Naomi Meyer en Liné Loff vra vir Marietta Schoeman en Annemie Stoman, albei betrokke by die Pharos-woordeboek, uit oor hoekom woordeboeke nog belangrik is, oor woorde wat uitsprei en meer word soos die sterre aan die hemel – en oor waar mens al die tale van die land kan gaan naslaan.
In ’n voortdurend veranderende wêreld, waarom is die gebruik van woordeboeke steeds belangrik? Kan ’n mens nie maar sommer net skryf soos ’n mens praat nie?
Afrikaans het ’n diepgewortelde geskiedenis wat betref die standaardisering van ons skryftaal. Om ’n taal formeel as skryftaal te vestig (oftewel te standaardiseer) is ’n komplekse proses wat oor jare en dekades plaasvind, en onderhewig is aan die veranderende sosiopolitieke en tegnologiese omgewings van die taalgebruikers. In informele skryftaal en omgangstaal ontstaan daar altyd nuwe variëteite, dialekte, sosiolekte en idiolekte, wat dan beperk is tot ’n sekere subgroep in die taalgemeenskap, en dus nie altyd 100% verstaanbaar is van een gemeenskap tot ’n volgende nie.
Standaarde vir geskrewe taal is dus noodsaaklik vir die oordrag van inligting en effektiewe kommunikasie. Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Afrikaans as skryftaal oor die afgelope eeu help vestig sodat Afrikaans tot op die hoogste vlakke bedryf kan word. Dit het aan Afrikaans ’n formele standaardstatus verleen sodat ons ons moedertaal op regeringsvlak, in die howe en media, en as volwaardige opvoedkundige en wetenskaplike taal kan gebruik.
Skrywers, joernaliste, taalwerkers, vakkundiges en die algemene publiek het ’n behoefte daaraan om deur middel van ’n standaardtaal te kommunikeer. Dit is die taak van taalkundiges en taalpraktisyns om nuwe woorde en vertalings in geskrewe taal te gebruik en in die taalgebruik van die sprekers te help vestig.
Woordeboekskrywers het die taak om die magdom woorde en betekenisse wat taalgebruikers gebruik, op te teken en te weerspieël in ’n geskrewe argief van die taal. Woordeboeke, as produkte van opgetekende data, is dan weer ’n woordeskatkis waaruit almal kan put (en ook leer) om daaglikse kommunikasie te verbeter. Alle taalgebruikers kan deur die gebruik van ons woordeboeke hul taalkennis verryk en hul algemene kennis uitbrei. In formele, geskrewe kommunikasie is dit wel noodsaaklik om grammatikanorme en spelreëls te volg.
Pharos bied toegang tot ’n verskeidenheid woordeboeke. Wil julle uitbrei op julle verskillende produkte of hulpbronne?
In ons huidige snelveranderende omgewing is dit belangrik om tegnologies by te bly, dus bied Pharos ’n reeks gedrukte én digitale produkte aan gebruikers.
Pharos het ’n voltydse span leksikograwe wat steeds nuwe gedrukte woordeboeke in Afrikaans en Engels skryf. Hieronder tel die gewilde Tweetalige Skoolwoordeboek en ’n onlangse toevoeging, die Junior Tweetalige Skoolwoordeboek. Nuwe woordeboeke wat verskyn, word telkens in beide gedrukte en aanlyn formaat beskikbaar gestel. Pharos se vlagskip- tweetalige woordeboek, die bekroonde Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse Woordeboek, met meer as 120 000 trefwoorde in elke taal plus meer as 100 000 frases en spreekwoorde, is ook aanlyn beskikbaar – ’n onontbeerlike hulpbron vir vertalers, redigeerders en opvoedkundiges.
Pharos het ook tweetalige en meertalige woordeboeke vir die nege amptelike Afrikatale beskikbaar, in gedrukte en aanlyn formaat. Hieronder tel ons die South African Multilingual Dictionary.
