Zola deur Johan Jack Smith: ’n onderhoud en ’n lesersindruk

  • 2

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het. 

Lesersindruk

Titel: Zola
Outeur: Johan Jack Smith
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903857

Liefhebbers van misdaadfiksie kan hulle gerus haas na hul naaste boekhandelaar. Johan Jack Smith se verstommende debuutverhaal, Zola, wag om opgeraap te word. Ek kon die spanningsriller van 302 bladsye nie neersit nie en is baie opgewonde om te verneem dat die outeur ’n opvolg beplan. Zola is grusaam, grafies en visueel sterk geskryf. Die storielyn is behendig verweef met sub-intriges wat die lyne tussen realiteit en fiksie doelbewus en suksesvol vervaag.

Kaptein Majola en adjudant Basson moet ’n uiters geslepe reeksmoordenaar vastrek wat meisies agter in sy omgeboude minibustaxi laai waar hy hulle dan afgryslik martel, misbruik en vermoor. Die moordenaar kerf boodskappe op sy slagoffers se rûe – dis gou duidelik dat hy ’n appeltjie of twee te skil het, maar met wie en hoekom? Die rooi Zola Monster raak ’n verskrikking in Johannesburg se reeds gevaarlike strate – tot die taxiverenigings raak kriewelrig en knor oor en weer vir mekaar. Die publiek, media en politici eis dat die polisie die moordenaar onverwyld opspoor sodat die menseslagting kan stop. Die spanningsriller put inspirasie uit die dae toe die apartheidspolisie inligting uit slagoffers verkry het op wyses wat baie van die polisielede self laat knak het.

Majola en Basson het geen keuse as om hulle onderlinge geskille met mekaar vir eers op die agtergrond te skuif nie. Selfs die duiwels waarteen hulle in hul persoonlike lewens stry, moet die knie buig voor die “Siyaya killing machine” oftewel “The Devil’s Taxi.” Hulle betaal albei ’n baie duur prys.

............

Onderhoud

Baie geluk met jou verstommende debuutverhaal, Zola, wat pas deur Penguin Random House SA uitgegee is. Die puik wyse waarop jy as skrywer fiksie en realiteit oënskynlik soomloos strengel, verleen aan die boek ’n hoendervleiswekkende kwaliteit wat my sintuie in snelrat gesit het. Lank nadat ek die boek neergesit het, het ek myself gevang dat ek nog oplet na rooi minibustaxis in die verkeer. Sonder om te veel van die storie weg te gee, wil ek jou graag ’n paar vrae daaroor vra.

Misdaadfiksie is besonder gewild in Suid-Afrika, en van ons land se mees bekende skrywers (Karin Brynard, Rudie van Rensburg, Deon Meyer, Martin Steyn, Madelein Rust, ens.) skryf in dié uiters kompeterende genre. Waarom het jy op hierdie genre besluit? ’n Boek soos Zola gebeur tog nie net nie. Hoe het dié spesifieke storie by jou begin broei?

Ek was nog altyd lief vir die spanningsgenre. Ek het eendag Elaine Bing se Ek het gemartel gelees wat handel oor oud-polisiemanne wat aan PTSV ly. Hulle vertel oor die dade wat hulle gedurende die apartheidsjare gepleeg het. Daar was die geval van ’n polisieman wat in ’n omgeboude kombi in die lokasies rondgery en mense opgelaai het. Hy het hulle op ’n stoel laat sit en dan geskok vir inligting. Ek het besluit om die voertuig ’n minibustaxi te maak in my boek. Taxis is immers eg aan Suid-Afrika – jy maak óf gebruik van hulle óf jy word kwaad vir hulle in die verkeer. Ek wou nie ’n tipiese “police procedural” skryf nie. Ek wou dieper delf in die karakters se psige. Ek wou ook aan die stad Johannesburg ’n persona gee wat ’n eiesoortige invloed op die karakters sou hê. Daar is meer back story in die boek as jou gewone speurverhaal.

