Skole: die implikasies van die "nuwe normaal"

  • 4

Renette Symington, ’n Afrikaansonderwyseres, skryf oor die COVID-19-maatreëls in skole en deel foto's wat ’n blik bied op hoe skole tans funksioneer.

Dit klink en lyk soos iets uit ’n futuristiese bangmaakfilm: gemaskerde gesigte, instap-missproeiers, plakkers wat instellings reguleer en kinders in verskillende rigtings beveel. Selfs temperatuurmeters wat soos ’n pistool in Russiese roulette voor jou kop gehou word om jou lot te bepaal.

Toe nie. Hiérdie is skole se sogenaamde nuwe normaal.

Die eerste ding wat jou opval, is die stilte. Die gange is stil, die gebrom in klasse is nou net enkele stemme wat oor ’n afstand opklink. Die terrein is verlate. Dit is eienaardig, amper spookagtig.

Maar as jy iets genoeg kere doen, raak alles mettertyd mos maar ’n ritueel. Stap in, saniteer hande, saniteer skoene, saniteer banke. Herhaal.

Is ons besig om hierdie kiem totaal uit verband te ruk en hopeloos te veel erkenning aan iets betreklik onbenullig te gee? Mag wees, maar eerder bang Jan as dooie Jan.

..........

"Pouse kan jy nie naby jou maats sit en jou broodjie eet nie, want jy mag nie jou masker naby ander afhaal nie."

..........

Die skooldag begin met leerders wat by slegs een hoofhek aantree. Hulle beweeg dan deur verskillende stasies, waar hulle hande gesaniteer word en hulle temperatuur gemeet en aangeteken word. Hulle stap ook deur ’n missproeier om hulle klere, tasse en alle ander items te saniteer – beide wanneer hulle die terrein betree en wanneer hulle die terrein verlaat. Ons leerders mag dalk nie so vatbaar wees vir hierdie virus nie, maar daar is steeds oumas, oupas en kleintjies tuis.

Vir my as onderwyser is een van die grootste vreugdes die leerders se groete, drukke en gille wanneer hulle ná ’n vakansie terugkeer. Hierdie kwartaal was dit egter taboe om jou maats te omhels, al het jy hulle letterlik maande laas gesien. Pouse kan jy nie naby jou maats sit en jou broodjie eet nie, want jy mag nie jou masker naby ander afhaal nie. Jy het nou ook net een pouse eerder as twee – ons moet skoolure optimaal benut en al die administrasie neem baie tyd in beslag.

Kom jy in die klas, word jou hande gesaniteer (alkoholvrye saniteerder – die vel kan ook net sóveel chemiese middele per dag hanteer, maar dit is steeds ’n effektiewe saniteermiddel).

Jy neem dan jou sitplek in wat deur middel van ’n plakker toegewys is, sodat jy en die persoon in die klas na jou nie op dieselfde bank sit nie. As jy die klas verlaat, word jou bank en stoel deur die onderwyser gesaniteer en nie vir die volgende groep gebruik nie (tot tyd en wyl, aangesien slegs matrieks tans by die skool is). Die graadgroepe word verder in ’n A- en B-groep verdeel om die getalle in klaskamers te verminder, dus woon leerders net elke tweede dag skool by.

Daarna loop jy volgens plakkers in die gang soos skape in ’n drukgang, kruis-tot-kruis om afstand te verseker. ’n Draaitjie by die toilette ontaard in ’n proses meer ingewikkeld as veiligheidsbeheerpunte by die lughawe, aangesien slegs een toilet oop is. Die gebruik van enkele aangeduide toilethokkies en wasbakke word toegelaat, aangesien dit na elke gebruik ontsmet moet word.

Onderwysers praat hulle stemme hees, omdat ons deur maskers probeer onderrig, dít terwyl ons brille toewasem! Sekere klasse moet ook via video- of stemboodskappe opgeneem en aangestuur word aan leerders wat weens gesondheidsrisiko's nie skool mag bywoon nie.

Dit is ’n mondvol.

Dit is ’n nuwe, uitdagende normaal, veral vir mense wat nie verandering goed hanteer nie.

