Skryf Afrikaans van A tot Z – Die essensiële gids vir taalgebruikers (heruitgawe)
Uitgewer: Pharos
Redakteurs: Sebastian Pistor, Dalene Müller
ISBN: 9781868902378
Sebastian Pistor, een van die redakteurs van Skryf Afrikaans van A tot Z (SAAZ3) praat met Naomi Meyer oor dié hersiene uitgawe.
Hallo Sebastian. Ek het die voorreg gehad om Pharos se derde hersiene uitgawe van Skryf Afrikaans van A tot Z te kon bekyk. Baie geluk hiermee! Die subtitel van die boek is: Die essensiële gids vir taalgebruikers. Is alle taalgebruikers van Afrikaans jul ideale lesers? Wie het julle in gedagte gehad toe hierdie Skryf Afrikaans van A tot Z (SAAZ3) hersien is?
SAAZ3 is vir alle taalgebruikers, maar veral skrywers, taalversorgers en vertalers in ʼn werksomgewing. Ook vryskuttaalpraktisyns en studente vind dit uiters nuttig. Hoewel SAAZ3 ’n essensiële bron is vir professionele taalwerkers wat daagliks Afrikaanse teks vir publikasie moet voorberei, kan enige Afrikaanse taalgebruiker uit hierdie onontbeerlike bron put om sy of haar skryfwerk te versorg.
...........
Hoewel SAAZ3 ’n essensiële bron is vir professionele taalwerkers wat daagliks Afrikaanse teks vir publikasie moet voorberei, kan enige Afrikaanse taalgebruiker uit hierdie onontbeerlike bron put om sy of haar skryfwerk te versorg.
.............
In die inleiding van die 2022-uitgawe is die klem vir my op die aspek van die dooie hout uitsny: “Die tyd vir die nuwe Afrikaans is hier – Kortpadafrikaans.” Voorbeelde wat genoem word, is spelwyses soos ’maraton’ wat as wisselvorm net so geldig is soos ’marathon’, of ’inskryfvorm’ in plaas van ’inskrywingsvorm’. Ek sien die inleiding wys ook op Nederlandse oorblyfsels in Afrikaans, soos die ’t’ van ’agt’ – en dat hedendaagse Afrikaanssprekers net sowel van ’ag’ kan praat. Is dit ’n wenk vir enigiemand wat in Afrikaans skryf, byvoorbeeld leerders wat opstelle moet skryf, joernaliste wat berigte skryf of skrywers wat boeke skryf: Hou dit kort, hou dit soepel, haal onnodige woorde en letters uit? Dus, moderne taal: kort, rats en gebruikersvriendelik. Of wat is die kriteria? Brei asseblief ’n bietjie uit op hierdie aspek van “kap uit wat onnodig is”.
Die wenk “hou dit kort” is, weer eens, vir alle taalgebruikers. Afrikaans het uit heelwat erfgoed, leengoed en eiegoed ontwikkel. Invloed uit ander tale het oor die eeue ons eie taalgebruik en spelvorme beïnvloed, en so is heelwat langer Nederlandse vorme mettertyd vereenvoudig of letters wat nie uitgespreek word nie, het weggeval in ons spelling. Natuurlik kan niemand vir ander voorskryf hoe hulle moet praat nie – sprekers in byvoorbeeld die noorde van die land gebruik ander woorde, frases en uitdrukkings as sprekers in ander dele van die land, en ’ag’ naas ’agt’ is maar een voorbeeld daarvan. Die verskillende variëteite van gesproke Afrikaans het ook/ok/oek ’n invloed op hoe mense skryf! Verder is dit ook so dat sommige mense kort en kragtig gesels, en ander borduur lank voort op een gedagte en gebruik baie herhalings wanneer hulle praat. Dit is ’n natuurlike taalverskynsel.
In skryftaal of versorgde teks wil ’n mens onnodige herhaling, verdubbeling, oorvleueling, vanselfsprekendhede en omslagtigheid beperk, aangesien die lesers die essensie van die boodskap so vinnig en maklik moontlik moet kan ontvang. So kan byvoorbeeld ’ ʼn onbekende bedrag geld’ net ’ʼn onbekende bedrag’, ’sy knik haar kop’ net ’sy knik’ of ’die speler het ʼn besering opgedoen’ net ’die speler is beseer’ wees, want dit dra presies dieselfde boodskap oor, maar korter. In vertalings van byvoorbeeld mediaverklarings en weervoorspellings is daar ook dikwels omslagtigheid, meestal onder invloed van die Engelse stelwyse: ’musikale direkteur’ in plaas van ’musiekdirekteur’ vir musical director of ’noordwestelike wind’ in stede van ’noordwestewind’ vir northwesterly wind.
