Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem

  • 0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.   

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset
Regsalmanak: Oor fyn-van-nerf verkeersbeamptes
Regsalmanak: 'n Grusame botsing en die waarde van deskundige getuienis
Regsalmanak: “Grassnyer” toe al die tyd mooitjies ‘n “motorvoertuig”
Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van 'n werkgewer
Regsalmanak: Die Kruger-monument

Onthou jy nog hoe daar voor die eerste demokratiese algemene verkiesing van April 1994 taamlik wyd gespekuleer is dat Suid-Afrika op die rand van 'n burgeroorlog huiwer? Dat dit nie sommer net praatjies was nie, blyk uit 'n 1995-uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria.

Voor die verkiesing op 27 April 1994 was daar aan die Witwatersrand ses bomontploffings waarin 20 mense gedood, 190 beseer en miljoene rande se skade aangerig is. Lede van verregse groepe is deur die polisie van hierdie dade verdink.

'n Sekere mnr Robbertse was die eienaar van die plaas Renosterfontein in die Rustenburg-distrik. Op die plaas is daar 'n skietbaan wat Robbertse vroeër aan organisasies soos die plaaslike kommando beskikbaar gestel het. (Die kommandostelsel is, soos jy weet, intussen afgeskaf en toenemende misdaad op die platteland is myns insiens die resultaat. Dit net terloops.)

Vroeg op die oggend van 26 April 1994 het 'n lid van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) gevra of sy organisasie die skietbaan kon gebruik. Hulle wou in die omgewing wees, het die man gesê, “om wit mense tydens die algemene verkiesing te beskerm”.

Robbertse het ingestem en lede van die AWB het in groot getalle daar opgedaag.

Informante het die polisie van hierdie saamtrek op Renosterfontein in kennis gestel. Die polisie is meegedeel dat 'n groep AWB-lede wat naby Koster weggekruip het, na Renosterfontein verkas het. Vermoedelik was juis hulle vir die bomontploffings aan die Witwatersrand verantwoordelik. Die informante het die polisie ook meegedeel dat die mans wat op Renosterfontein saamgetrek het, swaar gewapen is en oor heelwat plofstof beskik. Daar was oorlogspraatjies en daar was gerugte dat verdere bomaanvalle vanaf Robbertse se plaas geloods kon word.

Inderdaad het die polisie, op grond van hierdie inligting, 'n wit Cortina in Benoni onderskep. Hierdie voertuig was met plofstof gelaai. 'n Tweede voertuig, 'n Peugeot, kon nie betyds onderskep word nie en dit het op die Jan Smuts-lughawe (soos dit toe bekend was) ontplof.

'n Polisietaakmag is toe aangesê om so gou moontlik na Robbertse se plaas te gaan en almal daar in hegtenis te neem. Polisiemanne is per pad en ook later per lugmaghelikopter na die plaas geneem.

Om sesuur die oggend van 27 April – die dag toe die algemene verkiesing begin het – het die polisie ‘n verrassingsbesoek aan Renosterfontein gebring. Helikopters het bo Robbertse se huis gedreun en vier polisielede het sy huis binnegestorm. Robbertse het sy pistool gegryp en dit gespan, maar hy is deur die polisie beveel om die wapen neer te lê. Hy is teen die vloer geforseer en sy arms is agter sy rug vasgeboei. Hy is toe na buite geneem, slegs in 'n onderbroekie geklee. Nadat 'n rondawel oopgesluit is, is Robbertse tot omtrent halftwaalf die oggend daarin aangehou.

Intussen is lede van die AWB by die skietbaan gearresteer. Op die toneel is 'n groot hoeveelheid plofstof gevind. Die polisie het ook beslag gelê op verskeie gewere, 'n groot vrag ammunisie, handgranate – sommige met spykers om wat met 'n soort kleefstof vasgeheg was – tweerigtingradio's, valskerms, pypbomme en voorrade kos. Wat die polisie die vorige aand van hulle informante gehoor het – dat voorbereidings vir 'n jong oorloggie getref word – was nie oordrewe nie.

Mnr Robbertse is nooit met hierdie aksie van die AWB verbind nie, en daarom het hy 'n eis teen die destydse minister van veiligheid en sekuriteit ingestel vir onregmatige aanhouding. Hy het skadevergoeding ten bedrae van R100 000 geëis. Hierdie saak het voor regter Roux in Pretoria gedien.[i]

Die Minister se hoofverweer was dat lede van die polisie in 'n noodtoestand opgetree het. Die regter het beslis dat die polisie 'n absolute plig gehad het om misdadigers op te spoor en te arresteer. Daar was immers 'n plig op die polisie om verdere gruweldade te voorkom. Indien daar op tone getrap is in die uitvoering van hulle pligte, was dit nie onregmatig nie. Natuurlik – het die regter bygevoeg – is dié beskouing onderhewig daaraan dat kwaadwillige, roekelose of verregaande gedrag deur die polisie altyd deur 'n hof as wederregtelik beskou sal word.

Die regter beslis uiteindelik soos volg:

In die omstandighede wat geheers het meen ek dat die polisie stappe kon neem gelykmatig aan die gevare waaraan hulle redelik moontlik kon verwag het om blootgestel te word. Dit was myns insiens redelik om die eiser (Robbertse) aan te hou ten einde te verseker dat hy nie op die polisie sou begin skiet nie. Ek kan die polisie nie verkwalik dat hulle redelik verwag het dat die eiser minstens 'n bondgenoot van die AWB was nie. Dit was redelik om mnr Robbertse aan te hou ten einde te verseker dat hy nie op die polisie sou begin skiet nie.

Gevolglik het die hof beslis dat die polisie se optrede teenoor Robbertse nie onregmatig was nie en is sy eis van die hand gewys – natuurlik, soos gewoonlik, met koste: hy moes dus die Minister se regskoste betaal.

Die grotendeels vreedsame verkiesing van April 1995 is klaarblyklik byna-byna in die wiele gery. Suid-Afrika het egter met daardie geloofsprong uit ‘n doodloopstraat ontsnap. Die alternatief sou ‘n vernietigende burgeroorlog gewees het.

By die skryf hiervan steier ons land opnuut onder gruwelike voorvalle van kampusgeweld, beweerde staatskaping en bewese plundering van die staatskas deur gewetenlose maghebbers. Tog is ons probleme ongetwyfeld ‘n vulletjie teenoor die lot wat die burgery van Sirië en Irak – om maar twee brandpunte te noem – tans daagliks moet trotseer. As ‘n mens die vlugtelingkrisis in Europa gade slaan – wat die gevolg is van die politieke ontwrigting van Moslemlande – wil dit lyk asof selfs die ganse Europa straks ‘n donkerder toekoms as Suid-Afrika in die gesig staar.

Nie dat dít veel troos bied nie.

Wêreldwyd is ‘n nuwe orde aan die ontwikkel. Ons weet nog nie wat dit gaan behels nie. Ek dink dit is Ibsen wat iets soos die volgende gesê het: “Die ou waarheid het verbygegaan, maar die nuwe waarheid is nog nie wáár nie.”

 

[i] Robbertse v Minister Van Veiligheid en Sekuriteit 1997(4) SA 168 (TPA).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top