![]() Foto: verskaf
|
|
Sêgoed van Johan Jack Smith Charles Smith vra of sy skrywerskap ’n natuurlike skeppende uitvloeisel van musiek is en of die skrywerskap ’n nuwe rigting is: “Ek dink selfs met die band was die sterk punt tog die lirieke. Dis waar my voorliefde lê, by skryf, hetsy dit lirieke, poësie of prosa is.” (Volksblad, 5 Oktober 2019) Wat is die sin van die lewe, soos gesien deur Johan Jack Smit? “As jy weet, of dit gekry het, vertel vir my ook asseblief ... Op hierdie stadium wil ek net iets goed genoeg doen waaroor mense kan skryf, of iets skryf wat mense sal onthou. Verder drink ek maar al die tergende vrae weg.” (LitNet, 14 Mei 2013) Ons het al hieroor gepraat, maar dit is nou later en dinge verander: Wat dink jy deesdae is die sin van die lewe? “Ek dink nie dit het verander van die vorige keer nie. Maar dalk het iets bygekom. Om net iets goed genoeg te doen waaroor mense kan skryf, of iets skryf wat mense sal onthou. En ’n goeie pa te wees vir ons laaitie. Een van die dae.” (LitNet, 9 April 2015) Charles Smit het Johan Jack Smith as die Nick Cave van Afrikaans beskryf – die sanger/skrywer van donker lirieke en stories: “Dis nogal ’n kompliment, dankie! Ek is al die Quentin Tarantino van Afrikaanse fiksie genoem. Nou gaan my kop behoorlik swel. Ek dink nie dis nuut nie – daar is vele Afrikaanse skrywers en liriekskrywers wat nogal donker skryf – maar ja, die deursnit-temas waaraan ek raak, is maar aan die donker, ‘grimmige’ kant.” (Volksblad, 5 Oktober 2019) Naomi Meyer en Remona Voges wou meer weet oor die rol wat Johannesburg speel in die Zola-verhaal. Wat prikkel jou van die stad? “Ek is mal oor Johannesburg. Hier is soveel stories en geskiedenis wat my interesseer, en die uiteenlopendheid van die plek is besonders. Alexandra lê byvoorbeeld reg langs Sandton. Rykdom en armoede. Van die een uiterste na die ander. En dan iets waaraan ek sterk glo: Skryf wat jy ken. Ek bly al agt jaar hier; dit het gehelp. Indien ek oor Kaapstad sou moes skryf, sou dit rampspoedig wees. Of eerder, baie meer navorsing verg.” (LitNet, 28 Mei 2020) Sy skryfroetine: “Die draaiboek drie weke, die boek seker so ses maande, met die redigering uitgesluit. Ek het konstant ’n notaboek byderhand waar ek die dae neerplot, wat moet gebeur, ens. Ek neem stemopnames op my selfoon indien ek aan iets kan dink. Die verkorte draaiboek het baie gehelp – ek sal die volgende boek weer so aanpak. Ek is nie een van daai skrywers wat kan sit en sommer skryf wat by jou opkom nie. Die skryfwerk het meeste van die tyd maar in die aande plaasgevind.” (LitNet, 28 Mei 2020) Wat is die belang van Afrikaanse letterkundepryse soos die Eugène Marais-prys vir Afrikaanse skrywers? “Ek dink dis fantastiese motivering om weer, en beter, te skryf. Ek het gaan kyk na vorige skrywers, en het gedink: ‘Bliksem, jy bevind jouself nou in goeie geselskap.’ Dit is ’n ongelooflike gevoel om op dieselfde lys te wees as skrywers wat jy respekteer en bewonder het van ’n jong ouderdom af.” (LitNet, 28 Mei 2020) Is daar hoop en uitkoms vir ons en ons land? “Ek is soms bekommerd. Nie net oor geweld en dwelms nie, maar oor my seun se toekoms. Sal daar geleenthede vir hom wees? Sal hy regverdig behandel word? ’n Mens kan hom probeer toerus vir wat gaan kom, maar jy het nie ’n waarborg van hoe alles gaan uitdraai nie. Ek het hoop, ja. Dinge vat dalk lank om te verander, maar as dit eers verander, verander dit geweldig vinnig. Dink aan die Berlynse muur. ’n Mens moet positief probeer bly, al is dit net vir jou kinders, en al is dit moeilik. Wat help dit jy bly hier en breek alles af? Dan moet ’n mens maar liewer emigreer en die pad vat.” (Volksblad, 5 Oktober 2019) Het jy enige raad vir voornemende skrywers van misdaadfiksie? “Doen behoorlik navorsing oor polisieprosedures – daar is lesers daar buite wat dadelik gaan agterkom as jy nie weet waarvan jy praat nie. Gesels met polisiemanne en prokureurs. Daar sal nooit ’n tekort aan idees wees nie, jy hoef net weekliks ’n Suid-Afrikaanse koerant oop te maak. Ek sal my volgende boek ook eers as ’n draaiboek skryf; dit help baie as jy reeds die buitelyne van ’n verhaal het.” (LitNet, 25 September 2019) Alita Steenkamp op Facebook: “Hy vertel dat sy liefde vir woorde en om skeppend in Afrikaans te wees, gestimuleer is deur die werk van Johannes Kerkorrel wat hy as ’n veertienjarige skoolseun raakgeluister het. Voor dit was Afrikaanse letterkunde wat deel was van die kurrikulum vir hom geforseerd en dit het nie werklik met hom gepraat nie. Van daar het dinge verander. Iewers het sy Afrikaans-onderwyser hom ook verseker dat hy talent het, maar dat hy bloot net te lui was!” Oor die uitsonderlike buiteblaaie van Taalgenoot: “’n Mens leer maar deur die jare wat mense ongemaklik maak en waar om die streep te trek. Enige onderwerp is egter bruikbaar, solank jou redenasies, bronne en motivering net gebalanseerd is. Dis maklik om te skok, maar dis moeiliker om in te lig sonder om te skok. Soms moet ’n mens egter ’n bietjie die hok skud. Dit was egter nog nooit my doel nie – ’n goeie storie bly ’n goeie storie, ongeag die onderwerp.” (LitNet, 27 Januarie 2017) |
Gebore en getoë
Johan Jack Smith is in Virginia op die Vrystaatse Goudveld gebore. Hy het twee broers gehad.
