Onderwysers met komorbiditeite: die feite en die publieke mening

  • 4

Fotobron: Canva

Die mees onlangse statistieke (30 Junie 2020) soos weergegee deur die Departement van Basiese Onderwys (DBE) dui daarop dat 775 skole direk geraak is deur die koronavirus. 1 169 opvoeders is geïnfekteer (Mia Lindeque, EWN, 30 Junie). Sterfgevalle in dié verband is nie ’n uitsondering nie. ’n Klein aantal kinders, meer as 500 altesaam, is geïnfekteer soos berig deur Sisonke Mlama (Cape Argus, 26 Junie). Vakbonde pleit dat skole moet sluit tot afplatting van die infeksiekoers, maar politieke partye hou voet by stuk dat die reg op basiese onderrig nie ontneem mag word nie. Sadou en Naptosa, twee onderwysunies wat 75% van die onderwysers verteenwoordig, ondersteun die beginsel dat alle skole onder die huidige omstandighede moet sluit, omdat effektiewe leer nie kan plaasvind nie (Ayanda Mthwetha, Daily Maverick, 15 Julie). Volgens die unies sal skole veiliger wees teen die einde van Augustus as die somermaande aanbreek.

Die lae infeksiekoers van kinders word voorgehou as maatstaf ter ondersteuning van die argument dat skole oop moet bly en dat leer en onderrig so normaal as moontlik moet voortgaan.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, sê in ’n persverklaring (The Citizen, 17 Julie) dat meer as 16 000 onderwysers begeleidende siektes, oftewel komorbiditeite, aangemeld het. Sy het die getal na ’n versoek van die DA se Nomsa Marchesi bevestig op 16 168 komorbiditeitsgevalle (Baldwin Ndaba, IOL, 17 Julie). Die getal sal finaal bevestig word nadat aansoeke verwerk is en konsessies toegestaan is.

Ouers is verdeeld. Sommige kinders word tuis onderrig. Die res word geakkommodeer in skole waar kontaktyd so beplan is dat leerders in groepe verdeel word en al om die beurt onderrig ontvang. Die besluit is geneem om die beginsel van sosiale distansiëring te handhaaf. Met ander woorde, dié wat by skole is, ontvang 50% van die 100%-kontaktyd wat ontvang moet word. Bykomend is baie van die onderwysers tuis.

Die standpunte van ouers hieroor vlam op in die media, veral oor opvoeders met begeleidende siekteverskynsels.

Ouers ondersteun die standpunt dat kinders die basiese reg op onderrig gegun moet word en glo dat die nodige voorsorgmaatreëls die virus in die kiem sal smoor. Daar is steeds ouers wat glo dat kinders nie geïnfekteer kan word nie. Die pleidooi is dat die akademiese skooljaar voltooi moet word – buig of bars. Werkende ouers ondervind logistieke probleme met kinders wat steeds tuis is.

Maar hoe en in watter mate en hoe suksesvol kan die volgepakte KABV-kurrikulum gedek word sonder agterstande aan die einde van die akademiese jaar? En dan is daar nog ’n persentasie van die opvoeders wat tuis is as gevolg van komorbiditeite. Die kurrikulum is aangepas. “Aangepas” impliseer dat kernmodules in die senior fase aangespreek word. Dit geld veral die kernvakke soos wiskunde en tale. Die akademiese jaar word dus sodoende suksesvol voltooi. Of nie? Die kurrikulum sal dan ook aangepas word vir die uitstaande grade wat nog moet terugkeer skool toe.

Die doelwit is vir seker haalbaar in die meer gegoede en ook die meeste van die voormalige Model C-skole. Fasiliteite is beskikbaar om die voorgelegde plan te akkommodeer.

Wat van skole in minder gegoede gebiede?

Die situasie in landelike gebiede en areas wat gekenmerk word deur geldnood, en skole wat geklassifiseer is as geenskoolfondsskole, lyk anders in die praktyk. Dié implementering is nie so maklik haalbaar nie. Skole wat in dié gebiede “gereed” is om kinders te ontvang, se gereedheid verskil ligjare van dié van meer gegoede skole.

