Regsalmanak: Die Kruger-monument

  • 0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.   

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset
Regsalmanak: Oor fyn-van-nerf verkeersbeamptes
Regsalmanak: 'n Grusame botsing en die waarde van deskundige getuienis
Regsalmanak: “Grassnyer” toe al die tyd mooitjies ‘n “motorvoertuig”
Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van 'n werkgewer

Die Kruger-monument op Kerkplein, Pretoria, staan vanjaar net mooi 62 jaar daar. Sy feestelike onthulling op 11 Oktober 1954 het gepaard gegaan met ‘n eersterangse “kattegeveg” in die kabinet van DF Malan. Dit het ook staatsregtelike woelinge rondom die aanwysing van Malan se opvolger veroorsaak.

Toe JG Strijdom en sy vrou, Estelle, op Dinsdag 12 Oktober 1954 per vliegtuig na Europa gereis het, moes hulle ‘n bekommerde egpaar gewees het, al was hulle amptelik met vakansie. Dat hulle daarby straks met ‘n Constellation-vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gereis het, is ‘n onbenulligheidjie waaroor ek tog later iets meer sal vertel.

Die vorige dag het Strijdom – toe nog minister van lande in die kabinet van DF Malan – die onthulling van die Krugermonument op Kerkplein, Pretoria, bygewoon. Vantevore het dié ikoniese skepping van Anton van Wouw jare lank voor die indrukwekkende Herbert Baker-stasiegebou gestaan.

Die onthulling van die monument deur Malan op Maandag 11 Oktober 1954 is voorafgegaan deur feestelikhede waarvan die besonderhede blyk uit ‘n fraai feesprogram wat onlangs in my besit gekom het. Die simfonie-orkes van die SAUK het konsert gehou; daar was ‘n vlotoptog in Kerkstraat, gevolg deur boeresport, ‘n huldigingsfunksie by die Voortrekkermonument en ‘n gesamentlike erediens in die stadsaal.

Die program is oral versier met gawe sketse (ek sien nêrens die kunstenaar se naam nie) van dinge soos die Krugerhuis, die presidensiële koets, die Raadsaal, die laaste kerkgebou op Kerkplein, edm.

Die boeresportprogram – met ‘n noukeurige verduideliking van hoe die “sakreisies”, “olifantreisies”, “hoenderhaanskop”, “eier en lepelreisies”, ens gehou sou word – verskaf kostelike leesstof. Die name van tientalle hoogwaardigheidsbekleërs wat by die verskillende geleenthede sou optree, word ook in die program vermeld. Van hulle meen ek dat net ds Henno Cronjé nog leef. Hy het by een van die geleenthede in sy hoedanigheid as “President, Uniale Hoofbestuur van die Afrikaanse Studentebond” opgetree.

Die feesprogram in my besit is oorspronklik geteken deur drie van die vier individue oor wie hierdie skets handel: goewerneur-generaal EG Jansen, premier DF Malan en JG Strijdom. Slegs HF Verwoerd se handtekening ontbreek.

Malan se rede tydens die onthulling van die monument word gelykgestel aan sy beroemde “Quo vadis?”-toespraak tydens die onthulling van die Voortrekkermonument in 1949.

Met die feestelikhede agter die rug het Malan sy kabinet laatmiddag op 11 Oktober 1954 na sy ampswoning, Libertas (deesdae Mahlamba Ndlopfu), ontbied. Nadat drinkgoed bedien is, het die bejaarde Malan ‘n aankondiging gemaak wat al lank te wagte was: hy sou op 30 November 1954 as premier uittree. En toe los hy die spreekwoordelike politieke bom: hy sou by Jansen aanbeveel dat die minister van finansies, Klasie Havenga, hom as premier moet opvolg. Immers: sonder die steun van Havenga se Afrikanerparty sou Malan nie in 1948 ‘n regering kon gevorm het nie.

