COVID-19 en skole: Bly kalm en fokus op die beste belang van ons kinders

  • 6

Fotobron: Canva

Ons Grondwet bepaal dat die kind se beste belang deurslaggewend is in elke aangeleentheid wat ’n kind raak, en daarom is dit dié belangrikste kriterium in besluite oor onderwys in dié deurmekaar tyd. Wanneer daar gesoek word na antwoorde op die vraag: “Wat is nou in die beste belang van ons kinders en hul toekoms?”, word mens gekonfronteer met talle dilemmas.

Miskien gee dit perspektief om te kyk na ’n paar dinge wat nie in kinders se beste belang is nie:

Dit is vir seker nie in leerders se belang dat daar tot nou toe reeds 962 skole tydens die grendeltyd gevandaliseer is en dat van krane tot rekenaars eenvoudig gestroop is nie. Dit is ’n misdaad waardeur die toekoms van kinders gekneus word, en die oortreders behoort swaar gestraf word. Waarom kan skole nie nou deur van die 73 000 weermagtroepe wat ontplooi is, beveilig word nie? As al die ander skole gesluit moet bly tot die beskadigde skole almal weer herstel is, soos wat deur sekere vakbonde voorgestel word, gaan miljoene leerders benadeel word.

Hoe is dit moontlik dat, in die woorde van minister Motshekga, 3 500 skole “erge watertoevoeruitdagings beleef”? Onder normale omstandighede is dit onaanvaarbaar, maar waar goeie higiëne en gereelde handewas onmisbaar is om die verspreiding van die virus te stuit, is dit eenvoudig onverskoonbaar. Hoe vinnig sal die Onderwysdepartement die “uitdagings” nou kan aanspreek en noodwater en ablusiegeriewe wat aan COVID-19-regulasies voldoen, kan verskaf sodat skole weer kan funksioneer as hulle dit tot voor die krisis nie kon regkry nie? Die pandemie aksentueer die pynlike onbevoegdheid van talle amptenare op provinsiale vlak.

Die hoogs onprofessionele en deels chaotiese kommunikasie waarmee die voorgestelde planne van die heropening van skole aanvanklik deur die Departement van Basiese Onderwys aangekondig is, is in niemand se beste belang nie. Minister Motshekga kan nie verder bly uitstel om besluite te neem en dit te kommunikeer nie. Dit lei tot frustrasie en spanning by ouers, onderwysers en leerders, en ’n verdere verlies aan vertroue in dié departement.

Dit is nie in leerders se beste belang om oorhaastig terug te gaan na dikwels reeds oorvol klaskamers toe nie. Sosiale distansiëring tussen kinders en die dra van maskers sal, al gaan dit maar sukkel veral by jonger leerders, ’n vereiste moet wees vir die heropening van skole. So ook ontsmetting van klaskamers en kleedkamers en die daaglikse gebruik van elektroniese termometers. Die voorsorgmaatreëls sal vinniger ingestel kom as gemeenskappe wat oor kundigheid en fondse beskik, bydraes kan lewer en alles nie die verantwoordelikheid van die Onderwysdepartement bly nie. Daar is geldige vraagtekens oor die vermoë van die Departement van Basiese Onderwys om vooruit te beplan en vinnig en effektief op te tree.

Dit is egter ook nie in leerders se beste belang om nog veel langer ingehok te wees met ’n klomp ander mense in ’n klein ruimte, sonder speelplek, skootrekenaars, boeke en voldoende voedsame kos nie. Nege miljoen skoolleerders word nou blootgestel aan wanvoeding omdat hulle nie meer daagliks deur voedingskemas by die skool kos kry nie, en daar word nou reeds kinders met erge wanvoeding in hospitale opgeneem. Kindermishandeling het so dramaties toegeneem gedurende grendeltyd dat president Ramaphosa opdrag gegee het dat familiebeskermingseenhede versterk moet word, omdat soveel vroue en kinders in hul huise geterroriseer en gemolesteer word. Volgens dr Glenda Gray, voorsitter van die ministeriële advieskomitee, is die uitfasering van ons grendeltyd totaal onwetenskaplik en sinloos en is ons besig om kinders hul skoolonderrig te ontneem. Marc Mendelson, hoof van die afdeling aansteeklike siektes by Groote Schuur-hospitaal, stem met haar saam dat die grendeltyd in sy huidige vorm meer kwaad as goed doen.

