PEN Afrikaans: Om boeke in Kaaps te publiseer

  • 5

In hierdie aflewering van PEN Afrikaans se artikelreeks “Die wêreld van die skrywer” vertel Carolyn Meads, fiksie-uitgewer by Kwela Boeke en bestuurslid van PEN Afrikaans, meer oor boeke in Kaaps uitgee. Sy skets ook die historiese agtergrond en steek by skrywers kers op.

Carolyn Meads (foto: verskaf)

Die eerste tekste in Kaaps het al in die vroeë 1800’s verskyn, die eerste gedrukte boek in Kaaps, Gablomatiem, vermoedelik in 1856. Kaaps is egter lank as letterkundige taal misken. Maar nou is daar weer ’n oplewing in publikasies in dié variëteit. Kyk maar na die digbundels van Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal, en die novelle Kinnes (Kwela, 2018) deur Chase Rhys.

Geskiedenis van Kaaps

Dit is algemeen bekend dat Afrikaans sy oorsprong kan terugvoer na die koms van Nederlanders aan die Kaap en die kontak tussen tale wat hier plaasgevind het. Dié kontak was naamlik tussen Nederlands en enkele ander Wes-Europese tale, die Khoekhoegowab van die inheemse bevolking, en die Maleis, Javaans, Portugees, ensovoorts van die slawe wat uit Asië en die Ooskus van Afrika (insluitend Madagaskar) gebring is. Dit is egter minder bekend dat die eerste vorm van die taal wat toe ontstaan het inderwaarheid Kaaps was. Ook dat die eerste Afrikaanse tekste in Kaaps geskryf is – in Arabiese skrif!

Selfs voor die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) in 1652 ’n verversingspos aan die Kaap gestig het, was daar sporadiese kontak tussen Nederlands, Maleis en Khoekhoegowab. Só skryf Christo van Rensburg in So kry ons Afrikaans (Lapa, 2012). Dié kontak was weens Nederlanders wat na die Ooste gereis het, waar hul Nederlands deur Maleis en ander tale beïnvloed is. Hulle het soms in die Kaap aangeland op pad terug, waar hulle Khoekhoegowab gehoor het. Partykeer was hierdie Nederlanders skipbreukelinge. ’n Nederlandse ekspedisie in 1611 het byvoorbeeld die woord “kanna” by die Khoekhoe geleer. “Vandag is baie van daardie eerste woorde steeds deel van Kaaps,” skryf Van Rensburg.  

Ná die stigting van die verversingspos en die koms van die slawe in 1658 het die kontak tussen dié tale uiteraard verhoog en ’n groter impak gehad. Verskeie akademici benadruk in die boek Kaaps in fokus (African Sun Media, 2016), saamgestel deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers, dat die variëteit Kaaps die produk van dié kontak was. In een van die artikels in Kaaps in fokus noem Van Rensburg woorde wat reeds in daardie vroeë Kaaps gebruik is, soos “wate” (water) en “vagiet” (vergeet).  

In Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (SBA, 2018) skryf Hein Willemse dat slawe en politieke bannelinge uit Asië Islamitiese skole aan die Kaap die Goeie Hoop gestig het waar Kaaps sedert ongeveer 1815 as godsdienstaal ingespan is. Willemse se boek is ’n verwerking van Achmat Davids se The Afrikaans of the Cape Muslims (Protea, 2011). Davids het bevind dat godsdienstige geskrifte in daardie tyd in Afrikaans geskryf is, in Arabiese skrif wat aangepas is om die klanke van gesproke Kaaps weer te gee. Vier-en-sewentig van hierdie geskrifte is ontdek. Van die woorde uit die godsdienssfeer wat in Kaaps behoue gebly het, sluit volgens Willemse in “kanalla” (asseblief), “sjoekran” (dankie) en “motjie” (vrou).  

Davids het ook tydens sy navorsing bevind dat daar talle verwysings is na ’n boek wat in 1856 in Kaaps gepubliseer is, getiteld Gablomatiem. Geen kopie het behoue gebly nie, maar daar is genoeg bewyse dat dit die eerste gedrukte boek in Afrikaans is en dat dit in die variëteit Kaaps geskryf is.