Hy het aan Charles Smith (Volksblad, 5 Oktober 2019) vertel: “My gesinsomstandighede was heel normaal in vergelyking met ander mense s’n, maar ek was omring deur baie goed wat minder ideaal was.”
Op LitNet het Smith aan Remona Voges en Naomi Meyer gesê: “Ek was nog altyd lief vir die ‘alternatiewe’ deel van Afrikaans – ek dink dit het begin met Johannes Kerkorrel, later RR Ryger en Tom Dreyer. My Afrikaanse juffrou op skool het gedink ek kon goed skryf, ‘maar traak-my-nie-agtigheid en luiheid’ het my verhoed om goeie punte te kry. Ek het in my laat tienerjare begin met gedigte skryf.”
Verdere studie en werk
Ná skool is hy na die CUT in Bloemfontein waar hy sy BTech in grafiese kuns en ontwerp gedoen het deur ’n moderne fotoverhaal Die avonture van Malboer te ontwerp en te skryf. Hy was ook joernalis van die studentekoerant, en vir ’n jaar redakteur.
Hy het Die avonture van Malboer self gepubliseer, maar dit is versprei na al die groot handelaars. Riaan Grobler (Beeld, 9 Augustus 2014) het Ignatius Malboer só beskryf: “Malboer is ’n rowwe kalant. Hy rook, drink hárd, is mal oor los vroue en staan nie terug vir ’n bakleiery nie. Hy glo in geregtigheid, maar maak sy eie reëls. Die spook van Etienne Leroux is sy enigste morele kompas.
“As oudsoldaat en -polisieman is hy vol wraak en geen skurk wil hom voor sy geweerloop bevind nie. In ’n distopiese samelewing probeer Malboer self reg en orde skep deur die stelsel met geweld en bloed op sy knieë te dwing.”
Deon Maas skryf in Rapport (6 Oktober 2013) oor Malboer: “Malboer is die perfekte Afrikaner-held vir die post-Bok van Blerk-generasie: ’n steampunk-Boere-cowboy met ’n wraakfantasie groter as ’n EFF- of Golden Dawn-lid. ’n Post-apokaliptiese B-graad-held wat hou van borste, geweld en bloed (en in die ou dae Texan Plain sou gerook het). (…)
“Hierdie is ’n genre wat nie mal is oor te veel dink nie en dis tans baie gewild. Synde hierdie nie die soort literatuur is wat jy geniet met ’n klankbaan van die Afrikaanse Prime Circle – Heuwels Fantasties – nie, word dit gelaat aan die ondergrondse punks om hier leesstof vir ons te skep. En wat ’n punk is Johan Jack Smith nie.
“Die eerste ding wat jy moet besef voor jy Malboer lees, is dat, anders as wat die media tot dusver hieroor beweer het, dit nie ’n fotoverhaal is nie. Hierdie is ’n volwaardige 21ste eeuse grafiese novella, kompleet met punk-agtige grafika, geen drie- of vier-paneel-grid nie en sommer baie vriende wat verskillende rolle vertolk. Tuisgemaak dus. (…)
“Hoewel ’n mens kan argumenteer dat Dewald Darren se indoktrinasietegniek getiteld ‘volksvervlakking’ reeds aan die gang is, is daar baie ander verwysinge na huidige Afrikaanse popkultuur waaroor Smith se (merendeels) sarkastiese opinie gelug word. Hulle sê mos die beste sight is hindsight en hoeveel makliker as jy nou iets skryf wat in die toekoms afspeel. Die storie self is baie soos Shakespeare. Jy weet hoe dit gaan eindig. Soos ons met Game of Thrones gesien het, is daar altyd iets wat kan gebeur wat jou skok, maar as dit by wraakliteratuur kom, is dit voorspelbaar. Dis nie die bestemming, maar die reis. Smith maak ’n goeie eerste indruk. Die avonture van Malboer sien die skepping van ’n belangrike nuwe Afrikaanse sub-genre in Afrikaans. Mag daar nog baie wees.”
Voordat Johan Jack sy hand aan die skryf van romans gewaag het, het hy die band Volkspeler gestig wat aanvanklik in Bloemfontein opgetree het en later ook in Johannesburg. Hy was die hoofsanger van Volkspeler. Elretha Britz het Volkspeler beskryf as ’n “donker, Afrikaanse anti-establishment wat lirieke op die maat van sterk industriële en elektroniese ritmes sing”.
Johan Jack Smith is met Almerie Kirsten getroud en hulle het een seun, Rijger. Almerie het hom as stemkunstenaar bygestaan en hulle seuntjie (8 jaar oud in 2023) is vernoem na die skrywer RR Ryger.
Hy is in Februarie 2022 aangestel op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie se Adviespersoneel van 100 lede vir die tydperk van 2022 tot 2024. Die adviespaneel is uit die breë Afrikaanse taalgemeenskap saamgestel om die Taalkommissie te adviseer oor veral woorde vir oorweging en insluiting in die volgende uitgawe van die gesaghebbende Afrikaanse woordelys en spelreëls. Die bekende radio- en televisiejoernalis, Heindrich Wyngaard, is aangestel as die voorsitter.
Johan Jack het die agtergrond van Volkspeler kortliks aan Henry Cloete geskets (LitNet): “Ek het begin om van my gedigte en songs te toonset in 2009 nadat ek teruggekom het van Engeland. Gedurende my jeug het ek baie geluister na AC/DC en Nine Inch Nails, asook The Smashing Pumpkins en Prodigy. Ek het nog altyd gehou van die elektroniese element in rock songs. Ek het nie regtig veel geluister na Afrikaanse musiek nie, met die uitsondering dalk van Johannes Kerkorrel en Koos du Plessis. Ek en Henry Davis, ’n klankingenieur van Bloemfontein, en ook Volkspeler se eerste guitarist, het saamgesit en nege songs uitgewerk vir die EP. Daarna het Francois Vermeulen van Walrusband bygekom op bass, en Andrew Spencer op drums.