.............
Die probleem is dat die meeste taalgebruikers nie genoeg moeite doen om woorde, frases en stelwyses na te slaan nie. Hulle vertaal dikwels net direk of letterlik uit Engels omdat dit vir hulle reg klink. As iets in Afrikaans en Engels dieselfde klink, moet ’n mens maar twee keer dink. En slaan dan na!
...............
Die probleem is dat die meeste taalgebruikers nie genoeg moeite doen om woorde, frases en stelwyses na te slaan nie. Hulle vertaal dikwels net direk of letterlik uit Engels omdat dit vir hulle reg klink. As iets in Afrikaans en Engels dieselfde klink, moet ’n mens maar twee keer dink. En slaan dan na!
Wat sê dit van die stand van Afrikaans as woorde sodanig in onbruik geraak het dat ’n mens die boek in die hand neem en heel eerste aan mediamense en radio-omroepers dink? Is dit ’n spieël wat opgehou word na ’n gewone spreker van Afrikaans, die taalgebruiker wat hom soepel hierin wil uitdruk? Ek het hierdie sin ook in die boek raakgesien: “Sy [dws Afrikaans se] soepelheid en aanpasbaarheid maak dat hy nog baie lank kan voortbestaan.” Neem asseblief die taal se temperatuur.
Alle tale ontwikkel en groei. Oral in die wêreld is daar al hoe meer kontak tussen verskillende tale, en Engels is die taal wat sekerlik die meeste ander tale beïnvloed weens die magdom nuwe woorde wat daagliks geskep word. Baie tale se uitbreiding en ontwikkeling beteken bloot meer en meer leenvertalings of sommer leenwoorde (soms net so uit Engels oorgeneem, soms met spellingveranderinge). In Afrikaanse omgangstaal is dit algemeen en normaal om Engelse terme te gebruik wat almal binne konteks gebruik word. Sprekers verkies dikwels om eerder die Engelse terme te gebruik omdat dit verstaanbaar is binne konteks. Dit is weliswaar so dat die gemiddelde Afrikaansspreker nie bewus sal wees van wat sekere woorde en terme in Afrikaans is nie, omdat hulle dit slegs in Engels hoor. Baie taalgebruikers beskou dit as gedwonge of onnatuurlik om “suiwer Afrikaans” te praat. Dit is selfs ’n uitdaging om in vandag se Engelse omgewing heeltyd aan elke woord, vakterm en enige ander konsepte slegs in Afrikaans te dink.
.............
Dit is weliswaar so dat die gemiddelde Afrikaansspreker nie bewus sal wees van wat sekere woorde en terme in Afrikaans is nie, omdat hulle dit slegs in Engels hoor. Baie taalgebruikers beskou dit as gedwonge of onnatuurlik om “suiwer Afrikaans” te praat. Dit is selfs ’n uitdaging om in vandag se Engelse omgewing heeltyd aan elke woord, vakterm en enige ander konsepte slegs in Afrikaans te dink.
...............
Die gedrukte media is juis die plek waar daar aan gewone sprekers gewys kan word dat Afrikaans “in Afrikaans” kan groei en vernuwe en dat dit wel natuurlik kan klink. Solank Afrikaanse taalgebruikers Afrikaans na die beste van hul vermoë gebruik, is die stand van Afrikaans dat dit lewend en organies is. Die Afrikaans van 2022 klink heel anders as die Afrikaans van 1922, en die Afrikaans wat oor ’n paar dekades van nou af gepraat gaan word, sal ook heel anders daar uitsien. In geskrewe Standaardafrikaans (soos in alle geskrewe tale) bly die standaardgebruik juis behoue en opgeteken, maar daar is ook soepelheid in die standaard nodig sodat die taal nie outyds en verstok raak, en selfs onbruikbaar nie!
Die titel bevat spesifiek die woord “skryf”. Hoe verskil algemene spreektaal (van al die verskillende variëteite) van die korrekte skryftaal? Is dit wenslik dat dit verskil? Moet die sprekers van die omgangstaal na taalgidse soos hierdie een kyk om hulle taalgebruik aan te pas, of geskied dit ook andersom, dat taalgidse aanpas by die sprekers se taalgebruik?
