COVID-19: Ongelykhede in die onderwysstelsel

  • 7

Danie van Wyk (foto: Naomi Bruwer)

Die openingsparagraaf van Charles Dickens se historiese roman A tale of two cities begin as volg: “It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity … we had everything before us, we had nothing before us.” Hiermee beskryf Dickens die kontraste tussen die twee stede Londen en Parys gedurende die Franse Revolusie.

Ons bevind ons tans in twee wêrelde in dieselfde land: ’n arm, agtergestelde gemeenskap wat in armoede gebore en ontvang was, om die Bybelse aanhaling in alle respek vir hierdie doel aan te pas, en ’n ryk, vermoënde gemeenskap wat nog nooit armoede ervaar het nie.

Die orkaan Katrina wat die Amerikaanse ooskus in 2005 getref het en grootskaalse verwoesting in veral New Orleans agtergelaat het, het daarin geslaag om die ongelykhede tussen arm en ryk op ’n ongekende wyse aan Amerikaners uit te wys. Skielik was Amerika nie meer die land waar almal blykbaar gelyke geleenthede het nie. Amerikaners was gekonfronteer met die werklikheid van armoede en agtergesteldheid van die armstes van die armes. Dit was ’n toneel van totale verwoesting, gepaardgaande met groot uitdagings aan die regering van die dag om die infrastruktuur en geboue van die verwoeste stede te herstel.

Met COVID-19 het ons nie hier te doen met die fisiese verwoesting van infrastruktuur nie, maar is onder beleg deur ’n vyand wat ons nie kan sien nie en wat die potensiaal het om ’n groot persentasie van die bevolking uit te wis indien daar nie in geslaag kan word om die stryd te oorwin nie. Die pandemie kon egter daarin slaag om die ongelykhede in ons samelewing te aksentueer, en die geweldige uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Hier ter plaatse sit ons met ’n situasie van ongelykhede in die onderwys wat die afgelope 26 jaar verder verdiep het. Die regering kon nie daarin slaag om die ongelykhede aan te spreek en uit te wis nie. Die grootste persentasie van publieke skole vandag is disfunksioneel met disfunksionele skoolbeheerliggame. Daar word geraam dat meer as 4 500 skole steeds putlatrines het, met ’n afwesigheid van water vir leerders en onderwysers. Dit is ’n skreiende skande op sigself. Op sommige plekke, veral in die Oos-Kaap, kry ’n groot aantal leerders steeds onderrig onder bome en in kleistrukture. Dit alles reflekteer swak op plaaslike en provinsiale regerings en die nasionale regering. ’n Ander uitdaging is die vandalisering van en brandstigting by skole wat feitlik net in armer woonbuurte plaasgevind het.

In plattelandse dorpe en in sekere stedelike bruin woonbuurte is skole wat met asbes en met hout opgerig was (plankieskole, soos in die volksmond bekend). Hierdie skole is in die meeste gevalle ouer as 60 jaar, in ’n bouvallige toestand en hou nie slegs vir die leerders ’n gevaar in nie, maar ook vir die personeellede verbonde aan daardie skole.

COVID-19-maatreëls gaan dit erg moeilik maak om in hierdie histories agtergestelde skole te bestuur. Dit sal een grootse poging van die staat verg om veral hierdie skole te ondersteun. Die feit dat daar ondernemings van die staat is dat alle publieke skole van seep, gesigsmaskers en saniteringsmateriaal voorsien gaan word, is ’n pluspunt. Hoe die departemente die gesondheids- en saniteringspakke egter betyds by die skole afgelewer gaan kry, is die groot vraag. Indien hulle nie skoolhandboeke betyds kon aflewer in die verlede nie, weet niemand hoe hulle dit nou gaan regkry voor die skole heropen op 1 Junie 2020 vir graad 7- en graad 12-leerders soos beplan nie. Voor daardie datum moet skole gesaniteer en gereed gekry word vir die aankoms van die leerders.

Skole wat in meer gegoede woonbuurte geleë is, is ’n posisie om hul geboue en toilette te saniteer soos verlang en sal hul eie addisionele voorrade kan aankoop, want hulle beskik oor die finansiële vermoëns om dit te doen.

Wat ons egter móét weet, is dat Suid-Afrika die mees ongelyke samelewing in die wêreld is, met twee wêrelde – die een wat die rykes verteenwoordig, en die ander die armstes van die armes. Hierdie twee wêrelde is onvergelykbaar. Wat in een skool as vanselfsprekend aanvaar word, is by ’n ander skool ’n uitdaging.

Skoolbeheerliggame is veronderstel om ’n ondersteunende rol te speel en hul volle samewerking te gee. Ongelukkig is dit in sommige skole onmoontlik, omdat dit in die meeste skole nie die geval is nie. Skoolhoofde bly grootliks aanspreeklik vir die veiligheid van leerders. Die vraag ontstaan hoe jy hierdie krisis bestuur. Skole bly steeds verantwoordelik vir die vereffening van hul munisipale en telefoonrekeninge asook kontrakte met diensverskaffers, en ervaar geweldige finansiële uitdagings.