Skrywers en medewerkers van Pharos het oor die jare verskeie taal- en stylgidse saamgestel wat as gedrukte bronne beskikbaar is, onder andere Skryf Afrikaans van A tot Z, Die Pharos Afrikaansgids (wenner van ’n ATKV-woordveertjie in 2019), Sinonieme en verwante woorde, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, Afrikaans vir Almal, English for All, The essential companion for writers and editors en The Write Stuff. Sommige van hierdie boeke is ook op PharosAanlyn beskikbaar. Verder is Pharos in samewerking met die Taalkommissie die trotse uitgewer van die gesaghebbende Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), waarvan die 2017-uitgawe vir die eerste keer ook op PharosAanlyn beskikbaar is.
Vakwoordeboeke wat uit druk geraak het, is mettertyd gedigitaliseer en aanlyn beskikbaar gestel, waaronder die Plantkundewoordeboek, die Ekonomiese en bedryfswoordeboek, Geologiese en verwante terme, die Wiskundewoordeboek, die SA Musiekwoordeboek, die Woordeboek van Regs- en Handelsterme, die Tegniese Woordeboek en meer. Die gesaghebbende Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe is ook deel van die aanlyn boeket, en word steeds gereeld bygewerk.
Vir skrywers van fiksie vra ons dikwels: Wie is jou ideale leser? Vir julle wil ek vra: Op wie is julle woordeboeke toegespits?
Pharos se groeiende versameling gedrukte en aanlyn woordeboeke is toegespits op enigiemand wat goedversorgde skryfwerk wil skep. Ons gedrukte skoolwoordeboeke is onontbeerlik in die klaskamer en tuis. Pharos se stylgidse en grammatikahulpbronne in Afrikaans en Engels word wyd gebruik as betroubare naslaanwerke. Pharos se slagspreuk is nie verniet “Reken op ons woord” nie!
PharosAanlyn bedien individue, maatskappye, organisasies, skole en tersiêre inrigtings met ons versameling digitale woordeboeke. PharosAanlyn se algemene en vakwoordeboeke, asook die AWS, is gewild onder die algemene publiek, en veral onontbeerlik vir professionele vertalers, skrywers, joernaliste, taalversorgers en taalstudente.
Daar is baie tale in hierdie land. Hoe maak Pharos hiervoor voorsiening?
Benewens Pharos se uitgebreide aanbod van woordeboeke en gidse in Afrikaans en Engels bied ons ook woordeboeke in die nege amptelike Afrikatale. ’n Gewilde produk wat op PharosAanlyn beskikbaar is, is ons South African Multilingual Dictionary, die eerste woordeboek waarin interaktiewe vertalings vir al 11 amptelike tale verskaf word. Dié woordeboek bied byna 4 000 algemene Engelse woorde met ’n vertaling in elk van die ander tien tale, sowel as algemene kommunikatiewe frases.
The English-Afrikaans-Northern Sotho-Tswana Aid en The English-Afrikaans-Xhosa-Zulu Aid word steeds herdruk volgens markaanvraag, en albei is ook op PharosAanlyn beskikbaar. Nog drie woordeboeke wat na digitale formaat vir PharosAanlyn omgeskakel is, is Popular Northern Sotho, Afrikaans-Xhosa en English-Xhosa. Pharos se aanbod in Afrikatale word tans uitgebrei.
As ’n bonus aan studente van ander tale kan toegang tot die Groot Woordeboek Afrikaans en Nederlands en die Afrikaans-Japannese Woordeboek ook as deel van die algemene boeket op PharosAanlyn verkry word.
Wat maak ’n e-woordeboek anders as ’n gedrukte boek? Vervang die een die ander, of kan hulle aanvullend tot mekaar gebruik word?
Woordeboeke op PharosAanlyn word eers as gedrukte produkte uitgegee, en daarna omgeskakel om aanlyn gebruik te kan word. Die aanlyn en gedrukte weergawes bevat grotendeels dieselfde inligting en daarom is hulle uitruilbaar.
Die grootste voordeel van PharosAanlyn is dat dit die gebruiker toegang tot ’n groeiende versameling elektroniese produkte op een plek bied. Tans het ons 38 woordeboeke plus die AWS aanlyn beskikbaar. Die vakwoordeboeke is nie meer as gedrukte weergawes beskikbaar nie, en kan dus slegs op PharosAanlyn verkry word.