Die oorvol Caps-kurrikulum was nog nooit in die beste belang van ons leerders nie, oa omdat dit geen tyd laat vir die inoefening van basiese kennis of vir noodsaaklike remediëring nie. Ook die oormatige assessering van leerders is nie in hul beste belang nie, omdat dit tyd en energie van leerders en onderwysers vermors wat beter aan kwaliteitonderrig bestee sou kon word. Daar is nou eenvoudig geen tyd meer vir onnodige leerinhoude, oormatige assessering en tydrowende administratiewe rompslomp nie, en daar moet gefokus word op die onmisbare boublokke van elke vak. Die Departement het al voorheen erken dat die huidige kurrikulum te wyd en oorvol is, maar geen daadwerklike optrede het gevolg nie. Mens kan net hoop dat daar nou reeds proaktief gewerk word om ’n meer sinvolle kurrikulum gereed te hê vir wanneer leerders weer teruggaan.

Dit is nie in kinders se belang as die volwassenes in hul lewe nou paniekerig en angstig oorreageer nie. Volwassenes mag nie die ontwrigtende invloed wat die virus op kinders en tieners se lewens het en die angstige belewing dat hul bekende wêreld in duie stort, onderskat nie. Hulle worstel met baie intense vrese en vrae: Gaan die virus my oupa en ouma doodmaak? Waar gaan ons kos kry as Pa sy werk verloor? Sal ek volgende jaar hoërskool toe kan gaan? Wanneer sal ek weer my maats sien? Sal ek vanjaar nog matriek kan skryf?

Wat is dan nou wel in die beste belang van kinders en hulle toekoms?

Dit is in hul beste belang dat hulle geleidelik weer sal teruggaan skool toe en met selfdissipline en harde werk die basiese leerstof van die graad waarin hulle is, sal bemeester. Baie van ons grootouers het in sessies skoolgegaan by Meester; gewoonlik eers die jonger en dan later in die dag die ouer leerders. Waarom kan dit nie nou weer gebeur nie? ’n Ander opsie is dat verskillende grade op verskillende dae kan skoolgaan, sodat onderwysers kans kry om die leerstof te verduidelik, probleme op te klaar en tuiswerk te gee. Leerders het, nieteenstaande al die ontwrigting, geleidelik weer ’n mate van normaliteit, roetine en struktuur nodig.

Prof Shabir Madhi van Wits is oortuig daarvan dat dit in die beste belang van leerders, veral jong leerders, is om nou terug te gaan skool toe. Volgens sy navorsing is kindersterftes aan COVID-19 baie raar en word hulle nie maklik aangesteek nie. Indien kinders wel die virus het, word hulle nie baie siek nie en hulle steek ook nie maklik ander aan nie. Leerders jonger as nege jaar vereis ook meer fisiese versorging, wat probleme gaan veroorsaak wanneer ouers weer gaan werk, en hulle het direkte onderrig-en-leer-aktiwiteite nodig om ’n stewige basis vir lees, skryf en reken te ontwikkel.

Leerders het nou gesonde, kalm, kreatiewe en dapper onderwysers nodig wat hulle begelei, hetsy aanlyn of terug in die skool. Onderwysers behoort nou aan leerders die boodskap te gee dat dinge weer sal regkom. ’n Laerskool in die noordelike voorstede van Kaapstad het in die grendeltyd hierdie versekering aan leerders gestuur: “Al is jy nou alleen by die huis, onthou jy is deel van ’n unieke skool. Jy is deel van ’n plek waar mense vir jou omgee. Moet dit nie vergeet nie. Ons sien hoe hard julle elke dag werk en hoe dapper julle is. Ons is trots op julle.”

Goeie onderwysers wat kwaliteitonderrig gee, is in die beste belang van leerders. Ons mag nie die fout maak om te dink dat tegnologie goeie of swak onderrig heeltemal kan vervang nie. Tegnologie kan goeie onderrig nog meer versterk, maar tegnologie kan nie swak onderrig vervang nie. Inteendeel, tegnologie beklemtoon juis die swakhede in skole, soos swak onderrigmetodes, powere onderwysbestuur en gebrekkige onderwysersopleiding. Volgens die navorser Nic Spaull het daar by ongeveer 80% van ons leerders byna geen sinvolle onderrig en leer plaasgevind tydens die grendeltyd nie, as gevolg van, onder andere, gebrekkige toegang tot tegnologie en ontoereikende voorbereiding vir afstandsonderrig vooraf.