Gedurende die grendelstaat kon skole wat beter daaraan toe is, lesse aanlyn vir hul leerders aanbied, omdat hulle daartoe toegerus is. Leerders beskik oor skootrekenaars of tablette wat onderrig vergemaklik het. Daar kon in baie gevalle met die afhandeling van die leerplanne voortgegaan word. Vergelyk daarmee ’n leerder wat in ’n informele woongebied in ’n sinkhut of in ’n agterplaas in ’n houthut woon waar geen elektrisiteit is nie. Die inperking word heel anders ervaar, met erge frustrasie. Voeg die tekort aan voedsel en hongersnood daarby om jou prentjie van die ongelykhede te voltooi. Die verskil tussen die sogenaamde ryk skole en skole in arm gemeenskappe is onvergelykbaar.

COVID-19 het baie swakplekke in regeringsbeleide en -maatreëls ontbloot. Dit het bewys hoe kwesbaar die armstes van die armes steeds is. Die beter lewe wat aan hulle belowe was, word nou al hoe meer ’n nagmerrie – ’n droom wat nie binne hul leeftyd ervaar sal word nie.

Dit wil soms voorkom asof die regering twee treë agteruit en een tree vorentoe gee. Die onderwysdepartement se prioriteite is heel skeef en neem nie die kwesbaarheid van leerders in ag nie. Die afhandeling van die kurrikulum kan onder geen omstandighede voorkeur kry om die akademiese jaar te red nie. Die lewens van kinders kan nie ’n politieke speelbal word nie. Ons bevind ons in ’n mynveld. Om daarin te haas sonder om die landmyne te ontlont, is moord op groot skaal.

Dit sal fyn voetwerk kos om hierdie krisis aan te spreek en gesamentlike oplossings te vind. Plek-plek kos dit die wysheid van ’n Salomo. Laat ons egter nie hoop opgee nie. Hierdie krisis mag dalk iets goeds inhou.

Sir Winston Churchill verskaf moontlik die antwoord in hierdie gesegde van hom: “Never waste a good crisis. In challenging times, one must question the accepted reality because things are going wrong, rapid answers are needed and the solution may well be found outside the usual compass.”

Danie van Wyk
Bestuurder: Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust (Wes-Kaap)

  • 7

Kommentaar

  • Dankie, dit is nou die goddelike waarheid. Ek verstaan nie hoe die regering en DBE dit nie kan raak sien of is dit ’n kwessie van, hulle het in die verlede so aanvaar, ons gaan net aan. Dis so onregverdig en wat dit verder slegter maak is die DA wat reageer en arrogant is oor die hele aangeleentheid. Hulle stoomroller net aan.

  • Avatar
    Sanette Smit - gebruik skuilnaam: (Bang Onnie)

    Ek voel om met lewens van leerders en personeel te dobbel is onverantwoordelik. Kinders steek dalk nie so maklik aan nie, maar baie kinders bly by oupa en ouma, wat wel maklik siek word. En met honger wat hul weerbaarheid ook aantas, is dit doodeenvoudig gevaarlik. En net mooi wanneer AL die grade terug is, word die piek van die pandemie hier verwag. Hoe slim om juis dan almal opmekaar in skole te hê... Skryf hierdie skooljaar af. As dinge teen Oktober/November beter lyk, laat die kinders dan vir die laaste 6 weke of so weer skoolgaan, net om hersiening te doen en hulle weer aan die gang te kry vir die nuwe skooljaar in 2021, sodat hulle kan hersiening doen en weer in die skoolopset kan kom. En begin dan dieselfde graad oor in 2021. Kurrikulum regverdig nie lewens nie. Buitendien, baie kinders gaan nie skool toe kom vanjaar nie (ouers se besluit vir veiligheid) en as kinders siek word, gaan die skool weer moet toemaak. Sulke aan en af skoolganery gaan nie werk nie. Los dit liewer.

  • Avatar
    Marina van Eeden

    Puik in-’n-neutedop-artikel.
    My logika wil dit hê dat die regering alle beskikbare hulpbronne nou sal gebruik om toe te sien dat die infrastruktuurkrisis nou aangespreek word. Los nou eers die miljoene vir maskers ens. Die maskers gaan elk geval nie funksioneel in ons laerskole wees nie. Ons begin dan die skole weer Oktober. Dan doen ons hersiening en kwartaal 2 se kurrikulum. In 2021 gaan ons voort met kwartaal 3 en 4. Dus ’n blokverskuiwing. Dan ’n Junie-wintervakansie en ons skooljaar verander (post COVID-19) van Julie tot Julie.
    Ons kan nie die skole in vlak 4 of 3 van inperking open nie. Dit maak op geen vlak sin nie, bring slegs uitdagings mee. Die ekonomie moet eers funksioneer dat daar geld in die huise kan wees vir vervoer en ander eise wat met skoolgaan gepaard gaan ook. Maar die hooffokus moet wees om die disfunksionele skole ten minste tov infrastruktuur eers deeglik te ondersteun.

  • Avatar
    Constance De Villiers

    Die naakte feite. Niks minder of meer was in die artikel uitgelig. Ticking Timebom!

  • Avatar
    Sylvia Thomas

    Ek hoop die owerhede lees en verstaan. Dankie Danie... wat jy sê, is nie verwyte nie, dis feite... Dit breek mens se hart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top