Ons moet onderskei tussen spreektaal/omgangstaal en versorgde geskrewe standaardtaal. Enige taal se geskrewe standaardvorme ontstaan uit die behoefte om terme en ander woorde uit die gesproke taal se betekenis so eenduidig as moontlik in die geskrewe vorm oor te dra. Dit is nodig omdat die spreker en luisteraar nie langs mekaar staan en die een kan verduidelik wat hy/sy bedoel as die ander een nie dadelik snap nie. Die konteks help dikwels om betekenis oor te dra, asook nieverbale leidrade soos visuele verwysings in die omgewing of liggaamstaal en gesigsuitdrukkings. Dit gaan verlore in geskrewe taal indien die konteks nie duidelik beskryf word nie. Om hierdie rede ontstaan daar standaardwoorde waarna almal kan verwys as die norm, en dus dieselfde deur beide standaardtaalsprekers en niestandaardtaalsprekers verstaan kan word.
Koerante, tydskrifte en boeke help om nuwe woorde en uitdrukkings in die spreektaal én geskrewe taal te skep en te vestig. Wanneer woorde genoeg in geskrewe bronne gebruik word, word dit uiteindelik weer in normeringsbronne soos woordeboeke en taalgidse soos hierdie een opgeneem. Sprekers skep woorde en gebruik naslaanbronne vir hul skryftaal. Bronne soos SAAZ3 teken spreektaal op en help met normering van die skryftaal en strewe daarna om woorde te laat voortleef, asook om die opsie te kan gee sou ’n leser of taalversorger dit wou naslaan en gebruik. Woordeboeke en taalgidse is juis daar om aan alle taalgebruikers wat spesifieke woorde en terme nie ken nie (of al vergeet het), leiding te gee.
Só is daar altyd ’n wisselwerking tussen taalgebruikers en professionele taalwerkers, en só groei Afrikaans!
Die boek bestaan uit drie dele. Deel I handel oor die praktyk van wetenskaplike Afrikaanse teksversorging, waaraan ’n aansienlike gedeelte van die boek gewy word. Ek het al ’n paar mense hoor sê hulle dink dat hulle proefleeswerk vir ’n publikasie kan doen. As ek na hierdie afdeling van die boek kyk, en lees “’n deeglike teksversorger volg presies dieselfde, kritiese werkwyse as ’n ondersoekende joernalis”, besef ek terdeë wat ’n kuns die praktyk van goeie teksversorging is. En hoe onontbeerlik hierdie boek vir ’n teksversorger is! Wat is ’n paar belangrike punte vir ’n teksversorger waarop hierdie boek klem lê?
Dit is ʼn betreklik algemene verskynsel dat mense dink hulle kan Afrikaanse proefleeswerk goed doen omdat hul huistaal Afrikaans is en hulle baie Afrikaans lees. Ons het egter al Afrikaanssprekendes met doktorsgrade teëgekom wat nie goed gevaar het in taaltoetse vir teksredakteurs nie. Dit verg gereelde oefening om ʼn gedissiplineerde skrywer of professionele, vertaler of teksversorger te wees. Die grondslag daarvoor is deeglike kennis van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) en voortdurende raadpleging van ander gesaghebbende naslaanbronne.
.............
Dit is ʼn betreklik algemene verskynsel dat mense dink hulle kan Afrikaanse proefleeswerk goed doen omdat hul huistaal Afrikaans is en hulle baie Afrikaans lees. Ons het egter al Afrikaanssprekendes met doktorsgrade teëgekom wat nie goed gevaar het in taaltoetse vir teksredakteurs nie. Dit verg gereelde oefening om ʼn gedissiplineerde skrywer of professionele, vertaler of teksversorger te wees.
................
’n Paar belangrike punte vir taalversorgers waarop SAAZ3 fokus, is die verskil tussen korrekte en keurige Afrikaans, die huisreëls by verskillende media- en uitgewersmaatskappye, die versorging van verskillende soorte tekste (byvoorbeeld koerantberigte teenoor lang manuskripte), wenke en slaggate by vertaling, voorbeelde van algemene foute in skryfwerk en redigering, die gebruik van e-speltoetsers, hoe om proefleestekens te gebruik, lees- en skryftekens, hoof- en kleinletters en afkortings. SAAZ3 gee ook spesifiek leiding oor onder andere persoonseiename, geslagsvorme, die skryf van lande, streke, plekke, regerings, departemente, groepe en organisasies se name, en die korrekte weergee van dae, datums en jaartalle.
