Oorsig: Dit is ’n Noord-Kaap Ding-kollokwium oor die Noord-Kaap

  • 2

Dit was die tweede suksesvolle kollokwium wat aangebied is deur die Skool vir Geesteswetenskappe, Sol Plaatje Universiteit (SPU), Kimberley, in samewerking met die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK).

Die idee vir die kollokwium, wat van 17 tot 19 Oktober 2022 plaasgevind het, is dié van Lorato Mokwena, boorling van die Noord-Kaap en dosent in linguistiek aan UWK. Dit is ’n Noord-Kaap Ding is ’n kollokwium wat die diepgewortelde geskiedenis van die provinsie van nader bekyk en die verstommende natuurlike skoonhede en bronne ten toon stel. Dit gee geleentheid vir indringende besprekings oor die veredeling van die mense van die Noord-Kaap en hulle diversiteit.  

Lerato Mokwena (UWK) en Andrew Crouch (SPU) (Foto: Sol Plaatje Universiteit)

Die kollokwium strek oor die grense van Suid-Afrika, so ver as Botswana en Namibië, en is geopen deur UWK se visekanselier, Tyronne Pretorius en Andrew Crouch, visekanselier van SPU, albei boorlinge van die Noord-Kaap.

Tyronne Pretorius (UWK) op die skerm met lede van die gehoor (Foto: Sol Plaatje Universiteit)

Oor twee en ’n halfdae is ’n vol program met vyf verskillende temas rakende die Noord-Kaap aangeraak, naamlik Khoi-, San- en inheemse tale en variëteite, kontemporêre sake, nalatenskap, koloniale weerstand en gemeenskapsbetrokkenheid. Op die eerste dag het Anderson Chebanne van die Universiteit van Botswana ’n assessering van die huidige linguistiese situasie van die Khoi en San in suidelike Afrika gegee. Hy het ook verduidelik watter pogings aangewend word om die Khoi- en San-tale en -identiteit te beskerm.

Anderson Chebanne van die Universiteit van Botswana (Foto: Sol Plaatje Universiteit)

Niklaas Fredricks van die Universiteit van Namibië het voorstelle gemaak hoe om gesproke Nama te bemagtig deur die verskillende ortografieë te harmoniseer. Die variëteit staan in Namibië bekend as Khoekhoegowab ter wille van pragmatiese oorwegings en sluit Nama, Damara, en Haiǁom in. In Suid-Afrika word dit slegs Nama genoem.

Een van ons honneursstudente in Afrikaans, Carl Julius, het oor sy navorsing gepraat wat oor Griekwa- en Namakwaland-Afrikaans vanuit ’n variasionele sosiolinguistiese benadering handel. Hy het voorbeelde uit literêre tekste wat in hierdie variëteite geskryf is, en ook gesproke voorbeelde, op verskillende taalvariasievlakke ontleed.

Carl Julius (SPU) (Foto: Sol Plaatje Universiteit)

Daarna het Lorato Mokwena en Piet Berendse (!ARU |KHUISI), wat homself ’n Boesman van die Kalahari noem, oor die bewaring en jagkultuur van die Noord-Kaapse Boesmanmense gepraat en gesê: “This ‘new’ apartheid is hard on us – the ‘old’ apartheid was lighter on us”, waar hy verwys na die huidige regering wat nie hulle taal en kultuur erken nie.

Trevor McArthur, dosent in sosiologie aan die UWK, het oor die Namakwalandse jongmans gepraat wat hulle manlikheid deur die rituele van die rieldans, koordans en seksdans probeer bewys. Sy aanbieding het op ’n skoolgebaseerde etnografiese studie van ’n klein dorpie in Namakwaland gefokus.

Trevor McArthur (UWK) (Foto: Sol Plaatje Universiteit)

Die eerste dag is afgesluit deur ’n vertoning van The broken string, ’n dokumentêre film wat in Upington verfilm is en waar Oom Piet Berendse en Oom Hans Springbok ’n baie somber weergawe gee van die onreg wat die San-mense aangedoen is, nie net in die verlede nie, maar ook vandag.

Die tweede dag het afgeskop met ’n aanbieding deur David Morris, buitengewone professor in Erfenisstudies aan SPU en argeoloog van die McGregor Museum in Kimberley. Hy het gepraat oor prekoloniale spasie en ontologie: fisiese en konseptuele nalatenskappe teenoor die kadastrale en klassifiserende logistiek van die kolonie. Sy aanbieding het op rotstekeninge in die Noord-Kaap gefokus, veral op letterlike en konseptuele grensoorgange (byvoorbeeld tussen munisipale grond, plase en nasionale parke) en ’n beroep gedoen dat die landskap en rotstekeninge herwaardeer en herbeskou moet word.

Garth Benneyworth het daarna gepraat oor swart konsentrasiekampe en gedwonge-arbeid-kampe in Kimberley en Dry Harts gedurende 1900 tot 1902. Interessant genoeg bestaan daar geen gedenkteken vir hierdie twee swart konsentrasiekampe nie. Alhoewel die gevolge van konsentrasiekampe vir Afrikaners gewelddadig en dodelik was, kan daar gesê word dat dit nog erger was in die geval van swart konsentrasiekampe. Dit is maar in die laaste twee dekades dat hierdie gebeure deel van die historiese diskoers geword het.