Fasiliteite soos rekenaars is ’n skaars kommoditeit. Min of geen ouers kan die luukshede wat deur virtuele onderwys vereis word, bekostig nie. Dit is nie eers ’n waarskynlikheid nie. En dan is daar nog die opvoeders wat tuis is as gevolg van komorbiditeite. In van die skole, veral die in afgeleë gebiede, is ruimte vir onderrig beperk. Die beginsel ten opsigte van die handhawing van ’n sosiale afstand sou wel kon werk in ’n ruimte van 30 m² tot 40 m² met tussen 30 en 50 leerders, en in sommige gevalle, 60 leerders. Die vraag is hoe dit gedoen sal kan word. Gekombineerde klasse is nie ’n uitsondering in dié gebiede nie.

Die opvoeder gee dus klas in die ruimte, handhaaf ’n sosiale afstand en sorg dat kinders ’n sosiale afstand behou. En niemand sal geïnfekteer word nie, word gesê.

Die algemene gevoel van ouers oor opvoeders met komorbiditeite is onsimpatiek. “Leerkragte wat tuis sit, moenie vergoeding ontvang nie.” “Dank onderwysers met komorbiditeite af en stel mense aan wat wil werk.” “Onderwysers is lui.” “Wat maak onderwysers so spesiaal dat hulle by die huis mag sit en elke maand ’n salaris ontvang?” “Halveer die onderwysers se salarisse; dan sien ons hoe vinnig keer hulle terug klaskamers toe.” Dit is die algemene stereotipering van die “lui onderwyser / dom onderwyser / kripvreter”. Dié en soortgelyke stellings het die sosiale media die afgelope paar weke oorheers.

As scenario kan ons die salaris van ’n senior onderwyser met 20 jaar ondervinding halveer, soos van die ouers voorstel. (Neem in ag dat opvoeders vier jaar tersiêre opleiding het. Daar is wel baie wat ook nagraadse kwalifikasies het, soos honneurs- en meestersgrade, maar dit daar gelaat.) Die halvering van ’n salaris impliseer ’n netto salaris van R10 000 per maand. Daaroor kan mens seker opgewonde raak? ’n Gemiddelde gesin van vier se maandelikse premie by ’n mediese fonds beloop tussen R9 000 en R14 000 per maand. Gelukkig word ’n gedeelte, sowat R2 500, van die bedrag gesubsidieer.

Die opvoeders wat tuis is, het ’n volle werkslading. Dit bevraagteken die mening van ouers wat ongegronde stellings maak

Afgesien van die algemene siening van ’n “halwe werksdag”: in vier, ja vier vakansies het opvoeders bykomende werk ook om te doen. Intervensiegevalle word daagliks aangespreek en opgeteken. ’n Magdom administratiewe werk is deel van die pakket. Sosio-ekonomiese probleme is ’n hindernis wat hoofsaaklik deur die opvoeder aangespreek en hanteer word. Skole het nie meer sielkundiges wat die probleme aanspreek nie. Die “lui onderwyser” doen dit en gee dit dan ook verder deur na maatskaplike dienste of na ’n sielkundigespan wat ’n streek bedien.

Die vraag kan wel gevra word of die siektetoestand van sekere onderwysers werklik ’n kwessie is wat deur die Onderwysdepartement aangespreek moet word, of sou dit dalk meer sinvol wees as dit deur die betrokke skool self hanteer word?

Uit ’n gesprek met ’n skoolhoof wat anoniem wil bly, skyn dit asof die algemene gevoel is dat die hele proses deur die Onderwysdepartement goed hanteer word. Volgens die skoolhoof kan nie alle skole die finansiële las dra om addisionele onderwysers aan te stel en te vergoed nie. By dié betrokke skool is die vergoeding van die skoolbeheerliggaamposte alreeds met 50% gesnoei om addisionele leerkragte te vergoed wat aangestel is om waar te neem in siek onderwysers se plekke. Volgens dié skoolhoof is dit ongewens, maar dit is die beste wat van die situasie gemaak kan word. Die situasie word deur die skool en skoolbeheerliggaam bestuur wat dan aan die Onderwysdepartement verslag doen. Hy beklemtoon wel dat ’n skool ook nie kan voortgaan met “dooie onderwysers” nie, en raai dus onderwysers met komorbiditeite aan om eerder tuis te bly.

