Skrywersonderhoud: Johan Jack Smith oor die Eugène Marais-prys

  • 0

Johan Jack Smith praat met Naomi Meyer en Remona Voges oor sy boek Zola, waaraan die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns pas toegeken is.

Foto van Johan Jack Smith: verskaf

Johan, begin asseblief heel voor. Vertel asseblief van jou jare lange betrokkenheid by woorde: by die Taalgenoot, as uitgewer en ook net waar alles begin het dat jy uiteindelik besluit het om te skryf?

Ek was nog altyd lief vir die "alternatiewe" deel van Afrikaans – ek dink het begin met Johannes Kerkorrel, later RR Ryger en Tom Dreyer. My Afrikaanse juffrou op skool het gedink ek kon goed skryf, "maar traak-my-nie-agtigheid en luiheid" het my verhoed om goeie punte te kry. Ek het in my laat tienerjare begin met gedigte skryf, was toe joernalis by die CUT in Bloemfontein se studentekoerant, en vir ’n jaar redakteur. Ek het my BTech in grafiese kuns en ontwerp gedoen deur ’n moderne fotoverhaal getiteld Die Avonture van Malboer te ontwerp en skryf. Peet Bothma van die destydse Sondagkoerant het my toe ’n pos aangebied as ontwerper, en toe is ek Johannesburg toe, waar die dinge begin gebeur het. Ek het begin met boekresensies vir Rapport en later rubrieke vir Netwerk24, toe was ek boekeredakteur vir Taalgenoot, adjunkredakteur en nou redakteur. Intussen het ek die band Volkspeler ook gehad, as woordkunstenaar opgetree en self in ’n toneelstuk gespeel op Aardklop. En alles in Afrikaans. Ek het opgetree in 2019 as opdraggewende redakteur by Wenkbrou, ’n druknaam van LAPA. Die ATKV gee vir my ’n tuiste waar ek gemaklik voel.

Kan jy onthou op watter dag jy besef het dat jy Zola sou skryf? Was daar ’n spesifieke insident wat jou geïnspireer het of die sneller was vir die verhaal?

Ek dink Elaine Bing se boek Ek het gemartel was inspirerend tot die skryf van die boek. Ek het geen idee waar die idee van die taxi vandaan gekom het nie. En natuurlik die draaiboek van Zola wat eerste gekom het – die akteur Gerard Rudolf het gesê hy soek iets wat eerlik en rou is en wat nie doekies omdraai nie tov rassisme en geweld nie.

Kan jy die storie in ’n sin opsom, of sal dit te veel verklap? So nie, kan jy dalk op jou karakters uitbrei, of op ’n aspek van die verhaal wat jou na aan die hart lê?

Ek dink die verhouding tussen kaptein Majola en AO Basson is veral spesiaal. Beide van verskillende wêrelde met verskillende sieninge, maar tog is daar hierdie band tussen hulle. Hulle vriendskap gee my hoop.

Daar is baie spanningsverhale in Afrikaans – was dit jou oogmerk om doelbewus ’n storie in hierdie genre te skryf? Lees jy ook graag spanningsverhale? Of hoe sou jy die boek beskryf, of in watter genre sou jy sê pas dit in?

Soos ek gesê het, ek wou iets rou en eerlik skryf. Baie van die karakters in baie van die spanningsverhale is ’n bietjie stereotipies – ek wou twee moderne, cool karakters skep. Soos karakters uit ’n Michael Mann-rolprent. Dis definitief spanning, maar Johannesburg, die politiese ondertone, die swakheid van die menslike psige, hoe apartheid vandag nog terugkom om te byt, en hoe almal die letsels dra van daai tyd, gee die boek hopelik ’n bietjie meer vleis. Daar is heelwat meer fasette en lae as net ’n blote speurverhaal. Dit was die idee van die begin af. Deels stadsroman, deel spanningsverhaal, en so eg en opreg as moontlik.

Johannesburg is ’n belangrike ruimte in die verhaal. Wat prikkel jou van die stad?

Ek is mal oor Johannesburg. Hier is soveel stories en geskiedenis wat my interesseer, en die uiteenlopendheid van die plek is besonders. Alexandra lê byvoorbeeld reg langs Sandton. Rykdom en armoede. Van die een uiterste na die ander. En dan iets waaraan ek sterk glo: Skryf wat jy ken. Ek bly al agt jaar hier; dit het gehelp. Indien ek oor Kaapstad sou moes skryf, sou dit rampspoedig wees. Of eerder, baie meer navorsing verg.

Hoe lank het dit jou geneem om die roman te skryf? En wat is jou skryfroetine? Het jy een?

Die draaiboek drie weke, die boek seker so ses maande, met die redigering uitgesluit. Ek het konstant ’n notaboek byderhand waar ek die dae neerplot, wat moet gebeur, ens. Ek neem stemopnames op my selfoon indien ek aan iets kan dink. Die verkorte draaiboek het baie gehelp – ek sal die volgende boek weer so aanpak. Ek is nie een van daai skrywers wat kan sit en sommer skryf wat by jou opkom nie. Die skryfwerk het meeste van die tyd maar in die aande plaasgevind.

Wat is die belang van Afrikaanse letterkundepryse soos die Eugène Marais-prys vir Afrikaanse skrywers?

Ek dink dis fantastiese motivering om weer, en beter, te skryf. Ek het gaan kyk na vorige skrywers, en het gedink: "Bliksem, jy bevind jouself nou in goeie geselskap." Dit is ’n ongelooflike gevoel om op dieselfde lys te wees as skrywers wat jy respekteer en bewonder het van ’n jong ouderdom af.

Kan jy ’n bietjie oor die titel vertel in die konteks van die tagtigerjare? Waarna verwys die woord of naam Zola?

Die ouer swart mense het na taxi’s verwys as Zola Budds net nadat die regte Zola Budd bekendheid verwerf het. Ek is nie seker of hulle steeds so na hulle verwys nie.

Dit blyk duidelik uit die verhaal dat jy baie navorsing vir die boek gedoen het. Wat was jou navorsingsproses? Waar het jy die meeste van jou inligting gekry?

Ek het met polisiemanne gesels, van destyds en wat vandag werk, en baie inligting op die internet gekry. Martin Steyn het ongelooflik baie gehelp met die polisieprosedure-dele. Ek het ook baie gelees oor die rol van die polisie in die apartheidsjare.

Resensente het die roman al as "filmies" bestempel, en natuurlik was die teks oorspronklik as ’n draaiboek geskryf. Sal jy nog graag die roman as ’n film op die silwerdoek wil sien? En ook: Met watter projekte hou jy jouself tydens die inperking besig?

Ek sal ja ... Ek sien dit steeds as ’n reeks – amper in die lyn van die True Detective-reekse. Ek werk tans aan my M in die visuele kunste. My digbundel het ek vir twee groot geeste in die bedryf vir verdere advies en leiding gestuur – hopelik kan daar volgende jaar iets gebeur.

Lees ook:

SA Akademie vir Wetenskap en Kuns: Bekronings vir 2020

Zola deur Johan Jack Smith: ’n onderhoud en ’n lesersindruk

Resensie: Zola deur Johan Jack Smith

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top