’n Meestersgraadstudent aan UWK, Romario Cloete, het sy navorsing oor die nalatenskap van die kopermyne van 1850 in Nababeep in Namakwaland gedeel en gekyk na die verskillende perspektiewe van die inwoners, die mynmuseum en outo-etnografieë. Die onlangse herlewing van mynontwikkeling in Namakwaland plaas weer nuwe perspektiewe op gebeure rondom die impak wat die “dood” van die myne op die biografieë van die gemeenskap gehad het en of hierdie biografieë liewer nekrografieë genoem moet word.

Cobus Rademeyer van die Geskiedenis-departement aan SPU, het interessante feite gedeel oor die rol wat sport as weerstand teen kolonialisme in die Noord-Kaap, en veral gedurende die Rhodes-era in Kimberley van 1880 tot 1920 gespeel het. Isaiah Bud Mbelle het ’n prominente rol in hierdie opsig gespeel. In 2008 word hy by die Suid-Afrikaanse Sport Heldesaal ingelyf as die “Vader van Swart Sport in Suid-Afrika”, maar het nog steeds nie volle erkenning vir sy rol in sport tydens die bloeitydperk van die diamantstormloop in Kimberley ontvang nie.

Cobus Rademeyer (SPU) (Foto: Sol Plaatje Universiteit)

Jean-Mary Tjiohimba, die stigter van The San Vision Foundation het die lief en leed van die Xun- en Khwe-gemeenskappe in Platfontein geskets en uitgebrei oor die planne wat hulle vir hierdie gemeenskappe het. Hulle visie is om die narratief van die Khoi- en San- gemeenskappe positief deur ingryping te verander wat groei, toeganklikheid en selfvolhoubare ontwikkeling kan skep.

’n Baie lewendige aanbieding was dié van Anmiray Opperman, digter en kultuurerfenisgids, wat die gehoor met haar gedigte vermaak het. Sy vra die vraag: “Who am I?” rondom haar eie identiteit, herkoms en bestaan wat duidelik in haar gedigte na vore kom. Van haar gedigte is al in die ATKV-publikasie Sprankel gepubliseer. Deur haar digkuns eis sy haar ware identiteit as Khoi! op.

Die derde en laaste dag van die kollokwium is afgesluit met twee baie interessante aanbiedings deur Tumi Malope en Jacob Cloete. As deel van sy PhD-studie het Malope gepraat oor die Just Energy Transition – ’n projek wat twee windplase buite Loeriesfontein behels. Sy studie fokus op gemeenskapsontwikkeling en die impak wat hierdie projek op die gemeenskap het. Hy lig belangrike kwessies rondom hierdie projek uit deur te kyk na wat verandering in die Karoo behels.

Jacob Cloete, ’n dokumentêrefilmmaker, fotograaf en navorser met ’n PhD in politieke wetenskap, het die gehoor ingelig en vermaak met sy gevallestudie oor die|khâba ra (rieldans): “Asbrood en hardevet – weerstand teen kolonialisme”.

Jacob Cloete (UWK) (Foto: Sol Plaatje Universiteit)

Alhoewel die rieldans herleef het onder die bestuur van die ATKV, skryf hulle, volgens Jacob Cloete, in ’n mate voor hoe die dans uitgevoer moet word. Cloete voel dat dit ’n “spektakel” van die oorspronklike dans is. Hy het ook die gehoor betrek deur hulle te leer hoe om die rieldans behoorlik te doen op die maat van Pieter van der Westhuizen se musiek.

Groepfoto van aanbieders en lede van die gehoor (Foto: Sol Plaatje Universiteit)

Die plan en hoop is om Dit is ’n Noord-Kaap Ding op SPU se jaarlikse kalender te plaas sodat dit kan voortgaan om prikkelende idees en insiggewende gesprekke rondom die Noord-Kaap te ontlont en sodoende oplossings vir die talle uitdagings in die provinsie en met betrekking tot sy mense te vind.

Lees ook op LitNet Akademies:

ATR-komvandaan-seminaar 2019: Van “brokwa” tot “broodgoed” – op reis met Oranjerivierafrikaans (Gariep-Afrikaans)

Ontronding in Kharkamsafrikaans?

Vrouevertalers en -tolke van Khoesan-tale in die Suid-Afrikaanse koloniale geskiedenis: ’n morfogenetiese perspektief

Afrikaans as lingua franca in Namibië, ca. 1800-1920

Lees ook:

Geskiedkundige konferensie oor Afrikaans in die Noord-Kaap

Khoekhoegowab, ti ǂnīsasib

Jakes Gerwel-gespreksreeks (Suidoosterfees): Krotoa – wat beteken sy vandag?

Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis

Ont-taling

Bradley van Sitters se staatsrede-lofsang: Khoekhoegowab-, Nama- of "KhoiSan"-seënbede?

Van plat tot volrond en rondborstig in my taal

#opdielug met Romario Fabiano Cloete

Oranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen

Afrikaans: die groter prentjie

"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"

V.I.T.O., die Nam-Afrikaanse rapper wat sy wortels omhels

  • 2

Kommentaar

  • Theodorus du Plessis

    Gefelisiteer, SPU en UWK met hierdie belangrike inisiatief! Ons lees graag vorentoe meer omtrent die voortbrengesels van julle seminaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top