Die aap is uit die mou: Pharos se skoolwoordeboeke sal iets vir elke kind beteken

  • 1

Naomi Meyer gesels met Delana Fourie, Senior Leksikograaf by Pharos Woordeboeke, en Annemie Stoman,die Hoof van Pharos Woordeboeke, oor die waarde van ’n skoolwoordeboek.

’n Woordeboek is ’n waardevolle boek vir oud en jonk. Waarom ’n woordeboek spesiaal vir skoolkinders saamstel – kan hulle nie net die standaardwoordeboek gebruik nie? Wat is uniek aan ’n skoolwoordeboek?

In alle vakgebiede leer ’n mens vaardighede geleidelik aan. ’n Laerskoolkind doen byvoorbeeld nog nie algebra en trigonometrie nie, maar leer eers al die basiese boublokke van wiskunde aan. Wanneer ’n kind leer lees, leer hy eers woordherkenning, klanke en die verband tussen klanke en skrif aan. ’n Kind in graad 1 kan nie ’n literêre werk lees nie, want hy het nog nie die vaardigheid daarvoor nie.

Net so kan jong leerders nog nie ’n gesofistikeerde leksikografiese naslaanwerk (oftewel standaardwoordeboek) ten volle ontsluit nie. Skoolwoordeboeke word in ooreenstemming met die skoolleerplanne vir tale ontwikkel. ’n Skoolwoordeboek gee byvoorbeeld leiding oor taalgebruik op ’n eenvoudiger manier, met gebruiksvoorbeelde in die vorm van volledige sinne. Skoolwoordeboeke vir laer grade gebruik nie afkortings nie, en skryf byvoorbeeld woordsoorte volledig uit om verwarring te help voorkom. Daar is ook nie ’n ingewikkelde kruisverwysingstelsel in skoolwoordeboeke nie. Soos in skoolhandboeke die geval is, verskil die visuele aanbieding van die teks in ’n skoolwoordeboek – vir laer grade is dit noodsaaklik dat ’n groter, leesbare lettertipe gebruik word, terwyl ouer gebruikers kleiner, digter teks kan lees.

In ’n skoolwoordeboek is dit ook baie belangrik dat daar nie “onnodige” inligting gegee word waardeur die leerder moet worstel om by die inligting wat hy eintlik soek uit te kom nie. ’n Skoolleerder wil nie alle moontlike verklarings of vertalings vir elke woord naslaan nie, net dit wat die frekwentste op hul taalgebruikvlak voorkom.

Om bogenoemde redes is daar heelwat minder trefwoorde in skoolwoordeboeke, maar dikwels meer inligting by elke inskrywing.

Hoe bepaal ’n mens watter woorde in ’n skoolwoordeboek opgeneem word in vergelyking met ’n standaardwoordeboek?

Woordeboekskrywers werk met ’n “korpus”, dit wil sê ’n groot databasis van tekste en woorde wat deur die teikengroep gebruik word. In die geval van skoolwoordeboeke bestaan die korpus uit die boeke wat hulle die meeste lees, dit wil sê skoolhandboeke vir die verskillende vakke en leesboeke of voorgeskrewe werke. Hierdie tekste word deur middel van rekenaarprogramme ontleed om te bepaal watter woorde die meeste voorkom. Die woorde uit die korpus word dan omgeskakel in frekwensielyste. Om te bepaal watter woorde in die woordeboek opgeneem gaan word, word daar dus na die gebruiksvoorkoms (of frekwensie) van elke woord gekyk. Die mees frekwente woorde word in spesiale woordeboeksagteware ingevoer en alfabeties georden. Dit vorm uiteindelik die basis van die nuwe woordeboek wat geskryf gaan word.