“Ons het die meeste van die tyd net in Bloemfontein gespeel. Van die begin af was die reaksie gemeng – van die mense was mal oor die projek en sommige het uitgestap by die shows. Ons het egter redelik radiolugtyd gekry vanaf die EP. Twee van die songs, ‘Metamorfeer’ en ‘As die hart breek’, was nommer een by Pukfm. Die liedjie ‘Rakpakker (2 Jaar Visa)’ was die eerste song wat op RSG gespeel is op Ettienne Ludick en Deon Maas se show sonder dat die vloekwoorde uitgehaal is. In 2009 het Tempo-luisteraars Volkspeler gestem as die beste groep/projek gesamentlik met Die Heuwels Fantasties en Bellville Rock City. In 2010 het ons die vollengte-album 11 Dodelike Sondes uitgebring, met ‘Spook en Diesel Bandiet’ wat redelik baie lugtyd gekry het. Ons het ook ’n nuwe guitarist bygekry – Roelof Kotze vanaf die destydse Bloemfontein-groep DieVersion, en ons het ook die drummer vervang met tracks. Einde 2012 het ek Johannesburg toe verhuis. Francois Vermeulen het gebly by Volkspeler, en Roelof Kotze is op guitar vervang deur Johan Vos.”
In 2013 het hy sy eerste solo-album aangepak. Oor hierdie besluit het hy verder uitgebrei teenoor Henry Cloete: “Ek het heelwat materiaal gehad wat nie regtig sou pas in die verse-chorus-verse formaat nie, asook ’n paar kort stories en gedigte wat ek geskryf het. Ek het een aand van die stories vertel en gedigte voorgedra by een van die Dowe Digters-samekomste in Irene en die mense het daarvan gehou. Ek het toe gaan sit en ’n vollengte-album bymekaar gesit. Musiek is vir my ’n fantastiese medium vir stories of gedigte. Dit help net soveel meer om emosie uit te bring. Kombineer dit dan met sterk visuele elemente, en jy het ’n wenner. Dalk het ek maar net bietjie ouer geword – die laat nagte wat gepaard gaan met ’n band raak bietjie erg deesdae. Ek wou aanvanklik ook eers ’n acoustic album maak, maar die meeste van die materiaal is nou gebruik vir DJJSAM. Ek sal seker weer een of ander tyd moet sit en skryf.”
Cloete wou ook by Smith weet hoe sy benadering in liriek-skryf/liriek-skep vir die nuwe projek verskil van dié van Volkspeler: “Met Volkspeler word bietjie meer gefokus op die musikale deel, alhoewel die lirieke steeds ’n baie groot rol speel. ’n Ordentlike ‘hook’ is broodnodig in ’n rock song (of enige song) en meeste van die tyd fokus ons daarop om ’n perfekte balans te probeer kry. Volkspeler het meer die rock ’n roll element – jy moet daarop kan dans, of dit moet jou laat voel of jy deur ’n muur kan hardloop, daardie gevoel van hoendervleis en onsterflikheid as jy daarna luister. Met die nuwe projek gaan alles oor die stories en gedigte. Eers die gedigte, dan die musiek wat dien as ’n vehicle om dit beter oor te dra. As jy nie ’n knop in jou keel kry as jy daarna luister nie, of mense kan hulself nie daarmee assosieer nie, het die song gefaal.”
In Desember 2013 het Johan Jack met sy solo-vertoning Alleenmandaat by die Aasvoëlklub in Bloemfontein opgetree. Die uitnodiging het as volg gelui: “Woorde en melodieë wat diep in die Afrikaner-psige delf. Beelde wat op jou retina afgeëts word. Trek nader die tequila en kry jou sit.”
In Julie 2015 is Smith na Bloemfontein met sy visuele woordkunsstuk Saaiplaas 2 Skag wat hy tydens die kunstefees aangebied het. Dit kyk na die storie van ’n middeljarige man en sy bejaarde vader wat terugkyk op hul lewe op Suid-Afrika se goudvelde in die 1980’s.
Volgens Smith het sy pa se vertellings van sy grootwordjare gedurende die Tweede Wêreldoorlog en sy ondervindings van 30 jaar op die myne as die agtergrond gedien vir hierdie stuk: “Ek is gefassineer deur die mynerkultuur waar verlies, hoop en oorlewing aan die orde van die dag is. (…)
“Die produksie is van ’n diep, nostalgiese, persoonlike aard wat die donkerder dele van jou korteks gaan binnedring en opskud. Dit grawe in die Afrikaner-psige.”
Johan het vertel van sy formele werk (LitNet, 28 Mei 2020): “Peet Bothma van die destydse Sondagkoerant het my toe ’n pos aangebied as ontwerper, en toe (ná 12 jaar in die Vrystaat) is ek Johannesburg toe, waar die dinge begin gebeur het. Ek het begin met boekresensies vir Rapport en later rubrieke vir Netwerk24, toe was ek boekeredakteur vir Taalgenoot, adjunkredakteur en nou redakteur. Intussen het ek die band Volkspeler ook gehad, as woordkunstenaar opgetree en self in ’n toneelstuk gespeel op Aardklop. En alles in Afrikaans. Ek het opgetree in 2019 as opdraggewende redakteur by Wênkbrou, ’n druknaam van LAPA. Die ATKV gee vir my ’n tuiste waar ek gemaklik voel.”
Johan is in 2016 aangestel as redakteur van Taalgenoot, die ATKV se interne tydskrif. In 2021 het die elektroniese weergawe van hierdie tydskrif verskyn. Die gedrukte weergawe is egter nog altyd beskikbaar.
“Ons is baie opgewonde oor die nuwe wending,” sê Johan Jack Smith aan LitNet. “Hoe meer mense die tydskrif kan lees hoe beter. Dan kan almal daar buite ook sien met watse wonderlike werk die ATKV besig is.
“Daar is reeds ’n tekort aan Afrikaanse tydskrifte met murg in hul pype en weinig fokus nog op Afrikaanse literatuur, kuns en kultuur. Ons sien uit om meer lesers by die Taalgenoot-familie te verwelkom.