Die oudste Afrikaanse publikasie in Arabiese skrif wat behoue gebly het, is Abubakr Effendi se Bayān nūd dīn (of Bajaan Oedien) wat in die1860’s geskryf en in 1879 gepubliseer is. Dit is ook die eerste boek in Kaaps wat van Arabiese skrif na Romeinse skrif toe oorgeskakel is (in 1881). Willemse wys op sekere Kaapse kenmerke in die teks, byvoorbeeld “miril” (middel), “maragh” (middag) en “noeragh” (nodig).  

Ná 1795, toe Brittanje die Kaap beset het, het die Khoekhoe en Vryburgerboere binneland toe getrek en die verdere kontak tussen hul tale het ander variëteite van Afrikaans tot gevolg gehad, hoewel dit ook invloede van Kaaps oorgehou het. Gesamentlik word daar volgens Van Rensburg na dié variëteite verwys as Grensafrikaans.

Afrikaans gestandaardiseer, Kaaps misken

Die Genootskap vir Regte Afrikaners wat in 1875 gestig is, het die verengelsing van die Kaap as ’n bedreiging vir Afrikaans gesien. Hulle doel was om Afrikaans te verhoog van spreektaal na skryftaal deur byvoorbeeld die opstel van taal- en spelreëls, die saamstel van woordeboeke, die publiseer van koerante, en die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Willemse erken in Kaaps in fokus dat die standaardisering ’n “besondere prestasie” is, maar beween die feit dat dit só gerig is “dat betekenisvolle seksies van die Afrikaanse spraakgemeenskap, meesal nie-wit sprekers, deurlopend uitgesluit is”. Die geskiedenis wys duidelik dat Afrikaans ontstaan het uit “die samekoms en wedersydse invloed van wit en swart”, maar die standaardisering van Afrikaans is deur bepaalde groepe aangewend om ’n wit nasionalistiese agenda te bevorder wat hierdie invloed misken het. Volgens Michael le Cordeur het die proses die “kreoolse aard” van Afrikaans ontken, terwyl die taal “gesuiwer is” van Khoe- en slawe-invloede. Die gevolg is dat Kaaps volgens Hendricks “bewustelik omseil” is – ’n situasie wat tot in die hoogbloei van apartheid voortgeduur het.  

Met dié dat Afrikaans met nasionalistiese Afrikanerdom verbind is, het daar ’n verdeling volgens ras plaasgevind tussen sprekers van Afrikaans en sprekers van die Kaapse variëteit. Onderdrukking op grond van ras het veroorsaak dat ’n werkersklas-identiteit aan Kaaps toegedig is. Die Groepsgebiedewet het ook ’n geografiese verdeling teweeg gebring. “Dat verskillende groeperinge binne die Afrikaanse gemeenskap vir so lank apart van mekaar gewoon het, sou daartoe lei dat hulle ook talig verder van mekaar sou groei. Sprekers van Kaaps en sprekers van Standaardafrikaans sou mettertyd in ’n ons-teenoor-hulle-verhouding verstrengel raak,” verduidelik Le Cordeur. Standaardafrikaans is deur die apartheidsregering bevorder terwyl Kaaps gemarginaliseer en gestigmatiseer is. Dyers meen dat dit waarskynlik die mees gestigmatiseerde variëteit van Afrikaans is.

Kaaps tydens apartheid

Adam Small is een van die enkele bruin skrywers wat Kaaps tydens apartheid in hoë letterkunde ingespan het, juis om stigmatisering teen te werk. SV Petersen en Peter Snyders het ook in dié tyd Kaaps in hul werke gebruik. Van Rensburg skryf dit is interessant om Small se “keuse van Kaaps in sy literêre werke te sien as ’n protes teen die gebruik van gestandaardiseerde Afrikaans. Gestandaardiseerde Afrikaans was die medium van die regeerders, wat soveel regte van die mense wat Kaaps praat, aangetas het”.  