Teksversorgers, sowel as algemene sprekers van Afrikaans, kan maar weet dat dit met taal werk soos met algemene feite en fopnuus: Net omdat die internet so sê, beteken dit nie dis korrek nie. Hoe gaan iemand wat twee verskillende spelwyses vir ’n woord raakgoogle, weet watter een is korrek?
Die wetenskaplike werkwyse om in gevalle soos hierdie te volg word uiteengesit in Deel I onder die afdeling “Naslaanbronne: soorte, rangorde en wyse van gebruik”. Dit kom daarop neer dat ʼn mens die tersaaklikste gesaghebbende bron of bronne vir die regte spelling van ʼn bepaalde woord, uitdrukking of naam moet raadpleeg.
Die gesaghebbendste bron vir geskrewe Afrikaans is en bly die jongste uitgawe van die AWS (elfde uitgawe, 2017). Dié bron word sedert 1917 deur taalkundiges en taalpraktisyns wat in die Afrikaanse Taalkommissie dien, in opdrag van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns opgestel en gereeld bygewerk. Die AWS gee duidelike, vaste riglyne vir spelling en skryfwyses in Standaardafrikaans. Daar is ook voorskrifte wat op sekere taalkwessies betrekking het wat in wetgewing vasgelê is. Hieronder tel die voorskrifte oor skryfwyses wat in die wetgewing oor metrisering vervat is, asook die amptelike spelling van Suid-Afrikaanse geografiese name.
Volgende in die rangorde is natuurlik bestaande gesaghebbende verklarende woordeboeke in Afrikaans, asook vertalende woordeboeke soos Pharos se Tweetalige Woordeboek (Afrikaans–Engels|Engels–Afrikaans), wat deur professionele taalkundiges en leksikograwe opgestel en bygewerk word. Daar is ook verskeie gesaghebbende taalgidse en handleidings beskikbaar. Enige twyfel oor skryfwyse of spelling kan in hierdie bronne nageslaan word om onsekerheid uit die weg te ruim. Hoewel die gesaghebbende bronne almal steeds as gedrukte boeke bestaan, word baie moeite deur verskeie uitgewers en taalinstansies gedoen om hierdie bronne ook elektronies beskikbaar te stel. Só byvoorbeeld is die AWS, die Verklarende Afrikaanse Woordeboek en die Tweetalige Woordeboek ook volledig op PharsoAanlyn beskikbaar.
Deel II van SAAZ3 is ’n A tot Z van taalkwessies. Hier kan ’n mens sien watter woord verkieslik is: ’naatloos’ teenoor ’soomloos’; ’bel’/’kontak’/’skakel’; gaan ’n vergadering ’plaasvind’ of is dit ’belê’? Hierdie afdeling sal interessant wees vir enigeen wat in Afrikaans skryf. Kan jy ’n bietjie meer hieroor sê?
Deel II van SAAZ3 is inderdaad die deel wat waarskynlik die meeste geraadpleeg word. Woorde en taaltameletjies is alfabeties gerangskik om vinnige naslaan te vergemaklik. Hier word honderde taalkwessies met voorbeelde bespreek, asook wisselvorme, verwarrende woorde en sinonieme gegee. Wat hierdie afdeling ook baie nuttig maak, is dat Engelse stelwyses uitgewys word, met die korrekte Afrikaanse vertaling. Enkele voorbeelde:
aandag Jy bepaal jou aandag by of wy jou aandag aan iets, spits jou op iets toe, of jy bestee/gee/skenk aandag aan ’n saak of vestig iemand se aandag op iets.
❏ pay no attention to jou nie aan iemand steur nie, nie op ’n versoek ingaan nie, nie op iets let nie of nie aandag daaraan gee nie.
blootlê x blootstel x ontbloot Blootlê beteken om bv wandade aan die lig te bring, openbaar te maak of aan die kaak te stel. Blootstel beteken om in gevaar te bring, onbeskerm te laat of oop te stel vir invloede. Ontbloot beteken om bv klere uit te trek.
klant x kliënt ’n Winkel het klante, maar ’n onderneming wat ’n professionele diens lewer, asook professionele of geleerde mense, behalwe dokters, het kliënte. Dokters het pasiënte. Veeartse het kliënte wie se diere die pasiënte is. Die gebruik van kliënt het verruim en dit kom al hoe meer voor waar klant oorspronklik gebruik is.