“Sedert 2017 het ons drie keer die Suid-Afrikaanse Publikasieforum se prys vir beste interne tydskrif, asook die gesogte toekenning vir beste korporatiewe publikasie, gewen. Die afgelope vier jaar het ons al weggestap met die pryse vir beste koppe (headlines), beste skryfwerk, beste kommunikasie, beste ontwerp, asook beste voorblad. Dis nog net die redakteur van die jaar wat kort …”
LAPA Uitgewers het in 2019 bespuit om hulle aanbod uit te brei met die daarstelling van ’n nuwe druknaam, Wênkbrou, en Johan is aangestel as uitgewer by Wênkbrou. Hy het aan AJ Opperman vertel (Beeld, 22 Januarie 2019): “Lapa se hoofkeuses was vir baie lank romanses, misdaadfiksie en jeugboeke. Ons het in ’n stadium gevoel dat ons ’n bietjie wil uitbrei en diversifiseer. Die gedagte het by Izak de Vries en Sylvia de Wet (Lapa se bedryfshoof) ontstaan. Ons wou ’n bietjie wegbeweeg van die genres waarin ons gewoonlik werk, maar daar is nie nou minder aandag aan romanse, misdaad of kinderboeke nie. Dit gaan nie afgewater word nie. Wênkbrou is ’n bykomende been. Die eerste boek wat deur Wênkbrou uitgegee is, was Réney Warrington se tweede roman, Smit Motors.”
Volgens Smith sinspeel die naam Wênkbrou daarop dat die publikasies wat ons gaan uitgee, die wenkbroue sal laat lig en hulle is nie van plan om omstrede publikasies nie te publiseer nie: “Deesdae is dit in elk geval moeilik om met ’n literêre werk die wenkbroue te laat lig. Gebeur dit nog? ’n Mens moet nogal redelik ver gaan om te skok.”
Johan Jack sou betrokke gewees het by van manuskripontwikkeling tot bemarking: “Op die ou end glo ek ’n goeie storie hoef nie noodwendig in ’n kassie geplaas te word nie. Ons wil net so bietjie wegbeweeg van die stereotipiese genres van fiksie. ’n Sterk manuskrip is ’n sterk manuskrip, of dit nou in ’n genre pas of nie. Dit val ook so reg in my kraal. Dit is die soort literatuur wat ek self lees.”
Izak de Vries skryf op LitNet (18 Julie 2023) oor Wênkbrou: “Die tweede Wenkbrou-teks, Sypaadjie, is ’n absoluut tradisionele romanse, geskoei op LAPA se Romanza-reeks. Die enigste verskil is dat dit twee vroue is wat mekaar liefkry. Beide is boonop baie Christelik, iets wat nie te algemeen is in die tradisionele reeks nie. Dit was Johan se sterk punt: Hy kon insien dat ’n gayromanse nodig is. Hy het nie probeer skok met Wenkbrou nie. Hy wou vir die mense wat buite die ligkring staan, ook tekste gee om hulself in raak te sien.”
Voordat Zola gepubliseer is, het Johan sy debuut gemaak in Op die spoor van (2017), ’n bloemlesing speurverhale saamgestel deur Rudie van Rensburg. Sy verhaal het verskyn saam met skrywers s’n soos Karin Brynard, Kerneels Breytenbach, Rudie van Rensburg, Bettina Wyngaard, Martin Steyn, Nathan Trantraal en Deborah Steinmair.
In dieselfde jaar is sy digkuns opgeneem in Nuwe Stemme 6, wat saamgestel is deur Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers.
In 2019 verskyn Johan Jack Smith se eerste roman by Penguin Random House onder die titel Zola. Die titel, Zola, verwys na minibustaxi’s wat lank gelede na Zola Budd, ’n Suid-Afrikaanse atleet, vernoem is.
Hy het aanvanklik die boek as ’n draaiboek vir die akteur Gérard Rudolf begin skryf, het Johan aan AJ Opperman vertel (Beeld, 5 September 2019): “Trouens, ek sal dié verhaal oor ’n moordenaar met ’n rooi minibustaxi steeds as ’n reeks wil sien. Ek kry die meeste van my idees uit rolprente.
“Ek skryf nogal filmies. Ek sien alles in my kop asof dit ’n rolprent is. Iemand het vir my gesê die boek herinner sterk aan (die fliek) Seven. Dis in die stad en dit reën die heeltyd en dis koud. En daar was een van die oorspronklike tonele aan die einde van die boek waaroor iemand vir my gesê het dit is te veel Seven, toe het ek dit verander.
“Ek wou ook Johannesburg ’n persoonlikheid in die roman gee. Tog kan ’n mens met ’n boek meer inhoud wegsteek wat op die skerm dadelik te veel sou verklap het. Ek probeer dit so realisties moontlik skryf. Mens probeer maar jou politieke klimaat en daai klas van goed inwerk. Ek wou ook nie net ’n standaard-spanningsverhaal skryf nie.
“Ek dink baie mense wil die boek in ’n boks plaas: ‘Dit is ’n speurroman en dit en dat moet gebeur.’ Ek dink nie noodwendig so nie. Jy kry twee lesers: die een wat van die agtergrondstorie hou, en diegene wat nie daarvan hou nie. Ek wou al die agtergrondinligting en die bykomende stories inwerk.”
Oor hoe hy op die idee van Zola gekom het en die impetus agter die skryf van die roman het hy aan Opperman vertel: “Ek dink Elaine Bing se boek Ek het gemartel was die inspirasie vir Zola. Sy het onderhoude met drie polisiemanne gevoer wat aan posttraumatiese stres ly. Een van hulle het gesê hy het in townships gewerk en hy het informante opgelaai en met hulle gepraat. Toe het hy gesê dit raak te moeilik om hulle elke keer stasie toe te neem. Toe kry hy vir hom ’n bussie. Hy het die bekleedsel binne uitgehaal. Daar was ’n stoel in die middel en die persoon is geskok. Daardie goed het regtig gebeur.”
Smith het in die algemeen nie gehuiwer oor die inhoud van Zola nie, skryf Opperman. Hieroor het Smith verder uitgebrei: “Waaroor ek skrikkerig was, is die politieke dinge. Daar is baie spanning tussen wit en swart. Daar is uitlanders. Niemand hou regtig van mekaar nie. Dis moeilik om ’n swart karakter te skryf as jy wit is. Daar is een karakter, Majola, met wie ek myself baie speling gegee het.