’n Standaardwoordeboek (verklarend of vertalend) sal meer as 100 000 trefwoorde bevat. Skoolwoordeboeke kan op grond van frekwensietellings nie soveel woorde (en elke moontlike woord in die taal) bevat nie. Op ’n gegradeerde wyse sal ’n woordeboek vir die grondslagfase dan sowat 2 000 trefwoorde bevat, een vir die intermediêre fase sowat 5 000 tot 8 000, en ’n woordeboek vir hoërskoolleerders tussen 15 000 en 35 000.

Omdat daar met ’n geskrewe korpus vir skoolleerders gewerk word, is daar baie woorde wat nié in skoolwoordeboeke sal verskyn nie. Leerders sal baie woorde in gesproke taal hoor of gebruik wat nie noodwendig in geskrewe taal frekwent is nie, soos niestandaardtaal (bv streekstaal, woorde wat net onder sekere subkulture voorkom of tienertaal), modewoorde, sleng, vloekwoorde, ens. Ook vaktaal en tegniese woorde sal nie frekwent genoeg wees om in skoolwoordeboeke opgeneem te word nie.

’n Matriekleerder moet ook vertalings en definisies ten opsigte van ’n verskeidenheid vakgebiede kan naslaan, wat nie ’n behoefte van die jonger leerder is nie. In ’n skoolwoordeboek wat spesifiek vir laerskoolleerders geskryf word, sal daar dus outomaties baie woorde nie voorkom nie.

Is daar woorde wat toegevoeg word in ’n skoolwoordeboek? Het julle ’n paar interessante voorbeelde wat uniek is aan Pharos se skoolwoordeboeke?

Skoolwoordeboeke is spesifiek daarop gerig om leerders te help om die betekenis, spelling, lettergreepverdeling, klem en woordsoortelike funksie van woorde na te slaan. Skoolwoordeboeke gee ook inligting oor woordfamilies en heelwat ekstra taalinligting in tekskassies wat nie noodwendig in ’n standaardwoordeboek gegee word nie.

Ons jongste woordeboek, die Junior Tweetalige Skoolwoordeboek, is veral geskik vir leerders in die intermediêre fase, maar kan ook met vrug in hoër grade gebruik word, omdat dit die mees frekwente woorde vir alle leerders bevat. Die woordeboek bevat sowat 5 000 trefwoorde, plus duisende bykomende woorde in die vorm van afleidings, intensiewe vorme, meervoude, verkleinwoorde, trappe van vergelyking, sinonieme, antonieme, homonieme, homofone, manlik en vroulik, en woorde vir die kleintjies en geluide van diere. Die mees frekwente frases, uitdrukkings en idiome word ook by die betrokke inskrywings gegee. Dit is die enigste tweetalige woordeboek wat intensiewe vorme by die betrokke woord gee, bv doodsbenoud by die trefwoord benoud, en ook die enigste woordeboek wat homofone uitwys, bv reis/rys, en dan albei se vertalings gee.

Tussendeur die vrae en antwoorde van hierdie onderhoud is daar voorbeelde van hoeveel ekstra inligting in hierdie skoolwoordeboek gegee word, en hoe dit met taaloefeninge in die klas kan help:

Watter skoolwoordeboeke en ander produkte het julle vir skoolkinders waarvan ons lesers kan kennis neem?

Ons tweetalige woordeboeke wat al dekades lank in die skooltasse saamgedra word, is:

  • Pharos se topverkoper, die Tweetalige skoolwoordeboek, wat veral geskik is vir hoërskoolleerders – bo en behalwe die duidelike gebruiksleiding, voorbeeldsinne en kassies met addisionele inligting bevat dié woordeboek ook ’n supplement met grammatikale inligting in Afrikaans en Engels vir woordsoorte, woorde wat maklik verwar word en idiome.
  • Die Junior Tweetalige Skoolwoordeboek, ’n vertalende woordeboek met elemente van ’n verklarende woordeboek, wat by uitstek gerig is op leerders van graad 4 tot 7.
  • Pharos se Tweetalige sakwoordeboek, wat veral geskik is vir hoërskoolleerders en ideaal is vir vinnige naslaan van vertalings; dit bevat sowat 35 000 Afrikaanse en Engelse trefwoorde en frases.
  • Pharos se Klein woordeboek, ook geskik vir hoërskoolleerders en ideaal vir vinnige naslaan van vertalings. Dit is ’n beknopte woordelys met sowat 18 000 Afrikaanse en Engelse trefwoorde en frases.
  • Pharos se Mini-woordeboek, ’n beknopte woordelys in miniformaat, en ook ideaal vir vinnige naslaan van vertalings.

