrone om uitsetgetalle te toets)

11) Lengte (skatting, meting, herleiding, rangskikking en probleemoplossing)

Kwartaal 4

1) Heelgetalle (rangskikking, vergelyking, voorstelling, plekwaarde en afronding)

2) Optel en aftrek (skatting, werk met geld, optel en aftrek van 4-syfer-getalle en probleemoplossing)

4) Massa (herleiding, vergelyking, rangskikking, probleemoplossing, lees en meting)

5) 3D-voorwerpe (identifisering, rangskikking, vergelyking en die maak van 3D-modelle)

6) Gewone breuke (erkenning van ekwivalente breuke, die gebruik van breuke om mee te meet en probleemoplossing)

7) Deling (los probleme met ongelyke verdeling op, skatting en kontrolering van antwoorde)

8) Omtrek, oppervlakte en volume

9) Posisie en beweging

10) Transformasies

11) Meetkundige patrone

12) Optel en aftrek (4-syfer-getalle)

13) Waarskynlikheid

1) Heelgetalle (rangskikking, vergelyking, voorstelling, plekwaarde en afronding, rond groot getalle af)

2) Optel en aftrek (kolommetode)

3) Eienskappe van 3D-voorwerpe (erkenning, benoeming en rangskikking)

4) Gewone breuke (vergelyking en rangskikking, bereken breuke van heelgetalle en probleemoplossing)

5) Deling (faktore en veelvoude, omgekeerde bewerkings en probleemoplossing)

6) Omtrek, oppervlakte en volume (meet en bereken omtrek, oppervlakte, volume)

7) Posisie en beweging (kaarte en grafieke)

8) Transformasies (die gebruik van transformasies om tesselerings te skep)

9) Meetkundige patrone (uitbreiding en verandering van meetkundige patrone)

10) Getalsinne (die gebruik van getalsinne om probleme op te los)

11) Waarskynlikheid (die benoeming van die moontlike uitkoms van eksperimente, die aanteken van uitkomste van eksperimente)

 

1) Heelgetalle (rangskikking, vergelyking, voorstelling, plekwaarde en afronding, rond groot getalle af)

2) Vermenigvuldiging (skatting, kolommetode, probleemoplossing)

3) Gewone breuke (vergelyking van gewone breuke, ekwivalensie, herleiding van desimale na gewone breuke, herleiding van persentasies en gewone breuke, optel en aftrek van breuke)

4) Eienskappe van 3D-voorwerpe (identifisering van nette, interpretasie, vergelyking en sortering van 3D-voorwerpe, maak van modelle met 3D-voorwerpe

5) Geskiedenis en ontwikkeling van meting (oorsigtelik)

6) Omtrek, oppervlakte en volume (omtrek, oppervlakte van reghoeke; volume en buite-oppervlakte van voorwerpe)

7) Deling (langdeling en omgekeerde bewerkings)

8) Getalsinne (getalsinne, reëls en probleemoplossing)

9) Transformasies (vergroting en verkleining van vorms, bv met ’n faktor van 2 of 3, die vergelyking van groottes en vorms van driehoeke en vierkante; die herkenning van transformasies)

10) Ligging en verskuiwing (kaarte, ruitnette, die veranderings van liggings uit ’n ruitnet, straatkaarte, kaarte en kompasrigtings)

11) Waarskynlikheid (uitkomste van eksperimente en optekening daarvan)

 

Kernbron: Platinum Wiskunde, Maskew Miller Longman

Gevolgtrekking

Met die bestudering van die tabelle sal dit duidelik wees hoe progressie van die een graad na die ander graad plaasvind en ook watter eise dit aan die leerder stel.