Small verwoord self sy gevoel oor Kaaps in die voorwoord van die hersiene uitgawe van sy digbundel Kitaar my kruis (Haum, 1973) soos volg: “Kaaps is ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra: die volle lot, hulle volle lewens ‘met alles wat daarin is’; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal.”

Small het indertyd nie voldoende erkenning vir sy letterkundige bydrae gekry nie. Dit is eers in 2012 dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Small se drama-oeuvre met die Hertzogprys bekroon het.

Post-apartheid: Belangrikheid van publisering in Kaaps

Nou, na apartheid, sien ons ’n nuwe opbloei van letterkunde in Kaaps wat stigmatisering teenwerk. Die geskiedenis het gewys dat Kaaps in die vroegste tye as geskrewe taal aangewend is en dat dit uitdrukking kon gee aan hoë filosofiese en godsdienstige idees. Maar hierdie geskiedenis is misken. Om te wys dat Kaaps veel meer as ’n gesproke variëteit is, is die uitgee van boeke in Kaaps van uiterste belang. Gepubliseerde boeke kan in aanmerking kom vir pryse. En uiteindelik kry boeke in Kaaps nou deur middel van groot literêre pryse erkenning.

Ronelda Kamfer het die Eugène Maraisprys in 2009 ontvang vir haar debuutdigbundel, Noudat slapende honde (Kwela, 2008). Sy gebruik veral Kaapse woordeskat. In November verlede jaar het haar vierde bundel, Chinatown (Kwela 2019), verskyn. Nathan Trantraal se debuutdigbundel in Kaaps, Chokers en Survivors (Kwela, 2013), is in 2014 met ’n ATKV-Woordveertjie en in 2015 met die Ingrid Jonkerprys bekroon. Sy tweede digbundel, Alles het niet kom wôd (Kwela, 2017), het ’n Suid-Afrikaanse Letterkundeprys (SALA) in 2019 ontvang. Trantraal se derde digbundel, Oolog (Kwela, 2020), het in Februarie vanjaar verskyn. Chase Rhys se novelle, Kinnes, wat volledig in Kaaps geskryf is, is met die 2019 KykNET-Rapportprys in die filmkategorie bekroon. Kortverhale deur Trantraal en Rhys is in die Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek (Human & Rousseau, 2019) opgeneem. Dit wys hoe Kaaps geleidelik in die Afrikaanse kanon geïnkorporeer word. Die gewilde handelsnaam Vannie Kaap het ook in die afgelope paar jaar baie gedoen om ’n gevoel van trots ten opsigte van Kaaps aan te wakker. Die stigter van Vannie Kaap het pas onder die skrywersnaam Bernie Fabing ’n boek van memes uitgegee, getiteld Is alles oraait byrie hys?. Dit bevat materiaal in Kaaps wat op hul webtuiste en sosiale mediaplatforms gedeel is, asook nuwe memes.

Ek het van hierdie skrywers gevra hoekom dit vir hulle belangrik is om in Kaaps uit te gee.

Trantraal beklemtoon die voordele om jou in jou huistaal uit te druk. “It is vi my belangrik om inne taal te skryf waa in ek qualified voel,” sê Trantraal. “’n Taal wat ek goed genoeg ken om rond te speel mee. Oek, ek praat Kaaps. Hoekom sal ek nie in Kaaps skryf ie?”

’n Mens se leefwêreld is nou verbind aan jou taal. Om dit op outentieke manier uit te beeld, is dit beter om jou huistaal te gebruik. “Te veel Kaapse stories word vanuit ’n buite-perspektief vertel ennie narrative fokus meestal oppie lielikste aspekte vannie gemeenskap. Ek skryf in Kaaps sodat ek my eie kultuur kan curate,” sê Rhys. “As skrywer binne-innie gemeenskap moet ek baie versigtig wies oor wat ek kies om oorie Kaapse Vlakte te wys, want kuns het real-life gevolge. Daas ’n sensitiwiteit wat nodig is virrie vertel van Kaaps-verhale.”