liefde
❏ there is no love lost between the two die twee (mense) kan mekaar nie veel/uitstaan/verdra nie, of hulle hou nie (bra) van mekaar nie [NIE: daar is geen liefde verlore tussen die twee nie].
naatloos x soomloos Naatloos kan in Afrikaans net in ’n letterlike sin gebruik word en beteken ’sonder ’n naat of nate’. Onder invloed van Engels se figuurlike gebruik word seamless soms anglisisties as naatloos vertaal of sommer net klakkeloos oorgeklank as soomloos wanneer ’seepglad’, ’vlot’ of ’sonder haakplek’ bedoel word: Die oorskakeling na die nuwe stelsel het gelukkig glad verloop. Seamless is in Afrikaans (letterlik) naatloos.
persent x present Jy is/het honderd persent reg; present is sinoniem met geskenk.
skou ’n Sinoniem vir tentoonstelling: Wapens word op die skou uitgestal.
➤ Sien ook TENTOONSTELLING X UITSTALLING.
Ek is by Deel III: Aarde en heelal, afbreek van woorde, reg en orde, geslag, transliterasie, vervoermiddels, woorde van vreemde herkoms, sport … Hoe het julle op hierdie verskillende kategorieë besluit? Waar begin mens as mens ’n groot kamer vol woorde wil sorteer – in watter rak pak ’n mens elkeen?
Daar is al 20 jaar gelede met die samestelling van SAAZ1 (2003, Dalene Müller) op die kategorieë en indeling van die inhoud besluit, en dit is so uitstekend gedoen dat dit nie nodig was om dit te verander nie. Ons het wel vir SAAZ2 (2012) ʼn nuwe deel bygevoeg: “Deel I: Die praktyk van wetenskaplike Afrikaanse teksversorging” – iets wat my na aan die hart lê.
Die oorspronklike kategorieë in Deel III was gebaseer op die jare lange versameling van taalkwessies en “taalslaggate” waarin verslaggewers, kopieskrywers, vertalers en teksversorgers deur die bank bly trap het. Die lys het sedert die negentigerjare bly groei en is met die manuskripvoorbereiding van SAAZ I in kategorieë georden. Die kategorieë in Deel III is alfabeties gerangskik, dus van die tematiese “Aarde en heelal” tot die taalkundige “Woordorde”, om naslaanwerk te vergemaklik. Die tematiese kategorieë stem ooreen met temas en vakgebiede waaroor daar dikwels in die media berig word, byvoorbeeld die sakewêreld, reg en orde, sport en vervoermiddels. Ander kategorieë is taalkategorieë wat ook ooreenstem met wat in die AWS bespreek word, byvoorbeeld die afbreek van woorde, lees- en skryftekens, hoof- en kleinletters, transliterasie, woorde van vreemde herkoms en woordorde.
Nou die dag staan ek langs die hokkieveld by die skool. Ek hoor die ouers wat oor hokkieposisies praat. Kort na die wedstryd kom slaan ek die Afrikaanse woorde na: regterbinnespeler, doelwagter, linkerskakel. Ek dink hoe eienaardig dit sal wees as doodgewone sprekers van Afrikaans, sal skree: “Mik! Slaan ’n doel!” Ek keer terug na die eerste vraag en die boek se subtitel: Is die boek gemik op algemene Afrikaansgebruikers, soos die ouers langs die hokkieveld? Of is dit, soos die argitekte van kusdorpe in Portugal of Spanje geredeneer het, ’n geval van: “If you build it, they will come.” As die boek en die woorde daar is, sal mense dit gebruik? Sal dit een van die boek se oogmerke of strewes wees? En dan ook: Nie al die sportsoorte is hierin opgeneem nie. Wat van byvoorbeeld perdry of waterpolo? Hoe is besluit wat die boek haal en wat nie? Is enigiets wat nie in die gedrukte SAAZ3 beskikbaar is nie, wel aanlyn beskikbaar?
Dit is baie prysenswaardig dat jy ná die hokkiewedstryd sekere sportterme in Afrikaans gaan naslaan het. Dit is hoe ons taalkennis ontwikkel en ons en die taal groei!
Soos vroeër genoem, in Afrikaanse omgangstaal is dit algemeen om Engelse terme binne sekere konteks te gebruik. Miskien sal die redaksie van ’n skoolkoerant oor die vorige Saterdag se hokkiewedstryd wil berig en verkies om eerder die Engelse terme te gebruik, en dit is verstaanbaar binne die konteks, want daar is ook ’n bepaalde teikenleser (die skoolkinders, ouers) wat alles reg sal verstaan.