Malan het straks gemeen dat die aanwysing van ‘n nuwe eerste minister vir Suid-Afrika moes geskied presies soos dit in Brittanje die geval was (en steeds is): daar is dit die gevestigde prerogatief van die monarg om by ‘n regeringswisseling iemand te vra om eerste minster te word en ‘n regering saam te stel.

Oor baie jare heen het ‘n tradisie egter posgevat dat die monarg akkuraat deur veteraanstaatsmanne (“elder statesmen”) geadviseer word oor wie die agting, vertroue en steun van die meerderheid parlementslede – of die meerderheidsparty – geniet, met die oog op die aanwysing van daardie persoon as die nuwe eerste minster. (Ek wonder of laasgenoemde tradisie vandag nog geld: die media hou immers deesdae die koningin meer as voldoende op die hoogte van die dikwels intense politieke verwikkelinge rondom die verkiesing van ‘n nuwe eerste minister.)

Dit wil lyk asof Malan van mening was dat ‘n soortgelyke tradisie as in Brittanje ook in Suid-Afrika gegeld het: die goewerneur-generaal sou deur hom, Malan (straks as “elder statesman”?), geadviseer word oor wie hom moes opvolg. Hy sou dan vir Klasie Havenga voorstel.

Hoewel Malan niks van Strijdom gehou het nie, was hý egter die man met wie rekening gehou moes word. Strijdom was leier van die Nasionale Party (NP) in Transvaal, wat aan hom ‘n stewige magsbasis verleen het. Malan se voorneme om ‘n aanbeveling aan die goewerneur-generaal oor sy opvolger te maak, was duidelik in stryd met die grondwet van die NP waarvolgens ‘n nuwe hoofleier – en dus die nuwe premier – deur die parlementêre koukus van die party aangewys moes word.

Daardie aand het Strijdom en sy ondersteuners by sy ampswoning planne beraam. Sy grootste vertroueling, Hendrik Verwoerd, het hom die volgende oggend na die Palmietfontein-lughawe (deesdae OR Tambo) vergesel. Gedurende die rit is daar ongetwyfeld verder aan ‘n strategie gewerk.

Met Strijdom-hulle in die vliegtuig onderweg na Europa, het Verwoerd daardie middag ‘n Uitvoerende Raadsvergadering by die ampswoning van Jansen bygewoon. Volgens die Suid-Afrika-wet van 1909, wat indertyd nog die geldende grondwet was, het die uitvoerende gesag van die Unie berus by die “Goewerneur-Generaal-in-Rade”. Dit beteken dat alle uitvoerende handelinge – soos die ondertekening van parlementswette en proklamasies en dinge soos die bekragtiging van die doodsvonnis vir iemand wat dit deur die hooggeregshof opgelê is – deur die goewerneur-generaal in die teenwoordigheid van ‘n lid of lede van die kabinet moes geskied. Vandaar die frase “in rade”.

Verwoerd het die geleentheid daardie middag benut om Jansen mee te deel dat Malan se opvolger deur die NP se koukus aangewys sou word. “Dit was klaarblyklik vir hom (Jansen) welkom,” het Verwoerd op 13 Oktober 1954 aan Strijdom geskryf. Dit was ‘n meesterlike skuif, want daarmee is Malan se gedagte om die NP-koukus te omseil effektief gefnuik.

Maar Malan het nie gaan lê nie. Tydens ‘n laaste kabinetsvergadering op 18 November 1954 het die sweer van die vertroebelde verhouding tussen hom en Strijdom oplaas oopgebars. “Dit het,” skryf Lindie Koorts in haar biografie oor Malan, “op ’n woedende bakleiery tussen hom (Malan) en Verwoerd uitgeloop.” Verwoerd self het dit daarna in ‘n brief aan Strijdom as “‘n uiters onaangename kattegeveg” bestempel. Malan het dit duidelik gemaak dat Strijdom nie sy opvolger kon wees nie; dit móés Havenga wees. Maar elke argument teen Strijdom het Verwoerd met kragtige teenargumente begroet. ‘n Mens wonder of Malan dalk – wie sal ooit weet? – Strijdom se afwesigheid uit die land wou gebruik om Klasie Havenga se aanspraak op die premierskap te bevorder. Hy het egter verloor.