Die wanpersepsie bestaan dat ’n skrywer in Engels moet skryf en publiseer om gelees te word en verkope van sy/haar boek te verseker, maar dit is nie waar nie. In Suid-Afrika is daar ’n lojale Afrikaanse lesersmark wat graag Afrikaans lees en boeke in dié taal koop. Trouens, plaaslike Afrikaanse boeke verkoop beter as plaaslike Engelse boeke. Engelse boeke wat in Suid-Afrika geskryf en gepubliseer word, moet meeding met ’n oorvloed Engelse boeke wat van die VSA en VK ingevoer word. Afrikaanse boeke kan egter net in Suid-Afrika gekry word. Dit geld ook vir die variëteit Kaaps. Jy gaan nie iewers anders in die wêreld Kaaps kry nie. Mense wil boeke in hul huistaal lees en kan dit net hier kry.

Dit is belangrik vir lesers om te sien dat hulle in boeke verteenwoordig word. “Representation matters,” sê Fabing. “It matters in every sphere of societal influence, including literature. There isn’t enough written Kaaps to match the widespread presence of spoken Kaaps. This has to change . . . aspris.”

Verskeie akademici, byvoorbeeld Dyers, Willemse en Le Cordeur in Kaaps in fokus, meen dit is veral belangrik dat skoolkinders hulself en hul huistaal in voorgeskrewe materiaal moet herken. “Onderwysers behoort toegerus te word met vaardighede om ’n bewustheid van die plek en waardigheid van niegestandaardiseerde Afrikaanse variëteite te waardeer en te bevorder,” skryf Willemse. As dit nie gebeur nie kan kinders wat Kaaps praat, volgens Dyers, ’n minderwaardigheidsgevoel ontwikkel. Dit stem hul negatief tot Afrikaans-onderrig in geheel en kan hul akademiese prestasie beïnvloed. Vir Kaaps om in onderrig geïnkorporeer te word, moet daar egter boeke bestaan wat voorgeskryf kan word. Dit is ’n verdere voordeel van publikasie in Kaaps.

Trantraal bewys dat Kaaps in ’n akademiese opset gebruik kan word – selfs op tersiêre vlak:  “Ek het my dissertation en thesis in Kaaps geskryf en ek het geslaag mette distinction. Soe, wat annes kan jy nog nie in Kaaps doenie? Sê vi my, dan sal ek jou wys hoe doen ek it, rus-rus.” Hy bied vanjaar ’n meestersgraad oor Kaaps in Kaaps by Rhodes-Universiteit aan.

Daar is ook uitdagings wat die uitgee van boeke in Kaaps betref. Ironies genoeg is dit, volgens Fabing, dieselfde uitdagings wat Afrikaans in die gesig gestaar het toe dit ondergeskik aan Nederlands geag is. Dit word gesien as die “los kind” van iets meer “suiwer” en dus nie ’n geskikte taal om in te publiseer nie. Dit is hierdie persepsie wat hy probeer verander. Oor Kaaps sê hy: “It was swept under the carpet, maa ek en my anne brasse staan hie met vacuum cleaners nou; ôs garrit trug yt syg.”

Die grootste uitdaging volgens Trantraal is “dat daa nie woordeboeke in Kaaps issie. En daa is niks autocorrect in Word vi Kaapse woorde nie. It is swaa om consistent te bly in terms van spelling en grammar, etc. En jy gie baie energy weg annie hele process van alles ’n honned kee te lies om te sien of jy een woord dieselfde spel orals. Dai is energy wat annie creative process behoot, soms voel ek soese taal engineer meer asse writer”.

Dit is ’n uitdaging wat deur vaste spel- en taalreëls vir die variëteit die hoof gebied kan word, met ander woorde ’n standaardisering van Kaaps wat taalkundige legitimiteit daaraan verleen. Trantraal het met Hendricks saamgewerk om die reëls vir sy gebruik van Kaaps te bepaal. “En als wat ek skryf is based op sound linguistic rules,” sê Trantraal. “Ek hettie net goed opgemaak soesit vi my gevoel et ie.”

