Resensie: Zola deur Johan Jack Smith

  • 0

Titel: Zola
Outeur: Johan Jack Smith
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903857

’n Reeksmoordenaar met ’n agenda maai onder Johannesburg se jong swart vroue. Hy verkrag en martel sy slagoffers op die wreedste moontlike manier en hy is skynbaar nie bang vir die manne in blou nie. Om die waarheid te sê, dit lyk of hy hulle tart en willens en wetens probeer nader lok, en hulle dan net weer al vloekend en desperaat by nog ’n grusame misdaadtoneel agterlaat. Met elke moord is hy meer en meer blasé en met elke moord raak die druk om die saak op te los byna onuithoudbaar. Humeure loop hoog, dwelms en drank word mildelik misbruik en aggressie steek sy kop uit waar frustrasie hoogty vier. Daarbenewens krap ’n lastige joernalis in hulle slaai en wil-wil dit ook lyk of ’n oudkollega (’n afgetrede apartheidspolisieman) dalk meer geraamtes in die kas het as wat hy voorgee. Buiten die onontsyferbare nommers en letters wat die moordenaar post mortem op sy slagoffers se rûe uitkerf, is die enigste werkbare leidraad wat kaptein Majola en adjudant Basson en hulle span kan lossnuffel, die voertuig waarmee die skuldige ook in húlle drome mee rondjaag.

Die duiwel is los in Jozi, meneer. En hy ry ’n cherry-rooi taxi.

Zola (in die tagtigerjare is taxi’s na die langasematleet Zola Budd vernoem) is ’n krimi wat standaard prosedures volg. Daar is misdaad, daar is die ouens wat die saak moet oplos, daar is dwaalspore (red herrings) en daar is die leser self wat kliphard probeer om die skuldige vas te trek vóór die polisiemanne dit regkry. Tog is daar sekere elemente in dié boek wat waarskynlik Smith se pikswart “signature” van sy (hopelik) eie oeuvre in ’n ewiggroeiende lys van misdaadromans gaan word. (En daarvan is daar deesdae méér as genoeg. Die Afrikaanse leespubliek het die laaste dekade of wat ’n bloedlus ontwikkel wat blykbaar nie binnekort gaan taan nie.) Smith kry dit gemaklik en ongedwonge reg om ’n merry mixture van rasse en klasse bymekaar te gooi in ’n pot vol pap en wors en kerriesous sonder dat dit voel asof ’n uitgewer hom aangepraat het om dit te doen. Sy Johannesburg is bitterlik geïntegreerd en very much now. Sy Johannesburg se hart klop anders as in die res van Suid-Afrika. “[Die] stad loop sy eie paaie. Johannesburg stop vir niemand nie. Hy vee sy goue gat aan almal af” (215).

Martin Steyn en Chris Karsten, twee van ons bekendste misdaadskrywers, was nog nooit bang om grusaam te wees nie. Die meeste van hulle bekroonde boeke ontsien nie daardie lesers wat gryp na vlugsout as dit kom by die wrede en makabere nie. Smith sluit homself met Zola by dié groepie aan. Waar ’n groot gros misdaadskrywers wegskram van té grafies raak, loop Johan Jack jou storm met ’n bloedbesmeerde mes. Hy lem jou in die krop met sy “verwronge verbeelding”, soos einste Steyn op die agterblad te kenne gee. Smith se filmiese manier van bloeddorstig raak, maak totaal sin in die konteks van sy agtergrond as grafiesekunsstudent.

Nog iets wat regdeur die boek opval, is die verskeie verwysings na populêre kultuur, soos die bekende Netflix-reeks Stranger things. Sommige van die verwysings mag dalk die toets van die tyd deurstaan, maar sekere aspekte van subtieler binnepret mag dalk oor ’n paar jaar deur die krake val: “Basson het ’n rooi Adidas-sweetpak aan. As sy vel nie so bruingebrand was nie, sou Majola sweer hy hoort in ’n Oosblokland of Engeland” (232). Dit laat my onwillekeurig dink aan die belaglike Facebook-groep Squatting Slavs in Tracksuits, ’n kultusgroep wat fokus op, wel, Oosblokkers wat sweetpakke dra.

Johan Jack Smith is nie ’n skryfgroentjie nie, en dit blyk duidelik. Hierdie is weliswaar sy debuutroman, maar jare se harde werk agter ’n rekenaarskerm om gedigte, resensies en artikels te skryf is duidelik sigbaar in die bedrewenheid waarmee hy woorde en sinne en paragrawe aanmekaar vleg. Zola is egter nie perfek nie. Verskeie newekarakters, soos Basson se flambojante buurman, is wonderlik, maar totaal oorbodig. Hulle raak verlore in ’n oorvol rolverdeling en sou waarskynlik beter gewerk het as volronder karakters in Smith se volgende krimi. Die redigeerder of Smith self moes dalk die moordwapen heftiger ingespan het om ’n paar little darlings bokveld toe te stuur.

’n Paar nietighede ten spyt kan lesers uitsien na nog baie van dié klas dermrygery uit Smith se pen. Hy trap ’n bloedkol dwarsoor die genre. Sy merk is gemaak.

Lees ook:

Zola deur Johan Jack Smith: ’n onderhoud en ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top