Jopie Fourie: ’n besinning deur Albert Blake: ’n lesersindruk

  • 11

Jopie Fourie: ’n besinning
Albert Blake
Protea Boekhuis
ISBN 978-1-4853-1531-5

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Was Jopie Fourie ’n held of verraaier? Moet hy vereer word en vir die Afrikaners as voorbeeld voorgehou word, of is hy inderdaad iemand wat die doodstraf verdien het? Is hy regverdig verhoor? Wat was generaal Smuts se rol in die aangeleentheid? Hoe beoordeel mense vandag nog op sosiale media soos Facebook sy rol?

Albert Blake se jongste, besonder volledige biografie oor Jopie Fourie, Jopie Fourie: ’n besinning (2024), stem tot nadenke. Blake, die bekroonde historikus wat met sy boek Boereverraaier die wêreld geskud het en dit opgevolg het met verskeie deeglike historiese werke en biografieë, soos dié oor Robey Leibbrandt en Hans van Rensburg, gee ’n deeglike oorsig van Jopie Fourie se lewe.

Reeds aan die begin stel hy dit duidelik dat ’n onbevange vertolking nodig is.

Blake (bl 18) stel die vraagstuk soos volg:

  • Die etiese vraagstuk rondom die toepassing van die doodstraf.
  • Wanneer is daar morele regverdiging vir burgerlikes om politieke en maatskaplike ontevredenheid met geweld te probeer oplos?
  • Hoe moet lands- en volksverraad beoordeel word?

Hy neem die leser op ’n reis van Fourie se vormingsjare en die optrede van sy voorouers na die diepgaande invloed van die brutale Anglo-Boereoorlog (Suid-Afrikaanse Oorlog). Daardie oorlog het merke op Jopie Fourie se psige gelaat wat nie ontken kan word nie. Ná die oorlog volg Milner se verengelsingsbeleid wat vir Fourie ondraaglik was, maar met generaal Botha se oorname in die regering ná Milner se vertrek en latere uniewording onder Botha as eerste minister, is daar by Fourie nuwe hoop. Skaars 10 jaar ná die ABO vloei daar egter broederbloed in die rebellie. Hierdie opstand was volgens Blake van die begin af gedoem. Dit was ’n emosionele opwelling sonder deeglike militêre oorwegings en het gou op ’n mislukking uitgeloop. Later was daar eintlik geen weerstand meer oor nie. Jopie Fourie het egter hardnekkig volgehou met die stryd. Blake gee besondere aandag aan die slag van Nooitgedacht. Daar sterf verskeie regeringssoldate en rebelle en Fourie word verwond. Hy gee oor en word vir verhoor na Pretoria weggeneem. ’n Veldkrygshof word saamgestel met lede met weinig regskennis, naamlik kol TG Truter, kol FS Dawson en maj D Overberg van Velden. Prokureur Fred Kleyn tree vir Fourie en sy broer, wat saam met hom aangekla word, op. Gebeure verloop snel. Die Engelse pers oefen groot druk uit en selfs ’n begrafnisstoet van gevalle soldate beweeg voor die hofgebou verby. Jopie Fourie lewer ’n gloeiende betoog en toon duidelik aan dat hy onversetlik is in oortuigings. Die hof vind Fourie skuldig en hy sterf voor die vuurpeleton voordat besware deur die verdediging aangehoor word. Hy bly onversetlik voor sy dood en vra dat hy nie in die kop nie, maar in sy groot Afrikanerhart geskiet moet word. Ds Neethling wat hom bygestaan het, vertel van sy diep calvinistiese Christelike oortuigings wat sy lotsverbondenheid met sy volk voor sy dood uitgeruk het. Intussen het persone soos DF Malan en ds Herman Bosman probeer om Smuts in die hande te kry op sy plaas Irene om vir versagting van die vonnis te vra. Hulle beland voor dooiemansdeur. Fourie word onmiddellik begrawe en daarna weer herbegrawe in ’n ongemerkte graf om nie van sy dood en graf ’n martelaarsaak te maak nie. Blake bespreek die gevolge indringend en dui aan dat die gebeure Afrikanernasionalisme gevoed het en nie net groot spanning tussen Afrikaners en Engelse teweeggebring het nie, maar ook verdeeldheid onder Afrikaners gevoed het. Hy gee ook ’n psigologiese perspektief en sluit af met hedendaagse beoordeling op sosiale media.

Blake neem sterk standpunt in teen oorlog en noem dit die vloek van die mensdom. Hy maak verdoemende uitsprake oor die ellende wat oorlog meebring en die sinloosheid daarvan.

Hy verduidelik: “Dié wat die gruwels van ’n slagveld beleef het en by wie die aaklighede daarvan ingesink het, sal weet dat daar niks heroïes daaraan is nie. Al wat oorbly is die onmenslike barbaarsheid om ’n medemens te dood of te vermink en die gepaardgaande smart en psigiese afstomping wat dit bring” (bl 153).

Daarom is daar vir hom geen helde nie. Menslike broosheid skakel dit uit.