Zola is ’n meesleurende, veelvlakkige krimi wat deurdrenk is met grusame tonele. Jy beskryf die verminking van die slagoffers en die bloederige misdaadtonele in detail. Daar word ook in die teks verwys na verskeie sake waar skokkende geweld gepleeg word – soos die Sjangaan wat ná werk sy twee kinders, sy vrou en haar minnaar met ’n baksteen doodgeslaan het, hulle koppe met ’n saag afgesaag het en dit op die huis se dak soos blompotte uitgestal het voordat hy doodrustig gaan sit en televisie kyk het. Hoe het die realistiese uitbeelding van die geweld jou as skrywer en as mens geaffekteer? Dit het tog seker met jou kop gesmokkel en ook ’n tol geëis in jou privaatlewe. Kon jy jou losmaak van die grieselrige toneel wat jy nou net neergepen het en bloot gewoonweg saam met jou geliefdes verder verkeer?

Dit was moeilik. Terwyl jy aan die boek skryf, is jou gedagtes heeltyd by die karakters en tonele. Jy raak tog baie betrokke, al wil jy nie. My vrou reken dat ek kort van draad was gedurende die skryfproses. Dis asof al die geweld jou neerslagtig maak. Eers wanneer jy die laaste sin voltooi, sluit jy af. Ek dink jy moet jouself ten volle in die verhaal inleef, anders is dit nie eg nie.

Jou hardebaardroman gee die leser onder meer ’n ysingwekkende terugblik op die apartheidsjare toe die polisie hulle eie skrikwekkende metodes gehad het om inligting uit verdagtes te kry. Dit handel ook oor die verskriklike prys wat lede van die mag én hulle slagoffers betaal het vir hul dade. So ook hulle families. Jy kleur die sterk storielyn in met temas soos moord, verkragting, weerwraak, taxigeweld, dwelm- en alkoholmisbruik, rassisme en armoede om net ’n paar te noem. Dis duidelik dat jy ’n hengse klomp navorsing moes gedoen het om die plot só suksesvol te knoop dat dit eerder na waarheid as fiksie lyk. Vertel bietjie meer daaroor.

Ek het met huidige polisiemanne asook ’n paar uit die apartheidsjare gesels. Baie van die tonele handel oor wat hulle my vertel het; ander is opgemaak. Ek het ook met ’n dwelmverslaafde gesels. Ek het lank by die Daily Sun gewerk, waar jy te hore kom van wat regtig in die townships aan die gebeur is. Die storie oor die rotte in Alex is waar. Ek het ook op die Internet afgekom op ’n tesis wat iemand geskryf het oor die taxibedryf. Dit het baie gehelp. Die Internet maak dinge baie maklik as jy weet waar om te soek.

Hoe lank het jy aan Zola geskryf en is daar  planne vir ’n opvolg?

Dit was oorspronklik ’n draaiboek van 25 000 woorde voor ek dit herskryf het as ’n roman. Die raamwerk was dus reeds daar, so dit het baie gehelp. Ek het sowat ses maande aan die boek self geskryf. Die prosesse daarná is lank (redigering, vertaling, ens.) Daar is plek vir ’n opvolg of twee, sommige van die karakters kan beslis weer ’n verskyning maak! Ek werk tans aan idees.

Het jy enige raad vir voornemende skrywers van misdaadfiksie?

Doen behoorlik navorsing oor polisieprosedures – daar is lesers daar buite wat dadelik gaan agterkom as jy nie weet waarvan jy praat nie. Gesels met polisiemanne en prokureurs. Daar sal nooit ’n tekort aan idees wees nie,  jy hoef net weekliks ’n Suid-Afrikaanse koerant oop te maak. Ek sal my volgende boek ook eers as ’n draaiboek skryf; dit help baie as jy reeds die buitelyne van ’n verhaal het.

Ek voorspel ’n baie suksesvolle en lonende skryfloopbaan vir Johan Jack Smith, die redakteur van die Taalgenoot wat ook as uitgewer werk. Zola is ook reeds in Engels beskikbaar.

  • 2

Kommentaar

  • Ek het nog nie n kopie van die boek nie, maar na hierdie resensies is ek more vroeg op pad na die boekwinkels in my ongewing. Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top