
https://www.uj.ac.za/
Die UJ-pryse vir Afrikaans bestaan reeds sedert 2000 en bevorder graag uitnemende tekste uit enige genre wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is. Die UJ-prys word toegeken aan skrywers wat reeds in Afrikaans gepubliseer het, terwel die UJ-debuutprys geoormerk is vir ’n eerste publikasie in Afrikaans. Titels wat in die voorafgaande jaar gepubliseer is, mag ingeskryf word.
Altesaam 62 titels wat in 2023 verskyn het – waarvan 7 inskrywings debute was – het vanjaar meegeding. Tekste verteenwoordigend van ’n verskeidenheid genres, is ingeskryf: romans, digbundels, dramas, kortverhaalbundels, jeugliteratuur, asook niefiksie soos ’n biografie, ’n memoir en literêr-akademiese werk.
Die UJ-debuutprys word nie vanjaar toegeken nie. Die debuutprys is in 2001 en in 2005 ook nie toegeken nie.
Uit hierdie oes is dit ’n voorreg om die volgende vier boeke wat deur die beoordelaars uitgesonder is vir die kortlys van die 2024 UJ-prys, bekend te maak. Dit is alfabeties volgens die outeur. Baie geluk aan die skrywers en uitgewers:
- Nou in infrarooi – Tom Dreyer (Kwela)
- Mirre en aalwyn – Nicola Hanekom (Protea)
- Van vaders en vlugtelinge – SJ Naudé (Human & Rousseau)
- Gebeente – Etienne van Heerden (Tafelberg)
Interessant van hierdie jaar se kortlys, is dat al vier die titels verskillende genres verteenwoordig – ’n bevestiging van die UJ-pryse se unieke aard binne die landskap van literêre pryse vir Afrikaans. Gebeente is Etienne van Heerden se twaalfde roman wat op verskeie maniere aansluit by Toorberg, sy bekroonde debuutroman van bykans 40 jaar gelede. Die Hertzogprys vir Drama is reeds vroeër vanjaar aan Nicola Hanekom toegeken vir haar eksperimentele en innoverende Mirre en aalwyn. Met Nou in infrarooi maak Tom Dreyer, wat reeds verskeie romans asook ’n bundel korttekste gepubliseer het, sy debuut as digter. SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge is ’n teks wat die grense tussen die kortverhaalbundel, novelle, en episodiese roman uitdaag.
Dreyer en Hanekom was ook vantevore op die kortlys vir die UJ-prys: Dreyer in 2017 vir sy roman Dorado, en Hanekom in 2019 vir haar drama In glas.
Die wenner word binnekort aangekondig met die prysoorhandiging wat later vanjaar sal plaasvind by ’n geleentheid wat die Universiteit van Johannesburg se Kantoor vir Meertalige Taaldienste aanbied.
Beoordelaars: Karen de Wet (Universiteit van Johannesburg) is die voorsitter van die UJ-pryse vir Afrikaans, en saam met haar op die paneel was die letterkundiges Frederick Botha (Sol Plaatje Universiteit) en Janien Linde (Noordwes-Universiteit), die digter en keurder Ronelda Kamfer, en skrywer en regisseur Mercy Kannemeyer.
Lees ook:
Nou in Infrarooi deur Tom Dreyer: beleef die Stellenbosch-bekendstelling asof jy daar was
Nou in infrarooi deur Tom Dreyer: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Suidoosterfees 2024: Mirre en aalwyn en Onder ’n bloedrooi hemel: ’n onderhoud met Nicola Hanekom
Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke
Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n lesersindruk oor juridiese perspektiewe
Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