Dit is ’n tyd vir geduld en empatie. Dit is ’n eerste vir ons almal. Ons moet begrip hê vir die feit dat die meeste van ons ons bes doen. Baie onderwysers is nie tegnologies baie vaardig nie; van ons het klein kindertjies by die huis en niemand wat hulle kan oppas nie; van ons is effens ouer en baie bekommerd oor ons gesondheid. Ons moet begrip hê vir ouers. Baie van hulle is nie onderwysers nie en weet nie hoe om hulle kinders te help nie. Hulle het nie toegang tot die internet nie en ook nie geld om data vir hulle kinders te koop nie. Baie ouers is hulle werke kwyt en het tans baie groter bekommernisse as gedigontleding en algebra. En laastens: Ons moet geduld hê met ons kinders. Hulle ís en bly kinders, wat net soos die res van ons, moet aanpas by ’n nuwe normaal. ’n Normaal sonder sport, sonder interskole, sonder matriekafskeid, sonder skoolsnoepies, sonder interaksie en dikwels sonder ’n definitiewe struktuur.

Maar ons druk deur – en ons lag. Ons doen die beste wat ons kan te midde van die onbekende, want ons trap nou voetspore op onverkende terreine. Ons werk harder as ooit. En ons bly positief, want dit is wat Suid-Afrikaners doen.

Foto's: Lize Meyer en Renette Symington

  • 4

Kommentaar

  • Ek salueer elke onderwyser en ander betrokke persone wat sorg dat die skoolomgewing veilig is vir ons kinders en kleinkinders. Ek het net een dringende versoek aan ouers: Hou op met julle slimpraatjies voor julle kinders oor 'n regering wat dinge verkeerd hanteer en al sosiale mediapraatjies dat dit nie regtig so 'n
    gevaarlike virus is nie. Dril die ritueel van masker, hande was en sosiale afstand in by jou kind met 'n samewerkende gesindheid. Onderwysers het sóveel ander verantwoordelikhede en pligte. Karaktervorming en om jou kind 'n goeie landsburger en medemens te maak is ouers se plig. Aan al die onderwysers, sterkte!

  • Dit ruk aan my hart om te dink hoe beangs ons kinders, kleinkinders en onderwysers in hierdie vreemde vreesaanjaende tyd "normaal" moet probeer voortgaan. Die situasie herinner aan 'n soort apokaliptiese, futuristiese wetenskapfiksie ... Dis wel jammer dat spooknuus sowel as gedurige kritiek op die regering se maatreëls gedurig opduik. Ek het self vir baie jare Afrikaans Huistaal aangebied en weet hoe my voormalige kollegas moet voel oor die agterstand. Hef jul hande op na bo, prys Hom wat weet hoe ons elkeen voel. Hy sal aan elkeen die krag gee om hierdie miniskule klein reusemonster te oorwin.

  • Dis 100%reg Renie Laage, leer al die kinders om nie vir hulself te dink nie. Laat hulle soos skape reageer en ondemokratiese regulasies slaafs navolg, sonder om te dink daar lê baie meer agter die skans van Covid en leer hulle hoe word mense gemanupilleer deur die media oor te neem, die banke, die ATM's en hulle soos Mau Tse Tung ons geleer het - herhaal net 'n onwaarheid genoeg kere en jy breinspoel almal om alles te glo. En ja, Ina jaag hulle vrese op, sodat hulle enigiets vrywillig sal doen, terwyl ons land so stilletjies weggegee word. Ek salueer eerder die ouers wat hul kinders probeer perspektief gee. En moenie verbaas wees as 'n paar kinders van koolstofdioksied vergiftiging flou word en selfs in hospitale opgeneem word of erger nie. Net leerders wat siek is behoort maskers te dra. Die virus is wel gevaarlik omdat hy mensgemaak is en so maklik oordra. Maar as almal wat koors het huis toe gestuur word, is hierdie oormatige maatreëls onsinnig. In Mosselbaai area het ons slegs 6 Covid-gevalle wat nog siek is, van +- 60000 mense. Dwarsoor die wêreld, is sterftes 3,5% (volgens hoogste syfers en ,02% volgens laagste syfers. Leer almal eerder om alles na te vors en te ondersoek en hul hande te lê op alles wat hul in die hande kan kry en do vrydenkende onafhanklike individue te wees wat vir hul vryheid van spraak, beweging en menswees te veg.

  • Janie Oosthuysen

    Gaan kyk gerus op https://sacoronavirus.co.za na die updates. Krap diep en soek die kolom wat SA se populasie volgens ouderdom weergee. Daar sal jy sien dat daar ongeveer 20 miljoen mense in SA is tussen die ouderdom 0 en 19. En dat, tot op datum, nog net 6 mense van 19 jaar en jonger weens COVID-19 gesterf het. Ja, jy het reg gelees. Slegs 6 babas, kleuters, kinders en jongmense uit ’n moontlike 20 miljoen het al in SA aan COVID-19 beswyk. Laat jou dink, of hoe?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top