Sterk leierskap wat in die beste belang van leerders en hul toekoms besluite neem en optree, is nou nodig. Onderwysleiers met emosionele intelligensie en morele moed, wat kreatief en proaktief kan dink en dapper besluite kan neem, is nou onmisbaar op elke vlak. Die gevaar is egter dat oormatige sentrale beheer deur die Departement van Basiese Onderwys in publieke skole daartoe kan lei dat bykans ’n hele akademiese jaar verlore gaan, en dit kan ons land nie bekostig nie. Ons kan ook nie bekostig dat SADOU besluite aan die minister voorskryf wat in hul beste belange is nie.

’n Sterk fokus op respek, verantwoordelikheid en selfdissipline is, veral nou, in die beste belang van leerders. Daar is geen plek of tyd meer in ons skole vir droogmaak en die disrespekvolle laegraadse terrorisering van onderwysers nie. Leerders sal toenemend groter verantwoordelikheid vir hul akademiese vordering moet neem en moet leer om met groter selfdissipline te werk.

Talle onderwysers het die afgelope weke baie hard en vernuwend gewerk en sommige het selfs met hul geld vir leerders lugtyd gekoop om hulle op datum te probeer hou. Hulle is helde in die pandemie en ons salueer hulle. Die gemiddelde ouderdom van onderwysers in ons land is 43 jaar; 32% van alle onderwysers is bo 50 en talle van hulle het onderliggende siektetoestande soos hoë bloeddruk en diabetes. Om personeel wat hulself moet afsonder tydelik te vervang, sal administratiewe uitdagings stel, maar dit kan gedoen word om onderwysers te beskerm.

Mens kan verstaan dat die baie onbeantwoorde vrae oor die pandemie besluitneming oor die onderwys hoogs kompleks maak. Maar dit is nie in die beste belang van leerders om skole eenvoudig gesluit te hou en die akademiese jaar af te skryf nie. Kom ons bly kalm en vind ’n middeweg tussen die mediese/gesondheidskant en die akademiese / finansiële kant om skade sover as moontlik te beperk. En kom ons probeer om altyd in die beste belang van ons kinders op te tree en nié in ideologiese belang nie.

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Marieta Charlyn Vosloo

    Die outeur lê klem op die regte waardes soos self-dissipline en respek. Sy rig 'n ernstige pleidooi aan leiers in basiese onderwys om in die beste belang van kinders op te tree, en sake wat aandag verg vanweë die aard van COVID-19 met dringendheid en erns aan te spreek. Ons hoop die wenke sal realiseer.

  • Avatar
    Madelé Heymans

    Dankie aan Dr. De Klerk -Luttig vir die moed om hierdie artikel, so goed nagevors en deurdink, aan te bied. Ek weet sy was self 'n onderwyser voor sy dosent in Opvoedkunde geword het. Sy het dus goeie agtergrond en kennis oor die aangeleentheid. Daarby besoek sy gereeld skole om lesings oor waardes aan te bied, en sy is dus op die hoogte van sake van ontwikkeling op elke gebied van die onderwys.
    Noudat die gewone leek meer inligting oor die virus, sy voorkoms en moontlike oorsake begin inwin, besef mens dat die groot ophef dalk onnodig was. Die heel beste nou vir die toekoms van die jeug, ouers en onderwysers, is dus om kalm te bly en die dag-tot-dag-krisisse die hoof te bied.

  • Avatar
    Thinus de Jager

    Dit is duidelik dat daar nie voldoende lesse uit die verlede geneem word nie. Die wiel word telkens herontwerp, maar die uitkoms is nie noodwendig dat dit rond is nie. ’n Deurdagte stuk.

  • Avatar
    Nico de Jager

    Die virus van korrupsie en disfunksie het ongelukkig lankal ons regering en onderwysstelsel besmet. Roei dit uit, dan is daar ’n kans op herstel.

  • Jeanette sowel as Thinus en Nico de Jager lê die vinger op die pols van die mislukking van die onderwysstelsel.
    Daar moet in geheel nuut gedink en opgetree word. 'n Nasionale Onderwysberaad/gesprek met alle belanghebbendes asook ervare en kundige kenners soos Dr. Jeanette de Klerk-Luttig sou nou meer as ooit van werklike waarde wees.

  • Goeie omskrywing van ’n ingewikkelde kwessie, binne ’n ingewikkelde nasionale en sosiale milieu. Die skrywer verwys na onderwysers wat “vernuwend werk” en dít maak mens opgewonde – hier is ’n geleentheid vir positiewe verandering (net soos wat daar geleentheid is om die mislukkings te besin) ... maar dit gaan vereis dat ons die orientasie van ons denke verander. Ouers speel ’n massiewe rol in die hantering van hierdie kwessie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top