Pharos Afrikaansgids deur Nicol Faasen: ’n resensie

  • 5

Pharos Afrikaansgids
Nicol Faasen

Uitgewer: Pharos
ISBN: 9781868902095

Vertel my watter boeke is op jou bedkassie …

… en ek vertel jou wie jy is! (Overgeset synde: Watter leesgoed neem jý saam kleinhuisie toe?) Is jy een van daai mense wat verlore kan raak in ’n kookboek, ’n woordeboek, ’n ontbytpapboks …? Dan is die boek onder bespreking nét die ding vir jou: dit is boeiende leesgenot vol interessante nuwe inligting – pitkos en lekkerlees in dieselfde omslag saamgevat. Dié besonder begeerlike boek is die nuwe Pharos Afrikaansgids.

Dit is ’n praktiese, hedendaagse gids wat gemik is op hoërskoolleerders, onderwysers, studente en ander belangstellende taalgebruikers wat meer wil weet oor hoe om in Afrikaans te spel en skryf. Dit bied eenvoudige riglyne vir spelling en skryfwyses volgens die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Die inhoud is in die gees van, en in ooreenstemming met, die vereistes van die amptelike Kurrikulum- en Assesseringsbeleid-dokumente (KABV) vir Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal vir graad 7 tot 12.

Dié “een-stop”-naslaanbron is uiters toeganklik; die uitleg is maklik om te volg. Dit bestaan oorwegend uit lyste. (Ervare onderwysers sal hier hulle handjies vryf en sê dat “lyste ’n effektiewe manier van leer kan wees” en dat “niemand nog dood is van ’n bietjie papegaaiwerk nie!”)

Die gids is in drie dele verdeel, elk met ’n inleiding wat duidelik uiteensit wat in die afdeling voorlê. Die dele vul mekaar aan by wyse van kruisverwysings. Deel A, “Lyste”, bevat naslaanlyste van woorde wat dikwels spellingprobleme oplewer, meervoude en verkleinings, intensiewe vorme, vergelykings en nuwe en ou idiome. Alhoewel die skrywer dit duidelik stel dat sy bedoeling is om voorbeelde uit die hedendaagse omgangstaal te gebruik, is sekere “gewoontemisdadigers” (“usual suspects”) wat deur die jare skelm ingesluip het en steeds dopgehou moet word, uitgelaat, byvoorbeeld “interresant”, “gebasseer”, “kanseleer”, “opdraend” en “onverskoning”, en lê dit steeds op die onderwyser se weg om die leerders se aandag op hierdie en soortgelyke “probleemgevalle” te vestig. Die skrywer beveel dan ook aan dat die inligting voortdurend aangevul moet word deur ander verklarende woordeboeke, asook die AWS en ander bronne. Woorde wat nie in konteks aangebied word nie, byvoorbeeld in die afdeling sinonieme en antonieme (ble 128–41), kan ook self verder deur die leerder ondersoek word. Daar is nuttige vaste uitdrukkings om die idiomatiese taalgebruik te bevorder. Ek self maak egter moeilik vrede met die reeds erkende “‘geveg om lewe en dood” en “in stede van” – na die Engels “instead of” (126). Dog die ontdek van “moderne”, hedendaagse woorde en uitdrukkings, soos “bestudeerde onnetheid” en “dinosourus” vir iemand wat verouderde idees het, die Groot Appel (New York) en The Boss (Bruce Springsteen) (sien die verdere interessante lys op bl 259), verskaf genot.