Komorbiditeite is nie ’n hoofpyn, diarree of griep nie. Dit is ook nie ouderdomsgebonde nie. Dit “gebeur” nie nét na die ouderdom van 60 jaar nie. Die mees algemene komorbiditeite wat opvoeders in ’n hoërisikogroep plaas, is diabetes, kanker, vaskulêre en kardiovaskulêre siektes, respiratoriese probleme en hipertensie. Daar word ook gekyk na lae-, medium- en hoërisikogroepe alvorens ’n besluit geneem word of ’n pasiënt wel as ’n komorbiditeitsgeval kan kwalifiseer.

Ockie Strydom, ’n mediese praktisyn van Joubertina, sê in ’n persoonlike onderhoud (22 Julie) dat dit nie so maklik is om te kwalifiseer vir konsessie nie. ’n Dokter kan wel ’n mediese verslag ter ondersteuning indien wat aanvaar mag word. Diegene wat dus wel die reg gegun is om van die huis te werk, het gerugsteunde mediese verslae van dokters en spesialiste ingedien wat genoegsame bewys lewer dat die pasiënt ’n geskiedenis van die siektetoestand het en steeds onder kroniese behandeling is en moet bly.

Die verslae word voorgelê aan die Departement van Onderwys, en ná deeglike oorweging word daar besluit of die opvoeder wel as ’n komorbiditeitsgeval geklassifiseer kan word en konsessie mag kry.

Die vraag oor wat onderwysers spesiaal maak, word dus met reg gevra. Die antwoord is logies. Die lewens van kinders geniet prioriteit; so ook die onderwyser se reg om lewe of dan ten minste om in ’n veilige omgewing te werk.

Skole sal oopbly. Waarom sal daar enige simpatie van die ouerkorps wees, veral dié wat tuis sit en dit hul doel maak om die kwaliteit van onderwysers wat vakkundiges is, heeltyd te bevraagteken en te kritiseer?

Waarskynlik is die gebrek aan insig en kennis ín dié situasie ’n groter komorbiditeit as die welstand van ’n opvoeder wat daaraan gewoond geraak het om heeltyd te gee met die wete dat niks terug verwag kan word nie.

https://www.litnet.co.za/category/menings/skoleseminaar/

  • 4

Kommentaar

  • Puik verslag met deeglike navorsing.

    Dankie hiervoor!

    Die ontsaglike groot taak en roeping van onderwysers verdien al die respek en ondersteuning waar nodig.

  • Hierdie artikel gee goeie verduideliking, maar ek stem steeds nie heeltemal saam dat die skole moes sluit nie. Die gevolg is net ’n meer ongelyke samelewing waar juis die minder gegoede nog meer agter raak. Kinder moet onderrig word om te kan leer.
    Gee die onderwysers met komorbiditeite dieselfde PPE as wat die gesondheidswerkers kry. Waar die kinders te veel is en die klasse te klein is, gee ’n oggendsessieskool en dan weer in die middag. Ek is self ’n onderwyseres in my vyftigs en is noem niks wat ek nie bereid is om self te doen nie.
    Waar ’n wil is, is ’n weg.

  • Avatar
    Llewellyn Abdoll

    Bygesê waar ek werk volg leerders nie sosiale afstand nie. Hulle praktiseer dit nie tuis nie. Hoe leer jy ’n kind sosiale afstand as hulle in groepe van tien/ vyftien skool toe stap? In die klas wil hulle van plek verskuif en dit kos ysere dissipline om hull tot orde te roep. ’n Weldeurdagte artikel. Ek hoop die groepe wat onnies net wil kritiseer. Léés dit en raak wys.

  • Avatar
    Trudie vd Merwe

    Hier hóór ek vir die eerste keer van *komorbiteit*. Dankie dat julle dit verduidelik watter siektes daar onder val. Kon dié woord nie eens in my woordeboek naslaan nie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top