Regsalmanak: Die “Vuurrooi Draak” se swanesang – toe nié

  • 1

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.   

Onlangs kom ek weer op my eksemplaar van JD (Koot) Vorster se bondige boekie Kommunisme, die Vuurrooi Draak af. Ek het ongeveer in 1965 ‘n geldjie van my karige sakgeld afgeknyp en dit gekoop.

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset
Regsalmanak: Oor fyn-van-nerf verkeersbeamptes
Regsalmanak: 'n Grusame botsing en die waarde van deskundige getuienis
Regsalmanak: “Grassnyer” toe al die tyd mooitjies ‘n “motorvoertuig”
Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van 'n werkgewer
Regsalmanak: Die Kruger-monument
Regsalmanak: Oorlogspraatjies, terwyl vredeliewendes net wou stem

Gedurende die 1960’s is onder meer skoliere – soos ek – behóórlik die skrik op die lyf gejaag oor die bedreiging wat die kommunisme vir die Republiek sou ingehou het. “Die kommunisme streef na wêreldoorheersing,” is gesê. Koot Vorster was ‘n gerekende NG Kerk-leidsman: aktuarius van die Kaapse Sinode en daarby die broer van die Nasionale Party se opkomende ster, John Vorster.

As minister van justisie in die Verwoerd-kabinet – en as latere eerste minister – het John Vorster met drakoniese wetgewende maatreëls die wêreld vir Suid-Afrika se kommuniste (en almal wat in hul dampkring was) bitter moeilik gemaak. Gevolglik het broer Koot se boekie oor die “vuurrooi draak” nogal by ons as naïewe skoliere ingang gevind: immers, as broer van sterkman John, het ons geglo, had hy seker toegang tot inligting wat nie vir jan en alleman beskore was nie. Wat in sy boekie oor die “vuurrooi draak” geskryf is, het ons dus huidjie en muidjie as die onvermengde waarheid aanvaar.

Suid-Afrika se stryd teen die kommunisme het formeel in 1950 begin toe die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme van krag geword het. Vanjaar is dit net mooi 66 jaar gelede. Dit was 'n wydlopende wet, bereken om kommunisme in die destydse Unie van Suid-Afrika met wortel en tak uit te roei. Dit het die Kommunistiese Party van Suid-Afrika vanaf 17 Julie 1950 tot onwettige organisasie verklaar. Daarby het die destydse goewerneur-generaal (onthou, Suid-Afrika was toe nog ‘n unie) die bevoegdheid verkry om ook enige ander organisasie wat direk of indirek kommunisme gepropageer of bevorder het, onwettig te verklaar.

Die wet het verder bepaal dat die minister van justisie 'n persoon kon aanstel om die bates van die Kommunistiese Party te beredder. Die beredderaar moes sorg dat al die skulde van die party uit sy bates betaal word, en as daar 'n oorskot sou wees, moes dit oorbetaal word aan liefdadigheids- of wetenskaplike organisasies wat deur die minister aangewys sou word.

Die beredderaar het ook die bevoegdheid gehad om 'n lys saam te stel van persone wat lede of aktiewe ondersteuners van die party was. As die beredderaar iemand se naam op sy lys wou plaas, moes hy aan daardie persoon die geleentheid bied om redes aan te voer waarom sy naam nié in die lys opgeneem moes word nie. Sulke gelyste kommuniste is aan ingrypende beperkings wat hul bewegings- en spraakvryheid betref, blootgestel. Die minister kon byvoorbeeld so 'n persoon verbied om 'n lid van die parlement te wees.

Omtrent 'n maand voordat die wet van krag geword het, het die destydse nasionale voorsitter van die Kommunistiese Party, mnr Horvitch, in 'n persverklaring bekendgemaak dat die party ontbind is. Dié besluit is op afsonderlike vergaderings van die verskillende takke van die party geneem.

Na inwerkingtreding van die wet het die beredderaar wat deur die minister aangestel is, aan 'n voorste kommunis, Sam Kahn, 'n kennisgewing gestuur waarin hy die geleentheid gebied is om redes aan te voer waarom sy naam nie op die lys van kommuniste geplaas moes word nie.

Mnr Kahn was destyds een van die sogenaamde Naturelle-verteenwoordigers in die Volksraad, en as sy naam op die lys geplaas sou word, sou dit effektief die einde van sy parlementêre loopbaan beteken. Daarom het hy die hooggeregshof in Kaapstad genader met 'n aansoek dat die aanstelling van die beredderaar nietig verklaar moes word op grond daarvan dat die Kommunistiese Party nie meer bestaan het op die dag toe die wet in werking getree het nie. Daar was dus geen funksie vir 'n beredderaar nie.