“Hy is aangeneem, is Afrikaans grootgemaak en was in die Laerskool Louw Geldenhuys. Hy het ’n Afrikaner-agtergrond en later volg die Zoeloe-agtergrond. Ek het hom albei wêrelde laat ervaar. Hy is die minste rassisties van die karakters. Hy is ook redelik liberaal daarby.”
Die feit dat Johan Jack in die media gewerk het, het verder bygedra tot die skryf van Zola: “Daily Sun het ’n groot verskil gemaak. Majola is geskoei op een van my kollegas toe ek daar gewerk het. Die geskiedenis van Alexandra, dit kom van Daily Sun af.
“Daar is eintlik net een bladsy in die koerant wat oor die tokkelos, zombies en sulke goed handel. Die res van die koerant gaan oor wat in die townships gebeur: die moorde, die armoede, die korrupsie. Dit het beslis ’n rol gespeel in ’n mens se uitkyk.”
Oor die geweld in Zola het Johan Jack aan Charles Smith (Volksblad, 5 Oktober 2019) gesê: “Ek het van die begin af vir my uitgewer gesê ek gaan nie terughou met die geweld in die verhaal nie. Ek dink dit klim onder ’n mens se vel in omdat dit baie realisties geskryf is. Ek het ’n leser gekry wat gesê het dat sy die boek in dele moet lees, omdat dit vir haar gevoel het of sy die karakters ken. Heelwat van die gevalle in die boek is gegrond op werklik gevalle, meestal in Johannesburg. Ek voel steeds deur bloot die nuusblaaie elke dag te lees, is veel erger as die boek. So, ja, ek dink dit is ’n weerspieëling van Suid-Afrika.”
Jonathan Amid was die resensent van Zola in Beeld (19 Augustus 2019): “Johan Jack Smith se krimi-debuut arriveer ná belowende skrywes in Nuwe stemme 6 en Op die spoor van (albei 2017). Daar is inderdaad hoë verwagtinge van hierdie debuutroman. Uit die staanspoor: ’n bliksem van ’n boek, hierdie. (…)
“Soos met die rolprent Seven – myns insiens ’n groot invloed – is die speurfigure uitgelewer aan kragte veel groter as hulself. Die doolhof is duister en oorweldigend, die monster tartend. (…)
“Zola – gepeper met fyn gekalibreerde formulerings, wrang, bitter humor, heerlik idiomatiese dialoog en oortuigende interaksies, beeldspraak vol melancholiese meegevoel, en geweld wat jou maag behoorlik laat draai – maak vier riskante narratiewe skuiwe.
“Eerstens die insluiting van twee duidelike speurfiguur-hoofkarakters (kaptein David Majola en adjudant Jason Basson). Om die beurt word op elk se eie gedagtewêreld, lewensbeskouing en agtergrondverhaal gefokus. (…) Smith gee soveel lyf aan die lewensverhale van sy twee speurders as wat die meeste ander skrywers in dié genre in ’n hele reeks doen. Ek het baie respek daarvoor; prakties is dit nogal problematies.
“Tweedens word ’n reuse-getal sub-intriges in die verhaal ingewerk: die meeste treffend, ’n paar oordadig. (…)
“Derdens word die Goudstad as tipe karakter ’n poëtiese, breek-jou-hart-in-duisend-stukkies-agtergrond vir ’n verhaal wat ’n diepe vertwyfeling oor die mens en die stryd teen die bose openbaar. ’n Gebroke stad, met gebroke mense. Wees bedag op die glinster tussen die rommel; vlietende hoop verswelg deur haat en woede. (…)
“So ’n omvattende mistroostigheid kulmineer in Zola met een van die mees verwoestende slottonele in die ganse plaaslike krimi-katalogus. In ’n pakkende roman vol constant struggle en continual conflict, waar hoof- en newekarakters as ’t ware swaard in die hand veg om oorlewing, word lesers doelbewus nie ’n gelukkige einde gegun nie. ’n Skrywer wat enduit met sy somber visie volhard.
“Hoewel die ontstellende rit nie noodwendig ontspoor nie, is ’n gestroopte, minder-is-meer benadering – vir sowel inkleding van gegewens as die oorweging van sub-intriges – dalk eerder die goue middeweg vir hierdie begaafde skrywer. Martin Steyn het gewis kompetisie.”
Louise Viljoen (JBay) se lesersindruk op LitNet (25 September 2019) lui as volg: “Liefhebbers van misdaadfiksie kan hulle gerus haas na hul naaste boekhandelaar. Johan Jack Smith se verstommende debuutverhaal, Zola, wag om opgeraap te word. Ek kon die spanningsriller van 302 bladsye nie neersit nie en is baie opgewonde om te verneem dat die outeur ’n opvolg beplan. Zola is grusaam, grafies en visueel sterk geskryf. Die storielyn is behendig verweef met sub-intriges wat die lyne tussen realiteit en fiksie doelbewus en suksesvol vervaag.
“Kaptein Majola en adjudant Basson moet ’n uiters geslepe reeksmoordenaar vastrek wat meisies agter in sy omgeboude minibustaxi laai waar hy hulle dan afgryslik martel, misbruik en vermoor. Die moordenaar kerf boodskappe op sy slagoffers se rûe – dis gou duidelik dat hy ’n appeltjie of twee te skil het, maar met wie en hoekom? Die rooi Zola Monster raak ’n verskrikking in Johannesburg se reeds gevaarlike strate – tot die taxiverenigings raak kriewelrig en knor oor en weer vir mekaar. Die publiek, media en politici eis dat die polisie die moordenaar onverwyld opspoor sodat die menseslagting kan stop. Die spanningsriller put inspirasie uit die dae toe die apartheidspolisie inligting uit slagoffers verkry het op wyses wat baie van die polisielede self laat knak het.
“Majola en Basson het geen keuse as om hulle onderlinge geskille met mekaar vir eers op die agtergrond te skuif nie. Selfs die duiwels waarteen hulle in hul persoonlike lewens stry, moet die knie buig voor die ‘Siyaya killing machine’ oftewel ‘The Devil’s Taxi.’ Hulle betaal albei ’n baie duur prys.”