Hy skryf: “Die ophemeling van die heroïese is dikwels ’n maaksel van die mens (wat veral regerings in oorlogstyd vir propaganda-gewin inspan) in ’n behoefte om helde te skep om na op te sien” (bl 60).

Dit neem egter nie weg dat die optrede teenoor Fourie hoogs bedenklik was nie. Die hof oortree verskeie regsbeginsels. Blake meen ook dat Smuts se optrede geheel onaanvaarbaar was en dat dit hom grootliks van sy eie mense vervreem het. Daar is in die verlede min aandag aan die psigologiese gevolge van traumatiese gebeure en post-traumatiese stressindroom (PTS) gegee en dit sou groter begrip vir Fourie se optrede gee. In ’n interessante hoofstuk hanteer Blake die hedendaagse beoordeling van Fourie se optrede in sosiale media. Hy toon aan dat daar steeds uiteenlopende benaderings voorkom en verwys na Dickens se totaal bevooroordeelde kritiek op Fourie en die Afrikaners. Blake wys op verskeie feitefoute wat deur persone aan beide kante op sosiale media gemaak word en vra deeglike historiese besinning en respek vir die geskiedenis.

Hierdie werk is inderdaad uitstekend. Dit is ’n deeglike besinning. Blake verheerlik niemand nie en hy verdoem niemand nie. Hy stel die historiese feite onbevange voor en beoordeel dit deeglik. Hierdie biografie is ’n groot bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaner, maar ook die Suid-Afrikaner in geheel. Dit behoort wyd gelees te word. Niemand kan hierna onaangeraak deur die dood van Jopie Fourie of die nagevolge daarvan bly nie.

Samevattend sluit Blake af:

Daar is ’n dringende behoefte om mekaar se verlede te respekteer sonder die verdelende venyn wat daar tans is – in hierdie geval hetsy dit teenoor Jopie Fourie of Jan Smuts se nagedagtenis is. Die uitdaging is vir ’n gedeelde erfenisbewussyn wat ’n positiewe verskil in ons komplekse samelewing maak en daardeur begrip en respek vir mekaar se erfenis openbaar. Wat nié nodig is nie is vertolking van die verlede wat nie gebaseer is op wetenskaplike navorsing nie en wat nogmaals verdeling meebring. (bl 368)

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 11

Kommentaar

  • ernie pienaar

    Baie interessante weergawe van gebeure.
    Die val van Jan Smuts se aansien onder die Afrikaner en die daaropvolgende Afrikanernasionalisme het die geskiedenis van Suid-Afrika onherroeplik verander.

  • Ek het nog nie die boek gelees nie, maar soos al Blake se boeke op feite en nie emosionele ouvrou-stories gebaseer is nie, glo ek dat die feite die haat sal wegvee. Ek glo ook dit sal help om die emosies wat Fourie en Smuts gedryf het om te gedoen het wat hulle gedoen het, beter te verstaan en daaruit te leer en die hoofstuk toe te maak.

  • Charles T Ward

    Akademiese korrektheid en die goue middeweg van nog daarvoor of daarteen te debateer grens vir my aan moderne papbroekigheid, verheerliking van selfbeeld status en laat weinig vir die nageslag om oor trots te wees. Afrikaners was reeds só verslae, verarm en ten gronde ná die Britse 'verowering' dat ek hierdie vertolking moeilik afsluk. Versoening is soos politiek, dit maak verdoeseling aanvaarbaar.

  • Dis reg wat jy sê ... versoening is soos politiek ... dit maak verdoeseling aanvaarbaar ... Smuts was die veraaier ... hoe moet mens dit aanvaar?

  • Jeanette Ferreira

    Charles T Ward, gelukkig het Afrikaners nie so verslae, arm en ten gronde gebly dat hulle historici nie in staat is om vakkundig verantwoordbaar oor die verlede te kan skryf nie. Blake se publikasies het sover sy wetenskaplike benadering onderstreep en met hierdie boek is dit nie anders gesteld nie. Inteendeel.

  • Waldemar Gouws

    Jammer om hier te moet lees van Blake se utopiese stellingname t.o.v. oorlog. Is dit eg menslik om te sê oorlog is onmenslik? Waar begin en eindig pasifisme?

  • Ek het oorspronklike foto's van die 1914-rebellieleiers met 'n beskrywing van hulle vonnis onderaan in Hollands. By my ouma gekry wat in 'n Vrystaatse konsentrasiekamp was en 'n groot Jopie Fourie-ondersteuner. Ek wil foto's weggee, wie stel belang?

  • Robert Jacobs

    Hi Linda

    Ek sal baie graag die foto wil neem ter bewaring van ons erfenis. Ek is verbonde aan Ouma Isie's Tea Garden en Smutshuis Museum - dit sal n eer wees om die foto te bewaar vir die toekoms en uit te stal. Kontak my gerus of stuur vir my jou besonderhede. Groete Robert

  • Lourens Swanepoel

    Lees die boek. Wie is die skuldiges? Van Harm Oost, hy beskryf die hele rebellie van 1914. Hy was self daar betrokke by Jopie Fourie se verhaal. Ek is trots op my voorgeslag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top