Hendricks gee ’n taalkundige beskrywing van Kaaps in Kaaps in fokus. Hy dui byvoorbeeld op ontronding (“hys” vs. “huis”), klanke wat hoër of laer of korter uitgespreek word (“loep” vs. “loop”; “briek” vs. “breek”; “lastag” vs. “lastig”; “gan” vs. “gaan”), klanke wat wegval (“hie” vs. “hier; “wan” vs. “want”; “sôg” vs. “sorg”), en verskille by werkwoordvorme (“sal” vs. “sou”). Voorts dui hy ’n woordeskatlys aan, byvoorbeeld: “berk” (kêrel) en “witbene” of “witbiene” (dood).

Die publisering van boeke in Kaaps kan ook help met die standaardisering van die variëteit.

 “Standardisation begin by skrywers wat innie taal skryf,” verduidelik Trantraal. “Soe meer daa is om mee te wêk, soe makliker issit vi academics om te begin lee wattie rules vannie taal is. Ennit is iets wat baie tyd sal vat dink ek.” Publikasies in Kaaps skep ’n korpus waaruit woordelyste, woordeboeke, taalgidse en dies meer saamgestel kan word. Volgens hom sal dit help as elke skrywer wat in Kaaps skryf nie sy eie stel reëls opmaak nie. Alle skrywers is egter nie besorg hieroor of oor die standaardisering van Kaaps nie.

Nie net Kaapse woordelyste sal baat vind by verdere publikasies in Kaaps nie, maar ook bestaande woordeboeke in Standaardafrikaans wat bygewerk word. Hendricks benadruk dat Kaaps nie as ’n bedreiging vir Standaardafrikaans gesien moet word nie, maar eerder as ’n verryking van die taalskat. Hy meen die toekoms van Afrikaans lê daarin om Kaaps en byvoorbeeld Oranjerivierafrikaans as voedingsbron te benut “in diens van alle groeperinge wat hulle met Afrikaans vereenselwig”. Die mees onlangse uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (Pharos, 2017) bevat byvoorbeeld heelwat woorde uit Kaaps en Oranjerivierafrikaans, byvoorbeeld “poenankies” (oulik).

Heelwat is al gedoen om die stigmatisering van Kaaps teen te werk en erkenning aan die variëteit te gee, maar meer kan nog gedoen word. Die hoop bestaan dat nog skrywers na vore sal tree wat in hul huistaal, Kaaps, wil publiseer.

Carolyn Meads is die fiksie-uitgewer by Kwela Boeke, ’n druknaam wat ten doel het om diverse stories uit te gee wat nie vantevore gehoor is nie. Hierdie artikel het oorspronklik in Kaapse Bibliotekaris, Vol. 64, no.1, Jan/Feb 2020 verskyn.  

  • 5

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit is foutief om hedendaagse Kaaps as die oudste Afrikaansvarieteit te beskou, soos bv Michael le Cordeur in sy boek, Halala Suid-Afrika, 2019, p 271, doen. "Teen 1808 was Kaapse Afrikaans die huistaal van die meeste Kapenaars" (p 129). Daardie Kaapse Afrikaans of Kaaps-Hollands was iets anders as die hedendaagse Kaaps. Dit was bv vry van Engels omdat Engelssprekendes toe pas begin het om hulle aan die Kaap te vestig. Diegene wat hulle vir hedendaagse Kaaps, met sy groot komponent Engels, beywer, behoort hulleself af te vra of hulle die heil van Afrikaans, as wesenlik 'n nie-Engelse taal, bevorder.

  • Philippus P Janse van Rensburg

    Waar laat hierdie die bewering ons? Want, hedendaags het ons 'n nuwe variëteit, moderne "jongmens" Afrikaans met uitdrukkings en vertaalde woorde en gesegdes waar die invloed van Engels duidelikdie taal beïnvloed.
    Om te aanvaar dat Afrikaans deur die Genootskap "gesuiwer" is, klink vir my na dromery! Om agter die "skild" van Die Akademici te skuil, is blote selfbedrog en kweek 'n verwaandheid wat maklik lei tot onverdraagsame verwaandheid!

  • Met al die Engelse, Duitse, Franse, Portugese, Zulu-, Xhosa-, Xhoisan-, Maleis-Portugese woorde, is Afrikaans maar net uiters swak Nederlands.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top