Persverklaring: Kortlyste van die Netwerk24-kykNET-Rapport-boekpryse bekend

  • 0

Prent: Canva

In sover bekend ’n eerste vir die Afrikaanse boekwêreld is die skrywer-digter Nathan Trantraal en sy ma, Charmaine Africa, vanjaar albei benoem vir die Netwerk24-kykNET-Rapport-boekpryse.

Trantraal is op die kortlys vir die prys vir debuut- en tweede prosawerke met sy grafiese roman Die man wattie kinnes vang, terwyl Africa erkenning kry vir haar memoir Amma met ’n benoeming vir die niefiksieprys.

In nog ’n eerste sluit die pryse, voorheen bekend as die kykNET-Rapport-boekpryse, van vanjaar af ook ’n poësieprys ter waarde van R200 000 ter nagedagtenis aan die geliefde Afrikaanse digter Breyten Breytenbach in. Die algehele prysgeld vir die vyf boekpryse en twee resensiepryse beloop R1,4 miljoen.

Die pryse word toegeken vir Afrikaanse werk wat in 2024 gepubliseer is.

Vanjaar se kortlyste is, in alfabetiese orde volgens skrywer:

Netwerk24-kykNET-Rapportprys: Fiksie (romans)

  • Die katartiese metode deur Jaco Fouché (Protea Boekhuis)
  • Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks (Kwela)
  • Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach (Human & Rousseau)

Netwerk24-kykNET-Rapportprys: Niefiksie

  • Amma deur Charmaine Africa (Tafelberg)
  • Jopie Fourie: ’n Besinning deur Albert Blake (Protea Boekhuis)  
  • Capitec: Stryd met die grotes deur TJ Strydom (Tafelberg)

Breyten Breytenbach-prys: Digkuns

  • Kinderlê deur Lynthia Julius (Queillerie)
  • Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais (Tafelberg)
  • Om my kastele in Spanje te sloop deur Jaco Barnard-Naudé (Human & Rousseau) 

Jan Rabie-Rapportprys: Debuut- en tweede prosawerke

  • Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks (Kwela)
  • Die onsigbare deur PJO Jonker (Tafelberg)
  • Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal (Kwela)

Herman Binge-prys: Roman met filmpotensiaal

  • Die katartiese metode deur Jaco Fouché (Protea)
  • Die onsigbare deur PJO Jonker (Tafelberg)
  • Onder water deur Henda Olivier (Human & Rousseau)

Altesaam 95 inskrywings is ontvang vir die vyf pryse wat ten doel het om erkenning te gee aan Afrikaanse skrywers en hulle aan te spoor om steeds gehalteskryfwerk in hul moedertaal te lewer.

“Vanjaar se inskrywings is die onteenseglike bewys dat Afrikaans nie stagnant is nie, maar gespierd, met skrywers wat nuwe wêrelde verken, veral in Kaapse Afrikaans, skouer aan skouer met gevestigde skrywers van die kanon,” sê die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz.

“Oorheersend onder die inskrywings vir fiksie was goeie ‘formulefiksie’ en boeke wat ’n politieke en sosio-politieke lig werp op randfigure. Dit was ’n bonus om ook verrassende werk te lees wat afwyk van die formule en dinamies in gesprek tree met die romantradisie, die bekende maniere van skryf en dink. In ’n welkome verruiming van genres het die inskrywings vanjaar vir die eerste keer ’n grafiese roman ingesluit, asook ’n kortverhaalbundel wat insig bied in die leefwêreld van die Kaapse Moslems. Albei laasgenoemde werke tel onder die benoemings.  

“Beide rebellie en toevlug is te bespeur in vanjaar se inskrywings vir niefiksie wat verras met ’n beduidende aanbod van kreatiewe niefiksie. Wat daar uitstaan, is hoeveel groter, onderliggende temas daar onder die oppervlak sluimer, temas wat tans vuurwarm navorsingsonderwerpe op universiteit is. Nog ’n titel waarvan die goeie skryfwerk vermelding verdien, is Sing, Mamma, Sing! deur Theresa Papenfus.”

Die beoordelaars van die eerste toekenning van die Breyten Breytenbach-prys vir digkuns was bemoedig deur die sterk inskrywings waaruit hulle ’n waardige wenner kon aanwys. Sommige van die strydosse van die Afrikaanse digkuns het saamgesing in die koor vanjaar, maar wat veral verblydend is, is dat daar werklik sterk nuwe stemme is wat ook gehoor is.

Die individuele prysgeld beloop R350 000 elk vir die roman- en niefiksieprys onderskeidelik, R200 000 elk vir die Breyten Breytenbach-prys vir digkuns, die Herman Binge-filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R50 000 elk vir die resensiepryse vir fiksie en niefiksie onderskeidelik. Die kortlyste vir die resensiepryse word binnekort aangekondig.

Die wenners word op 27 September 2025 bekend gemaak tydens ’n funksie by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad.

Die keurpanele vir die boekpryse was: Fiksie: Willie Burger, Ena Jansen, Ryan Pedro en Beer Adriaanse; Niefiksie: Jean Meiring, Lindie Koorts, Kerneels Breytenbach en Kirby van der Merwe; Breyten Breytenbach-prys vir digkuns: Johan Myburg, Bibi Slippers, Andries Visagie en Ryan Pedro; Herman Binge-filmprys: Beer Adriaanse, Wikus du Toit en Kerneels Breytenbach; Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke: Jolyn Phillips, Francois Smith en Bibi Slippers.

Lees ook:

Capitec: Stryd met die grotes deur TJ Strydom: ’n resensie

Jopie Fourie: ’n besinning deur Albert Blake: ’n lesersindruk

Plekspesifieke poësie in Jaco Barnard-Naudé se Om my kastele in Spanje te sloop

Ek en jy bestaan nie: ’n onderhoud met Danie Marais

Cliff-hanger: Kinderlê deur Lynthia Julius, ’n resensie

Die man wattie kinnes vang: ’n onderhoud met Nathan Trantraal

Nuut by Human & Rousseau: Onder water deur Henda Olivier

Die onsigbare: ’n onderhoud met PJO Jonker

Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach: ’n resensie

Die katartiese metode deur Jaco Fouché: ’n resensie

Een voet innie kabr: ’n onderhoud met Gaireyah Fredericks

Persverklaring: Netwerk24-kykNET-Rapport-pryse nou nog groter

 

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top