Wat is finansiële advies en is dit vir almal? Is dit vir beginners wat nou net met ’n loopbaan begin, of net vir diegene wat reeds genoeg spaargeld bymekaargemaak het?
Wat is die kostes en het ek ’n finansiële adviseur nodig, of kan ek dit self doen?
Die antwoord is eenvoudig. Dit is vir almal en dit is ’n onafwendbare noodsaaklikheid vir enigeen ten einde sy/haar geldsake effektief en kostedoeltreffend te bestuur.
Ek gaan poog om hierdie delikate aangeleentheid in ’n neutedop, dog so deeglik moontlik, aan te spreek, dat hierdie inligting ten minste as ’n basis vir die vermyding van onnodige foute in die beplanningsproses kan dien.
Finansiële adviseur
Kom ons begin met die noodsaaklikheid van ’n goeie finansiële adviseur. Ek sou sê dat dit redelik belangrik is en dat goeie finansiële adviseurs geredelik bekombaar is en heel bekostigbaar is.
Hoe lyk so ’n persoon se ideale profiel?
-
- Iemand met ervaring in die bedryf.
- Het reeds kwalifikasies relevant tot die bedryf, bv BCom, diplomas in finansiële beplanning. (Assosiasie met professionele verenigings is nie noodwendig altyd ’n maatstaf nie.)
- Iemand met ’n kennis van belasting, veral indien hy beleggingsadvies verskaf.
- Iemand wat toegang tot ’n verskeidenheid van produkte het en nie net gebind is aan produkte van enkele maatskappye wat hoë kommissies aan hul adviseurs betaal nie.
- Iemand wat gerig is op die behoefte van die kliënt en nie net fokus op die bemarking van ’n produk nie.
- Iemand wat deur ’n betroubare kennis verwys word (dis altyd ’n bonus).
’n Finansiële adviseur moet aan jou waarde toevoeg, veral op die gebied van sy hoofdoel, nl advies. As jy moet kies tussen ’n adviseur wat jou goed laat voel met verjaardagwense en geskenke en een wat aan jou tegnies die beste advies kan gee, kies nommer twee.
Finansiële plan
Hoe moet die basis van ’n finansiële plan lyk? Is daar ’n bloudruk?
Daar is beslis. Van persoon tot persoon is daar nie altyd presiese ooreenstemming nie, want net soos wat ons nie dieselfde lyk nie, het ons nie altyd presies dieselfde finansiële behoeftes nie. Maar of jy nou baie ryk is of net ’n gemiddelde bestaan voer, bly die raamwerk vir ’n goeie finansiële plan presies dieselfde.
Ek gaan hierdie behoefteraamwerk in twee besprekingsdele opdeel en albei kortliks bespreek:
- Risikobehoeftes
- Beleggingsbehoeftes
Ek spreek dit aan en plaas dit in die vorm van ’n hiërargie. Ek bespreek risiko eerste en beveel ook altyd aan dat ’n kliënt ten eerste sy risikobehoeftes aanspreek. Die rede daarvoor is eenvoudig: Ons het ’n sekere tyd vir beleggings, maar ons weet nie wat die dag van môre kan bring nie.
Hiermee dus ’n raamwerk vir jou finansiële plan.
1. Risiko
1.1. Die behoefte aan lewensdekking
Die lewensdekkingbehoefte bestaan uit twee komponente, nl kapitaal en inkomste. Kapitaal is nodig om alle koste, bv boedel, begrafnis en bemakingskostes te dek terwyl ’n kontinue inkomste vir ’n oorledene se gesin of afhanklikes van kardinale belang is. Die som van hierdie twee komponente kan met ’n lewenspolis aangespreek word.
1.2 Die behoefte aan ongeskiktheidsdekking
Die behoefte aan ongeskiktheidsdekking bestaan uit drie komponente, nl kapitaal, inkomste vir permanente ongeskiktheid en inkomste vir ’n tydelike ongeskiktheid. Kapitaal is nodig ten tye van permanente ongeskiktheid om skulde af te los en ’n noodfonds te voorsien terwyl daar ’n inkomstebehoefte bestaan tydens siekte sowel as permanente ongeskiktheid. Hierdie voordele is baie bekostigbaar en moet altyd op jou polis as byvoordele geplaas word. Verskillende maatskappye definieer hul voordele verskillend en ag moet hierop geslaan word by uitname.
1.3 Die behoefte aan mediese dekking
Mediese-fonds-dekking en gapingdekking het ’n alledaagse noodsaaklikheid geword. Hospitale neem nie mense in sonder bewys van mediese dekking of kontant in die hand nie. ’n Hele spektrum van opsies is by elke mediese fonds beskikbaar en moet deeglik bestudeer word voor uitname.
1.4 Die behoefte aan dekking vir gevreesde siekte en ander dekking
Die meeste eise by versekeraars word onder hierdie afdeling uitbetaal, en hoewel daar nie werklik ’n metode bestaan om die hoeveelheid benodig te bepaal nie, is dit ’n belangrike byvoordeel op ’n polis.
Maak seker jou finansiële adviseur beskik oor die nodige vaardighede en kennis om jou behoefte te bereken en die gepaste dekking aan te beveel.
By ’n volgende geleentheid spreek ek meer van die besonderhede van die behoeftebepaling en produkte aan.
2. Beleggings
2.1 Die aftreebehoefte
Tensy die dood intree, tref hierdie probleem ons almal. Slegs 6% van alle mense kan dit bekostig om sonder hulp af te tree. Behoorlike tydwaarde-van-geld-ontledings moet gedoen word om die aanvanklike probleem te identifiseer, asook deurentyd ten einde die vordering van die oplossing te monitor.
Tipiese aftreeprodukte is:
-
-
- Uittredingsannuïteite
- Pensioen- en voorsorgfondse
- Pensioen- en voorsorgbewaringsfondse.
-
Baie belangrik:
-
-
- Verstaan die belastingimplikasies van beide jou bydraes en jou uitkeervoordele.
- Verstaan die kostes. Daar is drie kostes uitgedruk in ’n persentasie, nl
- ’n Platformfooi
- ’n Bestuursfooi
- ’n Adviseursfooi.
-
2.2 Die plasing van diskresionêre-spaarfondse-behoefte
Benewens die aftreeprodukte soos bo genoem, lê daar ’n heerlike spektrum van produkte vir die spaarbewuste persoon en wag.
Met ’n kombinasie van risiko en stabiliteit wat by die profiel van die belegger pas ten einde wesentlike groei op kort, medium of lang termyn te verseker, is daar verskeie produkte om van te kies en te keur. Suksesvolle spaarvoertuie is:
-
-
- Effektetrusts
- Beursverhandelde fondse
- Buitelandse effektetrust- en beursverhandelde fondse
- Spaarplanne
- Buitelandse enkelbedragbeleggings
- Waarborgprodukte
- Persoonlike-aandele-portefeuljes.
-
Elkeen van bg beleggings het verskillende belastingimplikasies, en dit is belangrik dat die korrekte voertuig, bypassend tot jou belastingprofiel, gekies word om jou doel te verwesenlik. Weer eens is dit belangrik dat die koste van die produk beoordeel word. Ek sou nie kommissiegebaseerde spaarprodukte aanbeveel nie.
By ’n volgende geleentheid spreek ek die fynere besonderhede aan, soos die belastingaspekte en kostes, asook hoe om ’n produk te kies, en verskaf ek voorbeelde van ’n paar rooi ligte en wat om eerder te vermy.
- Andries Fourie: BComm, ILPA, Advanced Postgrad Dip Fin Planning, Registered (SAIT) Tax Practitioner
Lees ook: