Regskoste: die sleutel tot ’n einde aan speletjies in die howe

  • 0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.   

By die skryf hiervan – op 2 November 2016 – het die Noord-Gautengse hooggeregshof pas ’n bevel met potensieel ingrypende implikasies gemaak: Jacob Zuma se terugtrekking van sy aansoek om ’n verbod te plaas op die vrystelling van die vorige openbare beskermer se verslag oor beweerde staatskaping is toegestaan – met koste, soos tussen prokureur en kliënt.

Maar dit is waar die knoop lê: Wie moet oplaas betaal – die President self (uit eie sak) of die belastingbetaler? Hierdie vraag is deur die hof voorbehou vir latere beslissing, straks voor die einde van 2016.

Dit is nadat die hof ’n dag vantevore verskeie politieke partye en ’n oud-ANC-aktivis, Vytjie Mentor, se aansoeke om tot die geding toe te tree, toegestaan het. Ook met koste, moet ek byvoeg.

Jacob Zuma se terugtrekking daarná van sy aansoek het gepaard gegaan met ’n gulhartige aanbod om ook die koste van dié saak – wat intussen tot ’n regsmonster aangegroei het – te betaal. Só gulhartig was sy aanbod, dat die hof geen probleem gehad het om te beveel dat die koste op die hoër skaal – dws soos tussen prokureur en kliënt – betaal moet word nie. Koste op dié skaal word normaalweg beskou as ’n “straf” vir die party wat moet opdok. Ek sal aanstons die verskillende kostebevele wat ’n hof kan gee, verduidelik.

Mnr Zuma het ongetwyfeld gemeen hy kan – soos so dikwels in die verlede toe hy hofsake verloor het – die astronomiese koste van sy ondeurdagte hofaansoek op die belastingbetaler afwentel.

Dié keer wil die handvol partye wat toegelaat is om sy aansoek teen te staan, egter hê dat die President sélf (en nie jan en alleman nie) die koste van sy aansoek moet betaal – nie alleen sy eie regskoste nie (hy was verwaand genoeg om die staatsprokureur te gebruik), maar ook dié van sy teenstanders. Dit kan uiteindelik miljoene beloop.

Daar was op die dag van die hofsaak wydverspreide betogings téén die klaarblyklike korrupsie en nepotisme van die Zuma-bewind. Die historiese Kerkplein het eerder na die Rooiplein gelyk, weens die duisende ondersteuners van die Economic Freedom Fighters (EFF), geklee in rooi, wat in protes daar saamgetrek het. Dit het wêreldwye nuusdekking geniet.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het, soos ek reeds aangedui het, gelas dat die vraag of Jacob Zuma die koste persoonlik moet opdok, behoorlik op ’n later datum bereg sal word: hoofde van betoog moet ingedien word, waarna die kwessie deur al die belanghebbende party in ’n ope hof gedebatteer sal word.

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset
Regsalmanak: Oor fyn-van-nerf verkeersbeamptes
Regsalmanak: 'n Grusame botsing en die waarde van deskundige getuienis
Regsalmanak: “Grassnyer” toe al die tyd mooitjies ‘n “motorvoertuig”
Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van 'n werkgewer
Regsalmanak: Die Kruger-monument
Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem
Regsalmanak: Die “Vuurrooi Draak” se swanesang – toe nié

As die president van die land gelas word om uit eie sak vir sy jongste hofavontuur te betaal, sal dit ’n waterskeidingsoomblik in ons land se regsgeskiedenis wees. ’n Hof wat só ’n bevel maak, sal beslis daarna ’n dapper hof genoem word.

Dit is hoogtyd dat ’n stokkie gesteek word voor maghebbers se kosteverspillende speletjies in die howe.

Om waaroor dit hier gaan behoorlik te begryp, moet ek kortliks (en by herhaling[1]) verduidelik watter soort kostebevele deur ons howe in siviele sake toegeken kan word. (Daar word nie kostebevele in strafsake gegee nie.)

As ‘n party ’n hofsaak wen, moet die verloorder normaalweg die wenner se regskoste betaal. Kostebevele is in die diskresie van die howe, maar gewoonlik word koste toegeken op die skaal soos tussen party en party. Dit beteken dat daar in die hofreëls kostetabelle is wat die prokureur van die wenner moet volg wanneer hy die rekening – wat die verloorder moet betaal – opstel. Uiteindelik word daardie rekening deur die takseermeester van die betrokke hof nagegaan om vas te stel of alles wat die suksesvolle party eis, toelaatbaar is.

Daardie tabelle skryf byvoorbeeld 'n sekere bedrag voor vir die koste van 'n brief of ’n telefoonoproep; 'n konsultasie wat die kliënt met sy prokureur of advokaat gevoer het; die opstel van pleitstukke; die tyd wat die verhoor van die saak in beslag geneem het – daardie soort dinge.