Die sprong na die senior fase is groot en dit wat in die intermediêre fase gedoen is, moet vasgelê word. Ek het meermale ondervind dat leerders in die senior fase probleme ondervind as die basiese konsepte nie 100% vasgelê is nie. (Hoe kan van ’n leerder verwag word om getalle in eksponensiële voor te stel en te vergelyk as die basiese konsepte van telgetalle nog nie vasgelê is nie?) Die intermediêre fase is van uiterste belang, want leerders word in die senior fase onmiddellik gekonfronteer met eksponente, meting, funksies en verwantskappe, numeriese patrone, algebraïese uitdrukkings en vergelykings (om ’n paar te noem), en waarskynlikheid, wat so gerieflik gesystap word.

Met dit in gedagte kan die opvoeder en ouer duidelik uit die tabelle identifiseer watter areas nie gedek sal kan word nie. Ouers kan dan veral inskerping doen tov die modules wat ’n jaar moet oorstaan. Hoewel die vermoë van ’n kind nooit onderskat moet word nie, is deurlopende herhaling en hersiening nodig om kernkonsepte wat behandel is, vas te lê.

Die noodplan maak wel voorsiening vir die aanspreek van kernareas, maar areas wat weggelaat word en oorstaan na die volgende jaar, moet tuis ook aangespreek word om te verhoed dat verworwe kennis verlore gaan.

In ’n vraag hoe om die agterstand te verhoed, is genoem dat ’n inhaalplan beskikbaar gestel sal word wat agterstande sal inhaal.

Om dié inhaalplan te ondersteun, kan ’n kollektiewe benadering en samewerking tussen ouers, opvoeder en leerder gevolg word sodat leerders in pas kan bly met die eise wat die wiskundekurrikulum stel. Mens wil nooit ’n agterstand in wiskunde skep nie, omdat ’n agterstand in baie gevalle net groter word.

Voorgestelde bronne

Daar is baie bronne beskikbaar ter aanvulling. Die Platinum-reeks wat deur baie skole gebruik word, is ’n baie goeie hulpmiddel by die onderrig van wiskunde. Dié reeks het ook ’n onderwysersgids beskikbaar wat die leeruitkomstes haarfyn uiteensit en memorandums vir die leerderboeke bied. In die gids is ook hersieningstoetse en eksamenvraestelle beskikbaar.

Nog ’n waardevolle bron, ook beskikbaar in Afrikaans en Engels, is Prac Maths van AM Seeliger en M-A Mouton. (megaprint@icon.co.za of 012 450 3907). Die oefeninge is doelgerig en die memorandums is 100% korrek uitgewerk.

Die DBE-boeke wat gratis aan skole verskaf word, is ook ’n goeie aanvullende bron vir vaslegging, opskerping en inskerping.

Vraestelle kan ook van webtuistes afgelaai word, maar dan is dit belangrik om die tabelle te bestudeer en seker te maak wanneer wat van toepassing is. Sien dan ook die vraestelbank met memorandums wat LitNet beskikbaar stel:

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Die sillabus word met ’n doel uiteengesit soos wat dit uiteengesit is. Kontinuïteit en tydsverloop is belangrik om die modules op die regte tyd aan die bied. Dit sal byvoorbeeld nie sinvol wees om desimale breuke te doen as gewone breuke nog nie vasgelê is nie.

Met die nodige deursigtigheid, samewerking en toewyding is dit wel moontlik om die kernareas aan te spreek en ook die areas wat ter syde gestel moet word, vas te lê en in te skerp – sonder die nodigheid van aanvullende programme vir die toekoms om agterstande die hoof te bied.

https://www.litnet.co.za/category/skoleseminaar/

Lees ook:

Onderwysers met komorbiditeite: die feite en die publieke mening

Afrikaanse dialekte in die klaskamer: Kô lat ôs praat

Adriana Francke help kinders sangdrome bewaarheid

Skole: die implikasies van die "nuwe normaal"

Die virus in die onderwys: ’n onderhoud met Michael le Cordeur

Soos altyd

Risky reopening of schools?

COVID-19 en skole: Bly kalm en fokus op die beste belang van ons kinders

Nasionale inperking: Só kan Afrikaansonnies aanlyn onderrig

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top