Louise Viljoen wou ook by Smith weet of hy hom kon losmaak van die grieselrige tonele en geweld in Zola. Sy reaksie hierop was: “Dit was moeilik. Terwyl jy aan die boek skryf, is jou gedagtes heeltyd by die karakters en tonele. Jy raak tog baie betrokke, al wil jy nie. My vrou reken dat ek kort van draad was gedurende die skryfproses. Dis asof al die geweld jou neerslagtig maak. Eers wanneer jy die laaste sin voltooi, sluit jy af. Ek dink jy moet jouself ten volle in die verhaal inleef, anders is dit nie eg nie.”
In Rapport (1 September 2019) sluit Deborah Steinmair haar bespreking van Zola só af: “Die einde het ek sien kom, maar natuurlik lees ek baie misdaadfiksie. Ten minste beteken dit dis nie uit die lug gegryp nie. Soos te wagte, was daar hier en daar ’n dwaalspoor of lokbokkem, maar vir die misdaadvraat met haar neusgate na die wind en ore teen die grond was die leidrade daar om uit te snuffel. Natuurlik het ek nie al die kinkels voorsien nie.
“Zola is ’n hoogs bevredigende rit as hierdie ongenaakbare genre jou voorliefde is. Soos sigaretpakkies behoort dit miskien ’n waarskuwingsbanier te hê: Nie vir sensitiewe lesers en fynbesnaarde feministe nie. Ek bewe nou nog.”
In 2023 is die JC Steyn-beurs aan hom toegeken. Dit is vir ’n meestersgraad-student in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Vrystaat.
“Daar is maar altyd tye wat jy in jouself twyfel,” het Johan aan AJ Opperman (Netwerk24, 17 Junie 2023) gesê. “Soos destyds met die Eugène Marais-prys, dien dit beslis as motivering om beter te skryf. Dit is altyd lekker om te weet daar is mense wat in jou kreatiewe vermoëns glo.”
Hy het aan sy M-graad gewerk onder die bekwame leiding van dr Francois Smith en prof Henning Pieterse. Hy het ook besluit om onder die “ou hande” in die bedryf te werk en het baie daardeur geleer: “Ek het ook gevoel ek wil bietjie ‘verdiep’ met my volgende roman en nie iets soortgelyks as Zola nie. En natuurlik met ’n MA is jy onderworpe aan gedwonge spertye; ek het nie geweet of ek weer ’n roman kan skryf daarsonder nie. Maar ja, soms is dit moeilik om die kreatiewe vuur aan die gang te hou. Die volgende dag voel jy dalk anders, en dan kan jy weer die pen optel.”
Oor vyf dinge wat ’n mens dalk nie van Johan Jack Smith weet nie, skryf Alita Steenkamp:
- Hy het grootgeword op die Vrystaatse goudvelde en was in sy studietydperk by die Vrystaatse Technikon die redakteur van die Spekulum, die studentekoerant van hierdie instelling.
- Hy en sy vrou Almerie se seuntjie, Rijger, het in Junie 2023 agt jaar oud geword.
- Johan was ’n kranige tennisspeler en het op skool vir die Vrystaat tennis gespeel. Die tydperk van inperking waarop ’n mens nie ’n voet op ’n tennisbaan kon sit nie, was vir hom heel frustrerend.
- Johan het ’n groot versameling Hot Wheels – DC Comics-karretjies.
- Hy was saam met ’n paar ander woordmense soos die akteur Gérard Rudolf deel van die groep Woordenaars. Met hierdie groep se optredes deel hulle van hul skryfwerk en musiek intiem met ’n gehoor.
Johan Jack Smith (46) is op Maandagaand 17 Julie 2023 skielik aan ’n hartaanval oorlede. Sy vrou Almerie het die nuus op sosiale media bekendgemaak: “Aan almal wat ons ken, almal wat ons liefhet en die voorreg gehad het om Johan Jack Smith te kon ken, hy is vanaand net voor 10 aan ’n hartaanval oorlede. Ek verstaan dit nie, ek weet nie hoe of hoekom nie. Maar ek wou dit graag hier deel sodat ons spasie kan hê om sin te maak. Ek weet nie wat om verder te sê nie.” (Netwerk24, 18 Julie 2023)
Huldeblyke:
- VivA Afrikaans: “Ons harte gaan uit na Johan Jack Smith se vrou, Almerie, en hul seuntjie, Rijger. Rus in vrede, Johan … Jy het diep spore getrap in die harte van die Afrikaanse taalgemeenskap.” (Netwerk24, 18 Julie 2023)
- PEN Afrikaans: “Die bestuur van PEN Afrikaans het met skok en leedwese van die bekroonde skrywer, musikant en redakteur van Taalgenoot, Johan Jack Smith, se skielike dood verneem. Dit is ’n enorme verlies. Ons het die voorreg gehad om deur die jare aan verskeie projekte met hom saam te werk en sal hom mis. Ons innige meegevoel aan sy naasbestaandes.” (Netwerk24, 18 Julie 2023)
- Bloemfonteinse Skrywersvereniging: “Ons harte gaan uit na Almerie en haar seuntjie. Rus in vrede, Johan Jack Smith … Jy het duidelike spore getrap wat nie sal toewaai in vergetelheid nie.” (Netwerk24, 18 Julie 2023)
- Sonél Brits, namens die ATKV: “Toe ek vanoggend die nuus kry, het Jan FE Celliers se ‘Stil, broers, daar gaan ’n man verby’, dadelik by my opgekom. Die res van daardie strofe sê, ‘daar’s nog maar één soos hy’ … En ja, daar was net een Johan Jack Smith. Sy kreatiwiteit en sy vermoë om uit die gewone iets ongewoon te skep, is iets wat my vir ewig sal bybly. Hy laat groot spore agter hom en sy teenwoordigheid gaan ongelooflik baie gemis word – nie net in die gange van die ATKV nie, maar ook in die Afrikaanse kultuurwêreld. (…) Almal wat hom geken het, kan getuig dat hierdie groot gees nooit teruggehou het nie en ’n diep indruk gelaat het by elkeen met wie sy paaie gekruis het. Die ATKV betreur sy heengaan en dink spesiaal aan sy vrou, Almerie, hul seuntjie, Rijger, sy ouers en twee broers.” (ATKV, 18 Julie 2023)
- Hannes Barnard, skrywer van Halley se komeet: “11 Desember 2018 kry ek hierdie boodskap, en daar verander ’n vreemdeling my lewe: ‘Môre Hannes, hoop dit gaan goed. My naam is Johan Jack Smith, ek is tans redakteur van die tydskrif Taalgenoot en het onlangs begin werk as uitgewer by Wenkbrou, ’n nuwe afdeling van LAPA. Gedurende die vakansie, het ek die geleentheid gehad om Halley se komeet te lees. Ek het regtig baie daarvan gehou en ek glo die boek het baie potensiaal. Ek sal graag die boek wil uitgee in 2019, teen Junie se kant.’