By ’n professionele mediahuis of nasionale koerant wat wyd versprei word, sal die standaardtaal verkies word, en waar nodig kan woorde eers beskryf word voor dit weer en weer gebruik word. Koerante, tydskrifte en boeke kan dus wel ’n rol speel in die skep en vestiging van nuwe woorde in talle velde. Wanneer woorde genoeg in geskrewe bronne gebruik word, word dit uiteindelik weer opgeneem in normeringsbronne soos woordeboeke en taalgidse soos hierdie een. SAAZ3 strewe daarna om woorde te laat voortleef, asook om die opsie te kan gee sou ’n leser of taalversorger dit wou naslaan en gebruik.
..............
Wanneer woorde genoeg in geskrewe bronne gebruik word, word dit uiteindelik weer opgeneem in normeringsbronne soos woordeboeke en taalgidse soos hierdie een. SAAZ3 strewe daarna om woorde te laat voortleef, asook om die opsie te kan gee sou ’n leser of taalversorger dit wou naslaan en gebruik.
...............
Sport is ʼn gebied wat baie uitbrei, en daar is byvoorbeeld ’n byvoeging in SAAZ3 oor voertuigsport in hoofstuk 15. Sport is ’n gespesialiseerde veld soos baie ander vakgebiede. Daar is talle vakwoordeboeke wat oor die laaste dekades opgestel is juis om in die behoefte aan Afrikaanse terme in enige wetenskaplike, tegniese of ander vakgebied te voorsien. Al die vakgebiede, sport ingesluit, kan ongelukkig nie in een publikasie gedek word nie, veral nie ’n taalgids wat soveel ander kwessies ook aanraak nie. Dit sou iets wees vir ’n omvattende sportwoordeboek, hetsy beskikbaar in gedrukte of elektroniese formaat, of aanlyn. SAAZ3 gee wel die Afrikaanse terme vir atletiek, gholf, hokkie, krieket, netbal, rugby, seiljagvaart, sokker, tennis en voertuigsport, aangesien dié sportsoorte die algemeenste sportsoorte in Suid-Afrika is en oor geskryf word. Die gedrukte SAAZ3 is omgeskakel na aanlyn formaat (nie ’n e-publikasie nie) – die aanlyn SAAZ3 is beskikbaar op PharosAanlyn, as ’n enkelopsie, of as deel van ander opsies wat woordeboeke insluit.
Terwyl ek na ander sportsoorte en die sportterme in die boek gekyk het, het ek onmiddellik gedink aan iemand wat sport op die radio uitsaai. Jy moet ’n prent bou met woorde, want die luisteraar sien nie ’n span speel nie. Ek het ook gedink aan iemand wat ’n koerantberig skryf met nuusgebeure of sportuiteensettings. Hierdie gids behoort dus vir skoolkoerante beskikbaar te wees in elke skool, in mediakantore van radio-omroepers of TV-aanbieders, en joernaliste wat in Afrikaans skryf, op elke lessenaar. Watter ander professionele gebruikers van Afrikaans sal ook by ’n boek soos hierdie baat?
Dit is inderdaad so dat omroepers, uitsaaiers, verslaggewers en alle ander mense wat gereeld met teks werk (wat deur die ontvanger gehoor of gelees word), prentjies met woorde moet skilder. Hulle moet dit wat hulle sien gebeur, visueel probeer weergee deur slegs woorde te gebruik. Dié wat dit wat hulle sien die beste kan beskryf, dié wat die grootste skatkamer van woorde het om uit te put, dié wat die leser of luisteraar die beste kan intrek in dit wat hulle nie self kan sien of ervaar nie – dít is die skrywers en uitsaaiers wat die beste slaag in hul doel. Indien hierdie vaardigheid al op skoolvlak, by skoolkoerante en skoolradiostasies, ontwikkel word, kweek jy nuwe geslagte van professionele werkers in talle velde wat prentjies met hul woorde gaan skep!
...........
Mense het soveel verskillende belangstellingsvelde – vir party is dit sport, vir ander is dit die natuurlewe, kookkuns, die uitvoerende kunste, die wetenskap, toerisme. Dink net aan die pragtige woordbeelde wat byvoorbeeld reisjoernaliste kan optower! Uiteindelik kan almal wat die beste wil kommunikeer aan hul gehoor, hetsy deur die gesproke of die geskrewe woord in Afrikaans, in enige vakgebied by ’n boek soos hierdie baat.
