Hannes Barnard skryf op Facebook:
Ek was nie in staat om Dinsdag iets te skryf nie. Vandag gaan ek dit waag.
10 Desember 2018 het ek nie geweet wie Johan Jack Smith is nie. Dit was presies drie jaar nadat ek die eerste, rowwe weergawe van Halley’s Comet geskryf het. Ek was ’n ongepubliseerde skrywer met ’n manuskrip (wat ek intussen vertaal het) en ’n droom wat vinnig aan’t kwyn was. Dit was boonop nie my eerste manuskrip nie en ek het genoeg afkeurbriewe gehad om ’n biblioteek te vul. En later begin jy die nees glo. Dis waar ek was – nog een “nee” en ... wie weet.
11 Desember 2018 kry ek hierdie boodskap, en daar verander ’n vreemdeling my lewe:
Môre Hannes, hoop dit gaan goed. My naam is Johan Jack Smith, ek is tans redakteur van die tydskrif Taalgenoot en het onlangs begin werk as uitgewer by Wenkbrou, ’n nuwe afdeling van LAPA. Gedurende die vakansie, het ek die geleentheid gehad om Halley se komeet te lees. Ek het regtig baie daarvan gehou en ek glo die boek het baie potensiaal. Ek sal graag die boek wil uitgee in 2019, teen Junie se kant.
Kort en tot die punt, want Johan kon baie sê met min woorde.
Johan is die een wat iets raakgesien het wat ander nie het nie. En ’n kans gewaag het op ’n onbekende, waar ander nie wou nie. Daarvoor is ek vir ewig dankbaar.
Vier en ’n half jaar later was hy egter baie meer as dit. Hy was my vriend. Die ou met sy eenwoordboodskappe: “Koffie?”
’n Vinnige koffie. Twee ure later het ons nonsens gepraat, diep geraak, kop geskud oor politici, gelag, gepraat oor manuskripte wat net nie wil klaarkom nie, oor Rijger en ons vrouens, ons huise, ons katte en hond. Dan het ons blad geskud en gepraat van volgende keer.
’n Mens sukkel om hiervan sin te maak. Ek dink aan die 40 000 woorde wat hy reeds geskryf het aan die manuskrip wat hy nooit sal voltooi nie. Ek dink aan al sy ander idees wat boeke en gedigte moes geword het. Dis my selfsugtige kant, die leser in my wat glo dat Zola ’n fenomeen van ’n boek was, en wat smag na meer. Die teenkant is dat die boeke wat nie geskryf is nie, tyd was wat hy saam met Rijger en Almerie kon spandeer. Daarvoor is ek meer dankbaar. Boonop streef baie skrywers dosyne boeke lank om net amper so goed te kan skryf soos wat Johan met sy debuut reggekry het.
Ek sou baie kon vertel oor alles wat hy vir my beteken het, maar ek sal eers net dit sê: Johan het eerste in my geglo; daarsonder het my ander boeke dalk nooit gebeur nie. As ek aan hom dink, is dit met dankbaarheid. Hy was my uitgewer, cheerleader en vriend.
Hy was hier vir 46 jaar – te kort. Maar ek is dankbaar dat ons paaie gekruis het en dat hy my lewe verander het. Hy was baie dinge vir baie mense: pa, eggenoot, broer, seun, kollega, inspirasie, klankbord, musikant, digter, skrywer, uitgewer, redakteur, vriend. Mens besef sy impak as jy na al die boodskappe op die sosiale media kyk. Dit was ’n groot lewe.
Ek dink vandag hoe gepas dit is dat hy die uitgewer van Halley se komeet was. Soos daardie komeet ’n een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid is, so was Johan ook ’n een-keer-in-’n-leeftyd-mens. Daar was niemand anders soos hy nie.
Ek hoop daar wag vir jou ’n Vespa in die hemel, Johan. Kry jou eendag daar, dan gaan ons vir ’n koffie.
Gepraat daarvan, die hemel gaan nooit weer dieselfde wees nie. Die aarde ook nie.