“Kort en tot die punt, want Johan kon baie sê met min woorde.
“Johan is die een wat iets raakgesien het wat ander nie het nie. En ’n kans gewaag het op ’n onbekende, waar ander nie wou nie. Daarvoor is ek vir ewig dankbaar.
“Vier en ’n half jaar later was hy egter baie meer as dit. Hy was my vriend. Die ou met sy eenwoordboodskappe: ‘Koffie?’ ’n Vinnige koffie. Twee ure later het ons nonsens gepraat, diep geraak, kop geskud oor politici, gelag, gepraat oor manuskripte wat net nie wil klaarkom nie, oor Rijger en ons vrouens, ons huise, ons katte en hond. Dan het ons blad geskud en gepraat van volgende keer.
“’n Mens sukkel om hiervan sin te maak. Ek dink aan die 40 000 woorde wat hy reeds geskryf het aan die manuskrip wat hy nooit sal voltooi nie. Ek dink aan al sy ander idees wat boeke en gedigte moes geword het. Dis my selfsugtige kant, die leser in my wat glo dat Zola ’n fenomeen van ’n boek was, en wat smag na meer. Die teenkant is dat die boeke wat nie geskryf is nie, tyd was wat hy saam met Rijger en Almerie kon spandeer. Daarvoor is ek meer dankbaar. Boonop streef baie skrywers dosyne boeke lank om net amper so goed te kan skryf soos wat Johan met sy debuut reggekry het.
“Ek sou baie kon vertel oor alles wat hy vir my beteken het, maar ek sal eers net dit sê: Johan het eerste in my geglo; daarsonder het my ander boeke dalk nooit gebeur nie. As ek aan hom dink, is dit met dankbaarheid. Hy was my uitgewer, cheerleader en vriend. Hy was hier vir 46 jaar – te kort. Maar ek is dankbaar dat ons paaie gekruis het en dat hy my lewe verander het. Hy was baie dinge vir baie mense: pa, eggenoot, broer, seun, kollega, inspirasie, klankbord, musikant, digter, skrywer, uitgewer, redakteur, vriend. Mens besef sy impak as jy na al die boodskappe op die sosiale media kyk. Dit was ’n groot lewe.
“Ek dink vandag hoe gepas dit is dat hy die uitgewer van Halley se komeet was. Soos daardie komeet ’n een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid is, so was Johan ook ’n een-keer-in-’n-leeftyd-mens. Daar was niemand anders soos hy nie. Ek hoop daar wag vir jou ’n Vespa in die hemel, Johan. Kry jou eendag daar, dan gaan ons vir ’n koffie. Gepraat daarvan, die hemel gaan nooit weer dieselfde wees nie. Die aarde ook nie.” (LitNet, 20 Julie 2023)
- Smith, Francois: “Sy donker aweregse humor, sy fronsende blik, en sy broeiende intellek word gemis.” (Sy fotoalbums gaan vir eers nêrens heen nie | OFM)
- Danie Marais, digter en bestuurslid van PEN Afrikaans: “Die mense wat my die diepste beïndruk, is byna altyd mense wat jou nie probeer beïndruk nie, maar brand vir ’n kunsvorm of saak met ’n mengsel van nuuskierigheid, obsessief verworwe kennis en daardie soort groot entoesiasme wat jou weerloos maak.
“Johan Jack Smith was so iemand met ’n uitstekende, donker en oneerbiedige sin vir humor daarby. Ek het saam met hom begin werk toe ek bestuurder van PEN Afrikaans was en hy pas as redakteur van Taalgenoot oorgeneem het met ’n vars, helder visie en die behoefte om iets van blywende waarde te skep. Onder sy redakteurskap het Taalgenoot ’n transformasie ondergaan en ’n kultureel relevante tydskrif geword wat uitgedaag, bevraagteken en verras het en welverdiende pryse gewen het. Dit het ’n ruimte geskep vir gehaltejoernalistiek en het tot ’n mate die leemte gevul wat Insig gelaat het.
“Johan was verfrissend stroomop en lekker dwars met ’n groot hart vir die onderhond. Hy was ook ’n bleddie goeie skrywer. Sy debuutroman, Zola, is ’n stuk Johannesburg noir wat steeds by my spook en sy Volkspeler was die soort moerige band waarvan ons altyd te min in Afrikaans het.
“En dan was hy met roerende trots, toewyding en oorgawe ’n pa vir Rijger en ’n man vir Almerie. Dat hy so vroeg weg is, is hartverskeurend.” (Huldiging: Johan Jack Smith | PEN Afrikaans)
- Izak de Vries, skrywer en bestuurslid van PEN Afrikaans: “Johan Jack Smith se dood is onwerklik. Die skryf daaroor voel soos ’n artikel wat hy sou aanvra vir die Taalgenoot. Behalwe dat hy dit nooit oor homself sou aanvra nie. Johan was nie so nie. Hy was die stil ou wat oor ander gepraat het, die een wat ander gevra het vir voorstelle en wat ander stemme ’n kans gegee het. Tog, hy was aan die stuur. Hy het ’n eiesoortige visie gehad. Hy het die tema bepaal. Hy het die briljante voorblaaie laat afneem – onder sy eie regie.