Die kostetabelle maak egter nie voorsiening vir ál 'n party se regskoste nie, want daar is sekere dinge wat 'n prokureur of advokaat móét doen ter voorbereiding van 'n saak wat onontbeerlik is, maar waarvoor daar nie altyd in die kostetabelle voorsiening gemaak word nie. Daarom is dit 'n normale verskynsel dat ‘n hofsaak jou tog wel geld gaan kos, al wen jy die saak met koste. Normaalweg kom die prokureur en sy kliënt vooraf ooreen op watter basis die prokureur sy rekening sal lewer, byvoorbeeld ’n tarief per uur.

Soms gebeur dit dat die hof 'n party beveel om regskoste op ‘n hoër skaal – soos tussen prokureur en kliënt – te betaal. Dit het nou in die Noord-Gautengse hooggeregshof in die staatskapinggeding gebeur. In só 'n geval kan die wenner die meeste van sy koste van die verloorder verhaal. Dit gebeur egter slegs in buitengewone omstandighede: ’n party moet lelik droogmaak – hy moet byvoorbeeld grof oneerlik wees of gewoon almal se tyd mors – alvorens hy die gramskap van ’n hof op die hals sal haal en met ’n kostebevel op die hoër skaal gestraf sal word.

Daar is ook ’n derde soort kostebevel wat ’n hof kan verleen. In regstaal word dit genoem ’n bevel de bonis propriis: iemand wat in sy verteenwoordigende hoedanigheid voor die hof is, word beveel om die regskoste (gewoonlik soos tussen prokureur en kliënt) uit sy eie sak te betaal. Dit kan so iemand finansieel ruïneer.

Hierdie soort bevele word meestal teen regsverteenwoordigers gegee: ’n prokureur of advokaat se gedrag tydens ‘n hofsaak wyk byvoorbeeld só af van die hoë etiese norme wat die regsberoep nastreef dat ’n hof gelas dat hy self – en nie sy kliënt nie – die koste de bonis propriis (uit eie sak, dus) moet betaal. Ons howe het al sulke bevele gegee teen regspraktisyns wat oneerlik met die hof was, die regsproses gedwarsboom het of grof nalatig, onbevoeg of misleidend was.

’n Kostebevel de bonis propriis kan ook gegee word teen iemand wat ampshalwe voor die hof is – die President is in hierdie geval ’n goeie voorbeeld – gegee word. Ek weet van minstens een voorbeeld waar die appèlhof in 2013 op ’n nerf na ’n LUR beveel het om uit haar eie sak die verbysterende regskoste te betaal. Die bondige feite in Gauteng Gambling Board v MEC for Economic Development is dat die betrokke LUR die Dobbelraad beveel het om sy kantoor – wat sy eiendom was – te ontruim sodat ‘n maatskappy genaamd African Romance (bid jou aan!) daar kon intrek. Die Dobbelraad het geweier en ‘n interdik teen die LUR aangevra, waarna die LUR die Raad summier ontbind en sodoende die regsproses probeer fnuik het.

Die appèlhof het beslis dat die LUR haar statutêre magte vir haar eie doeleindes misbruik het en dat sy in die proses die ernstige gevolge van haar optrede vir die staatskas en die beginsel van verantwoordbare regering verontagsaam het.

Die LUR het die saak met koste – soos tussen prokureur en kliënt – verloor, maar klaarblyklik was appèlregter Navsa spyt dat hy nie die pyn na die LUR persoonlik kon verskuif nie. “Uiteindelik,” het hy gesê, “is dit die belastingbetaler wat vir die gelag moet betaal. Die tyd het aangebreek dat howe dit ernstig moet oorweeg om amptenare wat op so ’n aanmatigende wyse optree, persoonlik aanspreeklik te hou vir die koste. Dit behoort pligversakende amptenare wakker te skud” (my vertaling). (Die enigste rede waarom die appèlhof nie ’n de bonis propriis-bevel teen die LUR gegee het nie, is dat die Dobbelraad nie daarvoor gevra het nie.)

Ek gaan die verdere debat in die Noord-Gautengse hooggeregshof oor die vraag of mnr Zuma persoonlik, uit eie sak, vir sy kosteverspillende – en oplaas vrugtelose – hofaansoek in die staatskapingsage aanspreeklik gehou sal word, met belangstelling dophou.

As die aansoek van mnr Zuma se teenstanders dat hy daardie koste persoonlik moet betaal, slaag, sal ek nie verbaas wees as hy ook oplaas opgesaal sal word met die astronomiese regskoste wat hy die belastingbetaler tot dusver uit die sak gejaag het net om vervolging van 783 klagtes van – onder meer – bedrog, korrupsie en rampokkery – te probeer ontglip nie.

Hoogtyd, sou ek reken.

[1] Ek het al voorheen hieroor geskryf: http://www.litnet.co.za/soms-is-regskoste-nie-quotpeanutsquot-nie.

  • Foto's verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top