Die virus in die onderwys: ’n onderhoud met Michael le Cordeur

  • 0

Michael le Cordeur praat met Naomi Meyer oor die skole in die tyd van COVID-19.

Michael le Cordeur (Foto: verskaf)

Die ongelykheid in die onderwysstelsel (en in die gemeenskappe waar die skole geleë is) word in hierdie dae geaksentueer, of hoe? Is dit nou die tyd om ongelykheid aan te spreek, of wat dink jy is die belangrikste dinge waaraan aandag gegee moet word?

Jy is heeltemal reg, Naomi. Dat Suid-Afrika die ongelykste land ter wêreld is, is nêrens meer opsigtelik as met ons onderwysstelsel nie. Die gebrek aan hulpbronne weerspieël die ongelykheid tussen skole. ’n Leerling van Braamfontein het vertel hoe sy een handboek met sewe ander leerders moes deel. Dit maak basiese onderwys soos huiswerk en leer vir eksamens onmoontlik. Altesaam 239 skole het geen elektrisiteit nie en 86% van skole het geen laboratoria nie. Dit plaas die Vierde Nywerheidsrevolusie buite hulle bereik. Die meeste arm skole in ons land is oorvol, wat die bestryding van die koronavirus baie moeilik maak, omdat sosiale afstande onmoontlik is.

Meer as 700 000 leerlinge moet daagliks lang afstande stap, terwyl ander riviere moet oorsteek. Leerlinge word aangerand, ander is verkrag en selfs vermoor op pad skool toe. Volgens ’n internasionale verslag kom onwettige puttoilette nog by 19% oftewel 2 703 skole voor en talle skole het geen sanitêre geriewe nie. In die Oos-Kaap is modderskole steeds in gebruik en in Limpopo kry sommige leerlinge klas onder ’n boom. Die afwesigheid van onderwysers is deur leerlinge as een van die vernaamste struikelblokke in hul strewe na sukses uitgewys.

Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het ons jongmense in die steek gelaat. Terwyl die meeste matrieks en hul ouers wonder hoe hulle matriek gaan deurkom, is daar skole waar leerders steeds om 8-uur met skool begin het, en leer tot die skool om 2-uur uitgaan. Aanlyn. Want sommige skole in ons land het toegang tot die beste tegnologie in die wêreld. Ek is verheug dat onderrig in sommige skole kon voortgaan, maar hoe normaal is dit dat te midde van soveel armoede en ellende sommige skole kan voortgaan terwyl die grootste gedeelte van ons land se leerlinge nie toegang tot aanlyn klasse het nie?

Wat die leerplanne betref: Wat is die belangrikste en kernbeginsels wat elke kind elke jaar moet leer? Is dit so eenvoudig soos wiskunde en tale? Wat is die belangrikste dinge wat 'n kind in die skool onder die knie moet kry?

Kom ons kry eers ons prioriteite reg – eksamens moet nie nou ons hooffokus wees nie. Nie net is dit onsensitief teenoor die meeste huishoudings nie, dit verhoog die spanning by leerlinge wat reeds wonder hoe hulle matriek gaan slaag en ouers wat wakker lê oor waar die volgende maaltyd vandaan gaan kom. Vir nou is dit belangrik om daarop te fokus dat almal gesond bly en om mekaar emosioneel te versorg. Veral diegene wat siek is of ’n geliefde aan die dood afgestaan het, benodig ons ondersteuning.

Wat die kurrikulum betref: Daar is ’n goeie rede waarom leerlinge in graad 1 met die drie basiese vaardighede van lees, skryf en somme maak begin – dit is die grondslag van enige onderwysstelsel. Daarom is ek verbaas dat die graad 1- en 2-leerlinge eers op 6 Julie skool toe gaan. Niemand anders is opgelei om ’n kind te leer lees nie, so dit is nie iets wat hulle met die jare sal aanleer nie. Dit moet in graad 1 gedoen word en dit moet reg gedoen word. Daarvoor het hulle al die tyd nodig wat hulle toekom.

Tale en wiskunde bied n breë basis vir alle ander vakke. So ja, vir nou dink ek hoef ons net te fokus op daardie vakke. Ander vakke kan later (2021) ingehaal word.

Mens dink oor baie dinge in hierdie tyd. Is skool se dae getel? Kan mens alles aanlyn leer? Hoe belangrik is enige ander dinge in die skoolomgewing, soos sport of buitemuurse aktiwiteite?

Met die inperking het leerlinge die wonder van die internet ontdek, en hulle sal voortgaan om dit te doen. Hulle het gesien watter onderwysers doen hul werk, en wie nie. E-leer gaan al hoe belangriker word, maar ek dink nie ons is al gereed om skool soos ons dit ken, prys te gee nie. Daarom sal geïntegreerde leer normaal word, waar klasonderwys – van aangesig tot aangesig – aangevul sal word met elektroniese leer. Leerlinge, en onderwysowerhede, het besef dat hulle nie elke dag (en heeldag) in die skool hoef te wees nie. Sommige skole se matrieks kom reeds net sekere dae skool toe vir interaksie met die onderwyser en ander leerders. Die res van die tyd word voor die rekenaar en tuis spandeer. Die inperkingstyd was en is die ideale geleentheid vir ouers om hul taak as primêre opvoeder te herontdek. Ouers moet toesien dat kinders by ’n roetine van leer en speel hou.

Maar e-leer alleen is nie voldoende nie. Jongmense is sosiale wesens en het sosiale interaksie nodig, want hulle benodig ook sosiale vaardighede om in die samelewing suksesvol te wees.

Is daar baie politieke opportunisme in hierdie tyd aan die gang tussen die verskillende rolspelers, en dink jy dis in die beste belang van die kinders?

Daar sal altyd opportuniste wees. Dit is deel van die lewe en die mens en dier se stryd om oorlewing: die sogenaamde survival of the fittest. Dis ook nie net politici nie. Selfs die mense wat in toue gestaan het vir kospakkies was opportunisties: Sommiges ontvang reeds Sassa-toelae, maar het ook aansoek gedoen vir die R350-noodfonds en steeds in lyne gaan staan vir kos. Hoeveel van hulle het ook Maandagoggend in ’n tou gaan staan vir drank?

As die regering dus skuiwergate oop los, sal mense dit altyd gebruik, en selfs misbruik tot hul voordeel. Ek stem nie saam daarmee nie, en ons almal hoop dat ander mense redelik sal optree, maar dit is wie die mens is.

Lees ook:

Nasionale inperking: Só kan Afrikaansonnies aanlyn onderrig

COVID-19 en skole: Bly kalm en fokus op die beste belang van ons kinders

Risky reopening of schools

COVID-19: Ongelykhede in die onderwysstelsel

Soos altyd

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top