“Johan kon ook raaksien dat ’n span mense meer kon verrig as die individu. Ten spyte van sy sterk leiding en die feit dat hy nie sou skroom om ’n besluit te neem nie, was dit altyd nadat hy met ander gesels het; nadat hy ander die kans gegun het om hulle bydraes te maak. Daarom ook dat hy PEN Afrikaans die geleentheid gegee het om by te dra tot die Taalgenoot. Hy het verstaan dat Afrikaans soos ’n minibus is – daar is altyd plek vir nog iemand.
“Van minibusse gepraat: Sy Zola, oor ’n andersoortige minibus, is ’n briljante krimi, deels omdat dit soveel verskillende vlakke van ons samelewing raakvat.
“Dit is onwerklik om te dink dat die lang, maer man nie weer om die hoekie van die ATKV se hoofkantoor aan ’n sigaret gaan staan en suig nie.” (Huldiging: Johan Jack Smith | PEN Afrikaans)
- RR Rijger, skrywer: “Verskriklik hartseer om te hoor Johan Jack Smith is onverwags oorlede. So jonk. Hy was ’n besonder talentvolle skrywer en ek het gehoop hy gaan nog baie great boeke skryf. Toe ek vir die Taalgenoot ’n tyd lank rubrieke geskryf het, het ek hom leer ken as 'n eerlike baas wat moeilike besluite op ’n ordentlike manier oorgedra het. Hy was so entoesiasties oor ons taal en die lewe. My hart gaan uit na sy vrou en jong seun.” (LitNet, 18 Junie 2023)
- Mercia Eksteen, die hoofbestuurder van kommunikasie by die ATKV: “Johan Jack Smith was by die ATKV meer as net die redakteur van Taalgenoot. Hy was iemand wie se kreatiwiteit, aweregse sin vir humor en vermoë om geleenthede raak te sien, ons male sonder tal sonder woorde gelaat het. Hy het Taalgenoot uitgebou om jaar ná jaar stof in die oë te skop van ander korporatiewe tydskrifte. Onder sy leiding was dit nie net ’n tydskrif wat besonder mooi was om na te kyk nie, maar dit het uitgedaag, die ongewone in ons samelewing gevier en gewys Afrikaans is nie verstok en vervelig nie. Johan, ons weet nie hoe ons jou plek gaan vul nie. Jy was vir ons meer as net ’n kollega, jy was ons vriend, ons ware Noord (soos die kommunikasieafdeling graag na jou verwys het). Rus sag en weet dat jy geliefd was en ’n groot verskil gemaak het. Sterkte aan sy vrou, Almerie, hul seuntjie, Rijger, en Johan se naastes. Ons dink aan julle in hierdie moeilike tyd.” (LitNet, 18 Julie 2023)
Publikasies
|
Publikasie |
Die avonture van Malboer |
|
Publikasiedatum |
2013 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Selfpublikasie |
|
Literêre vorm |
Grafiese novelle |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor en deur Johan Jack Smith:
- ATKV: Johan Jack Smith se afsterwe laat ’n groot leemte. ATKV, 18 Julie 2023
- Barnard, Hannes: Elders gesien: ’n Een-keer-in-’n-leeftyd-mens. LitNet, 20 Julie 2023
- Britz, Elretha: Verlies, hoop op goudvelde. Volksblad, 25 Junie 2014
- Cloete, Henry: Volkspeler is terug met Die Boksburg Bebop. LitNet, 9 April 2015
- Cloete, Henry: Volkspeler se Johan Jack Smith nou ook solo. LitNet, 14 Mei 2013
- Coetzer, Verona: Johan Jack Smith sterf onverwags. afrikaans.com, 18 Julie 2023
- De Jager, Elsabé: Sy foto-albums gaan vir eers nêrens heen nie. OFM, 19 Julie 2023
- De Vries, Izak: Die volkspeler agter die Taalgenoot se sukses. LitNet, 27 Januarie 2021
- De Vries, Izak: Johan Jack Smith, die stil man wat ander laat skitter het. LitNet, 18 Julie 2023
- Green, Phyllis: ‘Taalgenoot’-redakteur Johan Jack Smith sterf: huldeblyke stroom in. Sarie, 18 Julie 2023
- Hy sit die taalgenot in Taalgenoot
- Johan Jack Smith
- Johan Jack Smith van die Taalgenoot gesels
- Loff, Liné: Nuwe stemme 6 – 6 vrae aan Johan Jack Smith. LitNet, 12 Oktober 2017
- Marais, Danie en De Vries, Izak: Huldiging: Johann Jack Smit. PEN Afrikaans, 19 Julie 2023
- Meyer, Naomi: LAPA se nuwe druknaam laat die wenkbroue lig. LitNet, 23 Januarie 2019
- Meyer, Naomi en Voges, Remona: Skrywersonderhoud: Johan Jack Smith oor die Eugène Marais-prys. LitNet, 28 Mei 2020
- Opperman, AJ: Lapa brei aanbod uit. Beeld, 22 Januarie 2019
- Opperman, AJ: Skrywer se vrese “effens besweer” deur JC Steyn-beurs
- Opperman, AJ: Smith sal Zola steeds op grootskerm wil sien. Netwerk24, 21 Mei 2020
- Skrywer Johan Jack Smith sterf skielik
- Smith, Charles: Afrikaans se Nick Cave laat bloed vloei. Volksblad, 5 Oktober 2019
- Smith, Francois: Johan Jack Smith oorlede
- Smith, Johan Jack: Die laksman se skoot deur Chris Marnewick: ’n resensie. LitNet, 10 Maart 2017
- Smith, Johan Jack: Ja ek weet dis koud boetie
- Smith, Johan Jack: Skote in die nag: om aan te hou dans al klap die skote. LitNet, 14 Januarie 2020
- Smith, Johan Jack: Streektaal steek tong uit. ATKV, 5 April 2022
- Smith, Johan Jack en De Vries, Izak: Na aanleiding van Bettina Wyngaard se skrywe oor Sypaadjie. LitNet, 11 Junie 2019
- Steenkamp, Alita: Welverdiende debuutprys aan Johan Jack Smith
- Steyn-Bezuidenhout, Christa: ‘Taalgenoot’-redakteur sterf. Maroela Media, 18 Julie 2023
Johan Jack Smith se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2023-09-05 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