Nog ’n voordeel van die aanlyn versameling is die feit dat gebruikers nie gedrukte woordeboeke hoef rond te dra nie, en dat PharosAanlyn op enige plek in die wêreld gebruik kan word, solank die gebruiker internettoegang en ’n geldige PharosAanlyn-intekening het.
Die maniere waarop ’n gebruiker naslaanwerk doen in ’n gedrukte boek en aanlyn sal verskil. Gedrukte woordeboeke word alfabeties aangebied en die gebruiker sal dus deur die boek blaai om inligting te bekom. Op die aanlynweergawe kan enige aantal van een tot 38 woordeboeke gekies word om deur te snuffel. Die woord of frase wat nageslaan word, word bloot in ’n soekkassie ingetik, en die program soek deur al die gekose woordeboeke se databasisse vir soekresultate. Aanlyn toegang vergemaklik ook woordeboekwerk in die klaskamer, aangesien leerders nie woorde alfabeties hoef na te slaan nie.
Hoe groot is julle databasis, en word dit voortdurend bygewerk?
Elke afsonderlike woordeboek vorm ’n volledige, alleenstaande databasis. Die gebruiker kan kies deur hoeveel woordeboeke (en dus databasisse) gesoek moet word vir elke soektog. Op hierdie manier word die moontlike trefslae verminder sodat die soektogresultate so akkuraat as moontlik kan wees.
Die meeste Pharos-woordeboeke word slegs aanlyn bygewerk en daarom sal sommige van die aanlyn weergawes mettertyd van die gedrukte weergawes verskil. Hierdie voordeel word dus outomaties aan die PharosAanlyn-intekenaar deurgegee, aangesien bywerkings gereeld aanlyn opgelaai word.
Hoe gemaak as iemand nie internettoegang het nie? Is Pharos slegs aanlyn beskikbaar?
Daar is steeds heelwat gedrukte Pharos-woordeboeke beskikbaar, wat by die meeste plaaslike boekhandelaars aangeskaf kan word of vanaf aanlyn winkels bestel kan word. Die meeste skoolwoordeboeke, asook die AWS, is steeds as gedrukte boeke beskikbaar.
Ou staatmakers wat steeds in gedrukte formaat verskyn, is ons tweetalige Klein Woordeboek en Mini-woordeboek, die Tweetalige Sakwoordeboek en die Beknopte Afrikaanse Woordeboek. Hierdie woordeboeke is nie aanlyn beskikbaar nie, en kan by boekhandelaars verkry word.
PharosAanlyn is uiteraard slegs op die internet beskikbaar, teen ’n jaarlikse intekenfooi. Vakwoordeboeke wat nie meer gedruk word nie, is slegs aanlyn beskikbaar.
Hoe werk dit: Wil julle vertel hoe mense wat op soek is na woorde se spelling, sinonieme, omskrywings of vertalings die woord in PharosAanlyn kan opspoor?
Wanneer die intekenaar aanteken op PharosAanlyn, is daar ’n opsie op die landingsbladsy om uit die beskikbare woordeboeke te kies watter gebruik moet word vir die spesifieke soektog. Daar kan die gebruiker enige keuse maak, byvoorbeeld slegs die sinoniemwoordeboek, slegs die verklarende woordeboeke, slegs spreekwoorde, al die tweetalige woordeboeke, slegs die woordeboeke met Afrikatale, slegs die vakwoordeboeke, of slegs een vakwoordeboek. Wanneer ’n woord of frase dan in die soekkassie boaan die landingsbladsy ingetik word, sal die resultate uit jou gekose woordeboeke verskyn.
So byvoorbeeld kan die gebruiker wat op soek is na sinonieme vir woorde (vir skoolwerk of skeppende skryfwerk of selfs vir die invul van blokraaisels), drie woordeboeke kies voor die soektog begin: die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, die Tesourus van Afrikaans, en Sinonieme en verwante woorde.
