Titel: Capitec: Stryd met die grotes
Skrywer: TJ Strydom
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624094012
Soos so baie ander verskynsels in die moderne samelewing, kan die geskiedenis van die bankwese ook uiteindelik terugherlei word na die landbouomwenteling van sowat 10 000 jaar gelede. Permanente menslike nedersettings en toenemende handel het al die behoeftes laat ontwikkel wat later deur banke aangespreek sou word. Primitiewe banke het in verskeie antieke gemeenskappe ontstaan, in onder meer Mesopotamië, Griekeland en Egipte. Dit word egter algemeen aanvaar dat die moderne banksisteme voortbou op ontwikkelinge in Italië en veral Engeland gedurende die 17de en die 18de eeu, met die ontwikkeling van sentrale banke. Die banksisteem is inherent ’n omstrede sisteem, en omdat dit so ’n sentrale en invloedryke rol speel in die ekonomie, is daar altyd onderliggende vrae ten opsigte van etiek. Van welvaartverspreiding tot ekonomiese beleid en finansiële stabiliteit, speel banke ’n sleutelrol in die ekonomiese ontwikkeling van enige staat.
Alhoewel Suid-Afrika se banksisteem in die geheel nie as een van die heel beste banksisteme op aarde beskou word nie, is dit wel ’n hoogs funksionerende sisteem wat verskeie sterker ekonomieë se sisteme die loef afsteek, en met individuele banke soos FNB en Capitec wat soms toekennings verower en as onder die beste banke in die wêreld tel. Die storie van die opkoms van Capitec is ’n merkwaardige verhaal van entrepreneurskap, wat nie net die verhaal is van hoe ’n bank van niks af opgebou is nie, maar ook hoe daardie bank die ganse bankwese van Suid-Afrika op sy kop gekeer het en onherroeplik verander het. Capitec se ontstaan is natuurlik ten nouste verweef met Suid-Afrika se politieke en sosio-ekonomiese geskiedenis. Suid-Afrika se banke, net soos die res van die land se infrastruktuur, is nie ontwikkel om aan die meerderheid van die land se inwoners finansiële dienste te verskaf nie. Teen die draai van die vorige millennium, ongeveer ’n halwe dekade na die afloop van Suid-Afrika se historiese 1994-verkiesing, was die land se banksisteem tot ’n groot mate argaïes en verouderd, en bowenal, ontoeganklik vir die meerderheid van Suid-Afrikaners, veral diegene wat in laerinkomstegroepe verkeer het.
Maar die boek trek die verhaal verder terug, na die 1990’s, en alhoewel Capitec dikwels met die dorpie Stellenbosch geassosieer word, herlei die outeur Capitec se wortels na ’n totaal onverwagse deel van die land, naamlik die gebied wat vandag as die Limpopo-provinsie bekendstaan (daardie jare die Transvaal). Dit is hier waarna die praktyk van mikrolenery terugherlei word. In die destydse Pietersburg (vandag Polokwane) het mikroleners in die vroeë 1990’s begin om geld te leen aan lede van die publiek wat nooit sou kwalifiseer vir enige finansiering by een van Suid-Afrika se tradisionele banke nie. Die praktyk van mikrolenery het soos ’n veldbrand versprei oor die hele land. Dit was spoedig nodig dat die bedryf gereguleer word, want misbruike het ook nie agterweë gebly nie. Capitec het self ook as so ’n mikrolener begin, maar een met ’n verskil. Capitec skop gou stof in die ander mikroleners se oë deur aansienlike laer rentekoerse. Die kompetisie is mettertyd doodgedruk en opgekoop, en dit het ontwikkel tot ’n netwerk wat veral op die plattelandse gebiede gefokus het. Van hierdie punt af is die dienste uitgebrei na bankdienste. Waar menige mikrolener in die verlede besit sou neem van verbruikers se bankkaarte, word bankrekeninge ingesluit by die diens wat Capitec lewer. Die aantal rekeninghouers groei skouspelagtig. Dit was veral te wyte aan die feit dat Capitec se kantoorure veel langer was as die ander vier groot banke, en later ook uitgebrei is na Saterdae en Sondae. Daarby onderskei Capitec nie tussen mense wat finansieel sterker is of swakker is nie, almal kry dieselfde Global One-rekening. Om alles te kroon, is die fooie aansienlik laer en die sisteme veel minder gekompliseerd. Van meet af aan is die klem stewig op tegnologiese innovasie, in aansluiting by die bank se naam, wat saamgestel is uit die begrippe Capital en Technology. Derhalwe speel selfhelpdienspunte (OTM’s), sowel as internetbankdienste van meet af aan ’n sleutelrol in Capitec se ontwikkeling. Anders as die gevestigde banke, hoef Capitec nie die langsame roete te volg om van ’n papiersisteem om te skakel na ’n elektroniese sisteem toe nie.