Pharos se Beknopte verklarende woordeboek is al vir meer as 40 jaar ’n staatmaker in die klaskamer. Dit is ’n beknopte Afrikaanse woordeboek met bondige verklarings en sinonieme, asook afleidings en samestellings.

Pharos het ook ’n unieke veeltalige woordeboek, die South African Multilingual Dictionary. Dit bevat die mees frekwente woorde en vertalings in al 11 amptelike tale.

Benewens die woordeboeke bied Pharos verskeie stylgidse en ander nuttige naslaanbronne vir skoolkinders: die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), die Tesourus van Afrikaans, die Pharos Afrikaansgids (vir hoërskoolleerders), Afrikaans vir almal en English for all (vir laerskoolleerders), Sinonieme en verwante woorde, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom en The Write Stuff.

Is julle skoolwoordeboeke ook aanlyn beskikbaar, en is hier dalk 'n groter versameling van woorde beskikbaar as wat daar in die gedrukte boeke is?

Die spesiale skolepakket op PharosAanlyn bied onderwysers en leerders toegang tot ’n versameling aanlyn woordeboeke wat op die daaglikse taalbehoeftes van leerders fokus. Skole wat inteken, kry toegang tot 13 algemene en skoolwoordeboeke in al 11 tale.

  • Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Dictionary (Pharos 2010)
  • Tweetalige skoolwoordeboek – Afrikaans/Engels (Pharos 2016)
  • Junior tweetalige skoolwoordeboek (Pharos 2018)
  • English Dictionary for South African Schools (Pharos 2015)
  • Verklarende Afrikaanse woordeboek (Labuschagne en Eksteen 2010)
  • Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (Prinsloo 2009)
  • ’n Dief aan die kers (Prinsloo 2013)
  • South African Multilingual Dictionary (Pharos 2015)
  • Tesourus van Afrikaans (De Stadler en De Stadler 2007)
  • Sinonieme en verwante woorde (Buro van die WAT 2006)
  • Popular Northern Sotho (Kriel, Prinsloo en Sathekge 1997)
  • English-Xhosa (Pharos 1998)
  • Afrikaans-Xhosa (Pharos 1998).

Die twee skoolwoordeboeke wat op PharosAanlyn beskikbaar is, die Tweetalige skoolwoordeboek en die Junior tweetalige skoolwoordeboek, gee presies dieselfde inligting aanlyn as die gedrukte woordeboeke. Die Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Dictionary ontsluit ’n magdom meer woorde.

Die Afrikaanse woordelys en spelreëls is opsioneel beskikbaar as aanlyn opsie.

Die English Dictionary for South African Schools is slegs aanlyn beskikbaar.

Sommige van Pharos se skoolwoordeboeke is slegs in gedrukte formaat beskikbaar, naamlik die tweetalige Klein woordeboek en Miniwoordeboek, die Tweetalige sakwoordeboek en die Beknopte Afrikaanse woordeboek.

Meer inligting kan direk op die PharosAanlyn-webwerf verkry word by www.pharosaanlyn.co.za/produkte. Al die PharosAanlyn-woordeboeke kan gratis op die proef gestel word vir 14 dae. Meld hiervoor aan by www.pharosaanlyn.co.za/proefloop.

Lees ook:

"Reken op ons woord": ’n onderhoud oor Pharos-woordeboeke

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top