
Nicola Hanekom (foto: Grant Swanby)
........
Die mag van die verhoog is anders as die mag van geskrewe woorde. Ek het probeer om gedagtes in dialoog te omskep, om reise van die verstand voete te gee, voete wat op die planke kan loop.
........
Nicola Hanekom is onlangs weer met die Hertzogprys bekroon, dié keer vir haar dramateks Mirre en aalwyn. Sy praat met Naomi Meyer oor hierdie toekenning, asook haar betrokkenheid by die Suidoosterfees (waarvoor sy Annemarié van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel van boek- na verhoogteks verwerk het).
Nicola, jy het onlangs die Hertzogprys vir Mirre en aalwyn ontvang. Weer ’n slag die Hertzogprys ontvang! Baie geluk. Wat beteken dit vir jou, as skepper van dramatekste?
Dankie vir die gelukwense. Om die Hertzogprys te ontvang is vir my ’n geweldige eer. Ek kyk met groot bewondering na ander skrywers, soos Etienne Leroux en Antjie Krog, wat dit meer as een keer ontvang het en voel dat ek nog nie regtig verdien om in hul geselskap te wees nie. Dit voel effe onwerklik.
Die naam verklap reeds dat hierdie dalk ’n soort evangelie is: ’n stuk wat werk met dood en met genesing. Of lees ek te veel daarin? Waaroor handel die stuk vir jou – as jy dit in ’n paar sinne moet opsom?

Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom is met die Hertzogprys vir drama bekroon
Onder die storie van Mirre en aalwyn lê ’n reeks vrae wat met mekaar skakel: Hoekom is ons konsep van God gekoppel aan die patriargie? Wat gebeur as ons dit ontkoppel in ’n wêreld waar vroueregte steeds onderdruk word? (Die nuwe wette teen aborsie in die VSA en al die opstande en verkragtings in Iran het by my gespook tydens die skryf hiervan en het tydens repetisies weer opgevlam.)
Wat gebeur as Jessie, ’n moderne vrou wat erg skade gely het as kind, met ’n messiaskompleks terugkeer na haar ouerhuis? Wat gebeur as sy saam met haar die mag van tegnologie en sosiale media bring om alles waarin haar familie glo te verpletter? Sy het per slot van rekening ongelooflik baie volgelinge – ontelbaar. Dan, die laaste sprong: Sy bring ook saam met haar die tyding van KI. As die mag van die skepper opgesluit gelê het in die woord, wie het nou die mag? Die kletsbot? Ons het lankal ons woorde verruil vir vervlakking as gevolg van emoji’s. In ’n wêreld waar KI slimmer is as mense en net nog slimmer gaan word, wie is baas? Is ons “salig gesus in ons saggestopte eggokamers deur ’n verslawende algoritme”, soos Jessie sê? Het die mens met KI nou vir hom uiteindelik ’n god geskep wat werklik is, een sonder enige medemenslikheid wat nie met ’n naelstring aan enige moraliteit geknoop is nie?
Jy is ook die verwerker van Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk vir die verhoog by die Suidoosterfees. Die teks handel oor ’n soort afsterwe van ’n verhouding, en hier is ook die tema van gendergeweld – en dalk ook genesing. (Tematiese raakpunte met Mirre en aalwyn, dalk?) Hoe is dit vir jou anders om met ’n werklike mens se gegewens te werk teenoor ’n toneelstuk wat jy self fiktief skep?

Onder 'n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk
As mens met die werklikheid omgaan, moet mens meer respek hê, want dis soms erger as die verbeelding. Mens moet met deernis te werk gaan as jou vertrekpunt nie fiksie is nie, want mense is broos. Annemarié was geweldig braaf met die skryf van haar boek. Ek het probeer getrou bly aan wat sy geskryf het.
Maar is enige toneelstuk ooit heeltemal fiktief?
Seker nie. Ek vermoed dis ’n klomp vermaaklike leuens waarbinne onverskrokke waarhede opgesluit is. Dis die kombinasie van lag en huil, van vermaak en vuishoue wat op een of ander manier altyd deur my vloei.
Vertel asseblief van jou ervaring met die toneelstuk Onder ’n bloedrooi hemel by die fees.
Onder ’n bloedrooi hemel … Wat ’n ongelooflike plesier om hieraan te kon werk. Die skryf het gesukkel met tye, omdat mens baie minder tyd het op die verhoog en geensins alles wat in die boek is, kan uitbeeld nie. Daar is soveel subtiele insig, soveel debat, besonderhede en nuanses in die memoir, maar verhoogtyd vereis dat mens stroop en ek het lank kop gekrap oor hoe om die essensie te behou.
Die mag van die verhoog is anders as die mag van geskrewe woorde. Ek het probeer om gedagtes in dialoog te omskep, om reise van die verstand voete te gee, voete wat op die planke kan loop. Daar is wonderlike akteurs betrokke by die produksie. Teater is die akteurs se medium, so ek het hul probeer bemagtig. Op die ou einde rus die krag van die produksie by die akteurs. Dis hulle wat nou hul eie lewenservaring moet bring en alles eg moet maak. Ek is seker onder Mari se spelleiding sál hulle ook. Ek hoop dat diegene wat die stuk bywoon, ook geprikkel sal wees om die boek te lees. Dis die moeite werd. Annemarié kyk na baie dinge waarvoor ander sou skroom. Ek waardeer die eerlikheid van haar boek. Sy is dapper. Dis raar.
Lees ook:
Suidoosterfees 2024: Cintaine Schutte oor Onder ’n bloedrooi hemel op die planke
Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke
Onder ’n bloedrooi hemel deur Annemarié van Niekerk: ’n LitNet-Akademies-resensie-essay
Kommentaar
Daar is eintlik 'n baie eenvoudige antwoord op die vraag oor hoekom ons konsep van God gekoppel is aan die patriargie, maar dit is nie 'n antwoord wat mense graag wil hoor of bespreek nie. Die antwoord is natuurlik: Die Bybel.
EFESIËRS 5:22-33 AFR83
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
Die kerke en geloofsgemeenskappe gee gevolglik redelik streng gehoor aan hierdie opdrag uit die bronstydperkboek wat hulle oortuig is uit die hemele uit na ons geval het. En hulle sal waarskynlik nooit anders maak nie. Mans en vroue word deur geloofsgemeenskappe voorgehou as teenoorgesteldes wat elke 'n eie spesifieke funksie in die samelewing het. Daarvolgens moet mans finansieel voorsien en vroue moet die gesin dien. In sulke gemeenskappe is 'n werklose man net so erg soos 'n ongetroude vrou. Samelewings ontwikkel volgens hierdie verwagtinge en vooropgestelde idees wat Christelike tradisies deur middel van die Bybel propageer as God se visie vir die mensdom. 'n Klein persentasie vroue wat uit gegoede families kom, kan vir hulleself kwalifikasies bekom en 'n loopbaan bou. Die deursnee jongmens is egter vandag werkloos en met min tot geen vooruitsigte, behalwe miskien om in 'n gegoede familie in te trou. So word die siklus keer op keer herhaal.
Kunsmatige Intelligensie is werklik. God is nie. Dit sou eintlik veel minder bisar wees om KI te aanbid as iets wat nie bestaan nie. Maar hier sit ons nou. In 2024.