Capitec se toetrede tot die wêreld van die Suid-Afrikaanse bankwese sou uiteindelik die ander kommersiële banke dwing om hulle eie benaderinge drasties te hersien, of om al meer uit te sak en besigheid te verloor. Deur middel van die laer koerse, wat ander banke se koerse ook uiteindelik sou afdwing, word daar aanvaar dat Capitec die Suid-Afrikaanse verbruiker astronomiese bedrae geld bespaar het. Dit is benewens die eenvoud en gerief, wat die fasilitering van transaksies ook vergemaklik het en verbruikers verder aan tyd en frustrasies gespaar het. Die bestuur van ’n bank is egter ’n komplekse aangeleentheid en bedreiginge en krisisse skuil om elke hoek en draai. Daar word na interessante gevalle in die boek gekyk, soos die 2018-Viceroy-debakel (Viceroy is later skuldig bevind en beboet weens valse beweringe wat teen Capitec gemaak is). Die geval van Viceroy staan ook in verband met Capitec se skouspelagtige opkoms op die Johannesburgse aandelebeurs. ’n Aanvanklike belegging van sowat R1 000 in Capitec-aandele sou vir die aandeelhouer aangroei tot ongeveer R2 miljoen.
Die bankwese is ’n uiters kompeterende veld. Mense verander nie maklik van banke nie, ’n verskynsel wat die opkoms van Capitec des te meer merkwaardig maak. Capitec: Stryd met die grotes behels ’n goeie opsommende oorsig van die eerste twee dekades van Capitec se bestaan. Nuwe hoofstukke sal in die toekoms toegevoeg kan word, want die storie is nog lank nie voltooi nie. Capitec se dienste het oor die jare aansienlik uitgebrei en sluit deesdae ook onder andere kredietfasiliteite in. Strydig met die bank se historiese eksklusiewe fokus op Suid-Afrika, is daar sprake dat die bank moontlik ook in die toekoms internasionaal kan begin meeding, veral in streke met ’n behoefte aan die soort sakemodel wat Capitec kan bied. Nuwe rolspelers in die mark soos TymeBank, Discovery en Old Mutual se beplande bank bied nuwe kompetisie waarteen die waarde van Capitec-produkte gemeet kan word vir verbruikers.
Alhoewel TJ Strydom se weergawe van Capitec se geskiedenis besonder toeganklik geskryf is, is daar duidelik ook ’n omvattende en deeglike ondersoek gedoen. Daarvan getuig die boek se uitgebreide eindnotas. Die bronverwysings is goed geïntegreerd; dit sluit onderhoude, verslae, koerantberigte en boeke in. Die wêreld van bankwese is tipies ’n konserwatiewe en veral manlik gedomineerde wêreld. Iets wat mens nogal opval, is die afwesigheid van vroueleiersfigure in die boek. Mens dink veral uit die perspektief van jong lesers wat dalk so ’n boek as ’n inspirerende sakeboek sou wou lees. Dit is egter nie ’n boek oor individue hierdie nie. Capitec se storie is die storie van idees. Die les wat enige mens uit hierdie boek kan neem, is dat wanneer die regte vrae gevra word, daar innovasie plaasvind. Deur die fokus te plaas op die behoeftes van gewone mense en oplossings vir hulle uitdagings te probeer ontwikkel, kon Capitec daarin slaag om binne twee dekades van onder af te ontwikkel tot een van die heel grootste banke in Suid-Afrika, een wat in dié proses sommer die hele nasionale sisteem ook ten goede verander het.
Lees ook:
Your ultimate personal finance guide by Johan Gouws: a review
Iets vir baas én Klaas: ’n lesersindruk van Impossible bosses