Regter-president De Villiers se uitspraak van November 1951[i] gee vir 'n mens 'n interessante insig in die organisasiestruktuur en werksaamhede van die Kommunistiese Party net voor dit in Junie 1950 sogenaamd ontbind is. Ek sê "sogenaamd ontbind", want die hof het beslis dat die onderskeie takke nie die bevoegdheid gehad het om die party te ontbind nie. Volgens die party se grondwet het slegs 'n behoorlik saamgestelde nasionale vergadering van die party daardie bevoegdheid gehad. So 'n nasionale vergadering kon nie betyds byeengeroep word nie, en die beste wat die leiers van die party kon doen, was om dit deur takbesluite te ontbind. Dít was volgens die hof nie voldoende nie, en mnr Kahn se aansoek dat die aanstelling van die beredderaar nietig verklaar word, is met koste van die hand gewys.

Hoe doeltreffend die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme werklik was, val buite my kennisveld. Tog sou ek reken dat die opeenvolgende Nasionale Party-regerings van Verwoerd, Vorster en PW Botha grotendeels die oorhand gehad het oor dié party, wat (voorspelbaar) deur die 1950-wet ondergronds gedwing is. ‘n Voorbeeld is die “tragiese held”-verhaal van Bram Fischer (‘n “keiharde Stalinis”, soos hy al bestempel is) wat gedurende die 1960’s die leier van die verbode Kommunistiese Party was en van wie ek net mooi ‘n jaar gelede in Regsalmanak vertel het.[ii]

Of die kommunisme werklik so ‘n bedreiging vir Suid-Afrika ingehou het – tot so ‘n mate dat ons land lank en teen geweldige koste in die sogenaamde “grensoorlog” teen Russies- en Kubaansgesteunde magte gewikkel was – is ‘n onderwerp waaroor daar tans hewig gedebatteer word.

Genl Jannie Geldenhuys, wat gedurende ‘n belangrike fase van die oorlog die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag was, meen in goedgedokumenteerde werke uit sy pen[iii] dat Suid-Afrika die oorlog oortuigend gewen het.

Ander skrywers – soos die historikus Leopold Scholtz – het ‘n meer genuanseerde blik op die konflik en die uitkoms daarvan.[iv] In ‘n slotbeskouing skryf Scholtz:

Gebrekkig soos wat die (hedendaagse) demokrasieë in Namibië en Suid-Afrika soms is, is dit steeds ver verwyder van die stelsels waarvoor Swapo en die ANC/SAKP hulle aanvanklik beywer het [...] Hiervoor kan onder meer die SAW en almal wat in die weermag geveg het, bedank word. Sommige – moontlik vele – individuele offisiere en soldate het waarskynlik geveg om apartheid te beskerm. Tog het selfs hulle tyd help wen vir die politici om ‘n politieke oplossing uit te werk. Voorts was ‘n politieke oplossing onmoontlik solank die skaduwee van ‘n Kommunistiese diktatuur bokant Swapo en die ANC/SAKP gehang het. Die wit Suid-Afrikaanse regering kon dit eers bekostig om sy monopolie op die mag prys te gee toe die Sowjetunie sy lus vir ‘n globale kommunistiese revolusie verloor het en daarmee saam die ekonomiese en militêre instrumente om dit uit te voer. Dit was eers na die val van die Berlynse Muur en die ineenstorting van die Sowjetunie dat die tande van die kommunistiese monster getrek is.[v]

Ek meen dat as Suid-Afrika géénsins sedert 1950 binnelands (en later in Suider-Afrika) weerstand teen die kommunisme gebied het nie en die land – met al sy natuurlike hulpbronne en die beste infrastruktuur in Afrika – uiteindelik op ‘n skinkbord aan die kommunisties-gesteunde magte oorhandig het, die Sowjetunie straks nie tot niet sou gegaan het nie. Suid-Afrika beheer immers al eeue lank die strategiese seeroete om die Kaap, en as die land onder kommunistiese bewind geplaas sou word, sou dit aan die Sowjetunie beheer oor daardie seeroete gegee het. Suid-Afrika, onder kommunistiese beheer sou daarbenewens as springplank gebruik kon word om Afrika van die suide af óók onder die USSR se beheer te plaas. Dit sou die USSR se staatskoffers onmeetlik gunstig verstewig het en sy ondergang gedurende die laat 1980’s – wat in wese ‘n ekonomiese ineenstorting was – kon voorkom het.