Die Strijdoms is op 26 November 1954 deur ‘n groot skare begroet toe hul op die lughawe uit Europa teruggekeer het. Vier dae later is Strijdom deur die koukus van die NP as vyfde premier van die Unie van Suid-Afrika verkies. Dit was Klasie Havenga – dalk as senior lid van die koukus? – se lot om die Goewerneur-Generaal later daardie dag te besoek en aan hom die uitslag van die koukusstemming oor te dra. Strijdom is daarna deur Jansen ontbied en versoek om ‘n regering saam te stel.

J G Strijdom pas na sy aanwysing deur die koukus van die Nasionale Party as opvolger van dr. D F Malan. Regs van hom op die foto is ‘n klaarblyklik teleurgestelde min. Klasie Havenga – Malan se onsuksesvolle keuse as Suid-Afrika se vyfde premier.

Reeds met sy vertrek na Europa meer as ‘n maand vantevore was daar kommer oor Strijdom se gesondheid. Oplaas het hy minder as vier jaar lank as eerste minister gedien en is hy na sy dood deur Verwoerd opgevolg. Malan self is op 9 Februarie 1959 – nogal op my ma se verjaarsdag – op Stellenbosch oorlede.

Dit is ‘n verhaal oor Suid-Afrika se politieke intriges en staatsreg van dekades gelede. Vandag sien die staatkundige bestel natuurlik drasties anders daar uit. Ingevolge die Grondwet van 1996 berus die uitvoerende gesag van die Republiek by die president. (Tans is dit mos ene Jacob Gedleyihlekisa Zuma.) Die nasionale vergadering moet tydens sy eerste sitting ná ‘n verkiesing ‘n man of vrou “uit sy geledere” as president verkies. Die hoofregter moet tydens sodanige verkiesing voorsit. Hierdie prosedure word ook gevolg as die amp van president vakant raak. Dan moet die hoofregter binne 30 dae ‘n sitting van die nasionale vergadering belê met die oog op die verkiesing van ‘n nuwe president. (Ek het ‘n spesmaas dat baie Suid-Afrikaners tans – by die skryf hiervan – reikhalsend uitsien na presies so ‘n geleentheid.)

En my onbenullige opmerking aan die begin dat Strijdom-hulle straks met ‘n Constellation-vliegtuig van SAL na die buiteland sou reis? Wel, in die fraai gedenkprogram by die onthulling van die Krugerstandbeeld is daar net één advertensie: dié van SAL se “Constellationtoeristediens” (sic) na Europa. Dit vertel van Kruger se laaste dae in die vreemde en vervolg dan: “Sy tam ou liggaam mag wel in Clarens, Switserland lê, maar sy hart is in sy dierbare ou Transvaal.” Kruger se sterfhuis, vervolg die advertensie, is ‘n volksmonument in die hartjie van Europa. En dan die pièce de résistance: “Wanneer u weer Londen toe vlieg met ‘n Constellation-toeristeklasvliegtuig teen minder as £80 as gewoonlik, kan u by Frankfurt afstap en daarvandaan die Krugerhuis in Clarens, Switserland besoek.”

Patriot wat Strijdom was, sou hy sekerlik nie met ‘n ander redery as SAL na Europa gevlieg het nie. Buitendien: die Constellation met sy sierlike romp en kenmerkende drie-puntige stert was in daardie dae sekerlik een van die wêreld se voorste en gerieflikste passasiersvliegtuie.

Bronne

Botha, MC: Premiersverkiesings sedert 1910. Perskor, 1979.

Koorts, Melanie: DF Malan en die opkoms van Afrikaner-Nasionalisme. Tafelberg, 2014.

Foto's verskaf

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top