’n Gewilde hulpmiddel vir spelprobleme is om van die asterisk (*) gebruik te maak om een of meer karakters in ’n woord te vervang. As jy nie seker is van ’n woord se spelling nie, kan jy letters deur ’n * vervang; tik byvoorbeeld “inte*e*ant” in die soekkassie en dit sal vir jou interessant se resultate vertoon.
Mense hou nie altyd van veranderinge nie; baie mense verkies byvoorbeeld nog die papierkoerant. Hoe oortuig mens ’n ouer gebruiker wat nog verknog is aan sy gedrukte woordeboek om PharosAanlyn te gebruik?
Gebruikers moet besluit watter nut hulle uit ’n produk wil kry. Sommige van ons woordeboeke is steeds net in gedrukte formaat beskikbaar en mag dalk wel in sommige gebruikers se behoeftes voorsien. Indien ’n gebruiker (oud of jonk!) ’n professionele taalwerker is, en veral met tegniese teks werk, is PharosAanlyn die antwoord.
Ons PharosAanlyn-verkopespan staan altyd gereed met hulp aan intekenaars om die meeste nut uit die elektroniese woordeboeke te kry.
Bestaan daar verskillende intekenopsies? Is daar ’n eenvoudige opsie vir iemand wat nie ’n baie duur plan kan bekostig nie? Wat kos die verskillende planne, en wat ontvang intekenaars vir elkeen?
Daar is verskeie intekenopsies:
Opsie 1 is vir ’n enkelgebruiker, en daar is vier moontlikhede, naamlik:
- Slegs algemene woordeboeke (toegang tot 18 vertalende en verklarende woordeboeke in al 11 amptelike tale, insluitend die Tesourus van Afrikaans, Spreekwoorde, Sinonieme en The essential companion for writers and editors).
- Slegs vakwoordeboeke (toegang tot 19 vakwoordeboeke in Afrikaans en Engels).
- Beide algemene en vakwoordeboeke (toegang tot al 38 woordeboeke).
- Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS).
Indien ’n gebruiker een van die eersgenoemde drie aanbiedinge kies, maar ook toegang tot die AWS wil hê, kan die AWS teen ’n spesiale verlaagde prys per jaar bygevoeg word.
Opsie 2 is ideaal vir maatskappye wat hul werknemers toegang tot woordeboeke wil gee. Veelvuldige gebruikers verkry toegang tot die volledige versameling woordeboeke en woordelyste op PharosAanlyn. Maatskappye wat al hulle werknemers toegang tot PharosAanlyn wil gee, kan dit deur middel van die maatskappy se IP-adres doen, wat gebruikers outomaties toegang gee sonder ’n gebruikersnaam of wagwoord. Indien ’n maatskappy net sommige werknemers toegang wil gee, sal ’n gebruikersnaam en wagwoord aan elke gebruiker toegeken word. Die prys van hierdie subskripsie-opsie word deur die aantal gebruikers bepaal. Die AWS kan ook opsioneel by hierdie inteken-opsie bygevoeg word. Meer as vyf gebruikers kry 5% afslag op die individuele-opsie-pryse en meer as 20 gebruikers kry 10% afslag. Indien ’n maatskappy meer as 50 gebruikers het, kan hulle PharosAanlyn skakel vir ’n pasgemaakte kwotasie.
Opsie 3 is ’n boeket wat universiteite, technikons en kolleges se werknemers en studente toegang gee tot al die woordeboeke en woordelyste op PharosAanlyn.
Opsie 4 is ’n spesiale boeket vir skole. Hierdie opsie bied vir onderwysers en leerders toegang tot ’n versameling aanlyn woordeboeke wat op die daaglikse taalbehoeftes van leerders fokus. Die AWS is ook beskikbaar om by die subskripsie gevoeg te word. Die skool kry toegang tot 13 algemene en skoolwoordeboeke in al 11 tale.
Meer inligting kan direk op die PharosAanlyn-webwerf verkry word by www.pharosaanlyn.co.za/produkte. Al die PharosAanlyn-woordeboeke kan vir 14 dae gratis op die proef gestel word. Meld hiervoor aan by www.pharosaanlyn.co.za/proefloop of kontak sales@pharosonline.co.za vir verdere navrae.