Soos altyd

  • 1

Maandagoggend ry ek en die gemaskerde graad 7 na die skool. Die verkeer is lig; by die robot is daar slegs ’n takealot-voertuig. My vrag – van groter waarde as enige ander aflewering – klim uit die motor, ekstaties om die skoolterrein te sien.

Ek is verbaas om te sien dat hier tog ouers opgedaag het; tot laataand was die gesprek op die klasgroep: To be or not to be? Heropen die skool wél môre of nie?

In die ander motors sit die ander ouers agter hulle maskers. Vir hulle het ek die afgelope tyd op die einste WhatsApp-groep leer ken.

Daar was grappies op die groep: Ek het ’n moeilike besluit om te neem: moet ek my kind op Maandagoggend by die skool aflaai of hom saamvat om by my in die ry te gaan staan voor die drankwinkel dat hy kan help dra?

’n Prettige skoolvideo is gedeel: een waarin die onderwysers, aangetrek as kinders in skooluniform, die higiëneprotokol by die skool demonstreer.

Heelwat boodskappe oor waarom dit ’n goeie idee is om kinders skool toe te stuur (gewoonlik ’n mediese dokter wat met groot gesag ’n soort videolesing vir die angstige ouers aanbied).

Die onderliggende narratief: Sal my kind veilig wees as hy of sy teruggaan skool toe?

Ek klim nie uit om met die ouers in die ander motors te gesels nie. Deesdae gesels ons almal eerder via WhatsApp met mekaar.

Ek volg social distancing. Om twee redes: die virus – en die adolessensie. Soos met die koronavirus: Mens moet jou afstand ken.

Die adolessent klop aan die venster nadat hy sy tas uit die kattebak gehaal het. Hy wil groet.

Ek weet nie of ek wil nie. Ek skakel die motor aan, trek weg.

Ek voel soos Marlyn in Finding Nemo is, die harlekynvis met skeidingsangs. Bring vir die harlekyn nog wyn.

Elders in die dorp stuur iemand vir my ’n WhatAapp-video, staan mense in lang rye by die drankwinkels.

Ek ry huis toe. Daar hang ’n mistigheid oor die dorp. Dit bedek die ongelykheid. Ook in Cloetesville staan die skoolhekke oop, is daar roering en beweging.

Is dit nodig dat ons almal nadink oor die noodsaak van skool soos wat ons dit ken? ’n Artikel op News24 het gister hierdie vraag geopper.

 

Ek besef dat ek, vanuit my bevoorregte perspektief, nie begrip kan hê van hoe dit in al die skole in die land gaan nie.

Ek besef ook: Tydens die staat van inperking het die regering nog nie genoeg toetse gedoen om te bepaal hoeveel gevalle van COVID-19 werklik in die dorp se mistigheid skuil nie. En ook: Tydens die staat van inperking het niemand nog verbeeldingryke planne bedink om iets nuuts en anders rondom die land se verregaande-ongelyke skolesituasie te doen nie.

Toe ek die graad 7 die middag gaan haal, en ek hoor die dag was “fantasties”, maak dit my hart baie warm. Ek is dankbaar teenoor die skool wat slaggereed was. Ek sien ander ouers vreugdevol op Facebook inskrywings maak rondom hulle skole wat mooi vir hulle kinders gesorg het.

“Is daar môre skool?” whatsapp iemand later, op nog een van die vele WhatsApp-groepe waaraan ek tydens die inperkingstyd besef het ek behoort. “Wat sê Angie?”

“Ons hoor maar wat sê die skool,” kom die antwoord.

Dis ’n somerse 1 Junie die aand by die huis, met kinders wat in die buurt fietsry en mense wat bier in die hand staan en vleisbraai.

Dit voel byna soos altyd.

Miskien is dit die probleem.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Herman Meulemans

    Jazeker, Naomi, vanuit België heb ik jouw bijdragen en die van vele anderen, over de pandemie in Zuid-Afrika, met veel interesse gevolgd. Hun inhoud raakt elke keer aan de ziel, het binnenste van de mens.

    Omdat er elke dag zoveel te berichten valt, beperken de massamedia zich meestal tot wat er zich in eigen land, in de buurlanden of het eigen continent afspeelt. Over Zuid-Afrika heb ik in de Nederlandstalige kranten weinig gelezen, behalve dan dat de mensen vorige week terug alcohol konden kopen en daarvoor in de rij stonden - je schrijft er ook over in je artikel. Deze vaststelling geeft aan hoe belangrijk LitNet en zijn Zuid-Afrikaanse blik wel zijn in het gehele medialandschap.

    Er valt nog zoveel te zeggen.

    Ook het zelfstandige naamwoord "grendeltyd" (ik denk toch in de betekenis van lockdown) geeft weer aan hoe verrukkelijk het Afrikaans kan zijn. Je spreekt over social distancing. Wat zou ik graag "Nooit meer slapen" van Willem Frederik Hermans lezen. Blijkbaar staan mensen wanneer ze tot elkaar spreken op een grotere afstand van elkaar in de noordelijke landen. Ik merk dat duidelijk in Europa. In Scandinavië staan de mensen op grote afstand terwijl ze in Italië bijna op elkaars lippen zitten. Ik denk dat Zuid-Afrika in dit verband meer gelijkt op Italië. Wat moet het moeilijk zijn om dat principe van social distancing correct op te volgen!

    Gelukwensen met de uitgebreide, indringende berichtgeving van LitNet over Covid-19 en de polsslag van mensen. Persoonlijk vind ik het meer verantwoord om je kroost af te leveren aan de school dan naar de alcoholshop te gaan 🙂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top