Deel B, “Taal- en spelreëls”, is ’n naslaangedeelte wat belangrike en algemene taalreëls aan die hand van eenvoudige definisies en voorbeelde verduidelik. Onder andere word ook die gewraakte “dieet – diëte”, “ingenieur”, die oortreffende trap “mees opwindendste” en die probleem van -de of -te by swak verlede deelwoorde word hier vasgevat. (Ook hier is duidelike verwysings na spesifieke hoofstukke in die AWS wat verder geraadpleeg kan word.) Die afdeling oor betekenisleer, met onder andere woordeskatuitbreiding, woordskepping en taalvariasie, erfgoed, eiegoed, leengoed en anglisismes, is besonder interessant en insiggewend in die ontstaan en groei van Afrikaans: woorde soos “township” en “venue” (292 ) het lankal burgerreg verkry. Die woord “potgooi” kom van die Engels “podcast”, ens. ’n Enkele drukfout het in die oog gespring: op bl 272, onder “Massanaamwoorde”, verskyn die woord “suiker” ook verkeerdelik in vetdruk.

Deel C, “Sinsleer, kritiese taalbewustheid en tekstipes”, bevat nuttige en diepgaande inligting oor byvoorbeeld sinsoorte, woordorde in sinne en die bou van paragrawe. Daar is ook ’n kort oorsig oor tekstipes, byvoorbeeld mediatekste, advertensies, geskrewe interpersoonlike tekste en literêre tekste (drama, poësie en prosa). Alhoewel die inligting hieroor taamlik kripties aangebied word, probeer die gids geen kitsresepte of sogenaamde “vereistes” daarstel nie, maar word wesenlike kenmerke, grondtrekke en verdienstelikhede duidelik vooropgestel. Uiteindelik sal ook die voornemende skrywer baat vind by die inligting en sal hy vir seker aangemoedig voel om oorspronklikheid aan die dag te lê, die juiste woord te soek en fris beelde in te span.

Verdere faktore wat die gebruik van die gids vergemaklik, is die metodiese uiteensetting van die inleidende vrae in die blokkies wat die aandag trek en dan vestig op die verduideliking wat volg, die “let wel”-blokkies wat die aandag op belangrike reëls en ander inligting vestig, asook die uitgebreide register aan die einde van die gids wat die soek van spesifieke inligting vergemaklik.

Volgens die skrywer is die gids “nie ’n omvattende taalnaslaanboek nie” en moes daar “perke aan die omvang gestel word”. Desnieteenstaande is daar baie inligting – ’n onuitputlike bron van leer- en leesgenot. Daar is met kennis en ervaring gesif en besin en fyn beplan om ’n produk te lewer wat die kol tref. Hierdie gids dra sonder twyfel by tot ’n beter begrip van die Afrikaanse taalstruktuur en die bevordering van die taalvaardighede van diegene wat hulle daarin wil verdiep. En dit kweek ’n liefde en waardering vir die korrekte en mooie in Afrikaans. As ons hom só kan praat, lyk die toekoms blink!

Dus: leerders, onderwysers, studente, belangstellendes en lees- en leergierige boekwurms, maak plek vir hierdie knap gids met sy mooi blou baadjie. Sit hom in jou boekrak, langs jou bed, jou rusbank, neffens die slopemmer en bo-op die TV – en troef daarmee elke “awesome”, “smaakvol”, “mees belangrikste”, “kóntak”, “as volg”, “die man wie”, ens, ens, ens, wat jou TV-ete van steak en tjips bederf.

  • 5

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    Wat 'n heerlike plat-op-die-aarde resensie!
    Maar nou wonder ek net: die titel van die publikasie lyk/klink darem nie reg nie: Pharos Afrikaansgids?
    Hoekom nie eerder Pharos Afrikaanse gids nie?

    • Zesta Vorster

      Afrikaansgids (soos reisgids) = gids VIR Afrikaans, OOR Afrikaans; Afrikaanse Gids = 'n gids IN Afrikaans; vgl byvoorbeeld ook: Afrikaansonderwyser/ Afrikaanse onderwyser

  • Ek hou van Afrikaansgids, soos ook van Engelsonderwyser (die vak is "Engels", nie "Engelse" nie). 'n Afrikaanssprekende onderwyser kan 'n Afrikaans- of Engelsonderwyser wees!)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top