................
Mense het soveel verskillende belangstellingsvelde – vir party is dit sport, vir ander is dit die natuurlewe, kookkuns, die uitvoerende kunste, die wetenskap, toerisme. Dink net aan die pragtige woordbeelde wat byvoorbeeld reisjoernaliste kan optower! Uiteindelik kan almal wat die beste wil kommunikeer aan hul gehoor, hetsy deur die gesproke of die geskrewe woord in Afrikaans, in enige vakgebied by ’n boek soos hierdie baat. SAAZ3 is daar vir skoolkinders, onderwysers, studente, dosente, joernaliste, vakspesialiste en enigiemand wat meer opsies wil hê om hul boodskap in goeie Afrikaans oor te dra.
My volgende vraag handel nie oor die uitkap van onnodige letters of moderne spelwyses nie. Dit handel oor die skep van woorde, om iets neer te skryf en op te teken. Dan bestaan dit. Help hierdie Skryf Afrikaans ’n keerwal bewerkstellig teen ’n storting van woorde wat in ’n groot donker poel afstort en nooit weer terugkeer nie? Is dit hoe dit met taal werk? Laat ek jou eerder vra: Hoe werk ’n taal?
’n Taal word eerstens gepraat, en alle tale word deur hul sprekers geskep. Taal word opgeteken en verskyn in gedrukte formaat of elektroniese formaat. Skrywers pen die taal neer en professionele taalwerkers teken die taal op in normeringsbronne soos woordeboeke en taalgidse. Skeppende skrywers verewig die taal in letterkunde, niefiksie en duisende ander skryfstukke, ook op sosiale media. Woorde wat nie meer nodig is nie en ook nie opgeteken word nie, verdwyn of verval in onbruik. Daar is honderde woorde en uitdrukkings in Afrikaans wat ’n paar dekades gelede nog wyd gebruik is in die spreektaal, maar nou vreemd klink op die hedendaagse Afrikaans oor. Dit is natuurlik dat sekere woorde verouder en uiteindelik uitsterf. Terselfdertyd kom nuwe woorde in omgang, en sommige daarvan bly, want die sprekers hou daarvan en gebruik dit. Daar is altyd mense wat kreatief met taal is. Selfs kinders kan nuwe woorde skep, soos die bloedjong meisietjie wat oor die radio vertel het hoe sy aan die woord ’koudserig’ gekom het. Haar woord is deur die Buro van die WAT erken en opgeneem.
Interessant hoe die taal saam met die tydsgees groei, hoe dit tred hou met woorde wat as seksisties en rassisties beskou kan word. Hoe wys SAAZ3 sulke voorbeelde uit om taalgebruikers leiding te gee?
Afrikaans hou beslis tred met en is sensitief vir woorde, skelname, stereotiperings en uitdrukkings wat krenk en aanstoot kan gee. Dit is een van die gebiede waarop ons nie agterbly nie en waarop vernuwing voortdurend plaasvind. SAAZ3 wys byvoorbeeld daarop dat ons nie meer in mediatekste “brandweer-, polisie-, ambulansmanne” nie, maar eerder “brandweerbeamptes”, “polisiebeamptes”, “ambulanspersoneel” of “paramedici” gebruik.
Rassistiese, seksistiese, stereotiperende taalgebruik, sensitiewe kwessies en woorde wat aanstoot gee, word in die alfabetiese lys belig (Deel II), en ook in Deel III, afdeling 9, “Lees- en skryftekens” en in afdeling 16, “Teksversorgers se rol by ’n koerante of tydskrif”, bespreek.
Die boek bied skryfriglyne vir Kaaps. Joernaliste van byvoorbeeld Son sal die boek as naslaanbron kan gebruik. Daar is wel ’n wye verskeidenheid variëteite van Afrikaans – nie net Kaaps nie. Voorsien julle dat nog meer variëteite in Afrikaans nuwe afdelings in ’n volgende SAAZ sal regverdig?
Daar kan beslis in die toekoms nuwe variëteite van Afrikaans ontstaan. Woorde uit verskillende variëteite van Afrikaans is al in verskeie bronne opgeneem, byvoorbeeld in Annerlike Afrikaans (Anton Prinsloo). Talle woorde uit niestandaardvariëteite van Afrikaans verskyn in die omvattende Woordeboek van die Afrikaanse Taal, en woorde wat vantevore deel van niestandaardvariëteite was het nou standaardstatus deurdat dit in die AWS opgeneem is.