Sedert sy ontbanning in 1990 het die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) vir hom ‘n modus vivendi gevind as lid van die ANC-, Cosatu-, SAKP-alliansie (wat by die skryf hiervan erg wankelend is.) Die SAKP het nog nooit op eie stoom as ‘n politieke party aan verkiesings deelgeneem nie. Ook maar goed so, want volgens alle aanduidings geniet hy geen noemenswaardige steun nie. Tog sit daar – eienaardig genoeg - deurlopend sedert 1994 ‘n hele klompie SAKP-lede in nasionale en provinsiale kabinette.

Die tirade wat die SAKP se algemene sekretaris, Blade Nzimande (sedert 2009 die minister van hoër onderwys en opleiding), ‘n paar jaar gelede teen ‘n paar vroulike studente van Noordwes-Universiteit gevoer het, het my destyds nogal geamuseer. Hulle sou, volgens hom, tydens ‘n “verwelkomingseremonie” op die kampus glo ‘n Nazi-saluut gegee het. Blade het spreekwoordelik vuur gespoeg – soos ‘n mens van ‘n rasegte “rooi draak” te wagte kon wees. Maar daardie berg het ‘n muis gebaar: daar was nie ‘n enkele brokkie getuienis dat die studente willens en wetens ‘n Nazi-saluut gegee het nie. Wat my amuseer, is Blade se dubbele standaarde. Hy spoeg vuur oor ‘n vermeende Nazi-saluut, maar terselfdertyd is hy die algemene sekretaris van ‘n party wat nog steeds die hamer en sekel in sy embleem vertoon. Onder daardie simbool het miljoene mense wêreldwyd oor etlike dekades heen die lewe gelaat en/of die bitterste menslike lyding denkbaar deurgemaak.

Gedenk maar net Joseph Stalin wat die Sowjetunie tussen ongeveer 1925 tot sy dood in 1953 met ‘n ysterhand regeer het: daar word bereken dat tot soveel as 15 miljoen van Stalin se onderdane gedurende sy bewindsjare voor vuurpelotons afgemaai of in strafkampe doodgemartel is. Straks nog méér mense het in opeenvolgende hongersnode in die USSR – wat die resultaat was van Stalin se mislukte eksperimente met die sosialisme – omgekom.[vi]

[i] Kahn v Louw, NO and Another, 1951 (2) SA 194 (KPA).

[ii] Vgl http://www.litnet.co.za/regsalmanak-bram-fischer.

[iii] Geldenhuys, Jannie: We were there: Winning the war for Southern Africa (Kraal Uitgewers, sj – circa 2014). Ook in Afrikaans beskikbaar by Kraal Uitgewers onder die titel Ons was daar.

[iv] Scholtz, Leopold: Die SAW en die Grensoorlog 1966–1989 (Tafelberg, 2013).

[v] Op cit 464 ev.

[vi] https://en.wikipedia.org/wiki/Joseph_Stalin.

  • 1

Kommentaar

  • Mij afrikaans is nie meer baie goed nie, maar ek kan probeer iets te sê. (Ek skrywe 'n boek oor hierdie kwestie.)
    Als jij Eddy Roux, Bram Fischer of Rick Turner studeer het (ek was student van eerste en laatste) dan is die allereerste wat jij leer is dat 'communisme' vir díe generatie alles met liberalisme te maak het (in die Engelse betekenis van anti-racisme) en niks met Marxisme-Leninisme nie. Dit wil sê: daar is en was 'n strijd, binne die tegen-standers van Apartheid in die jare, oor die kwestie of dit 'n strijd is wat alleen met wettelijke middels kan word gevoer, of met geweld. (Als zelf iemand als Beyers Naudé oor hierdie vraag onzeker was, dan is dit duidelijk dat die "Wet op die Onderdrukking van Kommunisme" meer 'n instrument was van paranoia uit Amerika, uit die hoek van senator Joe McCarthy, dan 'n wet wat wil afdwing dat oppositie teen die Apartheid alleen wettelijke vorm kan aanneem.)
    Voster en Geldenhuys het nooit die verskil verstaan nie tussen oprechte teenstanders van racisme aan die een kant - van Breyten Breytenbach, die sestigers, JM Coetzee, van Zijl Slabbert, tot Antjie Krog - en Stalinisme aan die ander kant, en het juis om díe redene so baie eerlijke mense in die arme van Blade en sy vriende gejaag. Dit was nie alleen onnosel nie, hulle het 'n hele generatie van lewens verpes. Daar was, bij Voster tot Geldenhuys, te veel bewondering vir die nationaal-socialisten, en te min waardering vir liberalisme in die betekenis van gelijkheid voor die wet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top