LAPA se nuwe druknaam laat die wenkbroue lig

  • 9

LAPA Uitgewers stel binnekort ‘n nuwe druknaam bekend: Wênkbrou. Johan Jack Smith en Izak de Vries vertel vir Naomi Meyer hiervan.

Johan Jack Smith (foto verskaf)

Hallo Izak en Johan! Geluk met Wênkbrou - en voorspoed. Vertel gou wat julle op die oomblik by LAPA of die ATKV doen en wat julle nou met Wênkbrou gaan doen?

Johan: Ek is tans redakteur van Taalgenoot, die ATKV se korporatiewe tydskrif. Ons het besluit die mark is reg vir “aweregse stories” – asook stories wat nie noodwendig genre-gerig is nie. Die gravitas van ’n storie moet publikasie bepaal – nie of dit in ’n sekere genre pas nie. En of dit kan verkoop nie. Te veel stories val deur die krake as gevolg daarvan. Dis ook LAPA se manier om te diversifieer sonder om die huidige afdelings af te water. Ek sien baie uit na die uitdaging – uiteindelik kry ek die kans om stories te publiseer waarvan ek hou. In hierdie geval is dit seker byna soos die gesegde “Skryf wat jy self wil lees” – maar nou is dit “Publiseer wat jy self wil lees.”

Hoekom daardie kappie op die "e"?

Izak: Ons kan nie die woord “Wenkbrou” as handelsmerk registreer nie, maar “Wênkbrou” kan wel. En: ons wil mos die ^ wenkbrou lig ^, nie waar waar nie?

Moet letterkunde noodwendig wenkbroue laat lig? Wanneer gebeur dit, die lig van 'n wenkbrou?

Johan: Word wenkbroue nog gelig deesdae? Wat word nog as skokkend beskou? Dit hang seker af van die leser. Wat ons eintlik wil sê: Ons skroom nie weg van sensitiewe temas nie.

Hoe sal die gehaltebeheer lyk? Hoe rowwer hoe beter? Hoe?

Johan en Izak: Solank dit ’n goeie storie is. Publikasie sal steeds deur die gehalte van die manuskrip bepaal word. Kom ons sê eerder: Ons spesialiseer nie in boeke wat wenkbroue gaan laat lig nie – maar as so ’n manuskrip by ons aankom, gee ons hom ’n regverdige kans.

Gaan dit 'n soort “fringe festival” wees, soos by die Edinburgh-fees? Of watter skrywers kan ons hier verwag?

Johan: Debuutskrywers. Gevestigde skrywers. Daai manuskrip wat vir die afgelope paar jaar in jou laai lê, wat jy gewonder het of dit te erg is om te publiseer. Die eerste publikasie is Smit Motors van Reney Warrington. Dis haar tweede boek na Oktober. Dis nie noodwendig skokkend nie (benewens een of twee eksplisiete sekstonele); dit gaan ook nie noodwendig wenkbroue lig nie (behalwe omdat dit ’n fantastiese storie is), maar dit pas nie noodwendig in ’n genre nie. So ons is baie opgewonde om dit te publiseer.

Wat beteken die inisiatief – behels dit 'n wegval van genre? So waar pak die mense in die winkels die boeke?

Johan: Waar pak mens No country for old men van Cormac McCarthy? American Psycho van Bret Easton Ellis? Of plaaslik: Beertjie en sy boykies? Drama? Komedie? Daar is heelwat boeke wat moeilik in ’n genre pas. Hopelik gaan dit een van die dae so goed dat ons ons eie rak het. (Grappie.)

Slegs prosa? Ook gedigte? Dramas?

Johan: Ons sal goeie poësie publiseer. Gehalte is die wagwoord.

Gaan julle boeke probeer verkoop wat risky en edgy is?

Johan: Onder andere. Solank dit gravitas het. Weer eens: Daar is reeds boeke wat risky en edgy is op die rakke. Ons wil net bekendstaan as die uitgewery wat nie wegskram van dit af nie.

Wie's die teikenmark van die druknaam?

Johan en Izak: Mense wat lief is vir boeke buite genres. Stories wat dalk ‘n bietjie vreemd is, wat nie in ’n boksie pas nie. Aweregs. Onheilstokend. Kwaadklitsend. Of net ’n donnerse goeie storie wat sukkel om in te pas. Soos daai seuntjie met verskuilde talente by die kleuterskool wat sukkel om maatjies te maak. Ons gaan vir jou ’n stem gee, boetie. Of sussie.

Waar gaan jy tyd kry tussen Taalgenoot en Wênkbrou?

Johan: Gebed, koffie en nikotien. En die wete dat ek ’n skrywer se droom bewaarheid.

Izak de Vries (foto verskaf)

  • 9

Kommentaar

  • Tinus Viviers

    Dis nou wat ek noem vernuwing. Ek sien uit daarna om van hierdie titels onder oë te kry. Hopelik kan ek ook 'n bydrae lewer.

  • Ek sien vreeslik uit daarna om te hoor wanneer Wênkbrou die eerste manuskripte gaan ontvang! Ek is baie bly om te sien Lapa steek voelers uit na nuwe uitdagings en stories wat lekker lees - die tipe lees wat mens hoendervleis gee ...

  • Jo van der Walt

    Kan manuskripte wat by LAPA ingehandig is maar waarop nog nie terugvoering ontvang is nie, by julle ingehandig word?

  • Wonderlik!!
    Lesers moet nooit onderskat word nie. Ons SOEK hierdie soort leesstof.
    Baie geluk en sterkte.

  • Moet Wênkbrou-manuskripte 'n spesifieke woordtelling hê soos met Romanza's en Superromanza's die geval is?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top