Wat Kaaps betref, is dit noemenswaardig dat daar tans aan die Drietalige Woordeboek (Standaardafrikaans/Engels/Kaaps) gewerk word, en dit is selfs moontlik dat Kaaps uiteindelik as ’n nuwe taal erken kan word. Wanneer ’n variëteit in normeringsbronne opgeneem word, daar ’n letterkunde, koerante, tydskrifte en boeke daarin geskep word en dit amptelike status verkry, word dit ’n taal.
In SAAZ3 word Kaaps (of Kaapse vernakulêre Afrikaans) in Deel I ingesluit, met enkele voorbeelde en die woorde of uitdrukkings se betekenis, onder andere:
afbene wees: platsak wees
dikding/diknek: grootkop, ou in beheer – Ek dink nie eens my klagtes kom by die tronk se diknekke uit nie.
lange, ’n lange gooi: jou skaars hou, van die toneel verdwyn – Haar berk het ’n lange gegooi nadat sy hom vir papgeld gesue het.
piemp: verklik (piemper = verklikker) – Sy het die skollies wat met die gesteelde goed daar aangekom het, by die cops gaan piemp.
iemand se vel van sy gesig aftrek: iemand in die skande steek – Volgens haar trek die bure met hul geskel en gevloek haar vel van haar gesig af wanneer sy besoekers het.
SAAZ sal Kaaps bly insluit, hetsy in druk of aanlyn.
Hierdie gesprek het oor een boek gehandel. Watter ander naslaanbronne van Pharos is beskikbaar en waar kan mense dit in die hande kan kry?
Pharos bied ’n reeks gedrukte én digitale produkte aan gebruikers. Nuwe woordeboeke word telkens in beide gedrukte en aanlyn formaat beskikbaar gestel.
Pharos het ’n voltydse span leksikograwe wat voortdurend nuwe gedrukte woordeboeke in Afrikaans en Engels skryf en bywerk. Hieronder tel die gewilde Tweetalige Skoolwoordeboek en die Junior Tweetalige Skoolwoordeboek, asook die onlangse toevoeging in ons skoolstal, die tweetalige Grondslagfasewoordeboek. Pharos se vlagskip- tweetalige woordeboek, die Afrikaans–Engels Woordeboek / English-Afrikaans Dictionary, is ook aanlyn beskikbaar – nog ’n onontbeerlike hulpbron vir vertalers, redigeerders en opvoedkundiges.
Pharos het ook tweetalige en meertalige woordeboeke vir die nege amptelike Afrikatale in gedrukte formaat beskikbaar, en die South African Multilingual Dictionary (aanlyn en gedrukte boek).
Pharos het verskeie taal- en stylgidse as gedrukte bronne beskikbaar, onder andere die gesaghebbende AWS, Pharos Afrikaansgids, Sinonieme en verwante woorde, Spreekwoorde en ander segswyses (nuut in September), Afrikaans vir Almal, English for All, The essential companion for writers and editors en Plain Language en The Write Stuff. Sommige van hierdie boeke is ook op PharosAanlyn beskikbaar.
Vakwoordeboeke wat uit druk geraak het, is mettertyd gedigitaliseer en aanlyn beskikbaar gestel, waaronder die Plantkundewoordeboek, die Ekonomiese en bedryfswoordeboek, Geologiese en verwante terme, die Wiskundewoordeboek, die SA Musiekwoordeboek, die Woordeboek van Regs- en Handelsterme, die Tegniese Woordeboek en die Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe.
Pharos se aanlyn bronne is beskikbaar op PharosAanlyn by www.pharosaanlyn.co.za. Ons gedrukte boeke is by alle goeie boekhandelaars verkrygbaar, en kan ook deur digitale platforms bestel en afgelewer word.
Lees ook:
Die eerste Kaaps-woordeboek: ’n onderhoud met Quentin Williams
Die aap is uit die mou: Pharos se skoolwoordeboeke sal iets vir elke kind beteken
Nuut by Pharos: Grondslagfasewoordeboek / Foundation Phase dictionary
Pharos Woordeboeke: Groot Woordeboek Afrikaans en Nederlands
Pharos Woordeboeke en alle Suid-Afrikaanse tale as nasionale bate: ’n onderhoud